Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 15

Injera, koffie, khat en Anna Davel

Оглавление

Drugs may be the road to nowhere, but at least it’s the scenic route.

– Onbekend



Ek en Kalie reis deesdae nie meer maklik sonder mekaar nie. Die ding kom al van jare terug. Ou dae het ek alleen die avonture aangepak en vyftien jaar lank het Kalie nét geboer. Ek’t hom wel saam genooi maar sy antwoord was maar altyd: “Norrefok, ek moet boer.” Ek weet egter sy hart was altyd saam die wye woestheid in. Tot eendag – toe die plaas staan gemaak is, toe gaan hy saam en hy neuk by omdraai verby. Nou’t ék nie meer rus nie. As dit net lyk of ek op my stoep wil sit en na die berge tuur, dan reël hy ’n ekskursie. Dan beplan ons ’n jaar of wat lank, óf in sy kroeg óf in myne, met ’n botteltjie of wat vir geselskap, aan die mees bisarre reise wat ons kan uitdink.

Nou, die woorde “bisar”, “gevaarlik” en “onlekker” is moerse belangrik. Dit moet so sleg klink dat ons vrouens geen behoefte sal hê om te wil saam nie. So sou ons dan Indië toe moet gaan om die berg Stok Kangri (6 200 m) in die Ladakh-provinsie te gaan klim. Die feit dat die Taj Mahal en Varanasi toevallig op die pad soontoe lê, is ’n bysaak.

Dis dan ook op hierdie reis dieselfde. Die doel van die besoek aan Ethiopië is om Ras Dasjen, die vierde hoogste berg in Afrika, te gaan beklim – maar eintlik om na die warmste plek op aarde waar mense nog ’n leefwyse uitkerf, te gaan. Ons kan nie help dat Ethiopië en al sy besienswaardighede ook by die soontoe-en-terug-reisplan ingesluit is nie.

Degarege Fente ontmoet ons laggend op die Bahir Dar-lughawe. Ek sien onmiddellik die ondeundheid. In die gewone lewe is hierdie mannetjie ’n ou kakmakertjie, dink ek.

Soos die flenter-vervoermiddel ons deur flenter-strate van die dorp karwei, spring Degarege elke dan en wan op om iets te beduie. Nét daar, ook miskien omdat die uitspraak beter op ons tong val, herdoop ons hom na “Steyntjie”.

Bahir Dar lê teen die Tanameer, die grootste meer in Ethiopië, met ’n oppervlakte van 3 673 vierkante kilo­meter, en dit is ook die oorsprong van die Blou Nyl. Uit ’n toeriste-oogpunt is daar twee belangrike besoekpunte. Aan die een kant Tis Abai (die Rook van die Nyl), volgens oorlewering een van Afrika se asemrowendste watervalle. Dan die eiland-abdye (kloosters) wat dateer uit die sestiende en sewentiende eeu.

By die Tana-hotel teenaan die meer hergroepeer ons. Ons sluk haastig ’n Dasjen-bier af en Steyntjie sê maar hier is nie tyd vir rus nie – die bussie wag om ons valle toe te vat, en daar gaat ons.

Nou, voor ek die leser gatvol maak as gevolg van “en toe het ons dít gedoen en toe het ons dát gedoen”, net die volgende:

Die valle was ’n moerse teleurstelling. Miskien oor óf die nuwe hidroëlektriese aanleg wat die water weg kanaliseer óf die tyd van die jaar. Maar die waterval is ’n vulletjie teen die Victoria, Epupa, Augrabies en selfs die keerwal daar in die Bergrivier in die Paarl. Wat wel uitgestaan het, om die waarheid te sê, so ook in die hele Bahir Dar, is die “faranji”-histerie. “Faranji” beteken “wit man” in Amhara, die spreektaal van die meeste Ethiopiërs. En waar jy kom, sal die kinders jou bestorm en letterlik skreeu: “You, you, give, give, faranji, faranji, sweets, sweets, give, give, money, money, fuck off!”

Bahir Dar het vir my egter vier besonderse momente opgelewer.

Moment een:

Ons is honger. In die ou dae het ek op reis deur Afrika my eie kos gekarwei, erg bang vir maagaandoenings wat ’n reis kan befonkfaai. Maar ek’t lankal geleer as jy die mense regtig wil leer ken, dan eet jy hulle kos. Daar is niks wat ’n goeie dosis Valoids en ook ’n klap of wat Imodium nie kan regruk nie.

Steyntjie neem ons na die Inketatasj Restaurant en jou wrintie, die plek behoort aan Sofia (Roland se medepassasier) en Gigi-die-sangsensasie se pa, en wragtig, hulle weet van ons. Roland het seker “uitgepraat”. Onmiddellik word Gigi se CD opgesit.

“What do you want to eat?” vra die pa.

“Anything traditional, but please tell us about Gigi,” laat ons hoor.

“Gigi is one of the most successful contemporary Ethiopian singers worldwide. She lives in San Francisco.” En op die speler sweef mooie musiek na ons.

“The song is called ‘Guramayle’, meaning ‘God grew tir­ed of us’.”

En ek weet nie hoekom nie, maar skielik dink ek aan Anna Davel, seker my gunsteling Afrikaanse sangeres daar in ons suiderland.

“Tell us about Sofia, who we met on the plane.”

“Sofia’s name is traditionally ‘Tigist Shibabaw’ – my name being Shibabaw. I’ve got ten children. Sofia followed her sister in also trying to be a world-famous singer. But it isn’t working for her. So my house will always be open if she wants to come back permanently. You’ve just missed her. She is visiting friends.”

“It’s time for injera, Ethiopian traditional dish!” val meneer Shibabaw homself in die rede en verdwyn na agter. En toe bring hulle die borde …

Injera is pannekoekagtige, suur, plat baksels wat lyk soos rubber. Dis die kleur van vuilgrys skottelgoedwater (Kalie se vergelyking) en is nie baie aptytwekkend nie. Dit word gemaak van tef en het min tot geen voedingswaarde. Die tef-deeg word gefermenteer tot drie dae voor dit gebak word, vandaar die rubberagtigheid en suur smaak. Injera is die basis van die ete, soos rys vir die Chinese en Japannese en pap vir ons mense is. Dit word óf plat in ’n groot bord óf in opgerolde toiletrolgroottes opgedien saam met ver­skeie bakkies smirrie – meestal ’n vleis- of hoenderbredie en sterk gegeurde souse. En met die regterhand (onthou, jy is veronderstel om volgens daardie kultuur jou linkerhand vir ander goete te gebruik) vou jy stukke injera om die bredies en souse en eet dat die sop so spat.

En terwyl ons wegval, speel Pappa Shibabaw ’n liedjie van Tigist (Sofia) Shibabaw en dis vir my baie mooier as “one of the most successful contemporary Ethiopian singers worldwide” s’n.

(Nota: Die liedjie se naam was “Home”. In 2008 kom Tigist terug na Bahir Dar op ’n bedevaartstog en sterf onder “unknown circumstances”.)

Moment twee:

Volgens oorlewering het koffie sy ontstaan in Ethiopië gehad. Ek het nie die korrektheid van die stelling gegoogle nie (ek skryf in my kroeg en my rekenaar is bo in my kantoor). Dis in elk geval nie belangrik nie. Die Ethiopiërs het wel ’n fassinerende koffieseremonie – en dis ’n móét vir elke besoeker, hoe toeristies dit ook al is om so ’n sitting deur te werk.

Dit werk soos volg:

Die gasvrou is tradisioneel geklee en sy sit op ’n lae stoeltjie.

Op die vloer word gras gegooi.

Groen koffiebone word in ’n pannetjie oor gloeiende kole in ’n stofie gerooster.

Wierook word gebrand.

Die geroosterde bone word net so in die pannetjie vir goedkeurende inadem van die geur aan elke voornemende drinker voorgehou.

In ’n vysel word die bone tot pulp vermolm.

Dan word die koffie met water opgekook – bitter sterk.

En elkeen moet ten minste drie koppies drink, anders neem die gasvrou aanstoot.

Maar dis nie waaroor die tweede moment gaan nie. In die noordooste van Afrika, tot in Jemen, is die algemene tydverdryf nie TV-kyk, ’n selfoonploeter of PlayStationspeletjies nie, maar die rustige kou van khat (of chat of miraa, soos genoem in Kenia).

Khat is ’n ligte natuurlike dwelmstimulant. Die blare van die plant word gekou en is amper soos kakaoblare. Khat is ’n immergroen struik wat tot sowat twee meter hoog groei en verbou word bokant eenduisend-vyfhonderd meter bo seespieël. Volgens gerugte maak dit jou rustig tot op ’n punt. Dis blykbaar ook verslawend. Die Westerse wêreld is in twee verdeel of dit nou verban moet word of nie. In Ethiopië kou almal dit, veral in die agtermiddag. En vir die res van die dag kan jy dan niks met Ethiopië uitrig nie …

Enige reisiger na Ethiopië, ongeag of hy ’n Dopper, Gatjieponder of Stoepsitter is, en hom/haar nie blootstel aan ’n khatsessie nie, is bloot ’n bang toeris!

Kom ek verduidelik: Die khatseremonie is, soos die koffie-seremonie, eintlik maar net ’n sosiale ding. Dit gaan oor ’n klompie mense wat bymekaarkom, ’n paar blare gryp, dit in hulle kieste verpulp en met mekaar praat.

Miskien is dit nie só eenvoudig nie. Ek haal vriend Kalie se dagjoernaal aan:

Kry so ’n proppie blare en bêre hom hier in jou kies. So nou en dan rol jy hom rond om die sap uit te kry. As die kosbare sap so min of meer op is, dan kry jy ’n peanut wat jy saam met die blare kou en afsluk. In die afwesigheid van ’n peanut werk ’n slukkie Pepsi of ’n bietjie tafelsout net so goed.

’n Bier of alkohol werk teen khat, so los maar. ’n Khatsessie word nie afgerammel nie.

Kalie sê die fisiologiese werking van die gekouery kan in vier fases verdeel word:

Die euforiese fase: Optimisme en opgewondenheid is die tekens – ook die verdwyning van inhibisies.

Die planne- en “groter” droomfase. Intellektuele aktiwiteit vermeerder, verbeeldingsvlugte vier hoogty.

’n Fase van nostalgie.

Dan die depressiefase …

En ons kou soos beeste. Twee wynboere, ’n professor en ’n militêr-gespesialiseerde oogarts iewers uit Suid-Afrika.

Ons het die eerste fase gemis bloot omdat ons is wie ons is. Ons is optimisties en opgewonde. Die inhibisies sal egter altyd bly, want dis in ons ingedonner.

Die tweede fase word ’n realiteit. Ons glo ons is intellektuele, superskerp reuse. Ons beplan massiewe plase met hektare vol khat bo-op Piketberg se berg. Uitvoerlyne en pakstore. Terselfdertyd maak ons ooghospitale en klinieke in Ethiopië oop.

En toe raak ons tranerig en vertel hoeveel ons vir mekaar en veral vir die mense by die huis beteken en nostalgies sing ons Prophet se “Houtkruis”.

Die depressiewe gedeelte het ons gemis, want toe’s ons monde droog en Steyntjie besef ons het ’n bier nodig …

Openbaring

Подняться наверх