Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 11

Rajbanshi Giovanni Sitting Bull

Оглавление

Airline travel is hours of boredom interrupted by moments of stark terror.

– Al Boliska



Afrika se lugrederye en vliegtuie het nou nie ’n skoon rekord nie. So ook nie Russiese vliegtuie die koue in nie, of enige Malaysia Airlines-vlug na waar ook al – hetsy of hulle verdwyn of afgeskiet word …

My prentjie van ’n Afrika-vliegtuig is ’n moerse klomp goed wat met toue op die dak vasgemaak is, ’n Ventersleepwaentjie agteraan gehaak, vliegend deur die lug, soos Sinter­klaas se koets. En daar is hoenders en skape in die kajuitruim. Dis in elk geval hoe ek ’n Afrika-grondreis tot nou toe beleef het.

Dis darem nie regtig so nie – maar ek het al een sitplek met ’n mama van Bamako, Mali gedeel, dít met ’n TV op haar skoot en my “alle-bagasie” onder my voete (ek boek nooit die goed in Afrika deur nie). Dit was op ’n ellelange Air Afrique-vlug na Ouagadougou, Burkina Faso toe.

Ook het ek al lank ná nie eens minister Hendrik Schoeman dit op ’n vliegtuig mog doen nie, al rokende in die “rookafdeling” gesit op ’n internasionale vlug na Abidjan, Ivoorkus. Aan die ander kant het ek ook al saam met die navigator buite op die landingstrook by Pointe-Noire, Brazzaville, Kongo gaan rook tydens ’n uur se oorstaan op pad Lagos, Nigerië toe.

Ten spyte hiervan laat die blote idee van ’n reis na die vreemde my adrenalien galop. So erg dat ek op pad lug­hawe toe reg agteruit in my meisiekind, Cara, se splinternuwe karretjie in vasfoeter. Daar los ek my verslae mense al weer met ’n duik agter en neuk die vreemde in.

Ons is kinderlik opgewonde wanneer ons ons tuismaak in die Ethiopian Airlines-vliegtuig, bestemming Addis Abeba …

Ons sit enkel, elk by die paadjie regoor mekaar. Daar is metode in die malligheid. Jy kan in elk geval boggherol by die venster uit sien, en dan moet jy (veral op ’n nagvlug) twee grommige passasiers opjaag as jy wil gaan fluit. Teenaan die paadjie is die lugwaardin met die versnapering-sleepwa met die verbykom ook binne roep- of grypafstand.

Ek glo elke warmbloedige heteroseksuele man hoop op ’n vliegtuig mos heimlik dat ’n mooie vrou so uit Vogue se modeblaaie haar op die leë sitplek langs hom sal kom neerplons. Jy kyk so na elke inlopende passasier en hoop daai mooie nooi is jou buurvrou. Dit het my egter in al my vliegtuigomswerwinge nog nooit oorgekom nie. My naassittende medepassasier was merendeels ’n gesette persoon, ’n lid van die “breë publiek”.

Dit laat my dink aan daai ou grappie (en ek gaan die knal tien teen een al weer opdonner – grappe is nie my forte nie):

Daar word vertel van hierdie beeldskone, lang, lenige model wat op ’n vlug Amsterdam toe langs Koos van der Merwe beland het.

“Nou wat gaan jy in Amsterdam maak?” wil Koos weet.

“Ek is ’n seksuoloog en moet daar ’n voorlegging by ’n konferensie gaan doen.”

“O, dis interessant, en wat sal die onderwerp wees?”

“Ag, dit gaan maar oor die seksuele gewoontes en aantrekking tussen mense wat internasionaal so verskil. Byvoorbeeld, die mans uit Indië se seksuele uithouvermoë is ver bo dié van die res. So liefkoos die Italjaners uitstekend en die Rooihuide in Amerika se werkende dele spreek boekdele. Ag, jammer, my naam is Michelle Tredoux.”

“Aangename kennis,” antwoord Koos. “My naam is Raj­banshi Giovanni Sitting Bull.”

Of so iets.

Weer eens kry ek dit reg om langs my ’n eks-Koevoet te hê wat iewers in Afrika sekuriteitswerk gaan doen.

Roland is gelukkiger. Langs hom is ’n fynbesnede vrou uit Ethiopië. Sy stel haar voor as Sofia. Sy is vanaf San Francisco op pad Bahir Dar toe en vertel dat sy die suster van die nuwe Ethiopiese sangsensasie, Gigi, is. Dis nie regtig vir ons van belang nie en min wetende dat Sofia en Gigi weer ons paaie sal kruis, burger ons ons in vir ’n reis na ’n vreemde plek – ’n plek buite die verwysing van enige Afrika-reisiger.

Openbaring

Подняться наверх