Читать книгу Bloed, dunner as water - Charné Kemp - Страница 11
Kinders wat moor
ОглавлениеDie redes waarom kinders moor, is veel komplekser as mans en vroue wat hul gesinne uitwis.
Daar kan van min kinders gesê word dat hulle as moordenaars gebore word. Tog sê prof. Christiaan Bezuidenhout genetiese materiaal maak sommige kinders meer vatbaar vir sekere invloede of gedrag. Die onderskeie fisiologiese, genetiese, sielkundige, emosionele en omgewingsveranderlikes in ’n kind se lewe speel ’n uiters belangrike rol in sy uiteindelike lewensbaan.
’n Kind is ’n eenvoudige wese. Indien die ouers hom onvoorwaardelike liefde en erkenning gee, sal hy of sy soos ’n blom gedy. Indien die ouer aanhoudend vir hom sê hy is sleg, word die blom afgebreek en verlep. Sou die kind boonop seksueel en fisiek mishandel word, en die kind beskik oor die genetiese materiaal wat hom vatbaar maak om daarop te reageer, ontwikkel die kind gedrags- en persoonlikheidsprobleme.
Dit kan aandagspanprobleme, hiperaktiwiteit en antisosiale karaktertrekke tot gevolg hê.
Die probleemkind gaan nie vir gesagsfigure luister nie, hy gaan moontlik soos sy ouers optree en afbrekend en negatief wees en voortdurend dwarstrek. Hy kan selfs destruktief raak en eiendom beskadig, diere mishandel of ’n bullebak by die skool word.
Hy toon geen emosie en empatie nie en put inderwaarheid genot uit sy wangedrag. Hy kan hoogs waarskynlik eendag in ’n psigopaat ontaard, iemand wat geen emosies ervaar, geen empatie met ander het en nooit uit sy foute leer nie.
Hy het geen langtermynbeplanning nie en sal sy negatiewe gedrag herhaal. Omdat hierdie tiener nie uit sy foute leer nie, bots hy gedurig met die gereg. Die kanse is goed dat hy reg in sy eie hande gaan neem en sy ouers of ander familielede sal vermoor indien hulle hom wil beheer.
In ander gevalle kan die tiener hom heeltemal onttrek van die werklikheid, geen destruktiewe en negatiewe gedrag toon nie, maar op ’n dag breek hy. Dit is uiters moeilik om dié moorddadige gedrag by jong mense te voorspel.
Die kind bereik ’n punt van geen omkeer nie. Hy sal sy ouers om die lewe bring wanneer al hierdie faktore saamkom en daar ’n sneller is wat die moorddadige daad ontketen.
Nie alle kinders met gedragsprobleme is psigopate nie. Baie eksperimenteer net met kattekwaad en wangedrag, maar hulle ontgroei dit.
Ander ontgroei dit nie en word dikwels die parasiete in die gesin. Hulle voltooi dikwels nie skool of universiteit nie, word meer en meer afhanklik en gebruik dikwels aggressie om te kry wat hulle wil hê. Hulle steel en verkoop die gesin se besittings om geld in die hande te kry. By die meeste volwasse psigopate was daar duidelike karaktertrekke in hul kinderlewe. Hul gedrag ontwikkel geleidelik en vererger.
Bezuidenhout meen dat die individuele uniekheid, die konteks en die komplekse wisselwerking van al die veranderlikes baie moeilik is om te peil en om akkurate voorspellings van te maak oor die uiteindelike gedrag van ’n jong mens.
Al wat mens wel met sekerheid kan sê, is dat sekere kinders in staat is om ’n familielid se lewe te neem.