Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 16

Middeljare

Оглавление

Middle age is when you finally get your head together and your body starts falling apart.

– Caryn Leschen



Ek word wakker in die luukse kamer van Hotel Alfa in Izmailowo. Kalie is skoonveld. Sy bed is opgemaak. Teen R1 200 per nag kan die personeel dit sekerlik doen? Of het hy ooit in die ding geslaap? Watter laatnag-tot-nou-gekuier het ek misgeloop? Ek’s ietwat verward. As ek en hy ’n hotel­kamer deel, het ons net een reël en dit is jy gebruik die toilet in die hotel se foyer. Miskien is dit waar hy is – maar hoekom het hy sy bed opgemaak? Ek strompel badkamer toe vir ’n gesigwas en helderheid. En wragtig, daar lê my vriend op ’n klomp handdoeke langs die bad.

“Wat maak jy hier? Te veel gekuier gisteraand?”

“Nee, jou bleddie gesnork het ná dertig jaar eenvoudig net te veel vir my geword.”

En ek besef die ouderdom is ’n lelike ding. Hy knaag selfs aan jou toleransie.

Ons vlieg nou-nou Nowosibirsk toe. Nowosibirsk (wat beteken “Nuwe Siberië”) is die grootste stad in Siberië, en was dit nie vir die Trans-Siberiese treinroete nie, het die plek nie bestaansreg gehad nie. Dis eintlik Rusland se De Aar. Daarom nie ’n plek wat die gewone toeris graag besoek nie. Ons gaan bloot daarheen om by vriend en toergids Sergei Goerkin aan te haak en klere wat teen minus 40 grade Celsius bestand is, aan te skaf vir die verdere reis die koue in.

Nowosibirsk was ook ons afspringplek vyf jaar gelede met die staptog die Altaigebergtes in. Om oor Sergei te vertel moet ek iets oor my ervaring van die algemene Rus as mens vertel.

Op die oog af is die Rus emosieloos en stug. Hy stel nie daarin belang om sy emosies met ’n vreemdeling te deel nie. Ek glo dis bloot omdat die gewone Rus deur die geskiedenis heen net swaar gehad het. Hy vertrou niemand nie, nie eens homself nie. Sou hy verkeerd trap, of iemand dink so, dan word hy na Siberië gedeporteer om nooit weer gesien of van gehoor te word nie.

Die Rus wil nie betrokke raak nie en weier om Engels te praat (ek ook, so ek verstaan dit). Dit het ek op ’n vorige reis eerstehands ervaar, in ’n Moskou-stasiewag­kamer, waar ek radeloos op ’n duisend Russe geskreeu het of daar tog nie iemand is wat Engels kan praat nie. Ek moes dringend ’n treinkaartjie koop. Almal buiten ’n Ier het net bly afkyk en my gille geïgnoreer. Die Ier kon Engels praat, maar nie Russies nie … (Hierdie verhaal verskyn in my bundel Norrevøk.)

En dan suip die Russiese mans meer as visse. Dis ook te verstane, gegewe die meeste se uitsiglose bestaan en die ysige winters. Alkoholverbruik in Rusland is van die hoogste ter wêreld. Moet sê, ek dink die Suid-Afrikaners gee hulle goeie kompetisie. Wikipedia sê my dat daar in 2009 ’n halfmiljoen Russiese sterftes was as gevolg van die vog. In 1860 was wodka (“wó-dka” uitgespreek), die nasionale sap, die bron van veertig persent van die staatskoffers. Om “te gebruik” is ’n inherente deel van die Russiese sosiale samesyn. So het ek al Russe vroegmôre op pad kantoor toe gesien, gebaadjie-en-gedas, aktetas in die een hand en ’n oop bier in die ander …

Maar as jy daai Rus se vertroue gewen het, ’n paar wodkas saam verorber het, saam met hom swaargekry het, dan omarm hy jou. Dis so erg dat jy eintlik bang word. Hulle versmoor jou met hulle gasvryheid. So het ’n massiewe Russiese sokkerondersteuner op die Trans-Siberiese trein na Wladiwostok (hulle span uit Moskou sou daar gaan speel) besluit hy hou van my. Vir twee dae het hy my vol wodka en kaviaar gestop. Hy kon nie Engels praat nie en my Russies was beperk tot “piwa” (bier) en “na zdorowje!” (gesondheid!). Maar ’n lewenslange vriendskap is gesmee. Alhoewel ek nou nog die sokkerspan se serp het, weet ek nie wat die uitslag van daardie wedstryd in Wladiwo­stok was nie!

Terug na Sergei Goerkin. Hy is die eienaar van ’n toermaatskappy in Nowosibirsk. Kalie het hom via die internet opgespoor om ons staptog ’n paar jare terug die Altaigebergtes in te organiseer. Soos genoem, was Sergei ’n beroeps-Alpinis, oftewel bergklimmer vir die ou Sowjetunie. Sergei het ons vriend geword. Dit was sy eerste kennis­making met Suid-Afrikaners. Gegewe manne van ons kaliber en ons manier van doen, hoop ek nie hy dink alle Suid-Afrikaners is so nie.

Sergei is nie meer vandag se kind nie. Hy klim al lankal nie meer hoog nie. Dit laat my dink aan wat skrywer Piet Haasbroek eendag gesê het: “Ouderdom raak toenemend ’n verleentheid. Uiteindelik word jy ook daardeur verneder.” Tog in ons almal se koppe bly ons koeëlvas. Dis miskien daar waar die vernedering lê – die ou lyf wil nie meer nie.

Geen Russiese operateur was bereid om ons in die middel van die Russiese winter na Oimjakon, die koudste plek op aarde, te vat nie … behalwe Sergei. Want Sergei is ons vriend en hy sou self saam, want vriende maak so – veral as jy ’n Rus is.

Dis minus 18 grade Celsius toe Sergei ons op Nowosibirsk se lughawe inwag. Dis voorwaar ’n blye weersiens. Dis asof ons weer aan’t huis is.

Sergei boek ons in die Azimoet-hotel in. Kalie bestel vir hom ’n afsonderlike kamer. En vir die res van die reis (en moontlik toekomstige avonture) sou ons van bed maar nie van tafel geskei wees.

Die blye weersiens kry groter dimensie toe Anesckha Ivanowa, oftewel Anja ons kok (of “slaaimakertjie”, soos Fellies na haar verwys het) en tolk van die Altai-ekspedisie, in ’n tradisionele Siberiese restaurant by ons aansluit.

En die wodka vloei … soos tussen ou Russiese vriende. Ek dink ons Suid-Afrikaners het op ’n kol “Die lied van jong Suid-Afrika” gesing – dit op antwoord van hulle “Wolgabootsman”-lied. Ietwat onder die prop groet ons ons Russiese vriende en suiker deur dik ys, sneeu en sliert terug hotel toe. Ons is tans nie juis bestand teen die koue met ons Suid-Afrikaanse sneeupakkies nie – môre is die groot klere-aankoop – maar die wodka-hitte help tog.

Hierdie keer duik die span kort. Menende, ons deurdink nie die gevolge van ons optrede nie. Dit mag wodka, ouderdom, koue of moedswilligheid wees, maar ons neuk by nog ’n drinkplek in. Nou om vreemd-vreemd in ’n Russiese drinkplek in te luier kan gevaarlik wees as jy nie die reëls ken nie. Dis Roland se eerste besoek aan Rusland en ons ou hande het vergeet om die reëls te verduidelik. Reël een: Jy begin nie sommer oor koeitjies en kalfies met die naassittende Rus te praat nie. Nog minder as die naassittende ’n Pool is. Reël twee: Jy kyk nie eens na sy vriendin nie.

Met die instapslag plak Roland hom by die toonbank neer, leun oor ’n moerse Pool en vra dié se vriendin in Engels: “So where are you from?”

En Kalie kyk vir my en ek kyk vir Fellies en Fellies kyk vir Roland. “Is jy mal?” vra Fellies in Afrikaans en ons laat spaander.

Ons mag miskien koeëlvas wees, maar ons is nie stupid nie. En vier middeljarige mans haak ’n taxi hotel toe.

Openbaring

Подняться наверх