Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 9
1
Оглавлениеop die mark onder hoë skadubome
tien geelperskes gekoop
groot goud en sappig
soos innige verwante van die son
en huis toe gedra
wit pleistermure het liggies gebewe
die hitte was op die sinkplatdak
oral omheen die soet geure
van lemoenbloeisels, frangipani
geel doringboomblommetjies
later wanneer hulle eers weer water gekry het
ook die wit en pers van die verbleikbos
gister, vandag en môre
en van tak tot tak
van kelk tot kelk
jangroentjies, suikerbekkies
tortels en vinke en vlamvlerk raasbekspreeus
laatmiddag dieper kloof-op
waar dit potblou is
dassies blinkoog, klipspringers spitsoor aandagtig
die kant van die Koo en die Keisie uit
het kettings ligte sweep geklap
en gevlegte linte aan die wolke gehang
eers het die storm gekom
met groot geraas en spuistrale wolkgoed
klipogies, engelekots
en toe
ná die skerp kleureboog
oor kop en riet
’n dragtiger reent aanmekaar en diep
met die sagte gekletter
van ’n skare mense wat verbykom met die nag
om bo in die berg van water
te gaan sing
perskes gewas en afgedroog
en een vir een opgeëet in die donker
’n genot vir die tong en die lippe
en ’n verbeelding vir die oog
in buur Jan se visdam
het paddas mekaar luidkeels
probeer bekeer
van mismoedigheid
dis dan gedoen
en geboen gedaan
hierdie dag kom nooit weer terug
nie so met kromming
en verskuiwing en beligting
ook nooit weer presies dieselfde hand
wat hier met honger vingers
oor die woorde vat
om tyd en haar verbygaan uit te vee
soos die dons van ’n perskevel