Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 8

The Road of Bones

Оглавление

Thrown into a driving snowstorm

My eyes fill with darkness (…)

Before me, foul Kolymá (…)

Ride, ride, ride on the road of bones

Die, die, die on the road of bones

Desolation does surround me

Permafrost is my cold bed

I’m a zombie of the Gulag

Dying slowly and living dead

Forty degrees below the redline

The purga blizzards howl

– Ignitor, “Road of Bones”



Ek begin die konsep “kajuitkoors” verstaan. Ons is sewe, vasgekluister in ’n voortsnellende bussie wat gemaklik vir ses sou wees. Die voordeel is dat sewe liggame se hitte beter is as ses s’n. Aleksander Motorin, die Wille Rus, ruk sy AK47 binne die karretjie oop om vir ons te wys hoeveel patrone daar in die magasyn is. Vir wat? Jy kan tog nie koue wegskiet nie. Buite is dit minus 40 grade Celsius. Ons is teen alle beterwete in op pad na die koudste plek op aarde. Daar waar mense ’n leefwyse probeer uitkerf. Vir wat? Omdat ons nie lou is nie …

Die aandurf van die ekstreme sit nie in enige ou se broek nie en die keuse van reisgenote word uiters belangrik. In die skemerlig van die kajuit loer ek onderlangs na my medereisigers.

My boesemvriend Kalie sit so middelskuins oorkant my. Ons paaie loop al agt-en-twintig jaar saam. Ons reis nie sonder mekaar nie – al snork ek. Ek sal hom met my lewe beskerm, en hy vir my. Maar fok, sy bootse wat heeltyd in hierdie beknopte ruimte teen my lieste skop, begin my irriteer …

Langs my sit Aleksander. Hy is die enigste Rus wat bereid was om as gids ons die barre, woeste doodsakker van die Kolima, Stalin se Pad van Gebeendere, in te vat; en dít in die dikste Siberiese winter. Met sy massiewe beroeps-draadhokvegterlyf vat hy ’n sluk wodka, sommerso uit die bottel uit, en span sy Tokarev-pistool …

Roland Berry koes terwyl Aleksander die pistool rond­swaai en vir ons iets in Russies probeer verduidelik. Sy Engels bestaan uit “da” en “njet”. Roland sit ingekrimp – nie as gevolg van koue nie, maar weens die min ruimte aan ons kant van die bank. Hy is eksmilitaris en -beroepsoldaat, en die laaste ou wat ’n Tokarev in sy gesig geswaai het, lê iewers in ’n vlak graf in Vamboland. Die ideale reisgenoot.

Langs Kalie aan die oorkant sit sy broer, Fellies. Hy het sy eie tierlantyntjies, maar saam met Fellies sal ek deur vuur stap. Iets omtrent sy manier van reis gryp my aan. Dis asof daar ’n passie vir die bisarre bestaan … en hy’s nie bang nie. En dan rook hy ook (tans glo hy hy’t opgehou …).

Voor in die bestuurskajuit speel die een of ander Russiese “schlagermusiek” herhaaldelik. Dis sulke polsende luistermusiek en ek dink die kunstenaar is Anna Cavia wat “Desire” in Russies sing. Vir die vierde keer. ’n Sluk van Sasja (verkleiningsvorm vir Aleksander) se wodka maak dit draagliker. Of so vermoed ek.

Aan die hulpbestuurderskant sit Sergei Goerkin. Alpinis van die ou Sowjetunie. Ons ken hom goed. Vyf jaar gelede het sy jong gidse ons die Altaigebergtes van Wes-Siberië uit gelei. Ons wou voel hoe voel minus 20 grade Celsius bo vierduisend meter. Hy’t nog ouer geword. Annapoerna en Nanga Parbat se klim is hersenskimme in die verlede. Die verskrikking van hierdie rit, in die middel van die winter na die koudste plek op aarde, het vereis dat hy móés saam – al is dit net om saam met sy enigste Suid-Afrikaanse kliënte dood te gaan … Sy Engels is ietwat meer geradbraak as Sasja s’n. Dis beperk tot “da” en “njet”, en dan weet hy nie wanneer om watter een te gebruik nie!

En dan is daar Maxim Kazarin, die held van die verhaal. Hy’s gesubkontrakteer om met sy eie dubbelgeïsoleerde Boechanka die mal Suid-Afrikaners die yslande in te karwei. Geen Rus ry as die kwik onder minus 40 grade val nie – veral nie op die Pad van Gebeendere nie. Volgens oorlewering maak die koue dat die lug in die bande onstabiel raak. Sou die motor breek of die petrol vries en die enjin vrek, dan verander die voertuig in ’n kis-yskas. Ons kontak met die buitewêreld is ’n sneeuponie wat ons agterna sleep en ’n satellietfoon sonder batterye, gereël deur Sasja die draadhokvegter. O ja, en Maxim se Engels is so geradbraak soos sy Afrikaans.

Vier Suid-Afrikaners en drie Russe op die pad van die dood … Vir wat?

Openbaring

Подняться наверх