Читать книгу Bloed, dunner as water - Charné Kemp - Страница 7

’n Wêreldwye verskynsel

Оглавление

Prof. Kathleen Heide, ’n professor in kriminologie aan die Universiteit van Suid-Florida in Tampa, Amerika, wat al meer as 30 jaar navorsing doen oor kinders en ouers wat moor, het in 2013 op ABC Radio gesê sy glo nie kinders word boos of met bose gene gebore nie.

Gevalle van ouermoord raak nie meer nie. Die getalle bly bestendig. In Amerika is 2% van alle moorde ouermoorde, sowat 250 moorde per jaar. Dit is proporsioneel meer as in lande soos Australië weens die beskikbaarheid van vuurwapens in Amerika.

’n Vuurwapen is ’n voorkeurwapen vir kinders omdat dit makliker is om ’n groter en sterker volwassene daarmee te oorrompel. Wapens is ook meer neutraal as om die ouer met ’n mes dood te steek. Daar is ’n emosionele afstand tussen die skieter en sy teiken. Die moord is ook in sekondes verby wanneer ’n vuurwapen gebruik word.

Heide meen daar is drie redes, miskien vier, waarom kinders hul ouers moor.

Fisieke, verbale of seksuele mishandeling en die gevolglike verwaarlosing as die ma nie die kind teen die pa beskerm of hulp inroep nie is een van die grootste oorsake.

Die kind moet dan self ’n plan maak om die mishandeling te keer. Hy is waarskynlik reeds deur die polisie, maatskaplike dienste, familie, vriende en die bure versaak. Daar is geen ander uitweg nie. Indien hy nie ’n plan maak nie, kan hy of sy sibbe aan die hand van die mishandelaar sterf. Die oorsaak van die mishandeling moet daarom verwyder word.

Die eerste gevoelens ná die moord is verligting. Spyt sal dalk later intree.

In een geval het ’n jong meisie, ene Cassie (’n skuilnaam), haar stiefma vermoor. Die stiefma was ’n goeie vrou, maar Cassie het gevoel sy staan in die pad van haar pa se liefde en aandag. Haar eie ma het haar jare gelede versaak. Die stiefma het met haar koms dissipline in die huis gehandhaaf. Cassie kon nie meer met dieselfde oortredings wegkom soos met haar pa nie.

Ná die moord het die pa haar nie vertroos nie, al het sy dogter steeds toenadering gesoek.

Nog ’n oorsaak is geestesprobleme, dalk psigoses. Die kind het hallusinasies of drogbeelde. Hy verbeel hom daar is ’n duiwel in sy ma en hy moet die wese voor hom doodmaak sodat sy werklike ma kan terugkeer. Of hy het God se stem gehoor wat vir hom gesê het hy moet sy ouers doodmaak. Geestesiektes kan skisofrenie en paranoia insluit.

Dogters het in baie gevalle ook fantasieë oor ’n kêrel wat haar uit die omstandighede wat sy as onwenslik beskou, sal wegneem. Anders as wat baie mense vermoed, is dit die dogter wat die moordplan bedink, hoewel die kêrel haar sal help om te moor omdat sy nie fisiek sterk genoeg is nie.

Daar is ook kinders jonger as 16 wat moor. Heide skryf van ’n kind van vier wat sy pa doodgeskiet het.

In die betrokke geval het die vuurwapen oop en bloot in die huis gelê. Die kind het dit impulsief opgetel en geskiet. Toe die ma in die vertrek kom, het die kind gesê hy het sy pa doodgeskiet. Hy het nie verstaan hoe permanent die dood is nie. Volgens Heide word die situasie vererger deur animasiemasierolprente waarin die karakters gruwelik vermoor word, maar in die volgende toneel weer springlewendig is. Die betrokke kind is nooit aangekla nie.

’n Ander oorsaak is die gevaarlike antisosiale moor­denaar. Baie oortreders is vroeër in hul lewe reeds met ge­drags­probleme of antisosiale gedragsteuring gediagnoseer. Hul­le word deur motiewe soos vryheid geïnspireer. Hulle wil vry wees van dit wat hulle glo hindernisse is.

In sommige gevalle is hulle die kinders van ouers wat nie streng dissipline toegepas het nie en die kind baie vryhede toegelaat het. Die ouers het verskonings vir oortredings aangevoer soos “seuns is maar seuns, dit sal oorwaai”. Maar dié kinders is geslepe. Ná die moorde sal hulle aanvoer hulle was mishandel en verwaarloos.

Dit is waarom Heide soveel kollaterale bronne moontlik raadpleeg om alles te staaf wat die jong moordenaar beweer sy ouers aan hom of haar gedoen het. Sy sal skoolrekords, misdaadgeskiedenis en vriende en familie oor die kind se verlede raadpleeg.

Die gevaarlike moordenaars moet behandeling ondergaan terwyl hulle vir ’n tydperk uit die samelewing verwyder word. Indien hulle nie behandeling ondergaan en gerehabiliteer word nie, is die kanse goed dat hulle reeksmoordenaars kan word, sê Heide.

’n Moontlike vierde oorsaak is verwaarlosing weens kindermishandeling. Dit beteken die ma wat nie haar kinders van die mishandelaar wegneem nie, verwaarloos hulle. Sy gee hulle nie die aandag en sorg wat hulle vereis nie. Die kinders het al selfdood oorweeg, en ook om van die huis weg te loop. Hulle het egter nie die verstandelike vermoë, vaardigheid en geldelike vermoëns om buite die ouerhuis te oorleef nie.

In Amerika kan kinders ouer as agt jaar van moord aangekla word. In sekere deelstate kan hulle op 12 jaar as volwassenes aangekla word. Tot met 2005 is die doodstraf in sekere deelstate aan kinders opgelê.

Heide glo kinders het ’n kans om met die regte en betekenisvolle behandeling gerehabiliteer te word om ’n taamlik normale lewe te lei sou hulle vrygelaat word. Veral jong kinders staan ’n beter kans om gerehabiliteer te word.

Selfs in Amerika, ’n eerstewêreldland, word voor­geskrewe behandelingsplanne nie altyd in gevangenisse toegepas nie. Geldtekorte noop tronkowerhede om aan sielkundige en psigiatriese geriewe te besnoei.

In een geval het ’n man wat sy ouers vermoor het jare later ook ’n ander gevangene vermoor. Die betrokke moordenaar het in die gevangenis ’n sagte plek vir ander ouermoordenaars ontwikkel en het hulle teen ander gevangenes beskerm. Nadat Heide navraag gedoen het, het sy besef die moordenaar het nooit die voorgeskrewe behandeling ná sy eerste veroordeling ontvang nie. Die tweede moord kon heel moontlik voorkom gewees het indien die moordenaar behandeling en terapie gekry het, meen sy.

Bloed, dunner as water

Подняться наверх