Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 4

Heil die Leser

Оглавление

In Openbaring 3:15-16 staan daar: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

’n Paar jaar gelede skryf ek:

Ek het ’n sekere leefwyse gekies. Sou dit vir die “normale” mens redelik hedonisties lyk, dan is dit nou maar so.

Ek’t kanker gehad, ek’t emfiseem (en my are is verstop – nuwe toevoeging), maar ek het so gelewe omdat ek wou. Ek is nie ’n “tweede kans” gegun nie – dit wat my oorgekom het, was deel van een leeftyd. Ek gaan net normaal aan totdat die hekke finaal toeklap. So gaan ek nie nou my lewenstyl verander om “langer te lewe” nie; ek het mos voluit gelewe tot nou – hoekom dan nie tot die einde nie?

As ek dit nou weer lees, vier jaar “down the drain”, dan dink ek: Hel, dis egosentries! Dit daar gelaat, want ongeag die voorafgaande was ek nie getrou aan myself nie. O ja, ek het nog steeds die horisonne in geloop, plekke en dinge beleef wat min mense oorkom, ervarings gehad buite die normale verwysing … maar ek’t opgehou om dit te deel. Te deel met dié wat weens omstandighede dit nie self kan ervaar nie. Ek het opgehou vertel – vier jaar gelede. Ek het dertien maande lank opgehou rook en wragtig ook vier maande lank opgehou drink, maar die grootste verraad was dat ek willens en wetens opgehou skryf het.

Maar nou, omdat jy lou is … sal Ek jou uit my mond spuug.

En daarom, met ’n ysige glas Kaapse wit en my pyp boepens gestop met Leonard Dingler se Boxer-tabak, skryf ek vanaand weer – al is dit net vir myself.

En ’n kortverhaal word ’n ellelange boek …

Om te onthou, is die skriba van die siel, het Aristoteles gesê.

Openbaring

Подняться наверх