Читать книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach - Страница 9

SELFMOORD 1

Оглавление

(aan Jim)

Was dit selfmoord? En indien wel, waarom sou dit wees? Dit was eens op ’n somerdag en die hele land was geel en die skilferige aarde onder ons voete was kokend. Daar was ’n fees in die dorp maar ons was sat daarvan en het omgedraai en weggeloop tot op hierdie baar kneukelrige plato. Ver agter ons was die wit brandende dorp. Hy het met hoë oë vir ons vertel dat die aarde hier vyandig is maar ons wou hom nie glo nie. Ons het met ons oë op die heet grond verder geloop en toe ons ’n kreet hoor verbouereerd omgewiel en hy was weg, net sy bundel gedigte lê in die stof. Sy hol weergalmende hopelose skreeue het vanuit die binneste van die aarde gedemp na ons toe opgevlieg. O God J. het in die aarde ingeval het Arlene begin skandeer en ook my vrou huil blink deur die neus en ek voel leeg op my maag. Ek loer af deur die gleuf en sien jou vér onder omgedop op jou rug en kriewelend met arms en bene in die lug soos ’n bulkende gogga. Bulk stringetjies onverstaanbare woorde op na bo. Wat kon ek doen? Eenkant was die oog van ’n ondergrondse stroom wat naby jou moes verbyvloei. Ek het my voorlyf in die blou gat gewikkel (om eers te spioeneer) en toe weer my kop proestend uitgetrek en my vrou het met wurmrige hande gevra of dit diep is. Maar ek is braaf en het diep asem geskep en afgeswem vroetel in die maalgat om ’n draai en na die ondergrondse wateroppervlak geskiet soos kurk. Uitgeklim en op my hurke met jou gaan sit en praat. Jy glimlag breed met jou bruin en besproete kop. Jy was swak en dronk en witoog maar ons kon jou dalk ophys aan ’n tou deur die skreef in die aardvel waar die lig insyfer en ons die vier angstige oë van die twee vroue kon sien (soos fosforiese eiers in ’n nes). Die lap blou lug was geheimsinnig soos ’n gebrandskilderde kerkvenster. Arlene kronkel die een end van ’n bergklimmerstou af. Ek verduidelik laggend vir jou hoe kinderspeletjies dit is en klouter dan met fluitende lugpyp tou-op uit deur die kraak tot bo-op die aarde en loer terug en moedig jou aan kom kom nou J. Jy vat die tou vas tussen jou rye vingers en begin klimskuif maar toe halfpad na bo huil jy en laat los en val knallend in die water. Dop weer eens op bo die malende blou loei en verdwyn dan. Lank het ons net so op die grond bly sit. Toe het ek geloop na waar sy boek in die stof lê en dit opgetel en oopgeslaan. Skielik was daar ’n wirr vanuit die boek en die klank van ’n swaar vlerkgeklapper in die lug.

Katastrofes

Подняться наверх