Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 14

6

Оглавление

oor die grens gekom

altyd weer oor die grens gekom

duskant is die kusmere ’n veryling

’n verkwyling en ’n vertwyfeling

van die mare nostrum

waar flaminke in die vlak water vroetsel

asof ’n fata morgana vertraan het

en in agterplase lê bootjies hoog en droog opgepéns

soos drome van dronk nagtelikse vryheid

onbetaamlik vir die dag se oog

oral langs die kuste stik vissers

hulle bietjie-brief lewens aan die naat

van ewigheid vas

snags is die donker godin se kleed van swart papier

en wit spoel die woorde uit

oor die grens

altyd weer oor die grens

na die land van die voël

die boomsinger die salmander en die wildevark

van vore vertes

en verre nabyhede

waar sipresse donker linte is

om die lewe flakkerend aan die dood te bind

Die windvanger

Подняться наверх