Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 12
In transito
ОглавлениеI met a lot of people on my travels. I even encountered myself.
– James Baldwin
“In transito” beteken wanneer jy van punt A na punt B op pad is. Ek glo “in transito” is deel van die reis, en partykeer ís dit die reis – menende jy is heeltyd aan die beweeg. Daar is geen eindbestemming nie. Ek noem dit “pad-af boemel” (’n “road trip” soos die jongmense dit deesdae wil).
Maar met hierdie ellelange winskoopvlugte van die Arabiere is die reisiger werklik in transito. Hy wil regtig net aan die ander kant kom. Maar hulle maak dit nie vir jou maklik nie …
Jy sien, daai “goedkoop” vlug Moskou toe is eintlik ’n slenter, want die Emirate wil hê jy moet ’n dag of wat op daai so-groot-soos-sewentien-rugbyvelde-lughawe in Doebai vertoef. En ten duurste van hulle “made in China” egte Arabiese snuisterye aankoop.
Dit kan ook wees dat jy gelukkig is en mense ter plaatse ken. Dan kan jy ’n dag se oorstaan in ’n reis omtimmer. Laurie en Evette Mitchell het ’n dagbesoek aan Doebai in ’n heerlike besigtigingsreis verander, so ook Johan en Rooi Alet Knoetze in Doha, Katar.
Dis egter daai nagtelike of halfdag oorstaan in transito wat die nagmerrie is … Nou moet ek eers iets oor myself vertel. (Verskoon as ek selfvoldaan klink; sien hier onder.*) Behalwe dat ek hiperaktief is (ek rol en wieg myself byvoorbeeld pootuit voor ek aan die slaap raak en kan nie vir een oomblik stilsit nie), is ek ook oraal gefikseerd. Ek dink dit kom van kleintyd af – volgens my ma kon sy nooit genoeg melk produseer nie. Met orale fiksasie bedoel ek my mond moet heeltyd besig wees. Of ek eet, of ek drink, of ek rook, en dan praat ek myself moeg. So tussendeur, partykeer sommerso met myself, en ja, ek antwoord myself.
Nou wat doen iemand van my kaliber ’n paar uur lank op ’n Arabiese lughawe? Kom ek verduidelik. As ek ná agt tot elf ure uit ’n vliegtuig uit strompel, dan moet ek my pyp opsteek. Bloot oorlat vars lug ’n afwerse invloed op my longe het. En ongelukkig het die mense met swak longe internasionaal die oorhand gekry – jy mag nêrens meer in die openbaar rook nie.
Op elke lughawe wat sy man staan, is daar gelukkig sulke rookhokkies. Mense – dis nou vir dié van julle wat nie rook nie – as jy daar instap, neuk jy by Dante se negende hel in. Dis die enigste plek op die grote lughawe waar die lugverkoeling nie werk nie. Die “extractor fan”-konsep het skynbaar by die ingenieurs verbygeglip. “Blou gerook” is ’n mistasting, want dis bleddie swart van die rookdampe. Tussen die verdoemende wolke staan die uitgeworpenes, teugend aan hulle kankerstokkies. Hier word nie ’n woord geuiter nie – hier rook jy net. Daar is so ’n desperaatheid. Nie een bliksem wil hier wees nie, maar hulle móét. Navorsers sê buiten heroïen is nikotien die mees verslawende dwelm. Maar ek is nie hier met ’n wetenskaplike joernaal besig nie. Die beginsel is dat pyp rook vir my ’n ritueel is, en die donner alleen weet, as ek in daai hokkies moet inbeweeg, is ek bitter desperaat. Gewoonlik probeer ek die donker atmosfeer lig deur luidkeels met die instapslag in Afrikaans te vra: “Hoe gaan dit met julle longe?”
Nodeloos om te sê het niemand my nog ooit geantwoord nie.
Nou, op ’n Arabiese lughawe is daar ’n verdere probleem. Alkohol!
Ja, want “geen goeie storie het begin met iemand wat slaai eet nie”, lees ek op Facebook raak. En dit is so. Ek wil nou nie weer die een of ander resensent, wat oor ’n vorige boek gesê het “maar die skrywer drink darem baie”, skietgoed gee nie, maar ’n koue bier op sy tyd maak vir my sin. Hulle sê mos bier is ’n homeopatiese geneesmiddel teen depressie. En ’n lang vlug is depressief op sy beste.
So waar kry jy ’n bier in Doebai se kilometer op kilometer lughawe? By instaphek nommer C23. Irish Pub, noem hulle die plek, en wragtig, jy mag daar binne rook. ’n Bier kos ’n honderd rand.
Maar dit is nie wat die plek besonders maak nie. Dis die paaie wat daar kruis gedurende die paar ure se oorstaan. Die nie-roker en nie-gebruiker sal hierdie stukkie lewensreis misloop.
In daai kroeg vergader hulle – meestal eks-soldate, uitgespoeg deur ons huidige Suid-Afrikaanse regering se onbevoegdheid om na sy eie mense te kyk. Hulle is op pad weg of op pad terug van bestemmings wat nie op die gewone reisiger se lysie verskyn nie. Plekke soos Afganistan, Kosovo, Iran, Irak of Somalië. Diepseeduik-konstruksie in die Karasee. Sendingwerkers in Kazakstan. Skoolgee in Jemen.
Terwyl ons vier makkers wag vir ons aansluitingsvlug Moskou toe, bly ek oraal gefikseerd. Ek rook, drink, eet, praat en luister na medereisigers in transito.
* In die reisverhaal word alle reisindrukke vertel en beskryf vanuit die gesigshoek van die reisiger-waarnemer. ’n Kenmerk van die strukturele organisasie van die reisprosa is dat die persoonlikheid van die waarnemer-verteller ten nouste met dié ruimtebeskrywing geïntegreer is.
– M.C.A. Seyffret: Literêre terme en teorieë (2013)