Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 10

WEDREN

Оглавление

En toe ons die gejuig hoor het ons geprikkel oor die balkontralies geleun maar ons kon drie huise verder deur die oop venster in ’n kamer net die rûe in pienk hemde van ’n ry gespierde mans sien. En dof die klank van ’n stem wat afgemete sekere voorwaardes en moenies uitlê. Die skeidsregter! Met ander woorde die resies gaan oplaas ’n aanvang neem. Enige minute later brul die eerste trekker dan ook en trek weg met die stank van geskroeide teer. ’n Jeep met twee konstabels in blou oorpakke daarin volg, hulle moet toesien dat die reëls gehandhaaf word. Ons hou dop van die balkon af, dis so donker soos olie, Stockholm slaap en deur die hol strate brul die trekker soos die kreet van ’n verwoede dier in ’n vanggat. Dan steek die ligte uit die koplampe eensklaps deur die duister op die promenade en die trekker jaag skreeuend die eerste golwe in. Dis ’n gevaarlike spel. Die trekker moet genoeg spoed kan volhou om die water voor hom te kan sny, as hy verslap word hy oorweldig deur die muur van bottelgroen borrels. Die jeep volg op die trekker se hakke om munt te slaan uit die lap tydelik droë seevloer. Die roete is deur die see tot in Duitsland en dan droëgronds terug tot in Stockholm. Ons hou dop van die balkon af, dis so donker soos gestolde bloed, waar die trekkers deur die see ploeg duik boë fosfories-glimmende water op soos silwer tornyne. Dan verdwyn hulle om die kaap waar die vuurtoring vee en die gebrul verdof tot ’n veraf ronk. Ons hou almal duim vas vir Sven, hy is ’n huisvriend en hy sal ons morele ondersteuning nodig hê want hy ken nie die roete so goed soos die ander mededingers nie. (Hy is van Lapland.) Fruke staan met ’n stophorlosie in die hand. Na twaalf minute loop ons uit tot in die agterplaas want hulle sal die wenpaal van die stad se agterkant af benader. Sven het ons later vertel dat met die uit op die wal klim in Hamburg, hy die roete kwyt geraak het. Alhoewel sy begeleiers, met hulle uniforms nat en soutwit teen hulle dye gevly, hom nie durf help het nie, het hulle tog, met glimlagte en knikke, sy kop in die vermoede van die regte rigting versterk. Tuis aangekom moes hy self die pad deur die huis vind, hy moes eenvoudig deur want die eindpaal was voor die huis op die dorpsplein. Hy het al die kamers oopgedraai. Een was ’n kombuis, ’n ander ’n toilet, die derde ’n hol waar twee mededingers wat reeds die paal voor hom gehaal het gelê en snork het. Maar met die vierde deur kom hy uit op die balkon, a, voor hom lê die dorp, Fruke slaan haar arms om sy klam lyf en sê: my liefling, as hulle jou nie verneuk nie is jy derde. Dit word reeds lig. Noorderligte baai die stad in geel. Die torings en kastele wys onaards op soos de´cor van karton.

En toe die son skyn wag ’n drommende skare in die straat voor die skeidsregter se huis op die uitslag, hoeveel verdrink ens. Sven en ’n vriend, albei in hulle beste blou pakke en met pette op, sit en wag in ’n treiler. Sven haal sy pet af, sy hare staan op in die wind, en draai sy edel gesig na die lig toe. ’n Man met ’n pluiskeil op vra of hy by hulle in die treiler kan kom wag. Hy lig sy keil, sy hare is dun en grys, die vlees van sy gesig versonke en droog.

Katastrofes

Подняться наверх