Читать книгу Labirint - Chanette Paul - Страница 8

4

Оглавление

Genoeg vir vandag, besluit Vasti teen skemer en stap af rivier toe om asem te skep en af te koel. Die kaaitjie lyk mankoliek en die leertjie van daar af tot in die water makeer ’n sport of twee. Die pale se bopunte en die platform se rande is wit van die voëlmis en een van die planke is gebreek.

Watervoëls ritsel in die riete, gee af en toe ’n skree. In die bome klets wewers opgewonde asof hulle uitsien na hulle nagrus. ’n Reier vlieg met vlerkgeklap op van die oorkant van die oewer, krys ’n paar keer en kry dan weer sy sit. Tussen die riete klink die ryk, fluiterige klank van ’n rietsangertjie op toe die wewers eensklaps stilbly. Paddas begin vir hulle koor oefen en krieke vryf al hier en daar hulle agterpootjies teen mekaar. Laer af teen die rivier roep ’n uil en sy maat antwoord feitlik onmiddellik.

Oupa Kees sou geweet het watse soort uil. Hy het elke voël se roep en naam geken. Volksnaam en Latynse naam. Voëls was sy stokperdjie. Sy wonder of haar pa ooit eens bewus was van die ryk voëllewe.

Vasti vryf oor haar arms terwyl sy ’n entjie langs die oewer opstap. Dit het baie afgekoel. Nou kan sy duidelik die herfs in die lug voel. Of miskien is dit maar omdat sy so natgesweet was. Maar die harde werk was die moeite werd. Die bakkie is leeg. Haar klere is weggepak en die paar kombuisgoed ook. In die kamer waar haar pa geslaap het, het sy die enkelbed teen die muur geskuif en haar esel en verfgoed daar uitgepak. Sy sal dit voorlopig as ateljee kan gebruik tot sy die krag het om die waenhuis skoon te maak, ’n groot venster kan laat insit en dit verder kan inrig. Die natuurlike lig in haar tydelike ateljee laat veel te wense oor, maar sy sal maar met kunsmatige lig oor die weg moet kom.

Môre sal sy ook die meubels in die huis herrangskik soos sy daarvan hou, besluit sy terwyl sy langs die oewer af drentel. Uitgooi wat sy nie wil hê nie. En kyk of sy die kas voor die kaggel in die sitkamer weggeskuif kan kry. Oupa het nie in oop kaggels geglo nie, die koolstoof was meer as genoeg.

Haar maag grom onverwags. Vir die eerste keer vandat sy die geroosterde toebroodjie in ’n koffiewinkeltjie gaan eet het om die tyd te verwyl tot sy Stiaan Sonnekus kon sien, dink sy aan kos. Sy het net koffiegoed saamgebring, maar daar is darem nog van die neute oor wat sy gister langs die pad gekoop het. Dit sal maar goed genoeg moet wees tot môre toe. Môre sal sy na die Spar op die dorp gaan. Kyk of daar nie dalk ’n tuisnywerheid is wat lekker beskuit aanhou nie. Beskuit en koffie is soveel makliker as kosmaak.

Dis nou as Dolf nie deur die nag opdaag en haar verlos van al haar môres nie. Dit is waarop dit afstuur, het sy vermoed toe sy inderhaas haar Hartbeespoort-meenthuis opgeruim het. Die woede waarmee Dolf haar goed vernietig het, was onmiskenbaar onbeheers. Sy weet uit ondervinding waartoe hy in onbeteuelde woedebuie in staat is. Daar is ’n reuseverskil tussen treiteroproepe en vandalisme. Nes daar is tussen aanranding en die rig van ’n vuurwapen.

Ná haar huilbui van vanmiddag het daar egter ’n vreemde kalmte oor haar gekom. Dolf moet maar kom doen wat hy wil. Sy gaan nie weer vlug nie. Hierdie ding moet nou endkry, of dit nou haar einde beteken of nié. Sy hoop net hy gun haar genoeg tyd om ’n paar betekenisvolle skilderye te maak. Sodat sy iets kan agterlaat wat sê: Vasti de Leeuw het geleef. Sy het geskilder. Skilderye wat iets beteken, nie net mooi prente wat weinig sê nie.

Vasti gaan sit op ’n klip onder ’n groot populier wat sy arms oor die rivier uitstrek. As kind het sy soms hier kom sit. Klippies in die water gegooi, gekyk hoe die rimpels al groter uitstoot. En later het sy dit probeer teken. As mens maar kind kon bly. Of vinniger wysheid verwerf.

Ja, sy was mondig. Sy kon geweier het om met Dolf te trou. Maar tussen sy gepleit oor die telefoon nadat haar pa hom gebel en uitgedinges het, sy entoesiasme oor sy laaitie wat in aantog is, haar pa se tirades en ’n allesverswelgende moegheid en moedeloosheid, het sy ingegee. Die hoofrede was egter dat sy vermoed het sy sal nie toegelaat word om haar vierde, finale jaar te doen as sy swanger en ongetroud is nie. Nie destyds op die PUK nie. En sy kon dit nie met ’n jaar uitstel nie. Dit was die laaste jaar dat BA Beeldende Kunste op die kampus aangebied is. Met die bevalling wat sy bereken het in die Julievakansie sou plaasvind, het sy gehoop haar swangerskap sal nie te veel inbreuk op haar studies maak nie. Presies hoe sy sou studeer en terselfdertyd ’n baba versorg, was iets wat sy nog moes uitwerk.

Toe al weet sy nie wat sy sonder Runa sou gedoen het nie. Vasti kon net haar vierde jaar oorleef danksy skilderytjies van kosmosse en sonneblomme wat Runa vir haar by die dosyne op die kampus en in die dorp verkoop het. Runa wat gedurende hulle studies daarmee vrede gemaak het dat haar talent nie ver genoeg strek om groot hoogtes in die kunswêreld te bereik nie. Vir wie dit nie gepla het dat die kunsdosente ’n ophef maak van Vasti se werk terwyl hare maar lou ontvang is nie. Vir Runa was dit genoeg dat sy in kunsgeskiedenis uitgeblink en ’n baie goeie oog vir gehalte ontwikkel het. En sy was ’n smous van formaat.

Toe sy vir Runa bel en laat weet sy gaan met Dolf trou, was dié vreemd stil. Vasti het verwag sy sal ’n kabaal opskop. Runa het immers geweet Dolf is nie ideale troumateriaal nie. Tog het sy ingestem om as getuie te kom optree, op voorwaarde dat sy dadelik daarna kan waai.

“Jy kan jou sterre dank die man is bereid om met jou te trou,” het haar pa die aand voor hulle huweliksbevestiging gesê. Sy tong het gesleep. En toe sy en Dolf die volgende oggend, ’n warm dag in Februarie, in die kantoor van Binnelandse Sake ewige trou aan mekaar gesweer het, was Leon de Leeuw alreeds so dronk soos ’n spook.

Hulle wittebrood was die reis terug van Bredellsdorp af na Klerksdorp, waar Dolf ’n piepklein woonstel gehad het en werk by die Sentraalwes-koöperasie. In Februarie het sy begin klasloop.

Dolf se laaitie kon vanjaar in matriek gewees het, maar einde Maart, agtien jaar gelede, het sy haar baba verloor. Daar was geen naspeurbare rede nie. Dit gebeur dikwels met eerstelinge, veral as die moeder baie gespanne is, is al verklaring wat verskaf is. Later het sy gehoor daar is geen bewys dat spanning tot miskrame lei nie. Toe was dit te laat om Dolf te oortuig dit was nie haar skuld nie.

Die miskraam was snaaks genoeg nie vir haar ’n verligting nie. Teen daardie tyd het sy begin uitsien na haar baba, het sy reeds gevoel sy het ’n emosionele verbintenis gevorm met die kind, al wou sy hom of haar aanvanklik nie gehad het nie. Al het dit haar in ’n huwelik ingedwing wat sy nooit andersins sou oorweeg het nie.

Die ergste was egter dat die rede vir die huwelik nou weggeval het en ’n enorme gaping en frustrasie in die sleurstroom agtergelaat het. Sy het nagte omgehuil. Dolf het gedink dis net oor die baba en was redelik geduldig. Het haar getroos. Gesê hulle sal weer probeer, sodra hulle ’n kind beter kan bekostig. Dit het nooit by hom opgekom dat sy eintlik gehuil het omdat sy getroud was met ’n man vir wie sy geen agting of respek gehad het nie. Omdat sy gevoel het die lewe het haar ’n vieslike streep getrek nie.

Al waaraan sy kon vashou, was die kampusberader wat sy uiteindelik gaan sien het se goedbedoelde, maar vernietigende raad. “Jy het belowe om jou man lief te hê en kan nie nou kop uittrek nie. Liefde is ’n wilsbesluit, en kan gekweek word. Jy moet net daaraan werk. Hoe meer liefde jy aan jou man betoon, hoe liewer sal hy jou kry en jy vir hom.”

Sy kan nog verstaan dat sy aanvanklik in haar ontsteltenis ’n greintjie waarde aan daardie woorde kon heg, maar die vet weet, sy sal nooit verstaan hoe Dolf dit reggekry het om haar in daardie kokon van miserabelheid toegespin te kry en daar te hou nie. Selfs nadat sy besef het die berader praat strooi, besef het dat liefde nie gekweek kan word waar daar barre aarde is nie.

Eers ná die egskeiding, veral tydens die twee oasejare in Harties, kon sy insien hoe verblind sy was. Maar tot vandag toe weet sy nie wat haar verblind het nie. Konvensie alleen kon dit nie gewees het nie. Liefde was dit gewis nie. Ook nie die klomp sinnelose twak wat die berader haar wou wysmaak nie. Seks ook nie. Sy het nooit geleer om Dolf se soort seks te geniet nie. ’n Orgasme was haar nooit beskore nie.

Sy het altyd met vae agterdog saamgeleef dat Dolf haar verneuk, een keer bevestiging daarvan gekry. Sy was nooit seker wanneer hy van die waterkar gaan afval nie. Wanneer sy berading weer eenkant toe gegooi sou word nie. Of wanneer sy sogenaamde bekering hom nie meer kon keer om te wees wie hy in die vesel van sy wese was nie.

Jammerte vir hom was dit nie, in elk geval nie teen die einde nie. Dalk ’n swak selfbeeld wat haar onderbewussyn wysgemaak het dis die beste wat sy verdien. Dalk die vermoede dat niemand anders haar en haar vet lyf in elk geval sal wil hê nie. Dalk omdat sy Dolf geglo het dat sy niks werd is nie. Dalk net omdat Dolf ’n manipuleerder van formaat was. En omdat sy uit die staanspoor reeds op intuïtiewe vlak vir hom bang was.

Miskien sal Stiaan Sonnekus vir haar kan sê wat die redes is, maar dan sal sy daardie verdomde lys met persoonlike vrae moet voltooi. En selfs al sien sy kans daarvoor, sal dit moet wag. Môre ruk sy haar huis verder reg en moet sy Spar toe gaan. Haar begin inrig vir die res van haar lewe. Hoe lank of kort dit ook al mag wees.

Vasti skrik toe sy besef die donker het haar byna ingehaal terwyl sy die verlede herleef het. Sy draf haastig huis toe en sluit die deur agter haar. Sy sal sekuriteitshekke moet laat installeer. Gelukkig is daar diefwering voor die vensters. Liederlike goed, maar daar.

’n Doef-geluid in haar slaapkamer laat haar vries. Nie ’n harde klank nie, maar nie ignoreerbaar nie. Sy draai stadig om, te bang vir wat sy dalk in die gang gaan sien.

In die donker tot waar die kombuislig nie strek nie, is ’n roering naby die vloer. Die eerste miaau laat haar bene lam van verligting. Teen die tweede weet sy nie of sy die kat wil omhels of verwurg nie. Haar hele lyf het in sweet uitgebars.

Dis ’n jong kat, sien sy toe dit in die lig inbeweeg. Kaneelkleur met langerige hare en ’n wit voorkop. Van die effens plat gesiggie lei sy af daar moes êrens in die kat se onsuiwer geslagsregister ’n Persiese voorsaat gewees het.

Die kat kom staan reg voor haar, kyk haar stip in die oë en miaau weer. Vasti kan amper die vraag na kos in die klank hoor.

“Sommer net so? En waar dink jy moet ek katkos vandaan kry?”

Die kat knip net haar oë en miaau weer. Of is dit ’n hy? Wyfiekat en baie onlangs reggemaak, sien Vasti toe sy haar optel. Die litteken is nog duidelik. Die kat raak aan die spin.

“Vanwaar, Gehasi? Het jy uit ’n Renoir-skildery ontsnap?” Die kat spin net harder.

Dis eers toe sy die kat neersit dat Vasti die nuwe items op die kombuistafel sien staan. ’n Sak katkorrels, ’n blik katkos en twee plastiekbakkies – ’n bloue en ’n rooie.

’n Siddergeluid laat Vasti van voor af skrik. Dis ’n doodnormale huishoudelike geluid. ’n Yskas wat aandui dat dit die regte temperatuur bereik het. Wat wonderlik sou wees as sy die ding aangeskakel het, maar sy het nie. Haar plan was om dit vanaand skoon te maak en aan te skakel sodat sy dit môre kan gebruik.

Vasti stap behoedsaam nader, kry dan lag vir haarself. Daar sal sekerlik nie iemand uit die yskas spring nie. En tog is sy steeds skrikkerig toe sy die deur oopmaak. Al wat haar in alle onskuld begroet, is ’n halfliter melk, twee appels, ’n halfdosyn eiers, ’n bottel wyn en ’n foeliebakkie met kleefplastiek oor. Van die romerige kapokaartappels wat die dis bedek, lei sy af dit bevat herderspastei. Net reg om in die oond opgewarm te word.

Vasti druk die yskas toe en buk by die stokou elektriese stoof wat in die somer diens gedoen het wanneer die koolstoof nie heeldag brand nie. Sy trek die deur oop. Aan gaan die liggie wat laas nie meer gewerk het nie en die oond blink so skoon as wat ’n ou misbruikte oond kan blink.

Die rivierman? Wanneer? ’n Yskas en stoof wat twee jaar nie in gebruik is nie, word nie in ’n ommesientjie skoongemaak nie. Moes gebeur het voor sy hier aangekom het. Maar die kat en die kos was nie vanmiddag hier nie. Tensy sy heeltemal van haar verstand af geraak het of met blindheid geslaan was sonder dat sy dit agtergekom het.

Nog ’n miaau herinner haar dat die kat klaarblyklik honger is. Sy sny die sak met korrels oop, gooi ’n hopie in die rooi bakkie. Die kat wip op die tafel en begin entoe-siasties kou terwyl Vasti die blou bakkie met water vul.

“Jy sal ’n naam moet kry,” dink Vasti hardop toe sy die sakkie met die ingeboude zip-lock verseël. “Nie Renoir nie. Jy’s ’n wyfie. Sal ons jou vernoem na Renoir se berugte model, Suzanne Valadon, wat toe ook begin skilder het? Onder meer ’n skildery van twee katte.”

Die kat kyk vlugtig op, maar lê dan weer weg aan die korrels.

“Suzie sal dit wees.” Asof die kat se naam dinge hier meer verstaanbaar gaan maak.

Net een ding maak sin. Die yskas en oond is saam met die res van die huis skoongemaak. Dis nou behalwe vir die eetkamer wat agterweë gebly het, vermoedelik omdat sy die weldoener onderbreek het.

Maar die kat en die kos moes afgelewer gewees het terwyl sy by die rivier was. Dit beteken die persoon moes baie sag beweeg het, want sy het niks gehoor nie. Die ontstellendste is egter dat die persoon haar moes dopgehou het om te sien wanneer die kat en haar parafernalia ongesiens gedeponeer kon word.

Weer eens: Die rivierman? Hoekom? ’n Mán wat oond en yskas skoonmaak? Herderspastei aan haar besorg? Nee, dan eerder ’n vriendelike buurvrou. Maar hoekom die geheimsinnigheid?

Sy probeer onthou wie langs haar pa gebly het in die naaste huis van hier af, so vyfhonderd meter verder. Sou dit nog die kwaai tannie gewees het wat sy baie vaagweg uit haar jong jare onthou? Sy verbeel haar Leon het iets van ’n weduvrou gesê. En iets van ’n kleinseun wat by haar woon? En dat die vrou lastig was tot hy haar ’n paar jaar gelede verjaag het. Wat natuurlik ’n uitstekende rede is waarom die vrou niks met Leon de Leeuw se dogter te doen sou wou hê nie, al het sy êrens gehoor Vasti trek hierheen. Nee, dit bly onverklaarbaar.

Haar lyf word swaar toe die foon weer begin lui. Sy tel die luie af met ’n hart wat in haar keel klop. Asseblief, laat dit die buurvrou wees, laat sy verduidelik hoekom en wanneer sy hier skoongemaak het, waarom sy besluit het Vasti het ’n kat nodig.

’n Sagte geruis. En dan volg een woord wat sy duidelik tot hier in die kombuis kan hoor. “Slet!”

As dit nie Dolf se stem is nie, is haar naam nie Vasti de Leeuw nie.

Hoe lank sy net so gevries in haar spore bly staan het, weet sy nie. Sy word eers tot die werklikheid teruggeskok toe ’n harde kraakgeluid buite opgevolg word deur die krysende protes van watervoëls. Daarna volg die klank van water wat teen iets klots. Waarskynlik ’n bootjie.

Vasti vlieg na die venster wat rivier se kant toe kyk, maar dis net haar eie weerkaatsing en dié van die kombuis wat sy teen die donker agtergrond kan sien. ’n Stofwolkie slaan op toe sy die voos gordyne toepluk. Sy sak op een van die kombuisstoele neer en het skaars haar sit gekry voor die kat op haar skoot spring.

“Suzie, wat gaan aan?” prewel sy terwyl die kat haar soos ’n draairoomys opkrul en dan haar oë toemaak.

Die skrik maak oomblikke later plek vir woede. Die kat kyk haar gebelg aan toe Vasti haar op die stoel langsaan neersit, koers kry sitkamer toe en elke denkbare lig op pad daarheen aanskakel. Sy pluk die gehoorbuis van sy mik af en plak dit langsaan neer. As nagedagte draai sy die bandjie terug en vee die boodskappe uit.

Sy marsjeer terug kombuis toe, ruk die kleefplastiek van die foeliebakkie af, druk die herderspastei in die oond en skakel dit aan. Sy gryp die bottel wyn uit die yskas, draai die skroefdop af en neem ’n diep teug voor sy ’n glas vol skink. Propvol.

In die vrieskompartement kry sy ys. Wat beteken haar weldoener het inderdaad die yskas aangeskakel lank voor Vasti hier aangekom het. Water vries nie in ’n japtrap nie.

Nou toe, Dolf. Kom. Kom skiet my of kom slaan my weer voos. Kom breek en verniel wat van my en my goed oorgebly het. Maar eet gaan ek verdomp eet en wyn gaan ek bliksems drink voor jy hier aankom. Wie ook al so gaaf was om te sorg dat ek iets te ete en drinke en ’n skoon huis het en vir welke redes ook al, dank uw wel. Soos haar oupa sou sê.

“Of hoe, Suzie?” vra sy hardop.

Die kat roer net haar ore effentjies.

Teen die tyd dat sy die eenvoudige, maar heerlike pastei geëet en die glas wyn gedrink het, het haar bravade gekwyn. Sy is egter so moeg dat sy met moeite gebad kry voor sy haar kamerdeur agter haar sluit en in die skoon bed inkruip.

Sy skrik nie eens toe die kat op die bed spring nie, skakel net die lig af en trek die verekombers tot teen haar nek.

Die water was warm, besef sy. En sy het vergeet om die geiser aan te skakel.

“Dankie, buurvrou,” prewel sy net voor die slaap oorneem.

Iewers gedurende die nagtelike ure word sy half en half wakker, verbeel haar sy hoor gruis knars, maar die slaap trek sterker aan die tou as die vrees. Sy het seker gedroom, dink sy voor sy weer wegval in ’n diep slaap.

Labirint

Подняться наверх