Читать книгу die na-dood - Breyten Breytenbach - Страница 33

vir Mari, Neo, Dominique en Annalet

Оглавление

julle het gekom soos geeste van gisters

om asse oor die water te strooi

en ek het my eiland vir julle bedroom

luister hoe diep roer en sing die see

kyk hoe bewe wind in die takkies

hoe voëls die hemel betree

julle drink my whisky en my wyn

julle eet die vis en die eiers

julle lag om die tafel

en soms is daar die hunkerende herkenning

van pyn in julle somber gevlerkte oë

want julle het alles vergeet

maar onthou die onrustige bewegings

van asse in die water

gaan asseblief weg

noudat julle die glinstering van lig kon sien dans

en die gordyne soos stil kolkende voue

van ’n kleed

gaan asseblief weg

voor dit te laat is

en vergewe en vergeet weer van my

en die onrustige voering van drome

se dans in die nag oor die water

los my hier

met die gesigte en die geeste van gisters

die na-dood

Подняться наверх