Читать книгу Labirint - Chanette Paul - Страница 6

2

Оглавление

“Ek sien jy het my gebel, Dawid? Jammer ek kon nie netnou die oproep neem nie, maar ek is nou tussen twee kliënte.”

“In die haak, Stiaan. Ek het ook nou ’n blaaskans.” Dawid wik en weeg of hy moet voortgaan, maar hy is werklik bekommerd oor Vasti. Hy het haar vanoggend skaars herken. Toe hy haar laas gesien het, was sy was so oorgewig dat dit aan obesiteit gegrens het. Vanoggend lyk sy amper uitgeteer.

“Dawid?” Stiaan klink effens ongeduldig.

“Vasti de Leeuw, die vrou oor wie ek jou vanoggend gebel het. Dit sal miskien goed wees as ek jou ’n bietjie agtergrond gee. Ek weet nie op hoeveel samewerking mens van haar kant af kan staatmaak nie. Sy was baie onwillig om na jou toe te gaan.”

“Ja?” Hy kan Stiaan amper hoor frons.

“Sy is neerslagtig, slaap sleg, kry hoofpyne. Geweldig baie gewig verloor. Sy het pas hierheen teruggetrek van die noorde af. Klink my sy is deur hel die afgelope jare.” En Dawid Benade het nie ’n vinger gelig om haar te help nie, haar net een keer na haar pa op Leeuwendrift geneem, maar daar het hy haar vir die soveelste keer in die steek gelaat toe haar pa haar wegjaag. Maar dit sê Dawid liewer nie.

“Van ’n gemeenskaplike vriendin hoor ek Vasti se eks stalk haar vandat sy hom sewe jaar gelede finaal verlaat het. Sy het hom glo vir die afgelope twee jaar sedert hulle egskeiding afgeskud, maar laas maand het hy haar weer opgespoor en haar meenthuis by Hartbeespoortdam verrinneweer. Wel, dit was vermoedelik hy. Daar was nie bewyse nie.

“En vanoggend daag sy by my spreekkamer op nadat ek haar laas met haar pa se begrafnis gesien het.” Hy huiwer. “Ek dink daar lê deel van haar probleem. Haar pa was ’n moeilike ou man. Sy plaas onder hom uitgesuip.”

“Sondes van die vaders.” Stiaan klik sy tong simpatiek. “Maar Dawid, ek is seker sy sal op haar tyd hieroor met my praat.”

Dawid laat sak sy kop in sy palm. Hy het nou behoorlik ’n gat van homself gemaak. En dit by ’n man vir wie hy op sowel professionele as vriendskaplike vlak agting ontwikkel het sedert Stiaan ’n paar maande gelede op die dorp aangekom het.

“Ek en Vasti . . . Ons het ietwat van ’n geskiedenis. Ek kan nie glo sy het so agteruit gegaan nie. En sy was so ’n begaafde kunstenaar. Ek is jammer, ek moes nie . . . Ek wou net help. Wou hê jy moet probeer verstaan. Of dalk beter verstaan. Ek weet nie . . .”

“Dis in die haak, Dawid. Ek verstaan. Daar is mense in enigiemand se lewe wat jou net eenvoudig dieper raak as ander. Ek sal my bes probeer om haar te help. Maar soos jy weet, sal sy moet saamwerk.”

Dawid knik. “Dankie. Dis al wat ek vra. Jy sien, ek voel ek het haar in die steek gelaat. As vriend.” Moet hy nou waaragtig so onbeholpe klink?

“Mens kan nie altyd vir almal daar wees nie, Dawid. Maar ons praat later. Sien jou Saterdag op die gholfbaan?’

“Reg, sien jou dan.”

Vasti kan nie help om van voor af te wonder hoe anders haar lewe sou verloop het as Dawid haar destyds net wou help nie.

“Ek wil nie Dolf se kind hê nie!” het sy uitgeroep toe sy Dawid uit desperaatheid daardie Desembervakansie gaan pleit het om haar te help.

Dit was die jaar voor aborsie gewettig is. Dawid het geweier. Sy argument was nie dat hy nog nie gekwalifiseer is nie. Dis nie net onwettig nie, het hy verduidelik, dit druis ook teen sy etiek in en hy het geloofsbesware daarteen. Daarom weier hy selfs om haar na iemand te verwys.

“Maar Dawid, dit was teen my sin.”

Dawid het gesug. “Vasti, jy en Dolf het wie weet hoe lank uitgegaan. Jy erken julle het voorheen gemeenskap gehad. Jy sê dis leuens, maar ek het by meer as een ou gehoor dat jy . . . wel . . . gewillig is. Soos jy weet, is dit hoekom ek met jou uitgemaak het. Ek begryp nie hoe jy nou rape kan skree nie. En nog minder waarom jy nie die Pil begin gebruik het toe jy seksueel aktief geraak het nie. Daarmee sou ek jou gehelp het as jy my gevra het, of ek nou voorhuwelikse seks goedkeur of nié.”

Haar protes het niks gehelp nie.

“Dis jou eie saak as jy sedeloos wil leef, Vasti. Jy kan net nie van my verwag om jou nou vir alle praktiese doeleindes te help om moord te pleeg nie,” het hy onwrikbaar gebly.

Sy weet sy kan nie regtig vir Dawid blameer nie. Dis was haar eie skuld dat sy so onnosel was. En sy twyfel sterk of sy werklik met ’n aborsie sou deurgegaan het, al sou hy ingestem het. Maar waarvoor sy hom waaragtig nie kon vergewe nie, is dat hy haar pa gaan vertel het. Weliswaar omdat hy haar pa wou oortuig dat aanneming die beste opsie is. Weliswaar omdat hy gedink het haar pa sal haar ondersteun. Hy het goed bedoel, maar het Leon de Leeuw toe nog nie goed genoeg geken om te kon voorspel hy sou aandring dat Vasti met Dolf trou nie.

“Mevrou De Leeuw?”

Vasti kyk op.

“U kan deurgaan. Eerste deur links. Stiaan . . .” Die ontvangsdame druk haar bril terug op haar neus – ’n ontwerpersbril wat geen afbreuk doen aan haar mooi gesiggie nie. “Meneer Sonnekus sal nou by u wees.”

Vasti skarrel haar halfvoltooide vraelys bymekaar en staan op. “Dankie.” Sy trek die band van haar verslete handsak oor haar skouer en stap tot by die toonbank. “Terloops, dis mejuffrou. Of seker me. Ek het my nooiensvan teruggeneem. Ná my egskeiding,” voel sy om die een of ander onverstaanbare rede gedwonge om te verduidelik. Die ontvangsdame knik net.

“Egskeiding is ’n klap in die gesig van jou Skepper!” het haar pa uitgevaar toe sy Dolf die eerste keer verlaat het. Hulle was toe ’n bietjie meer as drie jaar getroud. Drie jaar van emosionele hel. Óf haar pa het haar nie geglo nie, óf hy het nie omgegee toe sy hom vertel Dolf het ’n affair nie. Ook nie dat ’n kollega hom die vorige jaar aangekla het dat hy haar betas het en hy afgedank sou gewees het as die vrou nie die klag teruggetrek het nie.

“Jy is die een wat in die eerste plek wou hoer en rumoer. Wat moes trou,” het Leon de Leeuw verder getier. “Nou moet jy maar slaap in die bedjie wat jy vir jouself opgemaak het. En jy sit jou voete nie weer in hierdie huis tot jy jou huwelik uitgesorteer het nie. Gee jou man wat hom toekom, dan sal hy nie rondloop nie.”

“Maar oom,” het Dawid tussenbeide probeer kom.

“Maar oom se moer! Vat haar hier weg. Weg voor my oë. Sy is ’n klad op die naam van die vrou wat haar in die lewe gebring het. ’n Vrou wat geweet het hoe ’n vrou haar moet gedra.”

En Dawid hét Vasti weggevat, weer op die trein gesit en so is sy terug Klerksdorp toe. Terug na Dolf toe wat destyds by Sentraalwes gewerk het en nie eens geweet het sy het hom verlaat terwyl hy weg was om af te los in Wolmaransstad nie.

Daarna het sy nie haar pa of Dawid weer gesien tot haar pa op sy sterfbed was nie. En vir Dawid nie weer ná die begrafnis nie. Tot vanoggend.

Vasti gaan die spreekkamer binne en trek die deur agter haar toe. Sy is alleen in die room-en-oker-vertrek. In een hoek is ’n lessenaar met ’n stoel aan weerskante. In ’n ander staan ’n rusbank en ’n gemakstoel. ’n Chagall-afdruk teen die muur bind al die kleure in die vertrek saam. Selfs die groen koei tel die kleur van die potplant in die hoek op. Die Val van Icarus, herken sy die skildery. Die son is prisma-agtig en hoofsaaklik grysblou, met ’n vaalgrys voël in die sirkel vasgevang. Die voël vlieg nie. Hy staan in die kring van die son en kyk na Icarus wat met sy gebrekkige vlerke gehul in vlamme die aarde tegemoet stort.

’n Tweede deur, agter die lessenaar, swaai oop. Stiaan Sonnekus lyk glad nie soos ’n sielkundige nie. Eerder ’n wildbewaarder. Een wat ’n spesie soek om te red. Daar is ligter strepe in sy donker hare, asof hy baie in die son kom of ’n uitstekende haarkapper het. Maar dan sou dié seker ook iets aan die grys glinstering tussenin gedoen het. Die krieketspeler-plooitjies om sy oë verklap dat hy selde ’n sonbril dra. En dat hy waarskynlik meer as vier dekades agter die blad het.

“Stiaan Sonnekus. En jy is Vasti de Leeuw.” Sy hand vou warm oor haar koue een.

Hemel, maar hy is ’n dish. Hoe vertel mens ’n dish van al jou ellendes?

Sy gaan sit aan die ander kant van die lessenaar. Die rugkante van drie staanrame is na haar gedraai. Sy was te besig met die Chagall-skildery om hulle raak te sien. Waarskynlik foto’s van sy vrou en kinders.

“Dawid is baie bekommerd oor jou.” Sy stem is diep. Simpatiek, maar ontdaan van sentimentaliteit.

Sy was by toe Dawid vir Sonnekus gebel het. Volgehou het dat die sielkundige haar vandag nog moet sien. Sy kon aflei hulle is minstens goeie kennisse.

“Ek sien Deirdre het reeds vir jou die stel vraelyste gegee om in te vul. Vandag kan jy maar net die agtergrond in breë trekke vertel. Dawid het genoem jy is twee of drie jaar gelede geskei. Pas van die noorde af hierheen getrek. Dat jy sukkel om te slaap en baie gewig verloor het. Neerslagtig is.”

Dawid moes hom gebel het nadat sy by hom weg is. Sy wonder wat hy die sielkundige nog vertel het. Hopelik nie dat sy en Dawid in hulle prille jeug geglo het hulle is vir mekaar bedoel nie. Vir ses maande in elk geval. Daar behoort ’n wet te wees teen die sluit van romantiese verhoudings tydens Intervarsity. Veral as die een party ’n eerstejaar op PUK en die ander ’n derdejaar- mediese student op Kovsies is.

’n Moeë rebelsheid roer in haar. “Dawid oordryf. Ek het ’n terugslag gehad, maar ek kan op my eie cope.”

“En dis hoekom jy aanvanklik geweier het om my te kom sien?” Sy ligte oë is in skerp kontras met die bykans swart wimpers.

Hy is te aantreklik om te skilder.

Sy laat sak haar oë. “Ek kon nog altyd op my eie cope. Ek het nie ’n sielkundige nodig om my te help nie. Ek het net tyd en rus en vrede nodig. Dis al. En die sleutel vir my huis. Dawid het my daarmee afgepers om hierheen te kom.” Sy lig haar kop, maar sy kyk nie na hom nie. Sy kyk na Icarus. “En ek weet jy gaan die een of ander tyd net stilbly sodat ek kan uitpraat, alles uit my sisteem kry, en dan is ek veronderstel om beter te voel. Wel, dit werk nie so nie.”

“Hoe werk dit dan?” Sy stem is steeds rustig.

“Ek moet dit self verwerk.”

“En wat is dit wat jy self moet verwerk?”

“Dat ek op nege en dertig so doodmoeg geleef is.” Sy kyk op na die wit plafon, skaam oor die stank van melodrama wat haar woorde die lug instuur. Sy probeer dit met weerbarstigheid kamoefleer. “En ja, ek kry myself soms jammer.” Is daar trappe van vergelyking vir melodrama? As daar is, is hierdie uitlating nog melodramatieser as die vorige. En dit voor ’n man wat vir haar so donners mooi is. Sy hoop nie sy kom by die derde trap uit nie.

Sy wens sy kan iemand blameer vir hierdie verskriklike gevoel van verydeling. Selfs Dolf kan nie die volle skuld daarvoor dra nie. Dis haar eie skepping. Sy behoort sterker te wees. Sy behoort terug te veg. Teen haar mismoedigheid, teen haar moegheid, teen Dolf.

Hy vou sy hande voor hom op die lessenaar en leun vorentoe. Sy vingers is lank, die naels baie kort en baie skoon. “Koester jy selfmoordgedagtes?”

Sy skud haar kop. “Ek het nie die krag om nog te besluit op watter manier ek myself uit die weg kan ruim ook nie.” Sy kyk weer na die skildery. Na Daedalus, tussen Icarus en die son, wat na sy seun uitreik asof hy hom wil keer. Daedalus, wat op Kreta vir koning Minos die labirint gebou het om die minotaurus gevange te hou. Wat vir sy moeite saam met sy seun in die tronk beland het en toe vir hulle wasvlerke gemaak het om te kan ontsnap. Hoe sou hy daaroor gevoel het dat hy tot in Sisilië kon vlieg, terwyl sy seun se vlerke gesmelt het?

“Vasti?” ruk Stiaan haar terug na die hede.

Vir ’n oomblik staar sy na haar vingers op haar skoot, onthou dan waarvan hulle gepraat het. “Ek gril vir bloed en het ’n baie lae pyndrumpel. Pille is nie veilig genoeg nie.” Sy lig haar oë tam. “Veilig is nie juis die woord nie, maar jy weet wat ek bedoel. Dis moeilik om seker te maak met pille.” ’n Kaal vrou lê skuins oor ’n dak gedrapeer. Sy herken die figuur uit een van Chagall se ander skilderye, maar kan nie die titel onthou nie.

“Dit klink vir my of jy tog reeds baie daaraan gedink het.”

“Ek het geen behoefte om dit deur te voer nie.” Vasti skuif terug in die stoel toe sy agterkom sy gebruik net ’n nippertjie van die sitgedeelte. Eintlik lieg sy. Dis die krag daarvoor wat haar ontbreek. En die moed. Nie noodwendig die behoefte nie.

“En as jy skielik op ’n dag aan ’n geskikte manier kan dink?” Sy oë, waarvoor jy ’n buisie Phthalo Green sou moes gebruik om dit te skilder, tel die kleurnuanses van Chagall se koei op, maar nie van die plant nie. Hy het ’n sensuele mond. Die soort mond wat ’n vrou se lyf in detail sou kon ontdek.

“Ek wonder soms hoe Ingrid Jonker gevoel het toe sy die see ingestap het. En of sy dalk in ’n stadium wou terugdraai en nie kon nie.”

Vogelbaai is hoeka skaars vyftig kilometer van hier af, is sy lus om te sê, maar dit sou net vir effek wees. Sy is te lafhartig. Selfs om die see in te stap moet ’n mens meer wilskrag hê as waaroor sy beskik.

Hy sit haar ’n paar oomblikke lank en bekyk. “Jy is ’n aantreklike vrou, Vasti.” Hy huiwer vir ’n mikrosekonde, vervolg dan vinnig: “Intelligent, ook. Dawid sê vir my jy is ’n begaafde kunstenares.” Sy oë word ’n skakering donkerder. “Jy het soveel om aan ander, aan jouself te bied. Jy kan nie toelaat dat hierdie gevoelens wat jy in jou ronddra, jou baasraak nie.” Hy leun vorentoe. “Ek kan jou help, maar dit gaan openlikheid en harde werk van jou kant af verg. Die vraelyste sal jou alreeds help om insig in baie dinge te kry. Dink baie goed terwyl jy die vrae beantwoord. Ek gaan ook vir Dawid vra om ’n ligte antidepressant voor te skryf. Gebruik dit gereeld. Net tot ons ’n punt bereik waar dit nie meer nodig sal wees nie.” Hy stoot ’n visitekaartjie oor die lessenaar na haar toe. “Bel my enige tyd as dinge vir jou te veel raak.”

Vasti neem die kaartjie, bekyk die bruin letters op hul room agtergrond. Nóú, ja, totdat hy seker is sy sal nie die Styx-rivier in haar eie roeibootjie aandurf nie. Maar uiteindelik sal Stiaan Sonnekus ook verdwyn. Soos almal mettertyd verdwyn. Op die ou einde is dit tog maar net jouself waarmee mens sit. En met die skadu’s wat die keuses wat jy gemaak het, oor jou bly werp. Ad infinitum.

Sy weet nie of sy kans sien om daardie skadu’s aan te durf nie. Sy weet nie of sy kans sien om haarself en haar herinneringe te konfronteer nie, om Stiaan Sonnekus te kom sien en te sit en derms uitryg nie. Sy weet ook nie of sy die moed het vir die uitsigloosheid van môre nie. Maar sy weet ineens sy het ’n enorme fout gemaak om terug te kom na die tweelingdorpe waar sy nie aan die verlede sal kan ontkom nie. Of sy nou by ’n hels aantreklike sielkundige sit en bieg of nié.

Toe sy die dag ná die vandalisme uit die hospitaal ontslaan en weer met die verwoesting in haar meenthuis gekonfronteer is, het haar pa se huis na die logiese uitkoms gelyk. Nou lyk dit egter na die onnoselste besluit wat sy nog geneem het in ’n rits van skreiend onnosel goed wat sy dwarsdeur haar lewe aangevang het.

Sy staan op, skud die vraelyste bymekaar. Sy huiwer voordat sy wegdraai, voel dat sy darem iets moet sê. “Sonnekus. Dis so ’n optimistiese naam.” Daarmee draai sy om en stap by die deur uit.

Die konsert, besef sy terwyl sy betaal. Dis die skildery waaraan die naakte figuur wat sy herken het, maar nie kon plaas nie, haar herinner. Maar in Die konsert is dit ’n pienk vrou in die blou bootjie en sy lê andersom. In Die konsert is Chagall se violis en sy bok teenwoordig, onthou sy terwyl sy deur die gebou se voorportaal stap. In Die val van Icarus gebruik Chagall nie een van sy twee gereelde, dikwels humoristiese motiewe nie, onthou sy ook toe sy in haar warmgebakte wrak van ’n bakkie klim.

Stiaan sit vir ’n paar oomblikke net so stil. Hy kan nog ’n sweempie van haar parfuum ruik. Blommerig, met donker ondertone. Sensueel. Soos sy.

Hy vou sy arms voor sy bors, konsentreer daarop om haar te reduseer tot net nog ’n kliënt, net nog iemand wat meegegee het onder dit wat die lewe aan haar uitdeel. Klaarblyklik ’n aansienlike vraggie. Selfs al het Dawid nie vir hom ’n vlugtige agtergrond geskets nie, is dit ooglopend dat Vasti de Leeuw nie ’n maklike lewe agter die rug het nie en dit haar begin onderkry. Dit kon hy duidelik sien aan die diep geëtste blou kringe wat soos kneusplekke onder haar oë lê. Die sakkerigheid van haar klere wat bevestig dat sy baie gewig verloor het. Die onnatuurlike bleekheid van haar vel. Die uitsigloosheid in haar oë.

Ek kan jou help, het hy vir haar gesê. Hy hoop hy het nie gelieg nie.

Met ’n sug bel hy Dawid en vra dat hy ’n voorskrif vir Vasti de Leeuw uitmaak.

“Sal sy regkom?” vra Dawid nadat hulle op die geskikste medikasie besluit het.

“Alle depressiegevalle is kommerwekkend, maar sy is darem nog nie in die diepste van swart gate nie. Sy het net hulp nodig om oor die ergste te kom. Ek dink veral die vandalisme het haar geruk. Maar ek sal natuurlik eers kan sê nadat ek deur haar vraelys gewerk en ons ’n paar sessies gehad het.”

Nadat Dawid gegroet het, tel Stiaan ingedagte een van die fotorame op en streel met sy pinkie die lyne van die dogtertjie se gesiggie na. Liezl. Sy trek opvallend baie op Lillian. Die oë veral. Hy tel die ander foto op en hou dit langs dié van Liezl. Onmiskenbaar ma en dogter. Lillian en Liezl. Skadu en lig, lig en skadu.

Die sondes van die vaders. En die moeders. Is dit waar alles altyd begin? Moontlik, maar hy vermoed vir hom het alles by die laaste geveg van die Grensoorlog begin, op ’n winterdag in 1988 by die Calueque-damwal. Of miskien is dit waar alles geëindig het. Alles wat ooit heel was in hom, het met die val van die laaste bom in daardie belaglike oorlog uitmekaar geskiet. En selfs Lillian kon hom nie weer heel kry nie. Inteendeel, hy het dit reggekry om haar ook te breek.

Labirint

Подняться наверх