Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 5
OOPMAAK
ОглавлениеAlles kan oplaas tot rus kom in ’n draaikolk van stilte. Die klanke van die dag verflou. Laatson skyn vas teen die ruit, en daardeur tot in die kamer waar die spikkels stof deur die goue streep beweeg soos dansers in kalklig. ’n Wind ritsel die velle getikte papier. Nou kan mens ontspan in die stuurkajuit van die stoel. Mens stuur jou brein se oog op met ’n vlieër tot hoog bo die stad. Sodat die gemaande oog die horisonte kan bespied. Hoe ver is die pers wingerde en geklitste kuste van my land? Is die buitelyne van die heuwels nie die Suiwer Liggaam van Boeddha nie? Waarskynlik nie. Of dit kan net sowel Jan Smit s’n wees.
Ek slaan my oë op na die berge met rakette. Laat hulle op hulle eie gaan aas en die vodde kyk dan terugdra na die nes van my ingewande. Slag die binnepens self oop. Niks behoort aan jou voordat jy dit nie geëet het nie. Hier is die inhoud van my maag dan. Hier staan hulle nou in gelid, elkeen met ’n naam, ek tel die koppe twee by twee. Hulle kom van ver oor die blou berge vandaan. Watter nuus bring jy van die huis Tokkelossie?
Ons is hier om die lewe te slyt. Dis die maand Mei, die bome se gestolde bloed swel uit in groenerwordende plat blare. ’n Hond galop oor die pad. In die park stoot skemer van onder af teen die bome op. Die wind verstil, maar die blomme val nog; ’n voël sing, en die berg hou nog meer misterie in. Vanaand, as die maan vol is, sal Gautama weer sterf, weer gebore word, weer die sagte slakkevlees uit die skulp van onbewussyn graaf, weer sterf. Hierdie nag het Boeddha Nirvana ingegaan; dit was soos hout wat heeltemal uitgebrand het.
My vrou het so pas verjaar en verstaan nog steeds geen Afrikaans nie. ’n Vriend van my het onlangs drie dae lank sonder enige rede in sy bed gesit en huil totdat sy oë in hulle oogkaste soos huisvissies in glasbakke was.
Ek is maar net ’n spioen, elke dag uitgestuur op ’n nuwe verkenningstog, vermom onder hoed en baard en pyp en idees en redes en vel.
Maar ek hoop om sodoende ’n waterdigte saak teen die lewe te kan opbou. So kom daar miskien later ’n slot.
Daarom, om by te las aan die voet is ’n bylae van vlees; om by te las aan die hand is om ’n nuttelose vinger daar te plant.
Die ligte blomblare val oral met harde knalle. Huil soos ’n viool. Huil, huil, huil, huil, huil.
(Parys Wesak 1964)