Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 10

Oujaarsaand

Оглавление

And those who were seen dancing, were thought to be

insane by those who could not hear the music.

– Nietzsche



Eintlik is Oujaarsaand die mees onnatuurlike, desperate aand van die hele jaar. Die aand van gedwonge vreugde. Die ou jaar met al sy dinge het sy gat gesien – lank lewe die nuwe jaar! En môre is net soos die dag van gister, oormôre en die dag daarna. Miskien met één verskilletjie – die gebruiker het tien teen een ’n kloppende hoofpyn.

Onthou bietjie, of stel jouself voor, gewoonlik word daar gedans. Tradisioneel sal die Suid-Afrikaners hemelhoë vure bou waar vleise sissend tot gaar getoor word. Almal het verspotte papierkepse op en in die mond so ’n zoeiing-blaasding wat soos ’n verkleurmannetjie se tong uitskiet en weer teruggesluk word. Die drank vloei, want daarsonder kan die mens nie meer jolig wees nie. Alles word gedoen om vrolikheid te skep. Dan beier die klok en jy gryp die naaste nooi, dít met ’n klapsoen. “Voorspoedige nuwe jaar!” laat almal hoor en die klappers klap en die honde word mal en die nuwe jaar begin met ’n wrang smaak.

Daai klapperknal laat my dink hoe ek en Nanna, my eie persoonlike vrou, Oujaarsaande vier. Die ergste is dat sy die volgende dag verjaar.

Dis ’n rustige aand. Ja, ek pak ’n vuurtjie en braai dikrib. Sy maak heerlike strandloperpoeding (soet aartappelslaai met agurkies). In die swembad dryf ons rond en korswil oor die jaar wat verby is en ook oor dít wat kom. En dan net voor twaalf gaan lê ons by ons tien katte en vier airedale-terriërs en sing vir hulle slaapliedjies, terwyl Grande Roche, daai stinkduur kuierplek van die rykes in die Paarl, die hemelruim in kleure tooi saam met ’n kakofonie van bomontploffings en mortieraanvalle. En hulle buitelandse gaste vergeet van Dresden, Guernica en Londen se Blitz.

Ek weet egter ook dat niemand alleen wil wees as die jaar sy draai maak nie. Die illusie van ander se vreugdevolle samesyn maak die Oujaarsaand-alleenmens se alleenheid net erger. Soos my vriend Johan Potgieter, kaptein ter see, eendag gesê het: “Eensaamheid is die alleen as jy nie meer die keuse het om alleen te wil wees nie.” So erg dat menige mens nie kans sien vir die nuwe jaar se slomp nie – en vir ewig bly hulle in die ou jaar agter. Dan word hulle die nuwe jaar in ’n houtkis in gekarwei. Het julle al gedink hoeveel eensames vergader op Trafalgarplein, New York se Times Square, Barcelona se La Rambla en Iberië se nagklubs? Dis soos Langenhoven gesê het: “ ’n Skare mense is ’n versameling van eensames.”

Dis Oujaarsaand. Ons vier is op ’n Emirates-vlug op pad Rusland toe. Ons sit langs mekaar, oorkant mekaar. Menende twee-twee in ’n ry, met die paadjie wat ons twee-twee skei. Reis na die onbekende maak vrolikheid. Ek, Kalie en Fellies was al in Rusland – dis vir Roland ’n nuutjie. Ons almal ken vlugpersoneel-bediening, veral op ’n ellelange vlug, en bestel elke keer twee dubbeltjies wanneer ’n lugwaardin verbytrippel. Dis tog Oujaarsaand en dit noop ’n vreugde, al is dit soos reeds genoem plasties van aard.

Die kajuitpersoneel is ’n mengelmoes. Kosmopolities is eintlik die woord. Dis vir my die wonderlikste van die Arabiese lugrederye, Etiad, Emirates, Qatar en dies meer. Hulle het harems vol mooie vlugpersoneel. Uit Maleisië, Zimbabwe, Frankryk, Viëtnam, Gambië, Duitsland en selfs Suid-Afrika – almal getooi met so ’n loshangende sluiertjie.

En soos die dubbeltjies inskop en die twaalfuurklok van ’n nuwe jaar al verder weg beweeg soos ons oor tydsones vlieg, die rit al móéglank word en ons bene verkramp, besluit ons om te gaan “vleis braai” in die vliegtuig se agterstewe … Asseblief, moet die opmerking tog nie letterlik opneem nie. Ons Afrikaners haat benoudheid. Dis hoekom ons so lekker gesellig rondom ’n vuur kan staan. En die enigste rondomstaan op die vlug Doebai toe is dáár, saam met die haremmeisies by die toilette aan die gatkant van die vliegtuig op pad die toekoms in.

Die meisiekinners laat ons die betreding van hulle ruimte toe, want dis Oujaar en hulle is ver van hulle mense en hulle mense se liefde.

En daai nag op vlug EK711 vier ons die lewe. Nie die nuwe jaar of die ou jaar nie. Die lewe van menswees. Aminatta van Sierra Leone vertel van die verskriklike burgeroorlog wat hulle moes beleef het. Rufaro van Zimbabwe vertel van die mislukking van Robert Mugabe, en Esther van Reitz vertel van Zuma se geploeter. En ons vlieg die nuwe jaar in, na die koudste plek op aarde. En toe die nuwe jaar breek, toe weet ons ook nie vir wat nie …

Openbaring

Подняться наверх