Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 28

20

Оглавление

Die dooie digter dryf in die water –

hy is baie ver van die land

van sy geboorte.

Hy kyk terug na waar hy vandaan gekom het:

die gekruisde kerkie, die vissersbote op die strand

met groot lampe vir vannag se vangs,

die witgekalkte restaurant waar menere en hul dames

ansjovis en mossels eet

en witblits uit die wingerde drink

Vér sien hy kinders sandkastele bou,

jong meisies nog vol bons

van opwinding en onsekerheid,

ou mans met krukke vir bene

en vrouens met geoliede verskrompelde tiete.

Uit die groen soom om die sloep

spoel die swoel somerse damp

van den, eik, olyf en vy,

en hy wéét dieper in lê die goue vasgestampte aarde

van sonneblomme en amandels

waar die akkedis vlugvinger flits

soos ’n vis op vaste grond

Die dooie digter dryf op sy rug en dink

boomsingers het godweet baie te sê

en meeue teen die wind is perfekte parabole

om die bewegings van ongeuite denke te begrens:

hierdie wêreld was goed vir my

Die dooie digter voel hoe trek die stroom

van ’n ander verlede

waar drome versuip het

en wrakke vasgetand op koraalriwwe slaap

in ’n ewige roes

Hy lag, draai om, swem

die dieper see in,

en was al die stront uit sy kop

Die windvanger

Подняться наверх