Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 7

BERGEN

Оглавление

Bergen is ’n stad van seemeeue en wit. Dis ’n kolossale seedier wat eens op ’n lank lank gelede uitgespoel het en nou opgeblaas en dood stadig disintegreer die seevoëls is brommers wat gedurig hoog bo die benerige lyf wiek deur die aaklige skêre van die snawels kla plons en vesels lappies vleis oppik. Die klokke huil soms die klank rol oor die dakke en terug veral as die wit sneeu uitgeskud word oor die stad die kerke die bote alles toegewit is in kokonne sneeu behalwe die seevoëls hulle leef bo die sneeu in die wind. Ek woon in ’n hol kamer en soms moet ek in ’n hoek wegkruip die kwêkende voëls loer met wit oë by die vensters in. Wit stengels reën val altyd langs die dun ruite verby behalwe as dit sneeu en die wit meer gaasagtig word die vlokke kom lê en stuiptrek op my vensterbanke maar in die somer is dit alles anders en nou ’n onmenslike harde wit lig wat dag en nag teen die ruite stamp. Die ganse wêreld is wit daar is niks om te eet nie maar nogtans swel vreemde karbonkels gesaai oor die aardoppervlakte en woeps bars oop en kopknikkende wit blomme groei daaruit die seemeeue stryk neer en bekyk die blomme met gekantelde beenkoppe. In die kamer langsaan myne sterf ’n ou man met rukke en stote ek kyk soms deur ’n skrefie in die muur na sy manewales hy sit regop in die bed en beduie rasend met sy deursigtige hande en staar na die gordyne voor sy venster wat wit bol in die wind en kwak nee nee. Dit sal hom nie veel help nie die seevoëls sal hom bykom. Die vrou met die geronde kuite en die oë soos voëls klim soms die trappe na my kamer op om gulsig onder my op die bed te kom lê en in die somer bring sy ’n bossie kopknikkende wit blomme mee en ek steek dit in ’n bottel op die tafel. In die nag hoor ek ’n lawaai en as ek vervaard wakker skrik het die blomme reeds die venster uit opgevlieg en kwê-kwê fladder nou in die wit nag buite en loer na my met knoopoë. Verraaiers en lokvinke! Die ou man wat met ’n gesukkel sterf kerm ek kan sy lippe hoor sputter. Ek kruip onder die bed in. Maar dit sal nou nie veel meer help nie. Hulle het gewis die lê van die kamer deeglik bespied.

Katastrofes

Подняться наверх