Читать книгу Labirint - Chanette Paul - Страница 9
5
ОглавлениеDinsdag 27 Maart
Die een of ander tyd moes sy op haar rug gedraai het, want die kat lê op haar bors toe Vasti deur voëls wakker gekwetter word. Dit neem haar ’n paar sekondes om haar te oriënteer. Besef dan waar sy is.
Sy tel Suzie eenkant toe en swaai haar bene onder die verekombers uit. Die kat strek haar lui uit en rol dan weer op. Haar ledemate is styf van die afdra en uitpak gister, maar Vasti voel vir die eerste keer in weke min of meer uitgerus. Dis nog vroeërig, sien sy aan die oggendlig toe sy die gordyne oopskuif. Seweuur, bevestig haar selfoon. En ook dat die battery feitlik pap is.
Sy grawe deur haar skoensak, kry die laaier en prop die foon in. Met ’n beker koffie in die hand durf sy die koel buitelug aan, stap om die huis. Nêrens sien sy voetspore nie, maar toe sy omdraai en haar eie bestudeer, besef sy die grinterige grond wys nie veel van ’n spoor nie.
Sy kry haarself oortuig dat sy seker gedroom het tot sy die wielspore in ’n sanderige gedeelte langs haar bakkie sien lê. Een oneweredige streep. ’n Motorfiets. En ja, Dolf het destyds ’n scrambler gehad. Hy moes die enjin afgeskakel het en waarskynlik die koplig ook, want as sy voetstappe kon hoor, sou sy van die enjin se geraas wakker geword het.
Maar sou iemand so vindingryk soos Dolf waarlik nêrens ’n plek gekry het om in te kom as hy regtig wou nie? Hy wat selfs ongesiens in haar meenthuis kon inkom? En sou Dolf al die pad van die noorde af met ’n scrambler gery het? Of het hy die moeite gedoen om die motorfiets agter op ’n bakkie of sleepwa hierheen te vervoer? Treiter hy haar eers net?
Die donker karos van vrees en moedeloosheid vou weer oor haar toe. Nog is het einde niet. Soos Oupa sou gesê het. Dolf is ’n meester-treiteraar. Sy vermoed hy geniet treitering selfs meer as om haar fisieke geweld aan te doen. En dis soveel effektiewer. Hoewel hy nie vir geweld stuit nie.
Sy smyt die res van die koffie uit, staar na die blerts wat nog effens stoom. Sy is moeg hiervoor. So verskriklik moeg. Al wat haar uit hierdie nuwe paniek uit gaan kry, is skilder. En definitief nie grootwielfietse langs blommende potte en oulike deure nie.
Runa kan maar sê wat sy wil. Iewers moet sy begin sin maak van die chaos waarin haar lewe ontaard het en dit kan sy net op doek doen. Met skilderye soos die Paas-triptiek wat kunskenners gaande gehad het selfs voor die derde deel voltooi was, en gelei het tot ’n uitnodiging om ’n solo-uitstalling by ’n klein maar gesogte galery in Cullinan te hou. Toe sy op die vooraand van sukses was.
Die skilderye wat sy vir daardie uitstalling gemaak het, was haar beste werk ooit. Miskien omdat sy toe die naaste aan huweliksgeluk gekom het – al was daar altyddeur haar agterdog en Dolf se bedekte beskuldigings en verwyte. En selfs toe het Dolf nooit ’n geleentheid laat verbygaan om haar subtiel en minder subtiel af te kraak nie. Liefs voor ander mense.
Dit was die tydperk ná die eerste aanranding. Sy het hom geglo dat sy optrede daardie dag, toe hy ’n jaar nadat sy by haar pa was eers uitgevind het sy het hom probeer verlaat, ’n uitsondering was. Dat hy van skok net beheer verloor het. Dat hy haar net met die vuis geslaan het omdat hy dronk was. Sy het geglo hy sal volhou om na die AA en pastorale berader te gaan. Dat hy dié keer werklik bekeer was. Werklik berou gehad het. Omdat hy heimlik geweet het dit was as gevolg van daardie aanranding dat sy ook die tweede baba, ’n baba wat sy toe nog nie eens geweet het sy verwag nie, ’n paar weke daarna verloor het.
Nie dat hy dit ooit sou erken nie, maar hy het op allerhande maniere probeer vergoed. Hy het gehou by die streng voorwaardes van haar ultimatum nadat hy haar die eerste keer aangerand het. Ter wille van die laaitie wat hy so begeer het.
Hy het oortyd gewerk sodat hulle uit die woonstel na ’n huurhuis kon trek. Hy het haar laat begaan wanneer sy soms in die middel van die nag na haar ateljee toe gesluip het om te werk aan iets wat haar te binne geskiet het. Hy het selfs sonder gemor wegneemetes gaan haal wanneer sy vergeet het om kos te maak.
Natuurlik was sy naïef om hom te glo daardie vuishoue in die sy en op die krop van haar maag was ’n ongelukkige, eenmalige voorval. Dat dit die keerpunt was en hy finaal verander het, sy lewe op koers gekry het.
Vasti masseer haar slape, waar ’n dowwe hoofpyn aan die opbou is. Sy weet dis die gevolg van die herinneringe en die frustrasie en selfverwyt wat daarmee saamgaan. Dis egter asof die trek hierheen en die vergete bekendheid van die huis en omgewing haar onkeerbaar terugsleur die verlede in.
Sy moet besig bly. Aan die skilder kom. Maar eers die huis regruk. En voorrade gaan kry. Môre wil sy slaggereed wees om haar nuwe lewe aan te durf.
Woensdag 28 Maart
Vasti moet haarself letterlik uit die bed uit sleep toe Suzie se gekerm te indringend raak. Die drome wat haar die laaste gedeelte van die nag geteister het, het haar nog meer uitgeput as die slapelose rondrol van die eerste gedeelte.
Die vrae wat sy op die vraelyste beantwoord het, het ou gedagtes en herinneringe, vergete angste en pyne nog verder losgemaak. Hoekom sy gisteraand die goed sit en voltooi het, weet sy nie. Sy gaan nie terug na Stiaan Sonnekus toe nie. As sy net vir Dolf uit haar lewe kan kry, sal die neerslagtigheid en hoofpyne vanself opklaar.
Back to square one. Die afgelope twee jaar kry sy nog net sporadies die hoofpynaanvalle. Die een wat haar gister oorval het, is gebore uit die herinneringe en huilbuie tussendeur, maar dis getoë deur ontsteltenis. Omdat sy al meer besef hoe sy met haar lewe gemors het.
Sy kom agter sy het net ’n tanga aan, onthou dan dat sy nie die vorige aand die krag gehad het om nagklere te soek en aan te trek nie. Sy gooi haar skoon maar verfbesmeerde smok oor haar kop.
Dit verg al haar energie om die tandeborsel na haar mond te bring. Toe sy oor die wasbak buk, dawer die hoofpyn harder as ooit. Sy spoel haar mond, vroetel in die kassie op soek na ’n hoofpynpil en sluk dit weg met water uit haar bakhand. Sy wil eers die plat boksie met die antidepressante wat Dawid gegee het ignoreer, maar druk dan gelate een kapsule uit sy foelie-omhulsel en sluk dié ook weg.
Hoe Dolf ’n paar jaar ná die eerste aanranding uitgevind het sy is steeds op die Pil terwyl hy haar in alle ywer probeer swanger kry het, is een van ’n paar raaisels wat sy nooit kon oplos nie.
Sy weet dit was agterbaks van haar, maar sy het ook geweet sy kan nie toelaat dat ’n kind in ’n huis soos hare en Dolf s’n grootword nie. In elk geval nie tot sy baie seker was Dolf is dié keer opreg nie. Sy het geweet hy sal in sy spoor trap tot sy hom uiteindelik sy laaitie gee, maar sy was bang vir wat daarna sou kom.
Dit was ’n herfsaand toe hy in haar ateljee ingestorm gekom en die pakkie Nordettes wat sy so sorgvuldig weggesteek het voor haar neergesmyt het. Met ’n vleismes en terpentyn en ’n woede wat alle perke oorskry, het hy die naaste van drie skilderye wat op esels gestaan het toegetakel en toe sy wou keer, haar weer met die vuis bygedam. Dié keer het hy nie omgegee waar die vuishoue val en of dit sou wys nie. Hy was buite homself.
Voos geslaan, het sy hom in die middernagtelike ure ontglip en in haar motor gespring. Sy het roekeloos uit die oprit en in die straat in getru, gesukkel om ratte te kry en in die truspieël vir Dolf met sy rewolwer in sy hand sien staan. Die rathefboom het eindelik sy rat gevind. Die skoot wat sy verwag het, het nie gekom nie.
Net so, bebloed van ’n hou op die neus en in haar geskeurde nagklere, het sy van Klerksdorp af Cullinan toe gery. Na die eienaar van die kunsgalery daar wat haar eerste solo-uitstalling, ’n Paas-tentoonstelling, vir haar gereël het.
Van die bietjie meer as drie uur lange rit onthou sy niks nie. Net die vrees dat Dolf haar sal volg. Eers toe sy voor Anina se huis stilgehou het, het sy haar begin bekommer oor wat Anina daarvan sal sê dat sy in so ’n toestand daar opdaag. Hulle het dadelik gekliek toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het, maar het mekaar nog maar kort geken. Teen daardie tyd was sy egter te moeg, te seer om werklik om te gee.
Anina en haar man, Jacques, het haar eers polisiekantoor toe geneem om ’n klag te lê en foto’s te laat neem, daarna na die dokter wat hulle intussen wakker gebel het se spreekkamer.
Die uitstalling wat oor drie weke sou geopen het, was na die maan. Dit het hulle besef toe Jacques Klerksdorp toe is om die skilderye te gaan haal.
Dolf was nie by die huis toe Jacques, vergesel van ’n polisiekonstabel, daarheen is nie. Die bure het vertel Dolf het skoonskip gemaak. Hy het elke liewe ding wat aan Vasti behoort het, verbrand. Die konka het nog agter in die werf gestaan. Hulle het gesien hoe Dolf kledingstuk vir kledingstuk in die vlamme gooi. Selfs haar grimering is in die konka in. Van die skilderye was daar geen teken nie en die enigste afleiding wat hulle kon maak, was dat hy dié ook alles verbrand het.
Anina het Vasti versorg tot sy weer soos ’n mens gelyk het pleks van ’n freak show. Haar gehelp om ’n tuinwoonstel te kry. En ’n prokureur. Hulle kon haar net nie sover kry om weer ’n ordentlike skildery voort te bring nie.
In die kombuis skakel Vasti die ketel aan en gaan sit by die tafel terwyl sy wag vir die water om te kook. Sy laat rus haar voorkop in haar hand en staar na die krake in die hout. Nog ’n dag om deur te worstel. En waarvoor? Net sodat Dolf haar vir nog vier en twintig uur kan terroriseer?
Dolf se reaksie op die egskeidingsdagvaarding wat sy op hom laat beteken het, was om vir haar foto’s te stuur van sewe skilderye wat wel oorgebly het. Die halfvoltooide derde een in die Paas-triptiek en ses ander skilderye wat nog net afgerond moes word. Sewe uit die een en twintig.
Asof die boodskap nie duidelik genoeg was nie, was die foto’s vergesel deur ’n briefie. As jy voortgaan met die egskeiding en die aanrandingsaak, maak ek vuur hiermee ook. Die ander het lekker gebrand.
Anina het Vasti nooit vergewe dat sy besluit het om eers die skilderye te probeer terugkry voor sy met die egskeiding voortgaan nie. En nog minder toe sy die aanrandingsaak teruggetrek het. Die staatsaanklaer wou desondanks voortgaan, maar toe Vasti weier om te getuig, het hy uiteindelik besluit sy mors sy tyd. Hy het Vasti sonder omhaal van woorde ingelig dat sy nie weer ’n simpatieke oor sal kry as die geskiedenis homself herhaal nie.
Vir amper twee jaar het sy gesukkel om die skilderye uit Dolf te probeer kry, maar hy het klimtol met haar gespeel. Sy was te bang om hom self te konfronteer en toe Jacques op ’n keer deurgery het om die skilderye te gaan haal, het Dolf hom weggejaag. Met ’n sersant as ’n nuwe drink-buddy het Dolf ook nie veel opdraand van die polisie gekry nie.
Bedags het Vasti in Anina se galery gewerk en saans het sy vrugteloos probeer om die muse terug te lok. Dit was asof iets in haar gevries het. Daardie iets wat van haar ’n uitsonderlike skilder gemaak het. Asof haar muse in daardie oorblywende skilderye vasgevang was of dalk saam met die ander in vlamme opgegaan het. Vasti het bly klou aan die hoop dat sy haar talent kan terugkry as die skilderye weer in haar besit is.
In een ná die ander brief het sy aanhou pleit by Dolf en natuurlik reg in sy kraal gespeel. Sy het hom mag oor haar gegee. Anina-hulle kon dit insien, maar nie sy nie. Sy was verblind deur paniek oor haar onvermoë om te skilder.
Die keerpunt het gekom toe sy op ’n oggend by haar motor kom en al vier die bande is aan flarde gesny. Jacques het haar kom haal en na Anina toe geneem, versoolde bande in die hande gekry en dit vir haar opgesit terwyl Anina haar probeer oortuig het om met die egskeiding voort te gaan.
Jacques het met ’n blouoog en ’n bloedneus by hulle aangekom. “Ek dink hy wou die skilderye vir jou teruggee en aangaan met sy lewe nadat hy joune vir oulaas versuur het.” Gelukkig het Dolf die onvoltooide een van die Paas-triptiek reeds uit sy kattebak gehaal voor hy Jacques gesien het. Nadat hy Jacques die opstopper gegee het, is hy vort met die res. Waar sy gehoop het die halfvoltooide Opstanding gaan haar inspireer, die muse teruglok, het die teenoorgestelde gebeur. Sy het dit een kyk gegee en besef sy sal nooit weer so kan skilder nie.
Ná die insident was haar vriendskap met Anina daarmee heen. Sy het Vasti gevra om liewer vir haar elders werk te kry. Gesê sy sien nie kans om betrokke te wees by hierdie soort gesinsgeweld nie. Sy laat haar man nie aanrand nie en dit doen haar galery se naam skade.
Selfs toe Dolf kort daarna laat weet het hy het die res van die skilderye verbrand en hulle moet hom nou uitlos, kon die vriendskapsbande nie herstel word nie.
Die ketel skakel af. Vasti maak vir haar rooibostee om kafeïen vry te spring, dwing haarself om ’n beskuit uit die blik te haal. Honger is sy nie, maar ter wille van die pille wat sy gedrink het, moet sy seker iets in haar maag kry. Sy het toe gister ’n tuisnywerheid op die dorp raakgeloop en die beskuit lyk heel lekker.
In die voorlopige ateljee skuif sy die gehawende, stofstywe gordyne lusteloos oop. Sy weet teen hierdie tyd net skilder gaan haar hoofpyn, en die gevoel dat sy soos die Prediker se sprinkaan haar lyf met moeite voortsleep, kan blus.
Die goedkoopste verblyf wat sy op kort kennisgewing kon kry nadat haar en Anina-hulle se paaie geskei het, was ’n woonstel in Benoni wat aan ’n kennis van Runa behoort het. Dit het haar gepas dat sy niemand daar geken het nie. Uit vrees dat sy weer onskuldige mense by die hele gemors sal insleep, het sy ook nie probeer vriende maak of enigiemand by haar lewe betrek nie.
Die aanvraag na kunsklasse was min. Geld vir ’n prokureur was daar voorlopig nie en sy was ook bang vir wat Dolf sal aanvang as sy hom weer dagvaar, dus het die egskeiding agterweë gebly.
En toe bel Runa haar en stel voor dat Vasti kommersiële goed vir haar galery maak. Eerstens sodat sy aan die lewe kan bly en tweedens sodat sy aan die skilder kan bly. Al is dit nie wat sy eintlik wou skilder nie. Vasti het ingestem om te probeer en haar engel met die onbeholpenheid van ’n neofiet geskilder. Dit was asof sy verleer het hoe om ’n kwas vas te hou. Sy het ’n foto daarvan vir Runa per e-pos gestuur, maar dit was nie wat Runa in gedagte gehad het nie.
Toe Runa vir haar foto’s van skilderye stuur wat reg is vir haar mark, het daar êrens tog weer ’n vonkie in Vasti begin opvlam. Geleidelik het sy weer aan die gang gekom. Haar siel kon sy nie vind nie, maar haar tegniek en kennis was steeds daar. Sy kon weer skilder solank dit mooi maar betekenislose goed is.
Vasti het haar eie styl rondom Runa se voorbeelde ontwikkel en daarna het haar goed feitlik oornag gewild geraak. Runa het haar oortuig om beperkte hoeveelhede getekende afdrukke van die gewildstes te laat maak en ook dit het goed gewerk. Dié dat sy van haar kuns kon leef met net ’n paar kunsklasse daarby. Sy kon selfs betaal vir die nood-histerektomie wat uit die bloute op haar afgekom het toe die ginekoloog ontdek het haar uterus het vergroei en haar ovaria is vol poliepe.
Haar straf omdat sy nie Dolf se kinders wou gehad het nie? ’n Vingerwysing dat sy nie verdien om ’n ma te wees nie? Weke lank het sy getob oor haar aandeel in hierdie onverwagte wending. Tot sy besef het dis fait accompli en dit help haar niks om daaroor te broei nie, by haar hou die De Leeuws se geslagslyn finaal op. Uiteindelik moes sy haar maar net weer aan haar boot-straps orent trek en aangaan.
Vasti hou Suzie dop waar sy vir haar ’n gaatjie in die ou groentebedding uitkrap. In die bome baljaar voëls. Haar gedagtes is egter nie by wat sy waarneem nie.
Kort ná die histerektomie het Dolf haar begin bel. Dag en nag. Hy moet haar sien. Hy wil dinge met haar regmaak. Hy het haar nog altyd lief. Hy is jammer oor die skilderye. Hy is terug op die smalle weg. Sy het telkens die foon in sy oor neergesit en later die antwoordmasjien gaan koop. Dit het hom nie minder laat bel nie, maar sy het geweet wanneer sy die gehoorbuis kon optel en wanneer nie.
Van Benoni af het sy Parys toe getrek. Tot Dolf ook daardie nommer opgespoor het.
Vasti het besluit om vas te byt en die egskeiding nou agter die rug te kry, al het sy geweet dit gaan weer alle hel ontketen. Runa het Nicholl Stadler as prokureur aanbeveel. Vasti kon Runa se neef vaagweg onthou. Op skool was hy ’n jaar voor hulle. Sedertdien het hy ’n vennoot in ’n prokureursaak in Pretoria geword en gespesialiseer in egskeidings. Dis hy wat voorgestel het sy trek Bela-Bela toe, waar hy geweet het van ’n billike meenthuis in ’n sekuriteitskompleks. Miskien is dit omdat sy bevriend was met sy niggie, maar hy het waarlik uit sy pad gegaan om haar in alle opsigte te help en leiding te gee.
Die egskeiding en die trek na Bela-Bela het Dolf nie gekeer om haar weer eens op te spoor en met foonoproepe te teister nie. Dié keer nie om haar te probeer oortuig hulle hoort saam nie, maar om haar te laat verstaan hoe ’n slet sy is. Hoe sy sy lewe vernietig het. Hoe sy sal boet vir haar sondes.
Sy draai weg van die venster af. Sonstrale wat deur die blare skif, baai die halfvoltooide skildery op die esel in goue lig. Een van die paar doeke wat sy koorsagtig begin skilder het terwyl sy vir haar kennisgewingsmaand nog in die meenthuis aangebly en haar sake afgehandel het. Gistermiddag, toe sy dit ná haar besoek aan die dorp uit die verpakking gehaal het, kon sy so tussen die getob deur nie die versoeking weerstaan om reg te maak wat sy skielik kon sien verkeerd geloop het nie.
Sy krom haar pinkie en voel met die middelste lit of die verf al droog is. Daar bly ’n effense blertsie vermiljoen aan die vel en fyn haartjies sit. Sy vee dit ingedagte aan haar smok af.
Ook in Nylstroom was dit net ’n kwessie van tyd. Uiteindelik het Nicholl haar oortuig om ’n interdik teen Dolf te kry. Dit was net voor sy Hartbeespoortdam toe getrek en vir letterlik niemand daarvan gesê het nie.
Sy het haar foonnommer nie laat lys nie. Haar posadres het sy bedryf onder Art4U, ’n naam wat sy uit haar duim gesuig en nêrens anders gebruik het nie. Net banke en die broodnodigste instansies het haar posadres gehad. Selfs wanneer sy haar werk maandeliks na Runa gekoerier het, het sy dit soms vanuit Pretoria gedoen, soms vanuit Midrand, soms Roodepoort. Vasti het net per selfoon gekommunikeer en haar selnommer privaat gehou.
Die swart rooibostee is nog warm en sy sluk versigtig voordat sy die beker neersit met die beskuit dwarsoor die rand. Sy kies ’n buisie verf, druk ’n wurmpie daarvan op haar palet, kies nog een, herhaal die proses en meng die twee met haar paletmes.
Die twee jaar ná haar pa se dood was soos ’n stil oase. Vir die eerste keer het sy weer haar ewewig gekry. Vir die eerste keer het sy weer aan ernstiger kuns begin dink. Selfs oorweeg om die onvoltooide deel van die triptiek te voltooi as ’n enkelskildery. Vir die eerste keer het sy weer begin voel sy lewe pleks van bestaan. Tot sy daardie middag, ’n maand gelede, teruggekom het van die skool waar sy kunsklasse aangebied het en haar die toneel uit die hel in haar meenthuis op die lyf geloop het.
Daar was nie vingerafdrukke nie en ook nie ooggetuies nie. Sy het die polisie die agtergrond gegee. Die interdik gewys. Hulle het Dolf gekontak. By sy Klerksdorp-adres moes hulle hoor hy het intussen Pretoria toe getrek. Die vrou by wie hy woon, was bereid om ’n beëdigde verklaring af te lê dat Dolf die hele dag by haar was. Die polisie het hulle hande gewas. Volgens hulle kon dit enigiemand gewees het. Dit is immers Suid-Afrika. Maar sy weet van beter. Nes sy weet die oproepe wat vandag deurgekom het, is nie deur kwajongens gemaak nie.
Vasti buk en kyk na die weerkaatsing van haar gesig in die gekraakte spieël wat sy langs die esel staan gemaak het. Die kwas lê tuis tussen haar vingers. Met seker, wrewelrige hale begin sy skilder.
Sy steur haar nie aan die selfoon wat lui nie, ignoreer die tee wat yskoud word en sien skaars raak dat die beskuit van die beker se rand af kantel toe sy per ongeluk teen die laaikas stamp. Ook die lui van die voordeurklokkie dring nie werklik tot haar deur nie.
Die huis is nog meer terug op die brug as wat hy vermoed het, dink die snob in hom.
Fyn krake en barsies lê kriskras oor die oppervlak van die voorstoep se vloer wat plek-plek afskilfer. Vaalwit verf dop af van die gepleisterde bande om die deure en vensters. Modder wat deur dekades se seisoene heen opgespat het, verkleur die onderste deel van die klipmure van ’n ligte oker tot donkerbruin.
Daar is geen beweging agter die deur met sy riffelglaspanele nie. Nicholl klim die vaalrooi trappies weer af en begin doelgerig om die verwaarloosde huis met sy ewe verwaarloosde tuin stap. Vieserig vermy hy ’n klompie verdroogde netels, maar daar kom sit tog ’n paar sade aan sy broek. Hy klingel sy Discovery se sleutels geïrriteerd tussen sy vingers, loer by die vensters in. Die derde een lewer resultate op.
Sy sien hom nie. Hy kyk verby die geroeste diefweringkrulle na die lang kaal bene wat onder die kort smok in verdwyn. Die son weerkaats koper in die warboel van haar ongekamde hare. Sy byt een kwas tussen haar tande vas, pik-pik met die ander op die palet rond voordat sy weer ’n paar hale op die doek aanbring.
Met die sleutels tik hy teen die venster. Sy hoor hom nie. Hy tik harder. Sy swaai vervaard om en stamp in die proses byna ’n koffiebeker van die kas af. Hy sien die skrik en toe die herkenning in haar oë. Hy probeer die feit dat sy nie ’n bra onder die smok aanhet nie, miskyk. Die skemering van ’n swart tanga daaronder ook. Met ’n gesukkel maak sy een van die vensters oop. “Nicholl, dis ’n verrassing.”
Hy kan nie peil of die verrassing aangenaam of onaangenaam is nie. “Raai hoe verras was ék toe ek hoor jy het hierheen getrek. Ek was in die omgewing en het besluit om te kom hallo sê. Hoe lyk dit met ’n koppie koffie?”
“Natuurlik. Kom sommer om na die agterdeur. Dis nader.”
Sy moes die deur vinnig kom oopsluit het, maar is nie in die kombuis nie. Hy staan onwennig rond. “Vasti?”
“Sit solank die ketel aan. Ek kom,” hoor hy dan uit een van die kamers.
Hy vul die ketel met water en skakel dit aan. Hy kyk op toe sy ingestap kom. Sy’t ’n denim onder die smok aangetrek, maar besef waarskynlik nie wat die volheid van haar beweeglike borste onder die dungewaste wit lap aan hom doen nie.
“Dis ’n verrassing,” herhaal sy, haal twee bekers uit die kas, skep koffiekorrels in die een en laat val ’n voorheen gebruikte teesakkie in die ander.
“Ek wou net hoor hoe dit gaan. Is jy al oor die ergste van die trek?” Hy leun teen die toonbank aan, sy arms voor sy bors gevou.
“Mens sou dink jy raak gewoond daaraan, maar dis elke keer weer moeilik om te onthou waar jy wat gebêre het. Sommige oggende word ek wakker en kan nie onthou in watter huis ek nou weer is nie.” Sy trek haar skouers op en draai na die yskas om melk uit te haal.
Toe sy terugdraai met die melkhouer in haar hande, druk haar tepels soos potlooduitveërs teen die fyn rygsplooitjies aan. Hy laat sak sy oë. Die roering in sy lendene raak ongemaklik. Hy verskuif van posisie.
“Kom ons gaan sit in die sitkamer.” Sy gee vir hom sy beker aan en stap voor hom uit. Haar eens vol heupe het verskraal tot ’n maerte. Die denim sit los aan haar.
Hy kon destyds nie verstaan waarom hy so aangetrokke voel tot haar nie. Oorgewig vroue het nog nooit die ding vir hom gedoen nie en Vasti was meer as net oorgewig. En tog het sy van die begin af ’n fisieke uitwerking op hom gehad. So intens as wat dit was, is dit egter niks in vergelyking met die effek wat haar skraal lyf nou op hom het nie. En met elke tree wat hy agter haar aan gee, intensiveer dit tot die hitte daarvan hom wil verswelg.
Sy gaan sit kruisbeen op die bank. Ongeërg, onbewus van haar mag oor hom. Dis vir hom meer eroties as wat doelbewuste uitlokking sou wees. Daarvan kry hy immers genoeg by Gail. Sy vrou is onversadigbaar.
“Hoekom is jy regtig hier? Het Runa jou gestuur?” vra sy toe hy op die stoel skuins langs haar gaan sit. Sy drink lugtig aan haar tee.
Omdat ek gebrand het om jou weer te sien. Nee, dit kan hy nie erken nie. “Nee, ek was regtig maar in die omgewing. Ek het kom kyk na ’n stuk grond ’n entjie van hier af.” Twintig kilometer hiervandaan, om presies te wees. “Ons stel belang om ’n ontwikkeling daar te doen.”
“Moeg prokureur gespeel?”
Hy lag. “Nogal.” Hy sluk aan die warm koffie, brand sy tong. Hoe kry sy die warm goed in?
“Dis ’n verlies vir vroue wat desperaat is om geskei te kom. Ek weet nie wat ek destyds sonder jou sou gedoen het nie, Nicholl.” Sy vee haar hare uit haar oë. “As dit nie vir jou was nie, het ek nog steeds . . . “ Sy bly stil. “Jy het oneindig baie vir my beteken in daardie laaste maande.”
“Maar net my job gedoen.” Leuenaar. Hy het nog nooit vir enigeen van sy kliënte so uit sy pad gegaan nie. Hy het van die begin af geweet hy sal tot die eindes van die aarde gaan om hierdie vrou te help. Hy het selfs sonder haar medewete ’n privaatspeurder gehuur omdat hy wou weet hoe lyk die man wat haar so verniel het, en só agtergekom wat ’n vark haar eks inderwaarheid was.
Van die eerste dag af het Vasti daardie effek op hom gehad wat hy nie kon verklaar nie, wat hom by tye week laat en wat hom nou nog snags in ’n sweet kan laat uitbars. Sy is steeds soos ’n virus in sy bloed, ’n virus wat hom onverklaarbare dinge laat dink en doen.
Dis ironies, want hy vermoed dis die eienaardige onskuld wat uit haar straal wat die dier in hom wakker maak. Dis nie ’n kinderlike onskuld nie, eerder ’n aangebore onskuld wat behoue bly ondanks kennis van die wreder sy van die wêreld. En die dier in hom wil daardie onskuld vir homself opeis met die onversadigbare drang van die besoedelde: om dit wat onbesoedeld is na sy eie vlak af te trek.