Читать книгу Labirint - Chanette Paul - Страница 11

7

Оглавление

Runa het reeds ’n CD gesit in die spelertjie wat aan Dolf se woede ontsnap het en twee kussings op die vloer by die koffietafel gegooi toe Vasti die sitkamer met die pizza binnekom.

“Ons hou piekniek vanaand.” Runa gaan sit op die een kussing.

“ ’n Piekniek met Pavarotti and Friends?”

“Dis omtrent al wat jy het wat saam met pizza luisterbaar is. Waar jy aan jou argaïese musieksmaak kom, weet g’n mens nie.” Sy breek die kooltjie van haar sigaret behendig in die asbak af en sit die oorblywende gedeelte reg vir latere gebruik.

Vasti gaan sit kruisbeen op die kussing oorkant haar. Sy wag totdat Runa die slingers kaas onder beheer het voordat sy vir haar ook ’n skyf van die pizza in haar bord skep. Daar is ’n vreemde sensasie op die krop van haar maag. Halfbekend, maar iets wat sy nie die afgelope maand ervaar het nie. Sy’s honger, besef sy dan.

Tussen die happe pizza deur gesels Runa oor die mees onlangse verkope in die galery en oor een van Vasti se nuwe, ernstiger stillewes wat amper baas gekry het. Die pizza is driekwart klaar toe Runa haar bord wegskuif en met haar rug teen die rusbank leun.

“Enige letsels oorgehou van jou val?” Sy lig die verminkte sigaret uit die asbak en steek dit aan.

Vasti sit hulle borde opmekaar en skuif dit na die hoek van die tafel. “Net hier.” Sy lig haar kuif en vee oor die letsel hoog teen haar voorkop. “Dis waar ek die koffietafel se hoek ge-connect het.”

“Die swyn. Ek sê nog jy moes hom ge-sue het.” Runa teug diep aan die sigaret.

Vasti trek haar skouers op. “Hoe kon ek bewys dit was Dolf wat my huis omgekeer het? En hoe kan ek hom dagvaar omdat ek in my paniek geval en my kop oopgekloof het?”

“Nadat hy ’n donnerse klip deur jou venster gegooi het.” Runa snork. “En natuurlik was dit Dolf Verster. Die ding is mal.”

Vasti sug en hou haar hande in die lug. “Volgens die polisie het hy ’n alibi gehad. Ek het nie eens geweet hy het Pretoria toe getrek nie. Hy woon by ’n vrou in. Krige, dink ek is haar van.”

Runa snork deur haar neus. “Natuurlik weer die een of ander slet wat hy om sy pinkie gedraai en belieg het.”

“Niks was vermis nie. Dit was hoofsaaklik vandalisme. Die polisie het baie ernstiger misdade om hulle oor te bekommer as dít.” Vasti kom orent en tel die borde op. “Koffie?”

Runa skud haar kop. “Het jy nie êrens nog ’n bottel wyn nie?”

“Net Tassies.”

“Sal moet doen.”

Vasti kom terug, gee vir Runa een van die twee bottels Tassies wat sy met hierdie besoek in gedagte aangeskaf het en stap dan na die antwoordmasjien. Sy draai die bandjie terug. “Luister bietjie hier.” Sy skakel die masjien aan. Die geruis en toe die laggie.

“En dit?” Runa frons, teug aan haar sigaret en druk dit dan dood in die asbak. “Wanneer het dit gebeur?”

“Net voor jy gekom het, maar dis nou al die derde keer.”

“Ek sê jou mos, daardie Dolf is so mal soos ’n donnerse haas. Jy moet hom laat opsluit, Vasti. Wat te erg is, is te erg.” Sy draai die prop hardhandig oop.

“Ek weet nie of dit hy is nie, Runa. Maar daar was ’n ander oproep ook. Ek het die boodskap in ’n oomblik van woede uitgevee, maar dit was definitief hy. Hy het my dus weer opgespoor, maar ek gaan waaragtig nie weer vlug nie. Ek kan nie vir die res van my lewe van adres verander nie.” Vasti verras haarself met haar uitspraak. Sy het dit gedink, maar noudat sy dit hardop uitspreek, klink dit dapperder as wat sy voel.

Runa skink die wyn in die glase wat reeds dof is van die vetterige vingermerke. “Maar as die ander nie Dolf is nie, wie dan?”

Vasti trek haar skouers op en vat die glas by Runa. “Ek weet nie.” Sy begin die buitekant van die glas met ’n papierservet skoonvryf. “Ek weet regtig nie.”

“Wie ken jou nuwe landlynnommer?” Runa steek nog ’n sigaret aan. “En by the way, ek soek hom ook.” Sy stoot haar sigaretboksie nader en haal ’n pen uit haar sak.

“Dawid en die sielkundige het dit op hulle vorms. O, en Eben.” Vasti krabbel die nommer op die boksie neer.

“En wie de hel is Eben, as ek mag vra?” Runa sluk fronsend aan die wyn.

“My nuwe leerling. Ek moes hom die nommer gee sodat hy kan bel as hy sy klasse wil kanselleer. Maar dit was ná die eerste lag-oproep.” Vasti wonder of dit ’n goeie idee was om nog ’n bottel wyn oop te maak. Runa is geneig om maklik vertoorn te raak ná die derde glas.

“Dis platteland, Vasti. Hy kon ’n pêl van ’n pêl se pa wat by Telkom werk gevra het wat die nommer van sy nuwe bure is nog voor jy dit vir hom gegee het.”

“Hoekom my dan daarvoor vra?”

“Who knows?” Runa strek haar bene voor haar uit. “Anyway, van wanneer af het jy privaat leerlinge? Jy het nog altyd net in groepe klasgegee en beslis nie van jou huis af nie.”

“Van vanmiddag af, en hy is die buurkind. Dit maak net sin. En die geldjie sal help. Dit behoort darem daardie einste telefoonrekening te kan betaal. Maar die kind is ook baie talentvol. Miskien kan jy nog eendag sy goed smous.” Hoekom is sy op die verdediging?

Runa knik. “Ek soek altyd nuwe talent. Maar daardie lag-oproepe hinder my steeds.” Sy grinnik. “Tensy dit jou shrink is wat jou toets. Of dalk maller wil maak sodat jy langer by hom boer.”

“Dit betwyfel ek ten sterkste.” Vasti tol haar glas in die rondte. “Ek gaan in elk geval nie weer na hom toe nie.”

Runa frons. “Hoekom nie?”

Vasti trek haar skouers op. “Dis duur en ek kan nie die nut daarvan insien nie. Ek moet my situasie self verwerk. Ek kan nie heeltyd op mense leun nie. Dis al erg genoeg dat ek jou, en Nicholl ook, betrek by my probleme. Terloops, hy’t kom inloer.”

“Hmm, Nicholl het gesê hy gaan ’n draai hier maak. Het jy hom vertel van die oproepe?”

Vasti knik.

Runa kyk haar peinsend aan. “Vasti, ek dink regtig jy moet teruggaan shrink toe. Ek en Nicholl kan jou net tot op ’n punt help. En jy het hulp nodig. Hulp wat ons jou nie kan gee nie.” Sy vermorsel die sigaret in die asbak.

Vasti lag effens senuweeagtig. “Gits, Runa, jy laat dit klink asof ek op die punt staan om gesertifiseer te word.”

Runa bring ’n vars sigaret na haar lippe. “Dis seker nie só erg nie.” Die silwer sigaretaansteker se vlam vou om die sigaret se punt. Runa blaas die rook uit en die vlam dood. “Maar jy is deur baie dinge, Vasti. En dit wys. Jy het baie verander. Nie alles ten goede nie, hoewel ek graag meer wil hoor van jou dieet.”

“Natuurlik het ek verander. Dolf het my oor ’n lang tydperk emosioneel verrinneweer. Ek het nie ’n sielkundige nodig om dit vir my uit te stippel nie, maar dis nie te sê ek het terapie nodig nie. Ek kon nog altyd cope. Soos ek vir Nicholl ook gesê het, Dolf sal nie vir ewig met sy speletjies aanhou nie. Jy weet self hoe gou hy met ’n ding verveeld raak. Dit verstom my reeds dat hy nou weer hiermee begin het, maar dit sal einde kry sodra hy iemand meer permanent in sy lewe het. En soos ek gesê het, dit klink asof hy saam met iemand woon.”

Runa trek haar skouers op. “Maybe, maar jy’t ’n knou weg en ’n sielkundige is jou beste bet om binne die kortste moontlike tyd reg te kom.” Sy sug. “Ek is bekommerd oor jou, ou girl. Jy tree soms heeltemal irrasioneel op en jou oorversigtigheid grens aan paranoia.” Sy beduie na die toe deure en vensters. “Kyk hoe leef jy. Jy antwoord nie ’n foon nie, jy kruip weg agter tralies en ek wed jou jy wil beswyk elke keer as daar iemand aan die deur klop. Jou hande is permanent aan die bewe. Jy wil vir elke bakatel aan die tjank gaan. Jou skilderye lyk asof dit in ’n looney bin geverf is.”

Sy skud haar kop. “Dis nie normaal nie, Vasti. Ek kan dit verstaan in die omstandighede, maar dis definitief nie normaal nie.”

Vasti kyk Runa gebelg aan. “Wat probeer jy sê, Runa?”

Runa sit haar glas halfgedrink op die koffietafel neer en kom orent. “Ek probeer sê, gaan sien hierdie Stiaan Watsenaam. Jy het dit nodiger as wat jy dink. Miskien sal jy dan weer kan begin goed verf wat geld maak. Nag, Vasti.” Sonder meer kry sy koers voordeur toe. Vasti hoor hoe sy dit oopsluit, wag vir die klik dat dit toegaan, maar dit gebeur nie.

Sy spring op. Vanuit die gang kyk sy hoe Runa na haar motor toe stap, hoor sy die enjin aanskakel en wag tot die rooi liggies wegtrek voor sy na die deur toe hardloop en dit met angstige vingers sluit. Dis Suid-Afrika. Nie paranoia nie.

Nicholl draai op sy rug en sit sy arms onder sy kop. Die tydskakelaar het so pas die tuinligte uitgedoof en dis meteens pikdonker in die kamer. Langs hom roer Gail onrustig in haar slaap, maar raak dan weer stil. Dis selde dat sy in sy bed bly. Sy verkies om alleen te slaap in haar suite aan die ander kant van die huis.

Hy proe haar nog op sy tong. Sy was weer vanaand ’n donnerse tierwyfie. Aan die opgekropte energie in die perfek geoefende lyf kon hy agterkom sy gaan weer binnekort daarop aandring om “vriende” vir ’n naweek oor te nooi.

Hy grinnik sonder vreugde in die donker. Die eerste keer toe Gail, destyds in Pretoria nog, voorgestel het dat hulle na ’n klub vir swingers gaan, was hy tot in sy siel geskok.

Siel? Het hy nog so iets? Ego, ja, dié het hy. Hy het onmiddellik gewonder waar hy tekort skiet en tog het ’n vreemde opwinding hom beetgepak.

“Waarom?” het hy nietemin gevra en na Gail gekyk waar sy teen die kussings lê. Haar roosbruin tepels het hom astrant aangekyk vanaf die soel, silikoon-verstewigde heuwels.

“Excitement, my ding, dis al waaroor dit gaan,” het Gail se rasperstem deur die soet rookwolk gekom. Hy het haar twyfelagtig aangekyk, die zol by haar geneem en ’n diep, vinnige trek geneem. “My fok, Nicholl, sien jy kans om vir die volgende veertig jaar nooit weer met iemand anders seks te hê nie? Waar is jou sin vir avontuur? Dis tog soveel meer decent as om shady affairs te hê, agter varings in restaurante weg te kruip en in Formule 1-motels ’n haastige knippie in te kry.”

Hy het effens geskrik. Angstig gewonder of Gail weet van die paar desperate middae toe hy aan homself probeer bewys het hy is wel ’n goeie lover – dat Gail net ’n nympho is en dit nie sy skuld is dat sy nooit sonder haar weird scenario’s ’n orgasme kan bereik nie.

“Dink daaroor, my ding.” Sy het die zol uit sy vingers geneem, diep daaraan getrek en die rook stadig en doelbewus in sy gesig uitgeblaas.

Namate die teensin by die gedagte aan ’n ander man tussen Gail se gespiere dye in sy libido begin wegsypel het, kon hy insien dat hulle só ten minste kon seker wees daar is so min moontlik reperkussies. Al die betrokkenes het dieselfde doel. Geen jaloerse mans of vrouens kan probleme veroorsaak nie. Hulle ruil maats met mekaar se volle medewete en toestemming.

Dis net vir die pret, vir seksuele afwisseling, dit het niks met hulle emosionele verhouding uit te waai nie, het hy homself uiteindelik oortuig. En dis veiliger so met Aids wat maar altyd ’n vlermuis-skaduwee gooi oor quickies en one-night stands.

Natuurlik was dit nie so maklik nie. Hy was jaloers, het bly wonder wat die ander man aan haar doen. En sy aan hom. Ry Gail ook die vreemde man soos Ben-Hur sy strydwa? Kry hý Gail uiteindelik versadig?

Sy eerste ervaring as swinger het egter ook ’n verslawende opwinding ingehou. Die skamerige vrou in die oordadige kamer van die klub het orgasme ná orgasme onder sy bekwame hande, sy lyf bereik. Sy het hom snikkend verseker dat sy nog nooit voorheen so volkome en by herhaling gekom het nie. Dit was in so ’n kontras met die veeleisende, immer sekshonger Gail, hy het soos ’n herrese Valentino gevoel.

Die klub het ’n gereelde instelling in hulle lewens geword. En toe, op ’n dag, kyk hy op van sy stinkhoutlessenaar in sy deftige kantoor en sien ’n nuwe kliënt in die deur staan.

Hy kon haar vir ’n paar oomblikke net aanstaar. Die koperbruin hare was windverwaai, haar oë groot, onseker en die diep goue kleur van antieke amber. Daar was ’n weerloosheid in haar houding, ’n kwesbaarheid, soos ’n hond wat dikwels geskop word. Hy kon sien sy staan op die punt om te vlug.

Hy het op sy afspraaklys gekyk en toe weer na haar. “Mevrou Verster?”

Sy het geknik.

“Kom sit gerus,” het hy genooi en na die besoekerstoel aan die oorkant van sy lessenaar gewys.

Sy het ’n oomblik gehuiwer, toe tog nader gestap en op die punt van die stoel gaan sit. Haar hande het mekaar op haar skoot opgesoek en inmekaar begin wring. “Runa het gesê jy kan my help. Jy sal my dalk onthou van Bredellsdorp af. Vasti de Leeuw. Op skool was jy ’n jaar voor ons. En ek en Runa was kamermaats op universiteit. ” Haar stem was effens hees. “Ek wil van my man skei.”

Hy het haar vaagweg onthou, maar glad nie herken nie. Hy het net geknik en gewag dat sy verder gaan.

“Ek is bang vir hom. Ek het nie baie geld nie.” Sy het hom vertel van haar jare van hel. Sy het deurgaans effens uitasemrig gepraat, asof sy hiperventileer.

Sy lewe was nooit weer dieselfde nie. Sy kliënte het hom begin irriteer met hulle gekibbel oor nietighede. Sy sekretaresse se petite lyfie, so in kontras met die enorme, wriemelende borsmaat, vermoedelik sonder die hulp van silikoon, het hom nie meer gefassineer nie. Hy het geen behoefte meer aan swing gehad nie en wanneer Gail hom omgepraat het, het hy hom verbeel dat dit Vasti onder hom was. Vasti wat kermgeluidjies maak terwyl hy die vreemde vrou liefkoos.

Gail se seksuele veeleisendheid, haar ooraktiewe libido, het hom meer as vantevore omgekrap, maar die ou minderwaardigheidsgevoel het verander in ’n grimmigheid jeens haar. Gail kon hom nie meer raak nie. Hy kon nee sê wanneer sy hom in die middel van ’n onthaal na die kleedkamers wou sleep en hy kon haar smalende houding daarna ignoreer.

Hy kon aan Vasti dink. Aan haar aardse vroulikheid. Daar was iets aan haar . . . daardie rare onskuld, ’n varsheid wat ondanks al haar probleme nooit verwelk het nie. Hy kon aan Vasti dink en skoner, helderder voel.

Ná sy van Bela-Bela af Nylstroom toe is, het hulle kontak verloor. ’n Jaar later het hy besef die lewe wat hy en Gail het, is leeg en vreugdeloos. Sy werk het hom ook nie meer vervul nie. Die stad het sy vyand geword. Boonop het die eiendomsontwikkeling waarby hy betrokke was onder verdagte omstandighede deur die mat geval, en kort daarna het die klub toegemaak en is hulle gewaarsku dat iemand van buite aan die snuffel is. Swing is dalk nie teen die wet nie, maar nie een van hulle kon die verleentheid bekostig wat sou volg as hulle seksuele bedrywighede op die lappe sou kom nie.

Dit was Gail wat voorgestel het hulle begin elders van voor af. Hy het saamgestem, maar toe hy voorstel hulle trek Bredellsdorp toe, het sy hom uitgelag. Met haar gewone skerpsinnigheid het sy besef hy wil die Bredellsdorpers wys dat die mechanic se seun van destyds iets geword het – al was dit teen daardie tyd duidelik dat dit nie sy eie sukses sal wees waarmee hy kan spog nie. Maar Gail was gelukkig finansieel so sterk soos altyd.

Dit het ’n rukkie geneem om haar te oorreed om selfs net te kom kyk. Maar sy het uiteindelik geswig voor sy geneul. Die eiendomsagent het hierdie enorme, superluukse huis teen die hoogste residensiële deel van De Koppe vir hulle gewys en Gail het onmiddellik die moontlikhede ingesien. Hulle sal vier couples op ’n slag kan nooi om oor te bly. Elkeen in sy eie privaat suite en elke suite met sy eie jacuzzi.

In die afgelope jaar het dit al drie keer gebeur. Volgens Gail elke keer ’n reusesukses. Die eerste keer het hulle swinger-vriende van Pretoria hier gehad. Teen die tyd dat sy die tweede naweek gereël het, het Gail egter reeds eendersdenkendes in De Koppe geïdentifiseer. ’n Groepie wat, soos hulle, uit die stad uit hierheen getrek het en lankal reeds maats uitruil, maar dit nog nooit op die skaal gedoen het waarin Gail uitblink nie.

Om van Gail te skei is nie ’n opsie nie. Hy het heeltemal te gewoond geraak aan die lewenstyl wat die miljoene wat sy by haar ryk ma en regter-pa geërf het, moontlik maak. En nadat die ontwikkeling skeef geloop het, is hy pennieloos. Hy het vrede gemaak dat dit nou maar eenmaal die soort lewe is wat hom beskore is. Ook aan homself erken hy het vasgevang geraak in die erotiese opwinding wat in die verbreking van taboes lê.

Só het hy gedink tot hy vanoggend weer vir Vasti gesien het. ’n Skraal Vasti met die borste van ’n godin. Sonder silikoonhulp. Hy het weer onthou hoe goed sy hom laat voel het. Hoe haar dankbaarheid vir elke bietjie hulp wat hy verleen het hom soos ’n held laat voel het. Hoe sy hom destyds weer kon laat glo aan dinge soos liefde, opregtheid, vriendskap. En tog was sy donkerder sy, soos altyd, al weer by.

Van daardie eerste dag af het hy Vasti begeer soos hy nog nooit enige ander vrou begeer het nie, met ’n allesoorweldigende drang wat nie net sy liggaam aangetas het nie maar ook sy ego, sy oordeelsvermoë, sy siel selfs. By tye ook sy verstand. En nou is dit erger as ooit.

Vasti lê lank wakker. Miskien is Runa reg. Miskien ís sy besig om te gly ná al die jare van kumulatiewe spanning, angs en woede.

Sy sal Stiaan Sonnekus ’n kans gee. Sy sal môre die vraelyste gaan faks en kyk wat hy volgende Woensdag te sê het. En as dit lyk asof hy enigsins hierdie hok waarin sy haar bevind se tralies kan oopbuig, sal sy hom vertel van die stadige uitmergeling van die afgelope twee en twintig jaar wat begin het op daardie vervloekte dag toe sy Dolf Verster ontmoet het.

Al was hy nie onaantreklik nie, het sy nie van hom gehou toe sy hom die eerste keer gesien het nie. Sy het met die koshuistrap afgekom en hom sien staan waar hy met die eerstejaar op telefoondiens gesels. Hulle het afgespreek dat hy haar ’n halfuur vroeër kom haal sodat hulle eers koffie op die Bult kan gaan drink om die ys te breek.

Wat sy verwag het van die soort ou wat sal reageer op hulle primaria se versoek aan sy koshuis se huiskomitee om dates te werf vir eerstejaars omdat hulle verplig is om die Donkiedans by te woon, weet sy nie. Nie die room van die oes nie, maar ook nie iemand soos Dolf nie. Iets aan sy houding het haar gepla. Sy kon net nie haar vinger daarop lê nie. Net toe sy oorweeg om weer stilletjies met die trap op te gaan, het hy opgekyk asof haar huiwering sy aandag getrek het. Teen haar beterwete is sy tog ondertoe.

“Hallo, Vasti.” Sy oë was bruin en blink in die neonlig van die kil voorportaal. Sy het hom nie as wellusteling herken nie, hoofsaaklik omdat sy in daardie stadium in haar lewe nog nooit self wellus ervaar het nie. Verlangens, ja, vreemde gewaarwordings in haar liggaam en soms ’n behoefte om aan haarself te raak, maar ongebreidelde wellus nog nooit nie. Nie eens as Dawid haar soen nie.

Sy het geknik. “Hallo, jy moet Dolf wees.”

“Einste. Die volunteer.” Sy oë het oor haar gegly. “ ’n Gelukkige een, al verstaan ek jy gaan vas uit met ’n ou op Kovsies en het net ’n date vir die een aand nodig?”

“Dis heeltemal reg.” Sy onthou sy het vuurwarm gebloos, want in Dolf se oë was daar spot asook iets anders. Iets wat sy toe nog nie herken het nie. Eers toe hy haar ná die dans probeer opvry het, het sy besef hy het nietemin verwag dit sou meer as ’n enkele vriendskaplike date wees. Dat hy in die eerste plek sy dienste aangebied het omdat hy gehoor het sy is maklik. En toe sy weier om opgevry te word, het dit hom eerder aangespoor as afgeskrik. Dit wat hy nie kan kry nie, het sy later uitgevind, het Dolf veel meer geboei as dit wat hom vrywillig aangebied is.

Hoeveel hiervan wil sy bieg as sy na Sonnekus toe gaan? Sien sy regtig kans om alles weer op te rakel? Dit met ’n wildvreemde te deel? Sy draai op haar sy. Sy sal môre besluit.

Stiaan word natgesweet wakker uit ’n nagmerrie. Hy voel outomaties langs hom in die dubbelbed na sy vrou se liggaam. Die lakens is koud en ongekreukel aan haar kant. Dan onthou hy.

Hy onthou Lillian se kompakte figuurtjie, haar lang swart hare en die koepels van haar wenkbroue. Hy onthou haar uitbundige lag en die blinkwit van haar tande. Hy onthou die glimlag om die lippe wat, soos haar naels, altyd bloedrooi geverf was.

Stiaan voel die pyn fisiek deur hom ruk en wonder of dit ooit sal beter word.

Hoe durf hy ander mense probeer help om hulle lewe in orde te kry as hy dit self nie regkry nie? Hoe durf hy vir ’n kliënt sê hy kan haar help as sy bereid is om hard daaraan te werk? En intussen kan hy homself nie eens help nie. Net so min as wat hy sy vrou en dogter kon help. En net so min as wat hy sy dooie makkers daar by die Calueque-damwal kon help.

Ledemate het wydversprei gelê. Die liggaamlose kop van sy beste vriend reg langs hom. Met sy verpletterde been vasgepen, het Stiaan net aan die gil gegaan totdat iemand uiteindelik ’n naald in sy arm gedruk en die verskriklike werklikheid om hom verdwyn het. Maar dit was net tydelik.

Hoe het hy durf dink dat hy daarna ’n normale lewe kan lei? Kan trou en ’n gelukkige huwelik geniet? Lillian het hom jare lank ondersteun. Tot sy uiteindelik troos gaan soek het wat hy haar nie kon bied nie. En die “troos” wat sy gekry het, het haar vernietig. Sy kon nie met haar skuldgevoelens en die gevolge van haar daad saamleef nie.

Voor sy geestesoog sien hy weer die geelbleek kleur van haar blas vel toe hy in die badkamer op haar afgekom het. Die verskriklike rooi van die bloed teen die wit van die bad. So baie bloed uit sulke skraal polse.

In teenstelling met Liezl. Nie ’n druppel bloed nie, maar ook vir ewig onbereikbaar.

Haar ontrouheid sou hy Lillian dalk nog kon vergewe het, maar nie haar selfmoord en veral nie dat sy Liezl met haar saamgeneem het nie. Nee, dit kan hy nie vergewe nie. Nie vir Lillian nie, maar veral nie daardie vervloekte vrou wat die oorsaak van alles was nie. Sou sy weet met hoe ’n fel haat sy gehaat word? Kon sy dit nie aanvoel toe sy by sy spreekkamer opgedaag het nie? En toe rig sy nog daardie godskreiende uitnodiging ook.

Dit gun hom egter ’n voet in die deur, die geleentheid om haar vir inligting te melk. Al is hy amper seker sy vermoede is reg. Sy nuutste “kliënt” sal dit kan bevestig, maar daardie gesprek kan nie in sy spreekkamer plaasvind nie. Daarvoor het hulle ’n private tête-à-tête nodig.

Sonnekus is so ’n optimistiese naam, het Vasti de Leeuw gesê. Daaraan het hy nie eens gedink toe hy sy ma se nooiensvan begin gebruik en van Pretoria af hierheen getrek het om agter die waarheid te kom nie.

Dawid word wakker toe Heleen opstaan en badkamer toe stap. Hy luister na haar slaapdom bewegings in die donker, voel na ’n rukkie hoe die bed weer aan haar kant sak en luister hoe haar asemhaling feitlik onmiddellik weer egalig voortgaan waar sy opgehou het toe die natuur geroep het.

Hy draai om op sy ander sy en maak sy oë toe. Hy het rus nodig hierdie komende naweek. Die praktyk eis sy tol. Hopelik het Heleen nie weer ’n menigte mense oorgenooi nie. Hy sal graag ’n bietjie alleentyd met haar wil spandeer. Hulle het nooit meer tyd om net te sit en gesels nie. Sy is deesdae amper ’n vreemdeling vir hom. Voortdurend op pad êrens heen. Deesdae veral na daardie simpel gym toe.

Wat hom laat dink hy moet tog onthou om weer haar kar na te gaan. Sy is baie nalatig wat die water en olie betref. Hy sal ook moet kyk hoe lyk die bande. Hy kan nie eens onthou wanneer laas hy daarna opgelet het nie. En Heleen is geneig om te jaag, terwyl sy nie ’n wafferse bestuurder is nie. Dit help ook nie hy kapittel haar daaroor nie. Sy beloof hand en mond, ry vir ’n ruk versigtiger en dan is dit maar weer sulke tyd.

Miskien moet hy daaraan dink om vir haar ’n nuwe kar te koop. Die Jetta is al amper vyf jaar oud. Maar dit gaan weer ’n relletjie afgee. Heleen kan so sentimenteel oor ’n kar wees en sy is skrikkerig vir nuwe modelle met al die elektroniese goed.

En noudat hy daaraan dink, sy eie kar het ook binnekort weer ’n diens nodig. Dawid sug. Hy sal daaraan moet dink om ’n vennoot te kry.

Dit sal hom nie net meer tyd by die huis gee nie. Dit sal hom ook die geleentheid gee om meer tyd aan sy pasiënte af te staan. Hy haat dit wanneer die pasiënte net soos ’n worsmasjien ingeryg by sy spreekkamer kom en gaan. Hy moes byvoorbeeld lankal vir Vasti opgevolg het. Hy hoop Stiaan kan haar help.

Dawid draai op sy rug. Hy het soveel gemengde gevoelens oor haar. Aan die een kant voel hy nog altyd half skuldig teenoor Vasti. Sou haar lewe dalk beter verloop het as hy destyds bereid was om haar te sê waar sy ’n aborsie kon laat doen?

Dit was nog onwettig, maar was hy werklik so teë op die aborsie self? Of was dit jaloesie? Gebore uit die woede teenoor Vasti wat hom nou nog bybly sedert sy hom met Dolf Verster verneuk het.

Die dag toe hy Vasti se hotdog uit haar hand geloop het, het hy gedink die gode glimlag vir hom. Sy het nie besef hoe mooi sy is nie, miskien omdat sy effens oorgewig was. Of miskien omdat dit nie ’n gewone soort mooi is nie. Beslis nie popmooi nie.

Daar is vroue wat ’n man se beskermingsdrang losmaak. Daar is vroue wat die lendene roer. Vroue wat met hulle misterie boei. Vasti het al hierdie eienskappe beërwe en dan nog daardie leeuin-oë waarin wie sy is en wie jy kan wees as jy haar guns wen, geheimsinnig vasgevang is. En tog was sy salig onbewus daarvan.

Sy het ook nie besef hoe skerpsinnig sy is nie. Haar gebrek aan ydelheid, maar veral haar onskuld het hom gefassineer. Daarom kon hy nie glo toe Dolf Verster hom op ’n dag bel en sê hy is jammer hy het in Dawid se slaai gekrap deur haar na die Donkiedans te vergesel nie. Vasti, het die vent gesê, het nagelaat om hom in te lig sy gaan eintlik vas uit. Hy sal van nou af uit Vasti se pad bly. Hy wou net dinge regstel. Man tot man.

Dawid sou haar dalk die geleentheid gegun het om haar kant van die saak te stel, maar die doodskoot was toe Dolf groet met: “Jy is voorwaar ’n gelukkige man. Ek dink nie ek het al ooit so ’n great blow-job gehad nie.”

Hy was te verpletter, te verneder om die saak met Vasti te bespreek. Hy het haar net gevra wie Dolf Verster is. Sy het verduidelik van die verpligte koshuisdans. Dat sy saam met ’n blind date gegaan het, maar dit vooraf duidelik gemaak het dat sy reeds vas uitgaan. Sy het so onskuldig geklink. Hy wou glo die vent het gelieg, maar die agterdog het bly sit. En sy agterdog was gegrond, het hy agtergekom toe hy met ’n ompad uitgevind het in watter koshuis Verster was en hom gebel het. Dolf was nie daar nie, maar sy kamermaat het die oproep namens hom geneem.

Toe Dawid hom voorstel, het die vent dadelik geweet wie hy is. “Hei, ou maat, ek hoop nie jy wil moeilikheid maak vir my roomie nie. Ou Dolfie sou nooit met jou girl gelol het as hy geweet het sy sleep eintlik vas nie, maar ek verstaan sy is hot. Regtig hot. Die dikketjies is mos altyd die vrygewigste en ’n man is nie ’n klip nie. Jy kan die man nie kwalik neem nie, nè. Hy sê hy het al sy dae om uit haar pad te bly en ek hoor hy is nie al een nie. Dis eintlik ’n jammerte ek sleep self vas.”

Hy het ter wille van die eindeksamens wat kort ná die dans begin het, tot die Desembervakansie gewag voor hy met haar uitgemaak het. Sy het regtig verdwaas gelyk toe hy net gesê het hy deel nie sy meisie met ander mans nie en hy het nie tyd vir maklike meisies nie. Vasti het onskuld gepleit, maar dit het veral nie oortuig toe sy net ’n paar maande nadat Dawid met haar uitgemaak het, met Dolf begin vas uitgaan het nie.

Hy het nog nooit vantevore iemand gehaat nie, maar daardie dag het haat in hom posgevat. En deur die jare, hoe swaarder Vasti gekry het, hoe feller het sy haat jeens Dolf Verster gegroei. Maar ook sy minagting jeens haar. Hierdie minagting kon egter nooit alleen staan nie. Dit was altyd vermeng met die soet gevoelens wat hy ervaar het toe hulle begin uitgaan het. In daardie paar maande het hy gedink hy het die boerpot geslaan. Dat hy die perfekte vrou ontmoet het. Sy sielsgenoot. Die een vrou wat sy alfa en omega kon word. Maar dit was voor daardie vark van ’n Dolf in haar lewe gekom het.

Dit sou soveel beter gewees het as hy Vasti net kon verfoei. As sy minagting gesuiwer was van hierdie diep verlange na ’n lewe wat kon gewees het.

Runa het hom op hoogte gehou van Vasti se handel en wandel. Hy het dus geweet hoe Verster haar lewe versuur het, ook ná hy haar daardie keer by die stasie gaan haal en na Leon de Leeuw toe geneem het. En tog was hy toe sy Maandag by hom opdaag tot in sy siel geskok. Hy kon sien haar sondes het haar ingehaal. Maar agter die donker kringe onder haar oë, die swaarkry wat uit haar hele wese gespreek het, sou hy ook blind gewees het om nie raak te sien dat sy nou mooier as ooit is nie. ’n Deurleefde, volwasse mooi.

Heleen kreun in haar slaap. Dawid draai weer op sy sy. Hy probeer doelbewus sy gedagtes leeg maak. As hy nou weer aan die verlede gaan lê en dink, slaap hy nie ’n snars verder nie en daar is tog geen jota of titteltjie wat hy daaraan kan verander nie.

Hy sal Vasti Maandag bel en net hoor hoe dit gaan. Die antidepressante behoort teen daardie tyd hulle werk te begin doen, al sal sy nog nie ’n noemenswaardige verskil voel nie. Hy het tog simpatie met haar, al weet hy sy het haar al die moeilikheid en ellende self op die hals gehaal. Hy verlekker hom nie daarin nie. Hy kan haar net nie vergewe dat sy iets wat mooi en suiwer was só vermink het dat die letsel nou nog in sy binneste sit nie. ’n Letsel waarmee Heleen nou moet saamleef.

Want ná Vasti se verraad kon hy nog nooit weer ’n vrou vertrou nie. Selfs nie vir Heleen nie. Al was Heleen ’n maagd op hulle huweliksnag. Al stel Heleen nie vreeslik belang in seks nie. Hy probeer daarteen stry, maar die agterdog bly. Veral oor daardie een naweek toe hy in Johannesburg was vir ’n konferensie en Heleen nie die landlyn geantwoord het nadat sy hom verseker het sy is by die huis nie.

Onlangs het hy by hulle buurman op Vogelbaai gehoor sy was by hulle strandhuis saam met ’n vriendin, maar hy het nog nie kans gehad om haar te vra waarom sy vir hom gejok het nie.

Net toe hy voel hy begin weer wegraak, wonder Dawid of die R. Verster wat ’n afspraak gemaak het om hom Vrydagmiddag te sien, familie is van die vark wat sy lewe so van koers af gegooi het. Maar nee, seker nie. Verster is ’n algemene van.

En hy moet nog eers deur Donderdag kom voor hy hom oor Vrydag kan bekommer. Die enigste rede waarom die afspraak hom opgeval het, was omdat die pasiënt baie puntenerig was oor die tyd. Sy ontvangsdame het eers met Dawid bevestig of dit in orde is, want dit moes drieuur wees en dit moes Vrydag wees. En dis vervlaks ongerieflik omdat sy ontvangsdame Vrydae al tweeuur loop. Maar hy het ingestem. Dis in elk geval eerder die reël as die uit-sondering dat hy nog tot lank ná twee pasiënte sien omdat hulle dikwels tussenin gedruk word.

Hy moet waaragtig ’n vennoot kry.

Labirint

Подняться наверх