Читать книгу Openbaring - C. Johan Bakkes - Страница 9

Die poorte na die hel

Оглавление

The Afar invariably castrated any man or boy whom they killed, removing both the penis and scrotum – an obvious trophy – and obtaining it gave the additional satisfaction of dishonouring the corpse.

– Sir Wilfred Thesiger



Dan breek die berge en ons bars op basaltvlaktes uit. Die wind stu en warm stof borrel oral in. Die Land Cruiser bokspring oor rotsblok en donga. Ek besef weer eens dis ’n stupid oefening dié. Hoe durf jy hierdie ongenaakbaarheid aan sonder enige ondersteuning? As die ou karretjie nou breek, dan dood ons …

Die ongemak van die rit neuk in my skarniere in. Ons is sewe mense in ’n vervoermiddel wat vir ses gemaklik sou wees. Dis ons verdiende loon, want eintlik wou geen Haboesja (dis nou ’n gewone Ethiopiër) hier in nie. “Julle is mal – net die Afar wil hier wees,” moes ons hoor, en “hulle is so heilig op dié plek, hulle sal julle pere uitsny sou julle dit waag …”

Ons is op pad na die warmste plek op aarde, daar waar mense steeds ’n bestaan maak. Vir wat?

Die ongeorganiseerdheid van dié ekskursie maak my ietwat senuagtig. Daar’s nie ’n manier dat ons Suider-Afrikane met een voertuig sulke waagstukke aanpak nie. Nie eens in die Khaudum of Zambië se Barotseland-Wes nie.

Weer bekyk ek my reisgenote. Elkeen is gemaklik in sy eie ongemak. Kalie en Roland is gebou vir ongerief, maar tog sien ek die wildgeit in hulle oë, die besef van hierdie waagstuk.

Dan Paul Andrag, wyn- en bessieboer daar uit Vlottenburg buite Stellenbosch. Paul wat ná ’n epiese staptog deur die Naukluftberge in Namibië vir my ’n gedig deur Rosa Smit aangehaal het. “Daar waar die berge asem inhou, net daar sal ek vir jou ’n huis bou …” het hy begin.

Hy is ’n reisgenoot wat moet saam. Hy praat nie veel nie en kla nooit.

Maar ons is nie alleen nie. Want halsstarrige mense moet gemonitor word, of so meen die Ethiopiërs. Net oningeligtes gaan die Danakil-depressie in. Aan boord het ons ons gids en drywer, Brook Kassa, ’n wydbelese man uit Addis Abeba. Dis sy onbenydenswaardige taak om ons weer lewend terug te kry. Skynbaar was nog net ’n Franse televisie­span dapper genoeg om voor ons die depressie te wil in.

Op Mekele, die hoofstad van die Tigre-provinsie, is Tsegai Mammo, ’n verteenwoordiger van hul toerismeburo, aan ons afgedeel. Hy sit militêr-strak voor saam met Brook in die voertuig. Dis asof hy nie lus het vir die avontuur nie. Ek verstaan dit – almal het tog gewaarsku dat dit nie ’n piekniek gaan wees nie. Vir Tsegai is dit vir seker baie aangenamer iewers in sy kantoortjie, burokraties ver weg van die warmste plek op aarde.

Die kersie op die koek is eintlik die man van Berhale, Beléa. Hy is gekaftan en is veronderstel om aan die Afar te verduidelik dat ons net wil kom kyk. Hy moet hulle oortuig dat ons Suid-Afrikaners geen behoefte het om hulle land oor te neem en ’n tuisland daarvan te maak nie.

So skommel en skud vier Suid-Afrikaners en drie Ethiopiërs na die laagste plek onder seespieël op die Afrika-kontinent, en so ook die warmste plek op aarde, dieper die Danakil in.

Openbaring

Подняться наверх