Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 29

21

Оглавление

aanhou lewe tot dit op is

en indien die grys gelatenheid

my sou voorlê en vang

wanneer ek in die son sit kwyl

en my naam en jou naam

nie meer sal kan hang

aan die tong

en niemand ontmoet om te vertel

in die omstreke

van hierdie helder somermiddag

is ek oorlede

nou juis nou

dat my hand die geur van jou vel herken

maar hoe mag die leegte

vorm onthou?

sal ek nog van geluk bewe

soos ’n klein insek

want jy het die bewegings

van my soeke bepaal

my opstaan en omdraai

tot selfs die gebare

van dwaal en verlies

die skadutrilling

van jou helder aanwesigheid

laat my kinds kweel

nou juis nou

dat my hand die kleur van ons spel vergeet

tot waar voorland verdwyn

en die op sedert altyd

vir ewig aanhou

Die windvanger

Подняться наверх