Читать книгу Labirint - Chanette Paul - Страница 10
6
ОглавлениеDie intense manier waarop Nicholl na haar kyk, laat Vasti ongemaklik voel.
Van die begin af was daar iets aan hom wat sy nie kan plaas nie. Die effense senuagtigheid, die maklike irritasie en die vlugtige skerpheid by tye strook nie met sy gemaklike blond-en-blou-oog-front nie. Dis asof hy iets verborge hou. Iets wat hom jaag.
“Enige spesifieke rede waarom jy besluit het om terug te trek Bredellsdorp toe?” Dis al waaraan sy kan dink om te vra.
“Die gewone. Misdaad. Mens raak moeg daarvan om in ’n tronk te woon. Jou by elke verkeerslig te bekommer oor ’n kaping. Saans as jy huis toe gaan, te ys terwyl jy wag dat die sekuriteitshekke oopgaan. En ek het die Kaap gemis. Die Overberg se varsheid. Dit bly maar in mens se bloed.”
“Mis jou vrou nie die stadslewe nie?” Sy het Gail Stadler net een keer skrams gesien toe dié by Nicholl se kantoor uitgekom het terwyl Vasti gewag het om in te gaan. Die enigste beeld wat sy van die donkerkop het, is ’n ongelooflike sexy lyf in ’n baie kort potloodromp en laehals-bloes.
“Sy was aanvanklik nie te vinde daarvoor om hierheen te trek nie, maar nadat ek haar kom wys het De Koppe is nie so terug op die brug as wat sy gedink het nie, het sy ingestem dat ons vir ’n jaar of twee, drie kyk hoe dit gaan. Dit het seker ook gehelp dat ons vir haar ’n gym gekoop het. Ek dink ek het destyds vir jou gesê sy is onder meer ’n aërobiese instruktrise. Tot dusver gaan dit heel goed. Ek geniet die stadiger lewenstempo. En Gail hou daarvan dat ons nou baie meer tyd saam kan deurbring.” Sy oë wip in die sitkamer rond. Vasti is nie seker of dit nuuskierigheid is en of hy haar oë probeer vermy nie. Dit klink na ’n lang, verduidelikende antwoord vir so ’n terloopse vraag.
“Die huis is maar verwaarloos,” maak sy verskoning. “En alles is baie outyds.”
“Ek is seker jy sal dit mooi kan maak. Met jou kunsaanvoeling. Jou plekkie in Bela-Bela was baie mooi ingerig.”
“Dit sal ’n ruk neem. Runa het seker vir jou gesê van die voorval by my vorige woonplek. Ek het nie juis meer mooi goed oor nie.” Vasti wens hy wil sy ry kry. Waaroor praat mens met die prokureur wat elke detail van jou siek vorige lewe ken?
Nicholl knik. “Ek lei af dis oor daardie voorval dat jy weer getrek het?”
“Ja, en toe ek moes besluit waarheen, het dit vir my logies gevoel om hierheen te kom. Die huis staan leeg ná my pa se dood.”
“Ek hoop regtig dit gaan beter hierdie keer. Jy kan maar enige tyd op my knoppie druk, hoor. Ek sal enigiets binne my vermoë doen om te verhoed dat jou eks jou opspoor. Jou lewe van voor af versuur.”
“Dankie, Nicholl, ek waardeer dit.” Sy huiwer ’n oomblik, druk dan tog deur. “Ongelukkig het hy my reeds weer opgespoor. Hy het my klaar weer begin bel.” Miskien is dit beter dat iemand weet.
“Liewe hemel, Vasti!” Vir die eerste keer kyk hy haar in die oë. “Ek is so jammer om dit te hoor.”
“Selfs Dolf sal seker die een of ander tyd moeg raak vir die speletjie.” Sy praat teen haar beterwete in en sy sien Nicholl besef dit ook. “Hy sal meer as duisend kilometer moet aflê om hier te kom. Hopelik bly dit by oproepe,” probeer sy haar redenasie versterk.
“Kom ons hoop so. Maar as hy jou pla, moenie huiwer om die interdik te gebruik nie. Dankie vir die koffie,” besluit hy klaarblyklik om die saak daar te laat, al lyk hy nie oortuig nie.
Sy volg hom tot by die voordeur en sluit oop.
“Jy moet veiligheidshekke kry.” Kommer spreek uit die erns waarmee hy na haar afkyk.
Sy knik. “Dis my plan.”
“Het jy nog my selnommer?”
“Dis op my selfoon.”
“Bel my enige tyd oor enigiets.” Hy buig en soen haar onverwags op die voorkop. Sy lippe is warm en effens klam. “Pas jouself op.”
Vasti kyk die Discovery met gemengde gevoelens agterna. Hy het haar kom steur, haar ritme onderbreek, maar dit was gaaf van hom om te kom groet. Gaaf dat hy hom oor haar wil ontferm. En tog kan sy die vae gevoel van onrus nie afskud nie. Die gevoel dat Nicholl van nature ’n man met meer as een agenda is.
Sy sit die bekers in die opwasbak. Sy sal dit later was, as daar meer skottelgoed is. Môre. Oormôre. Wanneer ook al.
Toe sy weer voor haar skildery gaan staan, skok die knalkleure op die doek haar. Die distorsie van die gesig ook. Die rou emosie in die oë. Onmiskenbaar ’n diep intense vrees. Is dit regtig haar werk hierdie?
’n Moedeloosheid spoel oor haar. Wat is sy besig om aan te vang? Wie sal willens en wetens iets so ontstellends in hulle huis wil hang?
Vasti gee ’n tree terug en voel die muur teen haar rug. Sy skuur daarteen af en hurk met haar knieë teen haar lyf vasgetrek. Met al die skade en verhuisings lyk haar bankrekening beroerd. En die kommersiële goed vir Runa wil nie meer geredelik kom nie. Waar sy nadat sy van Dolf af weggevlug het nie meer ernstige kuns kon skep nie, kan sy nou nie meer die oppervlakkigheid veel nie. Maar hierdie skildery . . . Dit lyk soos die werk van ’n mal mens.
Miskien moet sy maar êrens gaan werk soek. Sy voel hoe die trane weer vlak gaan sit. Nee, sonder skilder sal sy nie kan leef nie. Veral nie noudat sy weer uiting kan gee aan dit wat diep binne-in haar lê nie. Sy druk haar vuis teen haar voorkop tot haar kop van binne en buite pyn.
Hierdie keer hoor sy die deurklokkie.
Vasti sit vir ’n oomblik nog botstil en luister na die eggo van die skril klank, stoot haarself dan traag teen die muur op. Met die rugkant van haar hand vee sy die oorblyfsels van die trane af en stap dan behoedsaam sitkamer toe.
Sy loer deur die venster. Dis nie Dolf nie. Gelukkig ook nie Nicholl nie. Sy maak die voordeur oop en kyk vraend na die lang skraal seun – nee, jongman – voor haar. Sy vaalblonde kuif is deurmekaar en natgesweet, die bril voor die ligbruin oë sit effens skeef asof die een lens dalk heelwat swaarder as die ander kan wees. Sy klere is verkreukel en die sak wat oor ’n maer skouer hang, is gehawend.
“Middag?” vra-groet Vasti toe hy net na haar staar.
“Hallo, tannie. Is tannie Vasti de Leeuw?” Die stem is ’n oktaaf hoër as wat mens sou verwag.
Vasti knik.
“Die skilder?”
Vasti knik weer.
“Ek . . .” Hy vee deur die kuif. “Ek skilder ook. Ek het tannie se bakkie hier sien staan. Ek . . . Lesse, tannie. Ek wil lesse by tannie neem.” Daar is ’n waaksaamheid in sy oë, asof hy verwag dat sy hom enige oomblik ’n oorveeg gaan gee.
“Lesse?” herhaal sy sinneloos.
Hy knik. “Ek neem kuns op skool, tannie, maar dis . . . dis nie genoeg nie. My ouma het gesê ek kan maar kom vra. Sy’t gesê ek moet sê daar is genoeg geld in die trust. Ons kan die lesse bekostig.”
“Wat is jou naam?” Vasti vra dit eerder om haar gedagtes georden te kry as omdat sy intens belangstel in die antwoord.
“Eben, tannie. Eben Kirsten.” Hy wikkel ’n groot plat lêer uit die sak en hou dit na haar toe uit. “Ek het van my goed gebring . . . as tannie wil kyk.”
Sy verbeel haar sy onthou die naam Kirsten. As sy reg onthou, het sy op laerskool ’n onderwyser met daardie van gehad. Hy is dood kort nadat sy hoërskool toe is. En dit was ook die weduwee-buurvrou wat deur haar pa verwilder is se van, onthou sy nou. Dalk nog die fairy godmother wat haar huis vir haar skoongemaak het.
Vasti kyk stip na die lêer, draai dan om. “Kom in. Hou net in hemelsnaam op om my te tannie,” verras sy haarself met ’n trae opvlieëndheid. “Noem my liewer net Vasti,” probeer sy vergoed.
Sy sprei die stukke wat uit die lêer kom op die koffietafel uit, bekyk hulle, tel een op en stap venster toe daarmee, hou dit in die lig. Sy herhaal die proses met ’n paar van die ander.
Vasti kyk na die seun. Hy kou sy lip en die kneukels bult wit om die slingers van sy drasak.
“Jy kan kom. Donderdae. Halfdrie tot ons klaarmaak. Van aankomende week af.”
“Dankie! Baie dankie, tan– . . . Vasti. Ek kan nie vir jou sê wat dit vir my beteken nie. Ek . . .”
Haar handgebaar keer hom om verder te gaan. “Kom ons kyk maar eers hoe dit gaan.” Sy wik en weeg ’n oomblik, vra dan tog: “Jou ouma was nie dalk eergister hier om my te verwelkom of iets nie?”
Hy skud sy kop. “Nee, jinning, sy kan nie eens met die rolstoel uit die huis kom nie. Dis die trappe, sien.”
Tata, buurvrou-teorie. “Sy het nie dalk haar huishulp oorgestuur nie?” probeer weer.
“Nee, Jemima kom net een oggend ’n week en dis Vrydagoggende. Verder moet ek maar inspring. My ouma is streng oor die trustgeld. Oor ek universiteit toe wil gaan.”
Suzie kom skuur flikflooierig teen Vasti se bene.
Eben hurk. “Ag, sweet. Hallo, kietsiekat.” Hy steek sy hand na Suzie uit en gee die volgende oomblik ’n uitroep, val agteruit toe hy probeer wegkom van die kat wat sekelrug sis en grom. Eben kom orent en inspekteer die bloedrooi hale wat oor sy hand en voorarm lê met ’n uitdrukking van ongeloof. “Jissis,” prewel hy en vee van die bloeddruppels af teen sy broek. Sy ouma gaan hom bless oor die vlekke, dink Vasti, maar sy kyk ewe verstom na Suzie wat steeds nie ’n tree agteruit staan nie, net harder grom.
Hy druk sy bril wat skuins geval het terug en skud sy kop. “Ek laaik katte, dêmmit.”
Vasti buk en streel ietwat lugtig oor Suzie se rug. Die kat ontspan effens. Vasti tel haar op en staan ’n tree weg van Eben af.
“Ek dink sy sal uit jou pad bly, moet maar net nie met haar probeer speel nie, oukei?”
Eben se oë vernou effens toe hy na die kat in haar arms kyk. “Ek sweer dis een van die katte wat Vis gered het.”
Êrens het sy iets gemis of sy het nie mooi gehoor nie. “Ekskuus?”
“Vis. Die man wat die rivierboot het. Hulle woon aan ons anderkant. By die diep kuil. Vis en sy pa. Jemima sê oom Flip is sy pa, al sê ander mense anders. Oom Flip is kens. Seker al oor die honderd jaar oud. Hy wou die katte versuip, toe red Vis hulle. Die ander twee katte is later dood, maar dié is seker die een wat Vis deurgehaal het. Jemima het ons vertel. Ons char wat Vrydae kom. Sy woon op Vis-hulle se plot.”
“Vis. Is hulle van Visser?” probeer sy steeds sin maak.
“Nee, dis . . . Hel, ek kan nie nou onthou nie. Vis het sy naam gekry omdat hy soos ’n vis in die water is. Hy ken hierdie rivier en alles wat hier roer en beweeg soos die palm van sy hand. Hy is ’n kluisenaar. Nes sy pa.”
Sou hy die rivierman wees? “Hoe lyk hy?”
“Fokke– . . . Verskriklik lelik. So ’n pokgesig. Lang kroeshare. Ons is almal bang vir hom en sy pa. Dis net die birdwatchers wat mal is oor Vis. Dis vir hulle wat hy op die rivierboot uitneem en ook net dié wat regtig ernstig is en aan ’n klub behoort. En studente en navorsers en so. En net nou en dan, afhangende van die weer. Die mense sê hy is net so mal soos sy pa, maar Jemima sê hy is net skaam. Oor hy nou so lelik is. Maar mens weet nie. My ouma wil nie hê ek moet daarheen gaan nie. Sy sê die ou oom was in sy jong dae ’n regte bokkapater, dis hoekom hy op sy oudag gestraf is met malsiekte.”
Hoe vertroostend om te hoor jou bure is nog maller as jy. Vasti sug heimlik. “Nou toe, dan sien ek jou volgende Donderdagmiddag as jou ouma instem. Bring vir my ’n toestemmingsbrief van haar af, oukei? En ek sal dit verkies as julle maandeliks betaal. Ek sal Donderdag vir jou ’n faktuur gee.” Sy skryf haar fooi en selnommer op ’n stukkie papier en gee dit vir hom. “Bel my as iets voorval of as jou ouma van plan verander.”
Eben skud sy kop. “Ek mag nie selnommers bel nie. Ouma is baie streng. Sy sê dis te duur.”
Vasti onderdruk ’n sug, neem die papiertjie en skryf haar landlynnommer neer. “Moet asseblief nie die nommer vir enigiemand anders gee nie, oukei?” Bietjie mosterd na die maal, maar nietemin.
“Is reg.” ’n Glimlag verhelder ineens die gesig wat self nie juis ’n meesterstuk is nie. “Ek kan dit nie glo nie. Vasti de Leeuw gaan vir my lesse gee.”
Toe hy wegstap, kan sy nie help om te wonder waarvandaan hy haar werk ken nie. Moet Runa se galery wees. En as dit is, is hy in vir ’n rude awakening. Met talent soos syne, gaan sy hom waaragtig nie leer kitsch skilder nie.
Sy werk is regtig goed, dink Vasti toe sy later in die outydse pootjiesbad lê in die badkamer wat haar oupa nog laat aanbou het. Vir ’n matrikulant. Vir enige ouderdom. En die geld. Sy het minder gekwoteer as in die stad. Dis duidelik dat Eben en sy ouma dit nie breed het nie, maar verniet kan sy dit ook nie doen nie. Dit sal darem êrens ’n gaatjie toestop. Maar dis veral sy oorstelpte gesiguitdrukking toe sy ingestem het wat haar bybly. Dan het sy darem ten minste een fan in die wêreld.
Sy maak haar moeë oë toe. Dit het haar sommer weer aangespoor om aan te gaan met die skildery. Sy het ’n goeie dag se werk agter die rug ondanks die onderbrekings. En vanaand kom Runa.
Toe Vasti in hulle tweede jaar met Dolf begin uitgaan het, was Runa baie skepties oor die verhouding.
“Die storie loop dat Dolf geld leen by die ander ouens in die koshuis en hulle nooit terugbetaal nie,” het Runa een aand gesê. Dit was nog ’n hele ruk voordat Dolf haar daardie aand in die buitegeboutjie ingelok het. Natuurlik het sy dit nie geglo nie.
Weke later het Runa haar gewaarsku dat Dolf saam met ander meisies gesien word.
Vasti het niks gesê nie. Daardie selfde oggend het Dolf per ongeluk twee fliekkaartjies uit sy hempsak laat fladder. Sy het gebuk om dit op te tel en die datum daarop gesien net voordat hy dit uit haar hand geruk het. Dit was vir die vorige aand. Toe sy moes swot vir ’n toets.
Vasti kom orent uit die bad. As sy toe al na Runa en haar eie intuïsie geluister het . . . Hoe anders sou haar lewe nie verloop het nie. Of as sy by haar besluit gehou het en nie daardie naweek saam met hom na sy ma in die verre Noordwes-Kaap gegaan het nie.
Sy droog haar nuwe skraal lyf lusteloos af en draai die klam handdoek om haar. Sy haal die knip wat haar hare op haar kop gehou het uit, skud die oordaad los en gaan staan voor die spieël bo die wasbak. Sy buk nader en kyk vir die eerste keer in ’n lang tyd werklik na haarself. Nie as ’n objek wat op doek verwring word nie. Na haar. Vasti de Leeuw. Die tydelike huisvester van haar siel.
Sy lyk vreemd. Anders as wat sy onthou. Ouer. Miskien as gevolg van die gewig wat sy verloor het. Haar vel is droog en daar is meer as net ’n beduidenis fyn plooitjies om haar oë. Haar oë lyk moeg. Haar mond ook. Selfs haar neus lyk moeg. Net haar ore staan nog spits, die res lyk afgerem en verwaarloos soos ’n huis wat lank laas ’n verfroller gesien het, hier en daar skuins in sy fondamente insak. Sy is skielik moeg gekyk ook.
In die badkamerkassie grawe sy ’n botteltjie oogdruppels en ’n potjie supermark-gesigroom uit. Sy hou haar kop skeef om die druppels in die hoek van haar oog te laat drup voor sy die room aantik. Die lukrake houertjies grimering wat haar beskuldigend van die rakkie af aanstaar, ignoreer sy. Daarvoor sien sy nie kans nie. Sy trek ’n borsel deur haar hare. Buitendien, dis net Runa.
Sonder Runa sou sy maar gesukkel het om die afgelope paar jaar die mas op te kom. Runa se kunsgalery is haar hoofbron van inkomste, maar dis nie al nie. Sy weet sy kan Runa enige tyd bel en ’n oor vind, ’n skouer om op te huil. Nie noodwendig ’n simpatieke skouer nie, maar nietemin ’n skouer. Vir twee uiteenlopende mense wat aanvanklik weerskante van ’n kloof gestaan het, het hulle eintlik ’n baie besonderse vriendskap.
Vasti is halfpad slaapkamer toe om te gaan aantrek, toe sy die foon hoor lui. Sy stap tot by die sitkamer, leun teen die kosyn en luister. Sy byt haar lip toe sy weer die geruis hoor. Hierdie keer is die laggie steeds sag, maar dringender.
Dit was onteenseglik Dolf wat haar Maandagaand gebel en ’n slet genoem het, maar die ander oproepe is nie sy styl nie. Vasti stap fronsend na die antwoordmasjien, draai die bandjie terug en luister weer. Agter die geruis kan sy dofweg ’n stem hoor. Die laggie verbloem die meeste van die begin van ’n advertensieflits. ’n Selfoon in ’n motor met die radio aan? Sy speel weer die bandjie terug. Ja, die geruis klink definitief soos ’n selfoon vanuit ’n bewegende voertuig.
Dolf het nog nie voorheen met ompaaie gekom nie. Wanneer hy besluit om haar te terroriseer, doen hy dit openlik en dadelik. Ná die egskeiding het hy nog elke keer wanneer hy haar opgespoor het, hom daarin verlustig om haar te vertel hoe onnosel sy is as sy dink sy kan vir hom wegkruip.
Maar dis darem ondenkbaar dat sy haar nóg ’n teisteraar op die lyf geloop het. Buitendien, wie? Iemand met ’n selfoon en ’n motor met ’n radio. Dit elimineer bitter min mense.
Nicholl? Sy skud haar kop onwillekeurig. Hoekom sou hy haar die skrik op die lyf wou jaag? Hy het nog altyd alles in sy vermoë gedoen juis om haar te beskerm. En waar sou hy die nommer in die hande gekry het?
Dawid het haar nommer – maar hy? Nee, dis laf. Om nie eens van Stiaan Sonnekus te praat nie.
Vasti stap terug na haar slaapkamer. Met so min klere in die kas, is dit maklik om te kies. Terwyl sy haar jeans aantrek, wonder sy waarom Nicholl haar so ongemaklik laat voel het. Gedurende die skeiprosedures was hy so professioneel as kan kom, behalwe dat hy regtig buitengewoon baie moeite gedoen het om haar te help.
Sy trek die rits van haar jeans op. Die broek gaap om haar middel. Too bad. Geld vir nuwe klere is daar voorlopig nie. Omdat sy bang is vir skuld, is sy nie op die rand van bankrotskap nie, maar sy sal baie versigtig moet leef. Sy rammel deur haar kas, kry ’n los trui uit en gooi dit oor haar kop. Dis saans koelerig al is dit bedags warm. Sy gaan staan voor die vollengte-spieël vol barsies wat aan die binnekant van die kasdeur gemonteer is. Sy skud haar hare los uit die trui se greep en pluk-pluk aan die halslyn. Die ivoorkleurige trui verberg die lospassende jeans, maar die V-nek is effens diep.
Die voordeurklokkie lui. Een van die huurders destyds moes die ding laat installeer het, want in haar kinderdae was daar nie een nie. En sy kan nie dink dat haar pa hom aan so iets sou gesteur het nie. Dit sal Runa wees. Sy glip leerplakkies aan haar voete en trek die moue van die trui op.
Veiligheidshalwe kyk sy tog maar eers deur die sitkamervenster. Met haar kort donker hare en kleinerige bruin oë agter die dik brilglase, is Runa geen skoonheid nie. Die smal heupe, die groot boesem, die maag wat rond teen die T-hemp bult en die plat sitvlak wat die denim sakkerig laat hang, help ook nie. Sy lyk nog nes twee jaar gelede met die begrafnis. Runa sien haar raak en steek vir haar tong uit.
Vasti lag en maak die deur oop. “Hi.” Sy vat die pizzaboks aan.
“Hi, jouself.” Runa soen haar op die wang, staan dan terug en kyk Vasti op en af. “Jy lyk nie so sleg soos wat die groot diere sê nie, maar waar is die res van jou?”
“Agtergelaat saam met ’n klomp ander bagasie.” Dis nou voor Dolf weer haar lewe binnegedring het, sou sy kon byvoeg.
Runa oë haak vir ’n oomblik vas by die ronding van Vasti se borste waar die V-nek gaap. “Gelukkig het jy nie al jou bagasie agtergelaat nie.” Sy grinnik en hou ’n bottel rooiwyn in die lug. “En gelukkig kan ons jou wederkoms behoorlik vier.”
“Nou toe, kom in.” Vasti sluit die deur agter hulle. Suzie kom rek-rek uit die slaapkamer gestap, gee Runa een kyk en draf stywestert terug in die kamer in. Vasti hoor hoe sy met ’n dowwe plof weer op die bed spring.
In die kombuis skakel Vasti die oond aan en diep ’n vuurvaste bord op uit een van die kaste.
“Jou kaste is altyd so verdomp netjies,” kom dit amper verwytend van Runa wat deur ’n laai rammel en dan ’n kurktrekker raakvat. “Dis een van die redes hoekom ek daar op Potch aanvanklik niks van jou gehou het nie.” Sy gee haar skewe glimlaggie en druk die skerp punt in die kurk. “Jy was ’n pyn in die gat.”
“In die skoolkoshuis al aangeleer daar is meer beweegruimte as mens netjies is.” Vasti pak die pizzastukke versigtig in die bak. “Mmm. Dit lyk goed. Four Seasons?”
“Is daar ’n ander soort pizza?” Die kurk plop uit die bottel. “Waar is jou glase?”
“In die kas agter jou.” Sy buk en skuif die pizza in die oond, hoor die wyn teen die bol wande van die glase klots. Sy kom orent en vat die glas wat Runa na haar toe uithou. “Dankie.” Sy ruik behaaglik aan die rooiwyn. “Jy bederf my.”
“Net die beste vir my gunsteling-kunstenaar, wat natuurlik ’n contradiction in terms is, want kunstenaars leen hulle nie daartoe om geliefd te wees nie – nie by hulle agente nie.” Sy lig haar glas. “Cheers.”
“Cheers.” Vasti klink haar glasie teen Runa s’n. “Op vriendskap. En oksimorons.”
Runa teug diep aan die wyn. “Hmm. Nie sleg nie.” Sy knik in die rigting van die gang. “Kom wys my eers waarmee jy jouself besig gehou het vandat ek jou werk laas gesien het.”
Vasti kyk ongemaklik na Runa. “Ek dink nie jy gaan baie beïndruk wees nie. Runa, ek . . .” Die redes wat sy wil gee, klink ineens sinneloos.
“Ek kon aan die laaste goed wat jy gestuur het, sien jy is al weer op pad na ernstiger goed, Vasti. Aan die foto’s van die goed wat daardie mal haas geruïneer het ook. Wys my hoe erg dit is, dat ek weet hoe hard ek jou teen die agterkop moet klap.”
Vasti huiwer, maar mik dan tog ateljee toe. “Dis erg. Selfportrette, maar daar is ook twee kamers. Nadat ek uit die hospitaal gekom het, het kamers my begin fassineer.”
Runa kom tot stilstand voor die skildery op die esel. Sy staan ’n entjie terug, gee ’n tree dié kant toe en dan daardie kant toe, korrel deur haar vuis. “Shit.”
Vasti lig haar wenkbroue vraend. Sy kan nie Runa se stemtoon plaas nie. “Is die skildery shit, of was dit nou maar net by wyse van spreke?”
Runa skud haar kop. “Wys my die ander.”
Vasti haal een ná die ander te voorskyn. Twee selfportrette, een as kind en een as jong meisie, vorm ’n drieluik met die volwasse beeltenis op die esel. Dan haal sy die kamers uit. ’n Hospitaalkamer, strak en wit met ’n verwronge venster sonder uitsig. ’n Sitkamer met die skemerlamp aan skerwe en ’n blompot omgegooi, die koffietafel op sy sy.
“Daar is iets ontstellends in elkeen van hulle.” Runa kou haar duimnael. “Jy weet ek smous nie ernstige goed nie, maar selfs ek kan sien dis uitstekende werk, Vasti. Ongelukkig van die soort wat nie verkoop nie. Mense koop nie ontsteltenis nie. Veral nie op Bredellsdorp nie. Dis Portchie-kontrei hierdie, nie Picasso nie.”
“Picasso! I wish. Maar ek kan nie meer net vir ander mense, net vir maksimum inkomste verf nie, Runa. Ek kan nie verduidelik nie. Dis net hoe dit is.” Vasti hoor die bewing in haar stem en wonder geïrriteerd of sy ooit oor die grenserigheid gaan kom.
Runa moes die wanklank gehoor het. Sy kyk om na Vasti, slaan dan haar arm om haar skouers en druk haar teen haar ruim boesem vas. “Toe maar, ou girl, laat dit aan ou Runa oor. Smous sal ons hulle probeer smous. Selfs daardie Paas-skildery as jy dit eendag klaarmaak.”
“Regtig?”
“Kan niks belowe nie, maar kom ons kyk hoe dit gaan.”
“Dankie, Runa, dis al wat ek vra. Net jammer die eerste twee skilderye in die Paas-triptiek is daarmee heen. Ek weet nie of dit eens die moeite werd is om die derde een klaar te maak nie.” Vasti sluk die dreigende trane moeilik weg. “Skuus. Ek is sommer simpel. Kom ek gaan kyk of die pizza warm genoeg is. Gaan sit solank.” Sy draai onder Runa se plomp arm uit en stap die gang af.
Sy wens Runa het nie na die Paas-skildery verwys nie. Dis die een mislukking wat sy haarself nie kan vergewe nie. Haar onvermoë om Opstanding klaar te maak, is die simbool van haar mislukte lewe. Die bewys dat sy haar nie uit die moeras van haar bestaan kan lig nie.