Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 13

SIN VIR WAARDES HO! MANNEKYNE

Оглавление

Dis ’n liederlike affêre tot my ontsteltenis moet ek erken dis ’n liederlike affêre en hoe ek my daaruit gaan wikkel daar’s nou vir jou ’n breinbreker want ek is seker ek sal binnekort in eensaamheid leef vriende weg selfs mnr. Hiert weier om Saterdagagtermiddae sy grasperk nat te lei en dit het alles so onskuldig begin. Op die vismark het ek dié rare swart swemmertjie gekoop ’n ou vrou met pers tande had hom in ’n klewerige konfytbottel en my eerste indruk was ha-ha sy probeer my ’n kat in ’n sak afsmeer want hy het oënskynlik leweloos op die bodem van die bottel gelê maar toe roer hy sy handjies en na ’n beleefde gekibbel oor die prys koop ek hom vir 50 centimes en dra hom huis toe ek was opgewek en op vensterbank in visbak gedompel hy was ’n lui gedoente dae lank in week winterson gelê en koester stadig gegroei snaaks olierig-swart en glad. En die water het vergeel. Skielik eendag besef ek o heiland dis gewoon urine en ontstoke met kouende kake oor visbakrand geloer urine uitgesmyt ek was die herrie in. Toe hy waterloos op glibberige bodem lê en splosjel skielik piep hy visgraat-stemmetjie: Sin vir waardes ho! Mannekyne! Natuurlik was ek oorbluf handbewe en met sorg vars water in sy glashuis getap hy was tevrede. En hy het groter geword. Visbak te klein. Is verplaas na skottel van skottel na emmer van emmer na balie van balie na tenk en leef nou in die bad in die badkamer en het nie veel verander nie net die stem is sterker en dra bril en sy talent vir urineer is ontstemmend ek spandeer my dae met opdrooglappe ens. want nou flep hy ook rond en sit selfs soms in tuin in son veral noudat die somer in die bome hang. Die bure kla ek probeer my uiterste om hulle te paai maar o heiland veral aangesien hy gedurende die laaste paar dae die gewoonte het om deur die heining in anderman se jaart te pis mnr. Hiert se grasperk is stoppeltjies. En die polisie het kom murmureer dat die rioolsisteem nie al die urine kan wegvoer nie die hele buurt stink mense pak op en trek weg en die bure sê hulle word op die onmoontlikste oomblikke gesteur stilte verbrysel deur ’n bulderende kreet van: Sin vir waardes ho! Mannekyne! Wat sal ek doen? Dis ’n liederlike affêre tot my ontsteltenis moet ek erken dat dit ’n liederlike affêre is en hoe ek my daaruit gaan wikkel daar’s nou vir jou ’n breinkraker want ek is seker ek sal binnekort in eensaamheid leef vriende weg selfs mnr. Hiert weier om Saterdagagtermiddae sy grasperk nat te lei en dit het alles so onskuldig begin. Maar dit kon erger gewees het. Hy kon vaste stowwe ook moes eet.

Katastrofes

Подняться наверх