Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 18
10
Оглавлениеin die laatmiddag
toe dit nie meer so warm was nie
het ons die sipres by die voordeur
afgesaag en weggesleep
na die onderste kamp –
hy was groen en rysig en agtien jaar oud –
ek het die tou gewikkel om sy kruin
vasgehou om hom saggies ter aarde te laat
my handpalms klewerig van die rooi gom
swaar soos gestolde wind by een stywe mik –
hy het met ’n stugge sug gekantel
en lank daarna was daar oor die werf
nog die indringende geur van saagsels
gekneusde takkies en verskeurde wit vesels
van ’n ander lewe –
by die gat in die grond het mens geweet
van donker wortels wat nou gaan versmoor
die gesprek tussen lig en slaap is verbreek
in die laatnag
ná ’n maal van slakke en wyn onder die prieel
het ons tot op die kruin van San Grau gery
om in die verlatenheid te kyk
na die sterrereën
‘trane van die heilige’ sê mense hier
uit die stert van ’n komeet
wat net een keer elke driehonderd jaar
binne sigafstand beweeg –
op die bergtop is enkele klippe
van ’n vesting driehonderd jaar gelede
hier gebou as beskutting teen onbeteuelbare kragte
en ’n toring waar die kluisenaar in stilte
sy tong opgeëet het –
aan ons voete die liggies van dorpe
tot aan die see
en bo ons hoofde
waar ’n paar vliegtuie nog geruisloos flikker
en sewe miljoen sterre bewe
soos maaiers in ’n lyk
is dit soos om af te kyk
in die oop en donker aarde