Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 11

GEEL GEVAAR

Оглавление

“Hy wat in dié wêreld die lewende skepsels, of hulle nou ook een of twee maal gebore is, laat ly, wat in hom geen meegevoel met lewende skepsels het nie, laat hom beskou word as ’n paria.” (Vasalasutta)

As die nag diep en dik is word ek wakker met ’n hik die duisternis wurg my aan die strot ek staan op muisvoet om sodoende nie my vrou (wandelend in drome deur paleise van winkels vol jasse en skoene met ligte snorke van misnoeë) te steur nie my kop bibber ek loop na die wasbak skakel klieks die gloeilamp wit HIERJY die vloer is uitgeslaan van kakkerlakke. Ek skrik my ’n boggel. Maar met die hande voor die oë skoert die swart dopdraers vlugpotig die onopsigtelike swart gaatjies langs die lyste af. Toe die son skyn lag ek so op my eentjie vir my ou bangbroekskrik van die vantevorese nag maar die daaropvolgende aand is dit weer so. En as ons saans tuiskom sit die vetgatte reeds en knibbel aan ons daaglikse brood asof waar hulle vandaan kom daar ’n groot droogte heers. Net die lig skrik hulle af. Ek was naderhand daarvan oortuig dat hulle bedags padgee na waar dit nag is. Maar hulle is tegelykertyd vinnig aan ’t aanteel. En hulle moes besef dat ek nie weet wat om te doen nie. Van my vriende wou dat ek hulle versuip of versmoor maar hoe kon ek? Sou ek van myself ’n uitgedrewe brak kon maak? Hulle gaatjies in die vloer interesseer my. So probeer ek dus een rustig-stomende dag die diepte meet en laat sak die een end van ’n tol gare in een skuilte: na 47 tolle gare en 8 uur 23 minute se afrol was daar ’n ligte pluk en toe ek uiteindelik die gare teruggeryg het swaai daar ’n vreemde ovaalvormige ryskorrel aan die punt. Noudat hulle my dilemma besef is hulle minder beskeie en een goeie môre sit ’n flukse tiental sowaar salig op die vloer en klets. Nou is dit klaarpraat. As ek afbuig sien ek hulle het donkerbrille op en hoor met ’n rilling hulle praat Sjinees! My huis is te koop en ek is bereid om enige billike aanbod te oorweeg/te aanvaar/aan te gryp. Ek werk nou as diepseevisser in Hammerfest.

Katastrofes

Подняться наверх