Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 8

DIE BOENK

Оглавление

Die boenk is ’n nuwe dier: met 3 oë en 5 bene en dus altesaam 31 tone. Dit dra stewels want dit se voete is teer. Die ore is lank en pesig en bedek met hare wat dien as skokbrekers of klankkussings want die geluide van dié wêreld is te brutaal vir sy oordromme. Sy ore is van meer nut, of dien as vlerke. Alhoewel die boenks lomp in die lug rondval is hulle geharde vlieërs. Hulle leef op land of in die water. Eintlik is hulle gek na water en dis glad nie verrassend om soms as jy jou hande wil was ’n boenk uit die kraan te sien peul nie. Hulle is rustige diere en byna heilig omdat hulle so nutteloos is. Soms in die somer kan jy ’n boenk pylregop in die lug sien opvlerk (-oor) tot bo-op ’n wolk waar dit dan hemels op die rug gaan lê en snork. Soms loer hulle af oor die rande van die wolke en roep. Dié klank ontstel vele aardlinge want dis kompleet asof hulle onbedaarlik skater oor iets wat belaglik is hier onder. Hulle leef van boomvisse maar hulle klim met moeite want met hulle stewels aan is dit moeilik om vas te trap en te klou. Snags hoor mens hulle in die bome vroetel en as hulle versadig is kraai hulle van die lag met doodernstige gesigte. Ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki giggel die wyfies (met plat sterte) en die reuns antwoord met ’n skommelende ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku. Hulle sou graag groter geluide wou maak maar omdat hulle bril dra vir hulle swak knippende oë is hulle beperk tot die klank wat die mins moontlike wasem op die brilglase sal blaas. Hulle hou daarvan om oor hul mae te streel.

Katastrofes

Подняться наверх