Читать книгу Labirint - Chanette Paul - Страница 7
3
ОглавлениеVasti is verlig dat sy die sleutel by Dawid se ontvangsdame kon afhaal. Sy het nie kans gesien om hom weer in die oë te kyk nie. Hy het seker geraai sy was nie van plan om die antidepressante by die apteek te gaan koop nie. Dié dat hy die pakkie saam met die sleutels vir haar gelos het eerder as net ’n voorskrif.
Sy wik en weeg kortstondig of sy tog maar vir Runa moet gaan groet. Besluit dan daarteen om dieselfde redes as hoekom sy nog nie vir Runa laat weet het sy trek Leeuwendrift toe nie. Sy wil eers intrek, probeer tuis raak. Emosionele krag opbou en haar voorberei op die gesprek wat sy en Runa sal moet hê.
Hoe sy vir Runa gaan sê sy wil haar weer toelê op ernstiger kuns pleks van kommersiële skilderye, weet sy nie. Runa se galery en webwerf is nou al vir vyf jaar haar grootste bron van inkomste. Runa gaan haar ondankbaar laat voel oor alles wat sy vir haar gedoen het. En sy het baie vir Vasti gedoen. As dit nie vir Runa was nie, sou sy nie voltyds kon skilder en haar inkomste net met ’n paar kunsklasse kon aanvul nie.
Sy hoor Runa al preek oor realisties wees. Minder met haar kop in die wolke rondloop. Voete op die aarde hou. Sy sal nooit aan Runa kan verduidelik dat sy nie haar herwonne skeppingsdrang kan ignoreer nie. Hoe sy dit gemis het. Hoe sy oortuig was sy het dit vir ewig verloor. Miskien was dit daardie klap van haar kop teen die koffietafel wat die muse laat wakker skrik het.
Sy sal nog minder aan Runa kan verduidelik hoekom sy nou, ná die verliese wat sy as gevolg van Dolf gelei het, juis noudat sy finansieel noustrop trek, haar kanse wil waag met ’n ernstige aanslag. Maar dis asof haar kwas deesdae weier om saam te werk aan skilderye met engele, vrolike stillewes, bont huisies, oulike bruggies en fietse as tema. Die ander prente in haar kop, dit wat sy op doek wil weergee, spook by haar. Tart haar. Daag haar uit. Al weet sy dit sal nie maklik skilder of verkoop nie. Al weet sy Runa gaan horries kry.
Haar vriendskap met Runa is ’n onwaarskynlike een gebore uit die sameloop van omstandighede. As Runa se skoolhoofpa nie ook besluit het om haar Potch toe te stuur nie, en as wie ook al in beheer daarvan was nie besluit het om die twee meisies van Bredellsdorp in dieselfde koshuiskamer te plaas nie, sou hulle waarskynlik nooit vriende geword het nie. Dan sou die kloof wat op skool al tussen hulle gelê het, net nog groter geword het.
Al wat hulle gemeen gehad het, was dat nie een van hulle op skool gewild was nie. Vasti, omdat sy ’n De Leeuw is en van Leeuwendrift gekom het, maar ook omdat sy skaam en teruggetrokke was en danksy haar streng pa nooit ’n partytjie of sosiale geleentheid bygewoon het nie. Runa, omdat sy die skoolhoof se dogter was en voorgetrek is. Runa was hoofmeisie, hokkiekaptein en debatsvoorsitter en het meer pryse ingepalm as enigiemand anders. Maar al was Runa nie gewild nie, was sy tog deel van die kliek. Dit het sy voordele gehad om bevriend te wees met meneer Raubenheimer se dogter.
Vasti kon net van die periferie af dophou en waarneem. En haar bewondering vir Dawid Benade koester tot hy twee jaar voor haar uit matriek is. Hy het skaars geweet sy bestaan voor hulle mekaar by die Intervarsity raakgeloop het. Letterlik. Die hotdog het uit haar hande gespat en hy het aangedring om vir haar nog een te koop. Vir die eerste keer het hy haar raakgesien. En gehou van wat hy sien. Genoeg om haar te vra om vas uit te gaan en seker te maak dat hulle vakansies en by enige ander moontlike geleentheid soveel moontlik kon saamwees. Tot die stories hom bereik het.
Water onder die brug. Vasti stuur die neus van die oorlaaide bakkie in Leeuwendrift se rigting. Dis ontstellend om te dink alles wat sy besit, alles wat nog bruikbaar was ná Dolf se verwoestende besoek, pas agterop ’n halfton-bakkie. Dis nou benewens ’n paar goed wat sy verkoop het, soos die yskas en enkele meubelstukke wat nie ’n verhuisingswa regverdig het nie. Die meeste van haar klere het sy vir die hospice gegee. Alles was in elk geval te groot vir haar. Selfs die paar goed wat sy gehou het, klere wat sy verlede jaar aangeskaf het toe sy skielik twaalf kilogram verloor het en nie voorsien het dat daar nog ses sou volg nie.
Dit was asof sy die afgelope twee jaar, elke maand wat Dolf haar nie opgespoor het nie, ’n bietjie meer bagasie afgegooi het en dié bagasie op metafisiese wyse ook as kilogramme haar lyf verlaat het.
Geen wonder Dawid het haar skaars herken nie. Geen wonder hy wou haar ondersoek nie. Hy het haar leer ken as ’n effens mollige eerstejaar en sy was nog molliger toe sy hom gevra het om haar te help met ’n aborsie. Sewe jaar later, toe sy hom uit desperaatheid gevra het om haar by die stasie te kom haal en na haar pa toe te neem, was sy egter tien kilogram swaarder en twee jaar gelede by die begrafnis was daar nóg meer van haar. En nou is sy vir die eerste keer sedert haar ma se dood skraal.
Weerskante van die pad kom en gaan bakens uit die verlede, die plaasname nog bekend asof sy gister laas hierlangs gery het. Daarom vermy sy die plek waar sy weet ’n bordjie Zoete Weide se ingang aankondig, al kan sy die drie reusebloekoms by die hoekpaal nie miskyk nie.
Voor haar ma se dood was Zoete Weide een van die spogkoringplase in die omgewing. Dit het haar pa skaars sewe jaar geneem om alles wat deur die De Leeuw-geslagte heen opgebou is, deur te trek. Die prys wat die plaas op die vendusie gehaal het, het skaars sy skuld afbetaal. Die verkoop van roerende bates het haar pa van bankrotskap gered. En haar net-net op universiteit gehou. Dis toe dat hy in sy oorlede skoonma se huis ingetrek en nog verder agteruit gegaan het.
Leon de Leeuw het waarskynlik nie ’n snars omgegee om in relatiewe armoede te leef nie. Solank hy genoeg geld vir drank gehad het, kon hy ontsnap van die dag toe sy vrou vir hom sy koffie en middagete na die lande geneem het. Toe sy op die trekker geklim het sodat hy haar nader aan die huis kan aflaai. Die trekker het deur ’n gat gehik. Sy het haar greep verloor. Haar kop het die modderskerm getref. Sy het hopelik nie eens daarvan geweet toe die ploegskare haar ledemate oomblikke later opkerf nie.
’n Kilte ril deur Vasti en sy is verlig toe Leeuwendrift se kerktoring en die dorpie voor haar lê. Regs is ou tannie Nellie se opstal wat nou suksesvol as ’n padstal-restaurantjie bedryf word. ’n Entjie verder die restaurant wat in die Jacobse se Victoriaanse hoekhuis oopgemaak het. Aan die linkerkant van die straat probeer nuwe huise in Leeuwendrift-styl lyk asof hulle daar hoort.
Die hoofpad lê reguit en breed voor haar, omsoom met ’n hekelrand van ’n bont verskeidenheid winkels, galerye en nog ’n swetterjoel restaurante. As ouma Marien se huis aan dié kant van die rivier gelê het, sou sy die plek maklik verkoop of verhuur kon kry, al is dit verwaarloos. Maar nou lê dit aan die ander kant. Aan die donker kant van die rivier.
Sy skakel haar flikkerlig aan, wag vir twee motors van voor af en draai regs in die grondpaadjie af. Dit slinger dronkerig tussen wilde-olyfhoutbome, bloekoms en populiere deur. Die brug lyk gehawend, maar voel darem nog stewig toe sy oorry. Die rivier se vlak is laag, soos gewoonlik dié tyd van die jaar. Winterreëns is nog in aantog. Eintlik is dit onbehoorlik warm vir einde Maart. En windstil boonop. Dis nie hoe sy Leeuwendrift in die herfs ken nie.
’n Entjie anderkant die brug verdeel die paadjie in twee. Links is daar nog ’n hele paar plotte waar die rivier smaller raak – van hier af verskuil deur afstand en plantegroei. Regs, ’n halwe kilometer of wat verder, is daar haar ouma se huis versteek tussen bome, en verder aan twee ander. Al drie die huise staan in die vloedvlakte, maar gelukkig net in die honderdjaar-vloedvlak.
Nie dat die rivier goed kan tel nie. Ouma Marien se eerste liefde, Maanhaar de Leeuw, is in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog met ’n vloed meegesleur, ’n skamele sewe en twintig jaar na die vorige sogenaamde honderdjarige vloed – net mooitjies toe die Eerste Wêreldoorlog beëindig is. Ten tyde van die Eerste Wêreldoorlog was ouma Marien se huis nog nie gebou nie, maar in 1945 wel. Sommiges het gesê die tweede vloed het so gou gekom omdat die Unie aan die Engelse se kant geveg het. Ander het gesê dis omdat ’n De Leeuw ’n huis vir ’n Bredell gebou het dat die voortydige vloed aangewakker is.
Nou is dit nie meer haar ouma se huis nie. Ook nie haar pa s’n nie. Háár huis nou aangesien hy dit toe tog aan haar bemaak het net voor hy dood is. Onverkoopbaar, maar ten minste verbandvry. En ook maar net omdat niemand met ’n greintjie verstand vir Leon de Leeuw geld sou leen nie.
’n Verrinneweerde plaashek hang skuins aan ’n laaste skarnier. Die draadheining het lank terug al grotendeels tot roes verpulwer. Die paadjie van daar af na die huis toe is ’n nagmerrie van sinkplaat en slaggate. As daar nog iets van haar breekgoed heel aan die ander kant uitkom, sal dit ’n wonderwerk wees. Gelukkig is dit nie te ver nie.
Sy trek onder ’n bloekom langs die pomphuis in, skakel die enjin af en luister na die getik daarvan terwyl dit afkoel. Veel nader kan sy nie kom nie, danksy ’n spul klippe wat voorheen haar oupa se poging tot ’n rotstuin was. In die skadu van die bome lyk dit asof die bonkige kliphuis ’n boggel dra – die skoorsteen, weet sy, maar van hier af lyk dit aardig.
Sy ruk soos sy skrik toe iemand van agter die huis te voorskyn kom. ’n Man. Hy steek vas toe hy die bakkie sien. Dis te ver, en die skadu’s wat die bome gooi te skimmel, om meer uit te maak as dat hy lank en groot is, en besonder breë skouers en ’n donker poniestert het. ’n Oomblik later laat spaander hy rivier se kant toe.
Vasti vlieg uit die bakkie en hardloop agter hom aan. Toe sy uitasem op die oewer tot stilstand kom, het sy nie die vaagste benul waarom sy hom gevolg het nie. Sy is sekerlik van haar verstand af. Pleks sy haar eerder in die bakkie toegesluit het.
En hoe lank daar gesit het? vra ’n minder paniekerige deel van haar verstand.
Haar oë fynkam die rivieroewer, maar sy sien niks. Die water ruik na vrot alg en nog vrotter modder. ’n Ligte branding klots teen die riete. Sy draai om, ril toe sy na die agterkant van die huis kyk. Mos kruip teen die klipmure op waar die watertenk onder die stukkende geut staan. Een verandapilaar het geknak. ’n Rankplant hang met sy laaste verdroogde krag aan ’n ander een. Die kombuisdeur staan halfpad oop.
Sy gee ’n huiwerige tree vorentoe, skrik haar oor ’n mik toe iets onder haar plakkie kraak en wip intuïtief eenkant toe. Krapoorblyfsels in droë ottermis, identifiseer sy die oorsprong. In die bome bokant haar hef ’n janfrederik sy fluitroep aan. Elders antwoord sy maat. In die oewerplantegroei skarrel iets. ’n Dobbertjie, sien sy toe die eendjie die water ingly net voor ’n vis spring en in die water terugplons.
Omkyk-omkyk stap sy veranda toe. Hier het hulle een keer per maand gesit, Sondae ná kerk en middagete by Oupa en Ouma. In die dae toe dinge anders was. Toe haar ma nog geleef het. Ouma Marien het nooit van die skok herstel nie en is ’n paar maande ná haar dogter dood. Oupa Kees het nog ’n paar maande later die ewigheid ingegly. Ouma was nie meer daar om hom te herinner om sy medikasie vir die diabetes te gebruik nie. So is daar hardop gesê. Miskien het hy dit moedswillig ophou gebruik, so is daar gefluister.
Die trappies na die veranda wat voorheen rooi was, is nou vaal. Die stoepvloer se verf is weggeslyt, maar skemer nog hier en daar tussen blare en stof en rommel deur. Die draadtafel en vier komvormige draadstoele is deurgeroes en lamlendig. Blikke waarin varings welig gegroei het, hou nou net ou verdroogde grond en sigaretstompies waar hulle in gelid op ’n afgeskilferde rak staan.
Natuurlik sal die deur kraak toe sy dit wyer oopstoot, maar sy verstyf nog steeds. Die skemer kombuis ruik na verslaande as en vaagweg nog na opgekookte kool. Of verbeel sy haar, verwar sy die hede met sintuiglike herinneringe?
Vasti voel teen die muur af en druk die outydse skakelaar af. Wonder bo wonder het die munisipaliteit aan haar versoek voldoen en die elektrisiteit weer aangesluit. Hopelik het Telkom dieselfde met die telefoon- en ADSL-lyn gedoen. Die internet het onontbeerlik geword vir haar navorsing.
Die kombuis is so outyds en vervalle soos wat sy dit onthou, die mure nog dieselfde siek groen as in haar ouma se dae. Emaljeverf. Die koolstoof hurk nog steeds waar dit altyd in die wintermaande sy genadige hitte uitgestraal het. Die muur om die skoorsteenpyp is pikswart gevlek.
Niks lyk anders as twee jaar gelede nie, niks lyk meer verrinneweer as toe nie. Al wat uit sy plek uit lyk, is die besem wat teen die houttafel in die middel van die vloer aanleun. En die vloer is baie duidelik onlangs gevee.
Plakkers, is haar eerste gedagte. Nogal netjiese plakkers, want die opwasbak en oppervlakke is skoon waar mens ’n laag stof sou verwag. Plakkers wat voorsiening vir die komende winter maak, want langs die koolstoof is die houtkis vol netjies gekapte rooikransstompies gepak. Bo-op lê koerante en ’n boksie vuurhoutjies. Naas die kis is ’n mandjie fynhout en ’n emmer kole.
Vasti druk die deur na die gang oop, skakel ligte aan. Die huis was nog altyd donker danksy die bome waaronder dit staan, en die klein vensters help nie. Die gang is ook gevee.
Na regs is die kamer wat haar pa gebruik het. Die gastekamer, omdat hy nie in sy skoonouers se kamer wou slaap nie en die kamertjie waar haar ma grootgeword het te beknop is. Dit lyk nog net soos sy dit agtergelaat het ná die begrafnis. Asof sy pas die deken oor die bed gegooi en alles afgestof het.
Haar grootouers se kamer aan die linkerkant van die gang lyk nie soos sy dit gelaat het nie. Die bed is opgemaak, die verekombers wat nog uit Holland kom, is oorgetrek en ’n enkele lelietjie gloei rooi in ’n Delft-vasie op die bedkassie.
Die enigste mense wat van haar koms geweet het, is die munisipaliteit en Telkom.
Dawid. Dit kan net Dawid wees wat laat skoonmaak het. Maar so vinnig? Sy het hom vanoggend eers oor die sleutels gekontak. Sy het hom nie voorheen laat weet sy kom hierheen nie. Die ruk wat sy moes wag om Stiaan Sonnekus te sien, was te kort selfs saam met die tyd wat sy in sy wag- en spreekkamer deurgebring het.
Wie dit ook al was wat hier skoongemaak het, het by die sitkamer uitgekom, maar nie die eetkamer nie. Daar lê die stof dik oor die outydse buffet en bal-en-klou-tafel.
As die man wat sy sien weghardloop het vir die skoonmakery verantwoordelik was, het haar aankoms hom in sy taak gesteur. Yeah right, ’n man wat huis skoonmaak. Tensy hy dalk hier wou ingetrek het? Sover sy kan sien, is hier niks wat aandui dat enigiemand anders as haar grootouers en pa se oorblywende besittings hier gebêre is nie. En niks is weg nie, behalwe dit wat sy self destyds uitgegooi het.
Sy gaan weer deur die twee slaapkamers. Die hangkaste en laaie is leeg. Dit was laas ’n hele gedoente om die swetterjoel goed uit te sorteer, die bruikbare klere na die Dierebeskermingsvereniging se winkeltjie aan te ry en die res weg te gooi. Haar ma se kamertjie is steeds ’n stoorkamer. Sy het laas net die bokse netjieser gepak. Die een of ander tyd sal sy deur die goed moet gaan. Dit moet goed wees wat opgepak is ná haar oupa se dood. Dalk ook goed wat nog van die plaas af gekom het.
Vasti stap buitetoe en reg rondom die huis. Onkruid groei nog digter as voorheen in die gewese blom- en groentetuin. Van die grasperke is daar niks oor nie. Die skuurtjie wat haar ouma altyd die waenhuis genoem het en wat sy hoop om as ateljee te gebruik, is vol rommel en vieslik vuil. Geen wonder die deur is nie gesluit nie. Hier is sekerlik niks wat enigiemand sal wil steel nie.
Al wat anders is buite die huis, is die byl wat op die houtkapblok lê, die lem blink asof dit pas skerpgemaak is. Sy tel dit met ’n rilling op, gaan bêre dit in die kombuis voor sy teruggaan bakkie toe, die voordeursleutel kry, oopsluit en haar goed begin aandra.
Sy sal haar later bekommer oor plakkers en voorlopig liewer die onmoontlike glo – dat iemand om onverklaarbare redes besluit het om die plek vir haar netjies te maak en vir haar hout te kap. Iemand wat wie weet waar gehoor het sy is in aantog.
Halfpad deur die indra en uitpak, vat sy eers ’n blaaskans en drink ’n lang glas van Leeuwendrift se soet water uit die oog in die berg wat nog al die jare in die dorp se behoeftes voorsien.
Die foonlyn werk, hoor sy aan die luitoon toe sy die gehoorbuis in die verbygaan lig. Dis ’n ou instrument, maar werk darem met knoppies pleks van ’n draaiskyf. Sy grawe deur een van die bokse wat sy in die voorportaal gelos het en haal die antwoordmasjien uit wat sy destyds aangeskaf toe Dolf haar enige tyd van die dag of nag begin bel het. Nadat sy dit aan die foon gekoppel het, lui sy die nommer van haar selfoon af. Ná ses luie skop die masjien in. “Leave a message, please,” klink haar eie stem kortaf op vanuit albei oorde. Sy druk die sel dood. Die masjien werk nog. Kan haar nog waarsku oor wie aan die ander kant van die lyn is.
Hopelik is dit ’n onnodige voorsorgmaatreël. Hopelik sal Dolf nie dié keer uitvind waar sy haar bevind nie. Hopelik sal niemand haar hierheen bel nie. Tot dusver het sy nog net die nommer op Stiaan Sonnekus en Dawid se vorms ingevul. En so sal dit bly. Hopelik.
Die hoop beskaam terwyl sy die laaste skildery indra. Sy maak dit teen die verslete rusbank staan en probeer haar doof hou vir die foon se gelui. Dis ’n ouerige skildery wat sy meer om sentimentele redes as enigiets anders gehou het. Nugter weet waarom dit nie ook beskadig is nie. Miskien omdat dit ’n engel verbeeld. Vasti tel die vierde lui af terwyl sy na die engel staar asof sy dié hemelwese kan forseer om die gelui te laat ophou. Vyf. Asseblief, asseblief, asseblief. Ses. Dit mag net nie Dolf wees nie.
Haar stem weerklink deur die vertrek. Biep. Sy wag vir die boodskap, maar dit kom nie. Daar is net ’n gesuis. En toe skielik, ’n laggie. Die foon klik dood.
Vasti voel hoe ’n rilling langs haar ruggraat af hardloop. Dit het nie soos Dolf geklink nie. Buitendien is hy nie subtiel genoeg om haar so te probeer intimideer nie. Hy sal wil seker maak sy weet dat dit hy is, dat hy haar weer opgespoor het. Sy maak haar oë moeg toe. Dit is seker maar ’n verkeerde nommer, of kinders wat gekskeer.
Sy wip weer van die skrik toe haar selfoon ’n ruk later, terwyl sy haar klere uitpak, lui.
Runa, sien sy op die skermpie. Vasti blaas haar asem onder haar kuif in. Sal nie help om nie te antwoord nie.
“Hi, Runa.”
“En wat hoor ek vanoggend toe mevrou-dokter Benade hier by die galery ingewaai kom?” Runa se rokerstem is beskuldigend.
Vasti sug heimlik. “Seker dat ek Leeuwendrift toe getrek het.”
“Raait. Sonder om jou vriendin en kunsagent in te lig. En wat hoor ek nog?”
Dié keer ontsnap die sug hoorbaar. “Ek weet nie, Runa. Wat het Heleen jou nog vertel?”
“Dat jy so maer soos ’n kraai en ’n wrak op twee bene is. Aldus Dawid, al het hy seker nie heeltemal dieselfde woorde gebruik nie.” Die beskuldigende toon het verdig. “Jirre, Vasti, ek dag ons is pêlle. Die hele dorp het al vol gelê van die nuus dat jy terug is om te bly voor ek dit gehoor het. Selfs Nicholl het voor my gehoor. Jy weet seker hy is ook terug. Vir hom ’n jaar gelede ’n plek in De Koppe gekoop soos dit ’n ryk prokureur betaam.”
Nee, sy het nie geweet Runa se neef is nou weer op Bredellsdorp nie. Toe hy haar egskeiding behartig het, het hy nog in een van Pretoria se spogbuurte gewoon. Die dag in die hof was die laaste keer wat sy hom gesien het.
“En ek hoor Dawid het jou summier na die shrink toe gestuur,” dring Runa se stem weer tot haar deur. “Is jy oukei?”
“Ek is shrink toe omdat Dawid my afgepers het. Hy is laf. Ek is fine.”
“Is hy darem iets om na te kyk? Die shrink, bedoel ek. Hy is redelik nuut op die dorp. Ek het hom nog nie ontmoet nie.” Runa klink geaffronteerd daaroor.
“Is dit al waarin jy belangstel? Hoe die shrink lyk?” Vasti kyk na die engel wat sy in skakerings van Azo Yellow en Titanium White met blertse Cadmium Red teen ’n agtergrond van Phthalo Blue vasgeverf het. Dit was haar eerste engel-skilderye. Haar eerste poging ná varsity om kommersieel te skilder. Geskilder toe sy Benoni toe gevlug het nadat Dolf haar in Cullinan opgespoor het. Toe sy finaal ophou probeer het om ernstige werk te doen.
“Nee, dis nie al nie, maar is hy aantreklik?” dring Runa aan.
“Hy is baie rustig op die oog,” sê sy half ingedagte.
“Dis ’n verligting, want jy weet natuurlik dat jy op hom verlief gaan raak. Alle vrouens raak verlief op hulle shrinks. Dit maak dit darem net lekkerder as hy na iets lyk ook.”
Vasti kan die onsekerheid in die kwashale sien. Dis duidelik dat sy nie in haar engel geglo het terwyl sy haar geverf het nie. En dit terwyl sy net ’n paar jaar vantevore opgang gemaak het in die kunswêreld. Dit was asof sy van voor af moes leer skilder, selfs kommersiële goed. “Hy’s waarskynlik getroud,” onthou sy om te antwoord.
“Nou wat het dit met die prys van eiers te doen?”
“ ’n Jaloerse eggenote gaan jou nog eendag oor die kop slaan.” Sy het half vergeet Runa ontsien nie trouringe wanneer sy sporadies besluit sy het ’n man vir ’n aand of soms selfs langer in haar lewe nodig nie. Sy is net baie diskreet daaroor.
Runa gee ’n siniese laggie. “Dis die vrouens se eie skuld as hulle mans rondloop. Hulle doen obviously iets verkeerd.”
Vasti bly stil. Runa was nog nooit bekend vir haar takt nie. In elk geval nie ná skool nie. Op skool het sy alles op die regte manier gedoen, al die regte dinge gesê. Sy was immers meneer Raubenheimer se dogter. Dit was eers toe hulle albei op Potchefstroom beland het dat Vasti die ware Runa leer ken het. Sy verkies die regte Runa bo die fake, al kan sy soms so ondiplomaties wees.
“Ag, hel, Vasti. Jy weet ek het dit nie op jou gemik nie. Almal weet Dolf was die vark in julle verhaal. En jy was ’n engel, dis vir seker. ’n Stupid engel, maar nietemin ’n engel. Dis nie jou skuld dat Dolf nie ’n engel sal herken al val hy oor een nie. Maar voordat ek van voete verwissel, sê ek eerder koebaai. Terloops, daar is iemand wat belangstel in een van die stillewes, maar hy wil nog nie uithaal en wys nie. Sien jou Woensdagaand, ek sal vir ons pizza en ’n bottie bring. Dan wil ek alles hoor wat daar te hore is, raait? En hou Saterdagaand oop, ek het ’n kaas-en-wyn in die galery gereël.”
Die foon klik in Vasti se oor voordat sy nog ’n woord kan inkry. Maar dit sou ook nie gehelp het om te protesteer nie. Runa sal haar gewoon nie aan Vasti steur nie.
Vasti probeer die onaangename herinneringe onderdruk wat Runa se woorde weer na die oppervlak gebring het, maar dit sypel deur die verdedigingsmeganismes wat sy probeer opbou. Soos met alles, was dit ook Vasti se skuld dat Dolf rondgeloop het.
“Jy is so fokken boring in die bed, wat moet ek anders doen? ’n Man is nie ’n klip nie!” Dolf was nooit een wat probeer het om gevoelens te spaar nie. Hulle was drie jaar getroud toe sy dié spesifieke woorde van wysheid moes aanhoor.
Aan die een kant was sy amper verlig sy het van die affair gehoor. Dit het haar rede gegee om na haar pa te gaan en te vra of hy haar sal help om van Dolf te skei. Hoe verkeerd kan ’n mens nie wees nie.
Skrik ruk oudergewoonte deur haar toe die landlyn weer lui. Met rede. Die laggie ná die geruis duur langer as die vorige keer. Vasti druk haar vuis teen haar mond, byt aan haar kneukels. Dis nie kinders wat gekskeer nie. Dit kan net Dolf wees. Maar hoe het hy haar weer opgespoor? En so vinnig?
Sy syg op ’n stoel neer. Moeg. So moeg. Sy is al so tot satwordens toe moeg gevlug. Die dorpe waarheen sy al getrek het nadat sy uit Klerksdorp weg is, klink soos ’n toerroete. Cullinan, Benoni, Parys in die Vrystaat, Bela-Bela, Nylstroom en uiteindelik Hartbeespoortdam.
Sy laat sak haar kop in haar hande. Gaan Dolf dit uiteindelik regkry om haar lewe heeltemal te verwoes? Of gaan hy genadig wees en hierdie keer die sneller trek?