Читать книгу Bloed, dunner as water - Charné Kemp - Страница 14

Boeiend en onverklaarbaar

Оглавление

Gesinsmoorde kan nie bevredigend verklaar word nie. Selfs nie eers deur die moordenaar self nie.

Daarom bly dit ’n boeiende onderwerp, sê die forensiese sielkundige in private praktyk, prof. Gérard Labuschagne, en dr. (kol.) Bronwynn Stollarz, gewese bevelvoerder van die polisie se sielkundige ondersoekeenheid.

Labuschagne en Stollarz was betrokke by bekende moordsake soos dié van Don Steenkamp, Nicolette en Hardus Lotter, Boetie Boer en Karl Greyvensteyn waarin hulle antwoorde probeer vind het.

Selfs wanneer ’n oortreder skuld sou beken en ’n pleitverduideliking aanbied, verklaar dit nie heeltemal sy optrede nie. Daarvoor is die moordenaar se weergawe te eensydig en word dit deur onder meer sy eie emosies, die publisiteit rondom die saak, ander se opinies en sy eie verwysingsraamwerk verwring.

Stollarz sê om die dade werklik te begryp moet ’n mens in die moordenaar se kop kon klim ten tyde van die misdaad, wat nie moontlik is nie. Die prentjie wat agterna geskets word, is eintlik net ’n rekonstruksie van gebeure, ’n weergawe wat in ’n subjektief skeefgetrek is.

Die legkaart sal altyd stukke makeer.

In een geval waar ’n seun sy gesin uitgewis het, het hy aangevoer die duiwel het hom oortuig om dit te doen. In die geval van ’n seun wat sy grootouers vermoor het, was daar ’n geskiedenis van ’n swak verhouding met sy ouers en moeilike grootwordjare. Hoewel hy skuld beken het, is daar steeds gapings in sy verduideliking hoekom hy dit gedoen het.

Nog ’n tiener het ook alles erken, maar daar is nie ’n verklaring vir hoekom hy etlike dae saam met sy ouers en broer se lyke gewoon het voordat hy gevlug het nie.

Karl Greyvensteyn het deurgaans skuld ontken vir die moorde op sy ouers en broer.

Greyvensteyn, ’n oudleerling van die Hoërskool Menlopark, wat sy studies in inligtingstegnologie by Tukkies opgeskop en ’n kelner geword het, het eers voorgegee die huiswerker het die moorde gepleeg, voordat hy sy weergawe verander en aangevoer het sy broer het sy ouers geskiet, en toe skiet hy wat Karl is, sy broer uit woede dood.

Prof. Labuschagne, wat vir die staat in die saak getuig het, het bevind Greyvensteyn is só egosentries dat dit aan narsisme grens. Hy het ’n innerlike stryd gehad om sy selfliefde te balanseer met sy behoefte daaraan om ander tevrede te stel. Dié stryd het gelei tot erge depressie en daar was tekens van sluimerende aggressie.

Greyvensteyn het oor die algemeen gesukkel met sy persoonlike verhoudings. Dit was oppervlakkig. Hy wou altyd in beheer wees.

Labuschagne sê daar moet gewaak word om nie ware berou te verwar met spyt dat die oortreder uitgevang is nie.

In sowat 80% van gesinsmoorde is die seun die oortreder, sê Labuschagne. Dit is ook bykans net seuns wat beide hul ouers sal vermoor. Die voorkoms van ouermoord is tussen 2 en 5% in Amerika en Europa.

Jong oortreders moor weens geestelike probleme of mishandeling deur die ouers. Volwasse ouermoordenaars het ’n geskiedenis van geestesiektes eerder as van vroeë mishandeling.

Don Steenkamp het nie vooraf tekens van antisosiale gedrag getoon nie. Stollarz het na sy skuldigbevinding ’n volledige onderhoud met hom probeer voer, maar is weens sy regspan se besware gekniehalter.

Don was volgens alle beskikbare kennis nie mishandel nie en het ook nie aan ’n geestesteuring gely nie. Hy was nie ’n moeilikheidmaker of onbeheerbaar nie. Sy ouers was dalk volgens hom te streng. Sy voorafgaande wispelturige gedrag kan ook as tipiese tienergedrag bestempel word.

Miljoene ander tieners in soortgelyke situasies vermoor egter nie hul gesinne nie.

Die publiek wil die oorsake van gesinsmoord toeskryf aan dwelmmisbruik of satanisme. Stollarz is uiters versigtig om dit as rede te beskou.

Inteendeel.

Nie een van dié twee faktore is al ooit as die oorsaak van gesinsmoord bewys nie. Iets soos dwelmmisbruik is as’t ware net ’n smeermiddel vir die moordenaar se frustrasies. Dit maak sy impulsiewe dade gladder.

Dwelms kan egter die persoon se geestesgesondheid beïnvloed, wat ’n psigose kan ontketen. Die misdadiger met ’n geestesiekte word in elk geval ’n staatspasiënt.

Ouermoordenaars se keuse van wapens hang van die moordenaar se gemaklikheid daarmee af. Don Steenkamp en Karl Greyvensteyn het vuurwapens gekies. Henri van Breda het ’n byl in die spens gaan haal. ’n Mes word nie sommer gebruik nie, want dis nie altyd onmiddellik so noodlottig soos ’n byl nie.

Vuurwapens en byle is wapens wat die slagoffer binne sekondes verlam of doodmaak. Daar is nie veel weerstand nie. Die moordenaar sal gewoonlik die sterkste gesinslid eerste buite aksie stel.

Die gesinslede sal onverwags betrap word waar hulle slaap, lees of eet. Don Steenkamp het sy gesin voor die TV en rekenaar neergevel.

Maar hoekom word die sibbe ook vermoor?

Stollarz sê die moordenaar het soms ’n persepsie dat hy die “swartskaap” is en dat sy sibbe voorgetrek word. Dit is ook as moontlikhede in die Don Steenkamp-verhoor en in koerantberigte in die Henri van Breda-saak beweer.

Niemand sal werklik weet of dit net die misdadiger se persepsie of die waarheid was nie.

In baie gevalle is die wonde aan een ouer of ’n broer of suster erger, die sogenaamde overkill. Dit dui op die woede van die moordenaar.

Om agterna te besluit of die sibbe net die persepsie gehad het dat die ander een voorgetrek word en of dit werklik so was, gaan nie veel lig werp op die gebeure en oorsaak nie. Die nuanses bly in die gesin wat nou dood is, en is daarom onbekend, en in die moordenaar se psige verborge.

Gesinsmoord is onvoorspelbaar, hoewel dit lank vooruit beplan word.

Stollarz meen nie daar is genetiese faktore – wat sy die biopsigo-maatskaplike faktore noem – wat moorddadige gedrag en ouermoord veroorsaak nie. Dit is eerder ’n persoon met ’n sekere temperament wat so gefrustreerd raak dat hy dink moord is die enigste oplossing vir sy probleme.

Die uitdaging is veral wanneer die veroordeelde aanhou skuld ontken eerder as om met die waarheid en wat tot die daad aanleiding gegee het vorendag te kom. Sy frustrasies kan nie belug en deurgewerk word nie.

Daar is nie juis ruimte vir terapie en berading om tot die kruks en oorsaak te kom as iemand in ontkenning is nie.

Die sielkundige benadering is om vas te stel wat tot die dade gelei het. Dit kan meer begrip meebring, maar nooit volledige verklarings nie.

Gewelddadige jeugdiges se vorige gedragsteuring kan moontlik aanduidings gee van wat gaan volg. Hulle “lek” leidrade uit, soos jeugdiges in Amerika wat leerlinge by ’n skool gaan skiet. Hulle het redelik dikwels vorige gedrag getoon wat on­heil voorspel het, en dit moontlik selfs aan iemand genoem.

Die kriminologiese benadering is dat jeugdiges gewelddadig is weens hul impulsiwiteit. Ouer mense sal hul aggressie oorkom of beter beheer.

Vroeë misdadigheid is kommerwekkend omdat dit met verloop van tyd kan vererger.

Aan die ander kant is die kanse op rehabilitasie beter met die regte berading en huislike omgewing vir jeugdiges. Hul denkwyse is meer vatbaar of plooibaar vir terapie. Hulle kan op die regte pad gestuur word. Die risiko vir heroortreding kan beter bestuur word.

Stollarz is van twee gevalle bewus waar jeugdige manlike ouermoordenaars op parool vrygelaat is. Die een het met sy lewe aangegaan, en die ander een het ná ’n paar jaar van getroude lewe sy vrou vermoor.

Tog is elke ouermoordenaar, soos enige ander gewel­denaar, en sy omstandighede uniek en kan toekomstige gedrag nie bepaal word nie.

Daar sal altyd ’n vrees wees dat enige gevangene weer misdaad sal pleeg wanneer hy vrygelaat word, sê sy.

Psigopatie is ’n netelige kwessie en selfs deskundiges verskil oor die bestuur daarvan. Sy sê psigopate is deeglik van hul grense binne die gevangenis bewus. Hulle weet wat die gevolge van wangedrag in die gevangenis is. Hulle word daarom modelgevangenis en neem aan alle programme deel sodat hulle moontlik danksy goeie gedrag vrygelaat kan word.

Maar alles wat hulle doen, is vir eiegewin. Hulle is juis meesters van manipulasie.

Hulle ken die woorde van die wysie, maar lees nie die musiek nie …

In baie gevalle wil die publiek nie glo dat ’n kind tot sulke wrede dade in staat is nie. Dit is makliker om redes te vind hoekom dit onmoontlik is, sê Stollarz.

“Die kind het dan nooit vooraf tekens van geweld of gedragsafwykings getoon nie,” sal hulle sê.

Stollarz sê uit haar ondervinding word die polisie baie keer verwyt omdat hulle dit durf waag om kinders van misdaad te verdink, want volwassenes kan nie dink “onskuldige” kinders is tot sulke wreedheid in staat nie.

Dit is selfs onmoontlik vir sommige mense om te glo dat die reeksmoordenaar, ’n normale en geliefde lid van die gemeenskap, wrede dade kan pleeg. Of dat vroulike pedofiele werklik bestaan.

Mense wil graag terugskouend tekens herken wat die daad kan verklaar, meen sy. Dit sal gedrag soos mishandeling, dwelmmisbruik, gevoelloosheid, marteling en wreedheid insluit. Dit is in die mens se aard om nie die ondenkbare goedsmoeds te glo nie. Mense wil oortuig word met verklarings en bewyse dat die kind nog altyd boos was.

Soms wil mense nie eers hofuitsprake glo nie. Hulle wil ’n motief hê. Die “motief” is soos suiker om ’n bitter pil wat makliker is om te sluk. As die motief nie sin maak nie of daar is nie een nie, kan mense soms nie oortuig word dat die aangeklaagde skuldig is nie.

Volgens Labuschagne is die polisie se hooftaak om te bewys wie die skuldige is. Die motief is nie so belangrik soos oortuigende en klinkklare bewyse nie.

Die redes waarom ouers hul kinders vermoor, is inge­wikkeld omdat die oortreders volwassenes is. Daar kan ’n verskeidenheid sielkundige, genetiese en omgewingsfaktore wees wat op een betrokke sekonde van ’n bepaalde minuut ’n storm veroorsaak, wat nouliks agterna volledig en bevredigend verduidelik kan word.

Navorsing toon dat volwassenes onder meer hul kin­ders vermoor omdat hulle moontlik jaloers op die huweliksgenoot, meisie of kêrel is. Hulle wil dalk ’n skelmpie weg­steek, of het ’n nuwe minnaar. Die kinders is ’n hindernis in die nuwe verhouding.

Dalk wil die man nie meer onderhoud betaal nie.

Omdat kinders die narsistiese uitbreiding van die ouer is, is dit nie vir hulle so erg om die moord te pleeg nie, sê Stollarz. Die kinders is biologies en geestelik deel van die ouer se wese. As die ouer homself om die lewe bring, bring hy ook die kind om die lewe. Die daad word in elk geval nie soos normaal funksionerende mense vooraf deurdink of geanaliseer nie.

Sommige ouers wat kinders doodmaak, voel hulle kan nie die kind alleen op die aarde agterlaat as hy of sy selfdood pleeg nie. As die kind ook sterf, is dit eintlik ’n genade, reken hulle.

Indien ’n oortreder later in die hof depressie as motief of verduideliking aanvoer, moet daar ’n lang aangetekende geskiedenis wees voordat dit as ’n verweer aanvaar kan word.

Die ouers is dalk brandarm en kan nie langer vir die kind sorg nie. Hulle sien egter nie kans om die kind te laat aanneem nie. Die dood is al uitweg. Sekere ouers wie se finansiële sake in duie stort, sal ook eerder die hele gesin uitwis as wat die bankrotskap aan die lig kom en vernedering meebring.

Die geweldenaar wat sy eie kinders doodmaak uit woede vir die huweliksmaat, maak hulle dood om die huweliksmaat te straf. Die huweliksmaat se pyn (straf) is erger as haar kind sterf as wat sy sou sterf.

Stres word in baie moderne gevalle aangevoer as ’n rede vir gesinsmoorde.

Labuschagne sê navorsing is gedoen tydens die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika toe sommige mense drastiese stappe gedoen het omdat hulle nie met veranderende omstandighede kon vrede maak nie.

Maar Labuschagne stem nie saam dat die moderne mens meer stres as vorige geslagte beleef en daarom meer ge­weld­da­dig is nie.

“Het die gemiddelde swart mens wat 50 jaar gelede onder apartheid gely het, nie meer of dieselfde stres as vandag se mense gehad nie? Wêreldoorloë, pandemiese depressie en die stryd om oorlewing het toenterjare beslis ook stres meegebring.”

Elke tydperk bied sy eie uitdagings aan die feil­bare mens.

Bloed, dunner as water

Подняться наверх