Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 34
2
Оглавлениеonthou
grootwind
kom en waai alles weg
die dakke en skoorstene met pluime vonke
en vensters met hulle spieëlruimte van strate en tuine
die dogtertjies se poppe swem swaar gerok in leivore
selfs die bloederige lyk opgehang in die solder
kry vlerke
totdat die stad van konkel en koggel en kul
wat die mense gebou het
platgevee is
en op die land word bome sidderend ontwortel
hegte en heinings raak afwesig
voëls stort as winterknalle uit die hemel
en wolke verdwyn soos rokke rook
agter die dun en bitter einder
net die opskryfhand bly klou aan papier
wil alles weg kan laat
sodat slegs die onsigbare
gedig bly hang
gekleef aan die eie gewig
van ’n wind woorde