Читать книгу Bloed, dunner as water - Charné Kemp - Страница 10

Ouerskap

Оглавление

Niemand word met ’n handleiding vir ouerskap gebore nie.

Kinders wil erkenning hê, onvoorwaardelik liefhê en voortdurend geprys word, maar in dieselfde asem ook onafhanklik wees. Dit is ’n baie fyn en delikate balans.

Daarom moet ouers sekere beginsels en waardes konsekwent toepas.

“Maar,” meen prof. Christiaan Bezuidenhout, “sekere mense het te vroeg kinders, en ander moes nooit kinders gehad het nie. Vir sekere mense is kinders ’n byvoegsel tot die huwelik.”

Die kanse dat dié kind mishandel of verskree gaan word, is groot in ’n gesin waar dié waardestelsel reeds in een of beide die ouers se huisgesinne voorgekom het.

“Ons het gevalle gehad waar die kind met die ander ouer se toestemming om die lewe gebring is omdat die kind ’n irritasie in die verhouding was. Die kind, die probleem, word uit hul lewens verwyder,” sê hy.

Gesinsmoorde kom nie net in arm gesinne voor nie. Dit gebeur ook in gegoede huise, die soort gesinne uit wie Riaz Kadwa en Don Steenkamp gekom het.

Dit kom ook nie net by alkohol- of dwelmmisbruikers of patetiese ouers voor nie, maar dek die hele sosiale spektrum van alle rasse, maatskaplike en godsdiensgroepe.

Net soos genetiese materiaal en mishandeling ’n rol in gesinsmoord speel, kan oorvloed ook aanleiding tot moord gee. Die feit dat die skatryk pa die geldkrane toegedraai het, het die kind laat breek.

Ouerskap moet ’n gebalanseerde benadering hê. Die ouers moet van die begin af nee sê en grense stel. Niks moet oormatig wees nie. Navorsing bewys kinders wat met gebalanseerde grense en reëls grootword, word in baie opsigte beter gebalanseerde volwassenes as diegene wat sonder reëls en struktuur grootword.

Straf moet konsekwent en gebalanseerd toegepas word. Dit is die kind se keuse of hy gaan luister, of die gevolge gaan dra. Mettertyd besef die kind die waarde van die sisteem en voel hy geliefd.

Roetine en struktuur gee ’n verborgenheid waarin kinders veilig voel. Die sielkundige Abraham Maslow, ’n sielkundige, het in 1954 in sy boek Motivation and Personality geskryf oor hoe die hiërargie van menslike behoeftes ontwikkel. Volgens Maslow moet ’n mens se basiese behoeftes eers vervul word voor selfverwesenliking bereik kan word. Kinders moenie versmoor word nie. Hulle moet verantwoordelikheid aanvaar en die ouer moet die kinders vertrou, maar vir ’n veiligheidsnet sorg.

Ouers moet kinders die morele kompas bied om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Kinders se gewete moet ontwikkel word. Hulle moet met ander mense simpatie en empatie hê en respek toon.

Kinders leer baie uit waarneming. Handelinge van ouers en ander mense word in sy brein en lewensbaan ingeskryf. Die ouer moet self reg en verkeerd toepas as hy wil hê die kind moet dit ook uitleef.

Indien die ouer saam met vriende drink, vloek en afbrekende opmerkings maak, moet hy nie verbaas wees as die kind dit ook kort voor lank doen nie

’n Bietjie intuïsie en kreatiwiteit kan baie regkry.

Sekere kinders se genetiese samestelling en tempe­rament kan nie deur gesonde invloede verander word nie. Hulle is van kleins af problematies.

Bloed, dunner as water

Подняться наверх