Читать книгу Bloed, dunner as water - Charné Kemp - Страница 5

Inleiding

Оглавление

Lizzie Borden took an axe

She gave her mother forty whacks

When she saw what she had done

She gave her father forty-one.

In Augustus 1892 ontstaan bostaande kinderrympie in Fall River, Massachusetts, Amerika. Die Sondag­skoolonderwyseres Lizzie Borden word van die moord op haar pa, stiefma en ouer suster aangekla. Haar regsverteenwoordiger voer aan dat ’n vrou nie tot sulke wreedheid in staat is nie. Die saak oorheers koerante van die tyd, en Lizzie word berug hoewel sy later onskuldig op al die aanklagte bevind word.

In Suid-Afrika is daar ook oor die eeue heen op­spraakwekkende gevalle van bloedverwante wat mekaar vermoor.

’n Onlangse geval is Henri van Breda (toe 20), wat op 21 Mei 2018 skuldig bevind is dat hy sy ouers, Martin (55) en Teresa (56), en broer, Rudi (22), op 27 Januarie 2015 in hul huis in die gegoede De Zalze-landgoed net buite Stellenbosch met ’n byl doodgekap het. Net sy suster, Marli (16), wat ook dodelike wonde opgedoen het, het die aanval wonderbaarlik oorleef, maar sy het geheueverlies opgedoen.

Don Steenkamp (toe 15) het sy ouers, Deon (44) en Christel Steenkamp (43), en suster, Marthella (14), op Goeie Vrydag 2012 op hul plaas naby Griekwastad vermoor, Marthella verkrag en regsverydeling gepleeg. Hy is effektiewe tronk­straf van 20 jaar opgelê.

Karl Greyvensteyn (toe 21) is in 2002 drie lewenslange vonnisse opgelê weens die skietdood in Julie 2000 van sy ouers, Otto (50) en Erika (48), en broer, Christo (22), in Lynnwood Glen, Gauteng.

Beeld berig in Augustus 2002 dat wyle prof. Irma Labuschagne, destydse forensiese kriminoloog, getuig het net Karl sal die volle waarheid weet van wat gebeur het.

“Daar was afgryslike emosies wat oor jare soos ’n drukkoker opgebou het. Iets binne die gesin moes hom baie kwaad gemaak het. Hy het soos die swartskaap gevoel, terwyl Christo die engel was. Die erfgeld kon net die sneller gewees het. Sy gebrek aan berou, sy leuens en manipulasie is duidelike tekens van antisosiale gedrag.”

In ander berigte word die getuienis van prof. Gérard Labuschagne, advokaat en kliniese sielkundige, ’n gewese brigadier in die Suid-Afrikaanse polisie se sielkundige ondersoekeenheid, aangehaal. Greyvensteyn word deur Labuschagne as narsisties en selfgesentreerd bestempel. Sy behoefte aan selfbevrediging, terwyl hy ook na die goedkeuring van ander smag, veroorsaak geweldige spanning en angstigheid by hom.

Hy het oppervlakkige verhoudings gehad en kon hom nie met ander mense vereenselwig nie. Een van sy persoonlikheidseienskappe was ’n gebrek aan empatie.

Volgens ’n maatskaplike werker het die ouers die twee broers teen mekaar afgespeel. Christo is altyd as die voorbeeldige een voorgehou. Dit het eindelose spanning tussen die broers geskep.

Nadat Greyvensteyn gevonnis is, was Chris Grey­vensteyn, Otto se broer, hartseer. Hy het aan joernaliste gesê hy haat nie sy broerskind nie, maar sal hom nie in die tronk besoek nie.

“Hy het ons familie verskriklik seergemaak. Ons sal die tragiese gebeure nooit vergeet nie. Ons wonder of die volle waarheid ooit sal uitkom. Ons vermoed die ware redes vir die moorde was hebsug. Karl het nie berou getoon nie. Ons het van meet af geweet hy is skuldig.”

Karl se tante Annelise Greyvensteyn het saamgestem.

“Ons dink hy is pateties. Hy wou niks van die familie weet sedert die moorde nie. Ons het briewe geskryf. Hy het nie eers geantwoord nie; nie eers op die nuus van sy oupa se dood nie.

“Ons is verlig dat die verhoor nou afgehandel is. Nou­­dat ons sommige antwoorde het, kan ons met ons le­­we voort­gaan.”

Mariette Basson, ’n vriendin van die vermoorde egpaar, het opgemerk dat Karl altyd bederf is.

“Sy ma het hom bederf omdat hy ’n probleemkind was. Ek dink die tragedie is ontketen die dag toe sy haar voet vir die eerste keer neergesit en met haar man saamgestem het.”

’n Vriend van Greyvensteyn, Jaco Retief, het getuig dat Greyvensteyn sy studies in rekenaartegnologie by Tukkies opgeskop en twee maande op Richardsbaai was voor hy na sy ouerhuis teruggekeer het.

Hy was weke voor die moorde by Greyvensteyn, wat baie stil was hoewel Greyvensteyn gesê het niks skort nie.

“Hy het baie keer gekla dat dinge nie lekker by die huis is nie en dat sy ouers hom nie verstaan nie. Hy het nie met sy broer oor die weg gekom nie,” het Retief gesê.

In sy uitspraak het regter Johan Els gesê dis ondenkbaar dat iemand sy ouers kan vermoor.

“Jy was ongelukkig dat jou pa nie meer geld vir jou wou gee nie, toe skiet jy hulle,” het hy bevind.

Die Greyvensteyn-moorde is met voorbedagte rade gepleeg. Daar was die opset om te moor.

In Oktober 2015 verskyn ’n koerantberig met ’n foto van vyf gevangenes wat pas hul grade met korrespondensiestudie behaal het. Heel regs op die foto staan ’n glimlaggende jong man in ’n toga.

Dis Karl Greyvensteyn (34). Hy het toe pas sy meestersgraad in inligtingstegnologie verwerf.

Volgens die woordvoerder van die departement van kor­rektiewe dienste het Greyvensteyn nie ’n matriekkwalifikasie gehad toe hy op 21 gevonnis is nie.

“Hy het hom egter voorgeneem om sy lewe te verander. Sy voorneme is om nuwe maatskappye met hul inligtingstegnologie-stelsels by te staan en later sy eie maatskappy te stig.”

Dieselfde man wat byna 14 jaar gelede weens die moord op sy vriend gevonnis is, het in Februarie 2018 in die hof verskyn in verband met die moord op sy vier familielede. Wesley Julyan (32) is daarvan beskuldig dat hy sy broer, Jeffrey (34), Jeffrey se skoonpa, Peter McKenna (73), en McKenna se kleinkinders, Ethan Julyan (9) en Kayla McKenna (16), vermoor het.

Al vier is op 19 Desember 2017 dood in ’n huisbrand in Mtwalume, ’n kusdorpie sowat 90 km suid van Durban. Maar hulle is vasgebind en verwurg voordat hulle in die brandende huis gelos is.

Volgens Sharon McKenna, Peter se dogter, het die vier gesinslede ’n yskas gaan aflaai by die huis van Wesley en Jeffrey se pa, Clive, toe die voorval gebeur het. Jeffrey was veronderstel om daardie middag sy vrou, Leanne Julyan (39), by die werk te gaan haal. Leanne is Peter se ander dogter.

“Toe hy nie opdaag nie, het sy geweet iets is fout. Sy foon, Kayla s’n en my pa s’n het óf nie gewerk nie óf dit is nie beantwoord nie,” het Sharon vroeër aan ’n joernalis gesê. Hulle het bekommerd geraak en hospitale begin bel om te hoor of hulle nie dalk daar is nie. Toe is hulle na die huis, maar dit was te laat.

Wesley het glo net rook ingeasem.

Hy is reeds in 2004 gevonnis weens die moord op Kenneth Gary van Aardt (51) van Amanzimtoti. Hy en ’n medebeskuldigde het hom die vorige jaar in Maart vermoor en sy motor geroof. Hy was toe 18 en in gr. 12.

Van Aardt het Wesley en die medebeskuldigde ’n saamrygeleentheid aangebied toe hul motor gaan staan het. Hy het vir hulle drinkgoed by ’n klub in Mtwalume gekoop. Hulle het hom daarna met ’n skoenveter verwurg. Sy lyk is gevind nie ver van waar die huisbrand was nie.

Wesley is tot 13 jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnis is in 2006 tot 20 jaar verhoog. Hy is skaars ses jaar later op parool vrygelaat, het Rapport berig.

Vier ander voorvalle waarin Elro Hunt, Angelique Orsö, Salomé Deyzel en Alta Pretorius hul ouers, sibbe of ’n pa of ma vermoor het, beskryf Chris Karsten in sy boek Bad Kids.

Elro Hunt (toe 16) se ouers, Ronnie (49) en Eliza (48), en ouer broer, Ronnie jr. (26), se lyke word op 16 September 2002 in hul huis op Reitz in die Vrystaat ontdek. Elro word vermis. Sy ander broer, Riaan, wat soos Ronnie in ’n ander stad woon, oorleef die aanval. Hy sou saam met Ronnie vir die naweek kom kuier het, maar iets het voorgeval.

Die egpaar was lankal bekommerd oor Hunt se partytjies oor naweke en sy drankmisbruik. Sy skoolpunte was nie goed nie. Ronnie jr. het sy broer die vorige Saterdagoggend hieroor berispe.

Hunt was woedend en het geloop om by vriende rugby te gaan kyk. Die groepie het bier en brandewyn gedrink.

Hunt het teruggeloop huis toe. Hy was onder die invloed van drank en het geweet ’n preek wag op hom. Sy pa wou gehad het hy moet die rugbywedstryd eerder saam met sy eie gesin kyk. ’n Rusie het gevolg. Sy pa het hom geklap.

Hunt het uitgestorm ...

Later daardie aand is hy terug na sy vriende se partytjie met sy pa se bakkie. Die Sondag het hy en sy vriende Bethlehem toe gery en ’n fliek gekyk, uitgeëet en bier gedrink.

Die Maandagoggend het Emily Mofokeng, hul huis­hulp, die voordeurklokkie gelui. Niemand het soos gewoonlik vir haar oopgemaak nie. Sy het om die huis geloop en ’n deur oop gevind. Sy het op die drie lyke afgekom.

Met hul aankoms op die toneel het die polisie Ronnie jr. se lyk in die TV-kamer en sy ouers se lyke in die gang gekry. Al drie is met ’n 6.35 mm-pistool in die kop geskiet. Die moordwapen was weg, die bakkie asook Ronnie sr. se selfoon.

So ook Hunt.

Toe Hunt daardie Maandag op die Tweeling-pad ná ’n jaagtog agter die stuur van sy pa se bakkie deur die polisie voorgekeer word, huil hy verdrietig. Hy word die volgende dag van die moorde op sy gesinslede aangekla.

Die gemeenskap is geskok. Hulle kan nie glo dat die teruggetrokke en goedgemanierde seun só iets kon doen nie.

Hunt het later in die rondgaande hof skuld beken op drie moordklagte en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Hy het verduidelik wat gebeur het: Sy pa het met hom baklei, en hom geklap. Dit was vernederend. Hy het uit die vertrek gestorm en sy ma se pistool gaan haal. Sy ouers het uit die TV-kamer gekom om met hom te praat toe hy die sneller trek. Sy broer het opgespring. Hunt het hom ook geskiet. Ronnie jr. was nie dadelik dood nie. Hy het ’n tweede skoot afgevuur.

Nou kon niemand meer met hom oor sy vriende, sy drankgebruik en partytjies baklei nie. Hy was vry. Hy het met die bakkie na sy vriende gery, maar later teruggekeer om geld en sy pa se selfoon te vat, wat hy later vir brandstofgeld verkoop het. Hy het die Sondagnag ná die Bethlehem-uitstappie in die bakkie geslaap.

Hy het steeds die vuurwapens en koeëls by hom gehad. Hy het die Maandag Bloemfontein toe gery en selfdood oorweeg, maar het teruggedraai. Op die radio het hy gehoor die polisie soek na hom, en die bakkie se een nommerplaat afgehaal. Toe hy agterkom die polisie agtervolg hom, het hy die pistool by die venster uitgegooi.

Volgens prof. Dap Louw, gewese hoof van die siel­­kunde­departement van die Universiteit van die Vrystaat was Hunt se lae akademiese IK die grondslag vir swak besluit­neming en insig. ’n Onder­ontwikkelde graad van volwassenheid het ook tot die dade bygedra. Die alko­hol­gebruik het beslis sy waarneming- en oordeelsver­moë benadeel. Louw was krities oor alkoholgebruik on­der kinders.

Hunt is 60 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan hy 20 jaar moet uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kan kom.

Angelique Orsö (toe 16) en haar kêrel, Lawrence van Blerk (18), vermoor haar ma, Dawn Orsö (38), in 1992 in ’n voorstad van Kaapstad.

Hulle begrawe haar liggaam in ’n blombedding waar Dawn se kêrel, Henry McCreadie, dit later ontdek nadat hy vreemde dinge in die huis en in Angelique se optrede opgemerk het. Angelique en haar ma het vroeër vele rusies oor haar kleredrag, skoolwerk en seksuele gedrag gehad. Dawn was van Angelique se pa geskei en het haar dogter alleen grootgemaak.

Die twee tieners het Dawn op haar bed met ’n pan en staalpyp oorval. Angelique het haar ma oor en oor met die pan oor die kop geslaan en met ’n kussing versmoor.

Die bloed het oral gespat.

Lawrence het op Dawn se bolyf gesit en haar met die pyp gewurg. Die twee het later weerskante op die pyp op Dawn se keel gespring. Toe sny Angelique haar ma se polse met ’n mes, waarna hulle haar in die bad wil verdrink, net om seker te maak sy is dood.

Angelique, wat voor die voorval net swart klere en swart grimering gedra het, het later in die hof aangevoer sy is ’n heks wat deurmekaar was met die okkulte en satanisme. Iets bonatuurliks het in haar op die dag van die moorde ingevaar.

In die hof het haar oom getuig Angelique se pa het haar ma fisiek mishandel. Een van Dawn se kêrels het Angelique glo ook seksueel mishandel.

Prof. Tuviah Zabow, toe hoof van forensiese psigiatrie by die Valkenberg-hospitaal in Kaapstad, kon nie enige geestesiektes by die beskuldigdes diagnoseer nie. Angelique was baie intelligent en volwasse vir haar ouderdom.

Die staat het aangevoer Angelique het haar ma vermoor uit haat en woede wat oor jare opgebou het. Lawrence is oorval deur woede wat spruit uit sy eie gevoelens van verwerping deur sy ouers.

Regter Deneys Williamson het die staat se weergawe aanvaar, en die verweer van satanisme en demone verwerp. Angelique is tot 11 jaar en Lawrence tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Nie een van Salomé Deyzel se ouers, Solly en Amelia, wou haar hê toe hulle geskei is nie. Die kind het tussen haar ouers en familie geswerf. Toe sy ’n tiener was, het sy by haar pa begin woon.

Dit was toe dat Neeltjie Reese (39), Solly se vriendin en dié se twee seuns, Chrisjan en Dewald, by hulle in Proclamation Hill in Pretoria intrek.

Solly (45) was nie ’n toegewyde of sorgsame pa nie. Inteendeel. En hy en Neeltjie was lief vir die bottel.

Solly het Salomé uit die skool gehaal, want iemand moes die huis skoonmaak. Haar pa het haar ook gedwing om ’n karwag te word, waar hy ook sy dogter aan mans vir seks kon verkoop. En as ander mans sy dogter kon misbruik, hoekom nie hy ook nie?

Maar Salomé het ’n nuwe vriend ontmoet, wat Solly nie voor sy oë kon verdra nie. Pa en dogter het vele argumente oor die vriend gehad.

Op 15 September 2000 breek ’n brand in hul huis uit. Salomé, Krisjan en Dewald vlug en bure vind hulle gillend buite die huis.

Die brandweer kom af op Neeltjie in die slaapkamer. Sy lewe nog, maar sou later aan haar brandwonde beswyk. Solly was dood op die bed.

En die kamer was van buite gesluit ...

Salomé bieg blykbaar dat sy die brand gestig het, maar die saak word laat vaar omdat die bekentenis sonder die nodige wetlike voorskrifte gemaak is. Neeltjie se laaste woorde oor wie die skuldige was, was ook nie voldoende bewys nie.

Maar in 2002 word Salomé weer aangekla. Sy beken skuld en getuig dat sy haar lyf vir haar pa vir drankgeld moes verkoop. Haar pa het haar gemolesteer en haar ma wou haar ook nie altyd versorg nie.

Daardie aand het alles te veel geword. Solly en Neeltjie het weer te veel gedrink en beneweld aan die slaap geraak. Salomé het brandstof oor hulle uitgegooi en die kamer aan die brand gesteek.

Die landdros het versagtende omstandighede in ag geneem en haar tien jaar gevangenisstraf opgelê. Nog voor sy gevonnis is, het Salomé se ma, Amelia, omgedraai en by die hofsaal uitgeloop.

“Waar is my ma?” het Salomé geroep.

Alta Pretorius (16) van Hercules in Pretoria-Wes was ’n mooi tienermeisie.

Haar ma, Santa (47), was haar rots nadat haar pa vier jaar tevore dood is. Alta het egter haar ma vir haar pa se selfdood blameer.

Maar toe, in 2001, ontmoet Alta vir Jaco Steyn (17) en raak halsoorkop verlief. Albei het uit disfunksionele gesinne gekom. Santa het voorheen ’n dogter, Natasha, gehad, maar die kind is weens Santa se drankmisbruik en huishoudelike probleme in pleegsorg geplaas.

Alta het in soortgelyke omstandighede grootgeword, maar het steeds akademies goed presteer en was ’n prefek, al het sy en haar ma baie rondgetrek.

Santa, ’n verpleegster, het hard gewerk en goed vir haar dogter probeer sorg. Totdat sy uitgevind het Alta gebruik dagga. Vele rusies het ontstaan.

Die dwelmmisbruik het onder Jaco se invloed erger geraak. Hulle het selfs saam weggeloop. Nadat hulle opgespoor is, het hulle tot rehabilitasie ingestem. Alta en Santa se verhouding het verbeter. Totdat Jaco uit rehabilitasie gekom en sy verhouding met Alta hervat het.

Op 7 Julie het Santa gesien die twee is weer bedwelm, en besef hulle gebruik heroïen. Santa het gesê Jaco mag net naweke na hul woonstel kom. Dit was die vet op die vuur. Hulle het baklei, maar Alta het haar ma om verskoning gevra.

Santa het voor die TV aan die slaap geraak. Jaco het gesê hulle moet haar doodmaak.

Alta het ’n mes gaan haal en Jaco het Santa begin steek. Sy het vir haar lewe gepleit. Alta het nog ’n mes gaan kry en ook begin steek. Toe verwurg hulle haar met ’n skoenveter.

Die uitgeputte tieners het koffie gemaak, dagga gerook en vars lug gaan skep. Hulle het teruggekom, seks gehad en die woonstel probeer skoonmaak. Hulle het gaan slaap.

Die volgende oggend het hulle gebad. Santa se lyk was steeds in die sitkamer.

Hulle is na Jaco se ma se huis om messe en ’n saag te gaan haal. Jaco was egter te moeg om die lyk op te saag. Hulle het die lyk en bloedkolle met ’n duvet en komberse toegemaak sodat niemand dit deur die venster kon sien nie. Die Saterdagaand is hulle uit om dwelms te gebruik.

Natasha, wat intussen met haar ma herenig is, en Santa se suster het die Maandag na haar begin soek toe sy nie vir werk opgedaag het nie. Hulle wou haar as vermis aanmeld, maar die polisie het gesê hulle moet langer wag.

Die twee jong verliefdes het na die woonstel terug­gekeer, kos gemaak en seks gehad.

Alta het oor die telefoon aan Natasha gesê Santa is die Sondag daar weg met ’n man in ’n rooi motor. Toe die opsigter egter die twee se verdagte optrede sien, het hy Santa se familie gebel.

Donderdag, toe die polisie die woonstel oopmaak, was die chaos en stank oorweldigend. Dit was duidelik dat mense daar geleef het ten spyte van die lyk in die sitkamer. Die polisie het die twee jeugdiges ná ’n mislukte kaping en ontsnappingspoging aangekeer.

’n Psigiatriese verslag wat in die verhoor voorgelê is, het getoon Alta het narsistiese neigings en dat sy manipulerend en impulsief is. Volgens haar het haar ma nooit vir haar omgegee nie. Haar ma het gedreig dat sy haar soos Natasha sal weggee as sy haar nie gedra nie.

Jaco het ook ’n gespanne verhouding met sy ma gehad, maar hy het sy pa verafgod, die pa wat meestal afwesig in sy grootwordjare was. Sy ouers het nooit in hom belanggestel nie, nie eers as hy op die sportveld was nie, het hy aangevoer. Hy is uit verskeie skole geskors en het aan dwelms verslaaf geraak. Niemand het ingegryp nie.

Die twee tieners het by mekaar, deur seks en dwelms troos probeer vind.

Jaco het volgens die psigiater antisosiale gedragsteurings getoon. Volgens Jaco het Santa te veel druk op hulle gesit.

Waarnemende regter Lizette Meyer het albei 20 jaar gevangenisstraf opgelê. Volgens die regter was dwelms die hoofoorsaak van die moord.

In Februarie 2016 word ’n seun (toe 16) vir die moord op sy ouma (76) in Georgina in Gauteng tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Die seun, wat luidens ’n berig in Rapport op sy Facebook-profiel na ’n normale, vriendelike en oopgesigkind lyk, het een dag in Desember 2014 in sy ouerhuis in Roodepoort by sy ouma se kamer ingegaan en haar herhaaldelik met messe in die bors en maag gesteek.

Hy sê in sy verklaring hy was op soek na dokumente en is oorval deur woede toe hy dit nie kon kry nie. Hy het glo kort tevore na heavy metal-musiek geluister en die woorde “vermoor jou ma, vermoor jou pa” gehoor. Hy het glo ook met die okkulte geëksperimenteer.

Ná sy inhegtenisname het hy in sy ouers se arms geval en verklaar hoe jammer hy is.

Hebsug is ook ’n rede vir familiemoord. Rob Marsh skryf in sy boek Famous South African Crimes oor twee sulke gevalle.

Pierre Basson, moontlik een van die land se eerste reeksmoordenaars, is in 1903 daarvan verdink dat hy sy broer Jasper se verdrinking in Gordonsbaai georkestreer het om versekeringsgeld van £3 500 te eis, wat in daardie tyd ’n aansienlike bedrag was. Basson is na sy selfdood aan ander moorde skuldig bevind.

Petrus Hauptfleisch, wat sy ma, Barbara, op 13 Januarie 1925 naby Richmond in die Noord-Kaap vermoor het, is ook deur hebsug gedryf. Hy is weens sy drankmisbruik geskei en het by sy ma ingetrek. Sy ma het drankwinkels gevra om nie alkohol aan hom te verkoop nie.

Hy is skuldig bevind dat hy sy ma versmoor het om haar boedel van £600 te erf. Hy het voorgegee sy het doodgebrand nadat sy die skoorsteen met brandstof wou skoonmaak.

Voor hy ter dood veroordeel is, was hy verontwaardig dat hy van so ’n gruwelike en hartelose daad – om sy ma te vermoor – verdink kon word.

Hy is gehang.

Dan is daar ouers wat hul kinders vermoor, en ook huweliksmaats wat mekaar vermoor.

Die moord op ’n huweliksmaat is weliswaar nie moord deur ’n bloedverwant nie (waarop dié boek konsentreer). Maar huweliksmaats se rol kan ’n baie belangrike rol speel om kindermoord te motiveer.

Soos byvoorbeeld Marius van der Westhuizen, ’n po­lisieman, en Fanie du Preez, twee pa’s wat hul eie kinders doodgeskiet het. Van der Westhuizen wou sy vrou straf deur hul kinders dood te maak, en Du Preez het sy vrou saam met sy kinders vermoor.

Van der Westhuizen (toe 44) het sy biologiese kinders, Bianca (13), Marius jr. (5), en Antoinette (21 maande) op 28 Julie 2006 voor sy vrou, Charlotte, in hul beddens in hul huis in Kuilsrivier, Kaapstad, doodgeskiet. Hy is 14 jaar tronkstraf vir elke moord opgelê.

Du Preez (toe 40) het sy kinders en ook sy vrou vermoor. Hy is skuldig bevind dat hy in die vroeë oggendure van 3 Desember 2015 eers sy vrou, Thea (43), en daarna sy twee kinders, Carlia (17) en Phillip (14), in hul huis in Vanderbijlpark doodgeskiet het. Hy is drie lewenslange vonnisse vir die gesinsmoord, tien jaar vir poging tot regsverydeling, sewe jaar vir die onwettige besit van die vuurwapens waarmee hy sy gesin uitgewis het en twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie opgelê.

Prof. Jack Levin, ’n kenner van die Northeastern Universiteit in Boston, Massachusetts, sê die aanleidende faktore hoe­kom ouers hul kinders vermoor, is gesinsverbrokkeling, manlike seksuele jaloesie en ’n behoefte daaraan om in beheer te wees, ’n obsessiewe besitlikheid.

Aan The Guardian het hy gesê die komplekse oorsake kan nooit heeltemal verklaar word nie. Wat sal ’n man of vrou daartoe dryf om sy of haar kinders wreedaardig te vermoor? Vrae word gestel of dit uit haat of wanhoop, wraak of besitlike liefde gepleeg word, en hoe dit voorkom kan word.

Die onderwerp is breedvoerig in Amerika nagevors, waar daar sowat tien moord-selfdood gevalle per week is.

Die profiel van ’n gesinsmoordenaar: Dat hy ’n middeljarige man is wat goed vir sy gesin sorg. Die een wat agterna deur die bure as ’n toegewyde en liefdevolle pa beskryf word. Levin meen die man is eintlik afgesonder. Hy is so toegewy aan die gesin dat hy eintlik min ware vriende of ’n ondersteuningsnetwerk buite die gesin het.

Hy ly lank aan frustrasies en gevoelens van min­derwaardigheid, wat deur ’n kataklismiese verlies soos sy werk of inkomste, of selfs vriendskap, ontbloot word. Hy haat nie sy vrou of kinders nie, maar gee sy vrou die skuld vir sy miserabele lewe. Hy ondervind ’n oorweldigende gevoel van magteloosheid. Hy wil wraak neem en sy motief is dikwels vergelding.

Navorsing in Amerika dui daarop dat min van dié mans vorige veroordelings het. Tog was daar voorheen voorvalle van huishoudelike geweld. Luidens ’n verslag, “Twenty-nine Child Homicides” wat in Brittanje deur Women’s Aid opgestel is, is bevind huishoudelike geweld het voorgekom in 11 van die 13 voorvalle wat bestudeer is. In die twee oorblywende gevalle het die vrou van haar man se obsessiewe besitlikheid getuig.

“Vir die buitewêreld kom dit voor of die dade on­voorspelbaar was. Die oortreders het nie vorige veroordelings of misdadige gedrag getoon nie. Daar was ook nie drank- of dwelmmisbruik nie,” sê Levin.

Sou sielkundiges die mans vooraf ondersoek het, sou die waarskuwingsligte geflikker het. Die sielkundiges sou hul reaksie herken het wanneer dinge nie na hul wense verloop nie – die onredelike woede en geneigdheid om ander daarvoor te blameer. Die mans sien hul vrouens en kinders as hul besittings.

In die meeste gevalle misluk die mans se selfdood­pogings, en hulle voer amper altyd aan dat hulle aan die een of ander geestesiekte ly.

Levin verwerp dit.

“Die moorde is teregstellings. Dit word nooit spontaan gepleeg nie. Dit is weldeurdag en selektief. Dit word nie in die hitte van die oomblik of in spontane woede gepleeg nie.”

Dit word metodies uitgevoer. Hy vermoor sy kinders uit vergelding teenoor sy vrou. Hy haat haar. Die moordenaar voel hy het beheer verloor, en die uitwissing van sy kinders of gesin is ’n manier om beheer terug te verkry.

Dit is juis so skrikwekkend omdat dié metodies selektiewe moorde deur ’n andersins liefdevolle pa gepleeg word.

Hoewel moord deur ’n bekende of geliefde algemener voorkom, kry dit nie soveel mediadekking soos moord deur ’n vreemdeling nie. Indien die pa daarna selfdood pleeg, is daar nie ’n hofsaak wat die media se aandag trek nie.

Levin sê ook mense is traag om té veel oor die afskuwelike moorde te dink. Dit laat mense kwesbaar voel, meen hy.

Wanneer die meeste mense oor misdaad nadink, dink hulle dit gebeur eerder op straat, gepleeg deur vreemdelinge. Niemand dink moord sal in hul eie huise, hul veilige hawe, deur ’n geliefde gepleeg word nie.

Daar was die skokkende marteldood van die driejarige Poppie van der Merwe en die marteling van ’n vyfjarige seun wat vir ’n tydperk van agt maande deur Poppie se ma en stiefpa aangerand is.

Poppie is op 25 Oktober 2016 naby Brits dood nadat haar kop in die toilet gedruk is, dit gespoel is en sy haar kop gestamp het.

Regter Bert Bam het in sy skuldigbevinding aan die moord op Poppie en twee aanklagte van kindermishandeling geen twyfel gehad dat Louisa en Kobus Koekemoer moes voorsien het dat hul optrede tot Poppie se dood kon lei nie.

Die regter het ook kritiek op maatskaplike dienste gehad wat nie ingegryp het toe hulle bewus geword het van tekens van mishandeling nie. Poppie en die seun is toegelaat om saam met haar ma en stiefpa van Orania na Brits te trek voordat iemand kon ingryp om haar lewe te red.

“Ten spyte van verskeie rapporterings van aanranding en mishandeling op die kinders sedert die begin van 2016, het niks gebeur nie. Ek is verbaas dat dokters, onderwysers, dominees, maatskaplike werkers vir onbekende redes gefaal het om stappe te doen om die kinders te beskerm en nou net die blaam na mekaar verskuif.”

In die hof is getuig oor beserings wat oor ’n tydperk van agt maande waargeneem is terwyl die Koekemoers op Orania gewoon het.

“Sedert Februarie 2016 is die kinders fisiek en verbaal mishandel onder die dekmantel van dissipline. In April 2016 het ’n dokter opgemerk dat Poppie se gedrag verander het en dat sy beserings het.

“In dié tyd het die buurman gesien hoe die driejarige meisie eendag hink en haar arm vashou. Hy het snags gehoor hoe die kinders huil en skree.

“In Junie, in die wintermaand, het hy gesien hoe Kobus die kinders met ’n tuinslang natspuit en op hulle in kru taal skree. Die kinders is toe so vir ongeveer 20 minute buite gelos.

“In Julie/Augustus is Poppie se been gebreek. In Augustus het die kleuter nog beserings gehad.

“Die nadoodse ondersoek het getoon dat die aan­randings ongelooflik toegeneem het nadat die beskuldigdes Orania met die kinders verlaat het,” het die regter bevind.

Regter Bam het bevind Kobus se weergawe dat hy die kinders net gedissiplineer het as hulle byvoorbeeld nie hul kos wou eet nie “onrealisties” is en “’n swak poging om sy optrede te regverdig”.

Oor Poppie se ma, Louisa, het hy gesê haar emosionele uitbarsting en trane tydens haar getuienis het nie beïndruk nie. Haar weergawe dat sy niks gedoen het nie omdat sy Kobus gevrees het, val weg nadat die staat uitgewys het hoeveel geleenthede daar vir haar was om stappe te doen teen haar man of die kinders na ’n veilige plek te neem.

Op 24 Mei 2018 is die Koekemoer-egpaar in die hooggeregshof in Pretoria elk tot lewenslange tronk­straf ge­vonnis, asook ’n verdere tien jaar weens kin­der­mis­handeling.

Op haar negejarige dogter se begrafnis het hierdie ma hartverskeurend gehuil en later selfs vanweë emosie by die lykswa ineengestort, berig Netwerk24 oor Soniya Koeke­moer (toe 34).

Koekemoer het later bewend en handewringend in die streekhof op Vanderbijlpark gesit op aanklag dat sy haar dogter Michelle op 9 Junie 2016 met ’n tou verwurg het.

Soniya het aanvanklik aan die polisie gesê ’n inbreker het deur ’n venster van hul woonstel geklim en haar dogtertjie verwurg. Sy het die oggend self ook met ’n tou om die nek wakker geword.

Sy het later skuld beken en is 18 jaar tronkstraf opgelê.

Die hof het gehoor Koekemoer het sedert haar kinderdae met depressie gewroeg en het al 27 keer probeer om haar eie lewe te neem.

Francois de Kock, haar regsverteenwoordiger, het gesê die hof behoort in ag te neem dat Koekemoer aan bipolêre steuring ly en dat dié geestestoestand tot “impulsiewe optrede” kon lei, wat haar genoop het om haar dogtertjie te verwurg. De Kock het verwys na ’n proefbeampteverslag wat aangedui het dat sy moedeloos was en “geen toekoms vir haar en haar kind kon sien nie”.

Koekemoer het in 2017 in die tronk weer haar lewe probeer neem deur haar keel en polse met ’n skalpel te sny.

In sy boek Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade beskryf Chris Karsten die verwaarlosing en mishandeling van Flippie Venter aan die hande van sy alkoholverslaafde pa, ’n rondreisende boorman, wat sy kinders in ’n woonwa grootgemaak het.

Flippie en sy sibbe is weens verwaarlosing ’n ruk van hul ouers weggeneem, maar is later terugbesorg. Flippie het gedurig na sy pa se goedkeuring gesmag, maar dié het hom verstoot.

Later jare, in 2004, is hy, toe sers. Flippie Venter (32), na Burundi gestuur as deel van ’n beskermingsmag van die Suid-Afrikaanse weermag. Hier het hy ’n militêre aandklokreël verontagsaam en Therese Nkeshimana, ’n 14-jarige prostituut, vermoor. Hy is ook van verkragting, aanranding en regsverydeling aangekla.

Die verhoor het etlike jare geduur. Intussen het Flippie in die Hoedspruit-weermagbasis in Limpopo by sy vrou, Millie, en hul kinders Janco (4) en Millize (5) gewoon. Die spanning van die verhoor, drankmisbruik en sy vermoedens dat sy vrou ontrou is, folter hom. Op die aand van 26 April 2006 rig hy die R4-aanvalsgeweer met die ammunisie wat hy onregmatig ná ’n skietkompetisie gehou het, op sy vrou en kinders en trek die sneller. Die kinders sterf, en sy vrou word ernstig gewond.

In ’n sielkundige verslag is bevind Flippie se probleme kan na sy kinderjare teruggevoer word. Hy is lank aan aanranding en drankmisbruik blootgestel, en het later tekens van depressie getoon.

Hy word daaraan skuldig bevind dat hy sy kinders doodgeskiet en sy vrou probeer doodmaak het, die onwettige besit van ’n militêre vuurwapen en ammunisie en dat hy vantevore ’n huiswerker aangerand het.

Hy pak die skuld op die weermag en die media. Sy ligte vonnis van effektiewe gevangenisstraf van tien jaar het openbare verontwaardiging uitgelok. Hy word later in ’n militêre hof eenparig skuldig bevind op drie van vyf aanklagte en tot 24 jaar gevangenisstraf weens die moord op Nkeshimana gevonnis.

Chris Karsten beskryf Boetie Boer, die berugte en gevreesde reeksmoordenaar, se terreurveldtog in Port Elizabeth in sy boek Boos en Bisar.

Boetie, nog ’n baba en sy sussie, ’n peuter, is in 1966 verskrik, ondervoed en vuil in ’n telefoonhokkie ontdek. Hul ma en pa het hulle verwerp.

In pleegsorg is Boetie met sigarette op sy geslagsdele gebrand, geslaan, gedwing om saam met honde te eet en te sien hoe die pleegpa bestialiteit met die honde pleeg. Boetie Boer, soos hy homself noem, beland by ander pleegouers wat hom Stewart Wilken doop. Ná die pleegpa se dood raak hy onbeheerbaar en aggressief. Hy word in ’n nywerheidskool geplaas waar ander seuns hom molesteer.

Op 19 ontmoet hy Lynn en word pa van ’n dogter, Wuané.

Boetie word ’n geweldenaar. Hy slaan sy vrou, rook dagga en dwing Lynn tot obsene seks. Lynn los hom en ontmoet Michael Loots, by wie sy gaan woon.

Die demone uit sy verlede en mense wat hom in die steek gelaat het, ry Boetie Boer. Hy sodomiseer en vermoor jong seuns en vroue. Sy gedrag raak al hoe meer bisar. Hy vermoor nog ’n vrou, sny haar tepels af en eet dit.

Sy dogter, Wuané (11), verdwyn saam met hom op 29 September 1995 in Port Elizabeth. Haar lyk word op 22 Mei 1996 onder ’n seil ontdek.

Toe Boetie later aangekeer word, voer hy aan hy kon dit nie meer verduur dat sy dogter deur haar ma en stiefpa verwaarloos word nie. Sy het honger gely. Hy het sy dogter verwurg nadat hy besef het sy is verkrag.

Hy het haar doodgemaak om haar “te red en haar siel na God te stuur”. Hy het daagliks na haar liggaam teruggekeer om met haar te praat. Hy het haar gevra om hom te vergewe en verduidelik hoekom hy haar siel aan God gegee het.

“Die kind kon nie so ’n lewe soos ek deurgaan nie,” het hy aangevoer.

Boetie is deur deskundiges as ’n psigopaat en seksuele sadis gediagnoseer. Op 23 Februarie 1998 is hy op sewe aanklagte van moord tot sewe keer lewenslank gevonnis, sowat 175 jaar.

Ouers kan hul kinders uit vrees vir hul eie lewens doodmaak.

Vir 13 jaar het Sedick Abrahams en sy vrou, Myrtle, in hul huis in Tafelsig in die Kaap in vrees geleef vir hul dwelmverslaafde seun, Clinton (28).

Totdat Clinton op 31 Januarie 2018 in ’n struweling deur sy pa doodgesteek is.

Die egpaar vertel aan Rapport hoe hulle al hul besittings vir hul tikverslaafde seun moes wegsteek. Hy sou hul yskas, kombuistoerusting, breekware, eetgerei en potte vir dwelmgeld verkoop. Enigiets waarop hy sy hande kon lê.

Hy het sy gesinslede gereeld aangerand. Die ketel of potte is weggesteek sodat hy hulle nie met kokende water kon gooi nie.

Sedick, wat van moord aangekla is, het by een van sy eerste hofverskynings buite die hof vertel wat gebeur het, hoe hulle moes saamleef met die wete dat hulle die stryd teen Clinton se verslawing verloor het. Hulle het hul seun aan dwelms afgestaan.

Hy was eens die onskuldige seuntjie wat so kordaat en oulik in ’n geraamde portret in hul sitkamer pryk. Die seun wat op Kersdag gebore is.

“My huis is nou rustiger. Daar is liefde, en vrede, maar bloed bly dikker as water. Ek mis hom so,” het Sedick gesê.

Clinton het behandeling en rehabilitasie geweier. Hy het gereelde woedeuitbarstings gehad. Op die noodlottige dag was daar ’n rusie oor ’n bord kos. ’n Worsteling het tussen pa en seun ontstaan. Clinton het Sedick met ’n mes gedreig. In die beknopte kombuis het Sedick instinktief ’n kombuismes gegryp. Sedick sê Clinton het in die mes ingehardloop en ’n noodlottige steekwond in die bors opgedoen.

Hy het buitentoe gestrompel waar sy ma hom gekry het. Hy het later die dag in die hospitaal beswyk.

(Met die skryf hiervan was die saak nog nie afgehandel nie.)

Sedick Abrahams se verhaal herinner sterk aan die opspraakwekkende verhaal van Ellen Pakkies, wat haar dwelmverslaafde seun in 2007 verwurg het. Haar verhaal is in ’n verhoogstuk My naam/My name is Ellen Pakkies verwerk en deur Lizz Meiring vervaardig. Die regisseur Daryne Joshua en skrywer Amy Jephta het dit ook in ’n rolprent omskep, Ellen: The Ellen Pakkies Story, wat in 2018 bekendgestel is.

Ellen en haar man, Odniel, en hul drie seuns het in Dover Court in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte gewoon. Ellen het ’n moeilike kinderlewe gehad en is in haar vorige huwelik mishandel.

Haar jongste seun, Abie (Adam), het die gesin se lewe vergal. Hy was sedert hy 14 was aan kristal-metamfetamien, algemeen bekend as tik, verslaaf. Nes Sedick se seun het hy omtrent alles wat sy gesin besit het, gesteel en vir dwelmgeld verkoop. Ellen het hom al weens sy gewelddadige gedrag (’n algemene newe-effek van tik) ’n hele paar keer uit die huis geskop.

Die bure het hom as ’n dwelmmonster beskryf.

Hy het die huis se gordyne aan die brand gesteek en die huismense met messe teen die keel gedreig. Ellen het al ses keer klagtes van diefstal teen hom ingedien en het hom later die huis verbied.

Sy het vir hom ’n “hokkie” buite die huis geskep waar hy kon skuil. Daar was ’n bed en tafel. Sy het hom jammer gekry en steeds kos gegee, maar deur tralies by die agterdeur.

Op 12 September 2007 het sy weer ’n toebroodjie gemaak en hom in die huis toegelaat, net om te besef hy het weer gesteel. Sy het hom uitgejaag. Hy het later teruggekom en vir geld gevra. Later het sy hom bedwelm in die hokkie, waar ’n ondraaglike reuk gehang het, aangetref.

Sy het vir hom tee gemaak en dit by hom gaan neersit. In sy kamer, wat leeg was weens sy stelery, het sy ’n tou opgetel. Kalm daarna gekyk. Sy het nie geweet wat sy gedink het nie. Abie se tee was reeds koud. Sy het die tou geknoop en om sy nek geplaas. Hy het gevra wat sy doen.

Ellen het deurentyd kalm gebly. Sy wou hom net in toom hou en met hom praat oor sy gedrag. Maar hy het haar soos gewoonlik vieslik gevloek. Sy het dit gehaat wanneer hy so vloek. Sy het gevra hoekom hy nie waardeer wat sy alles vir hom doen nie. Sy wou hom tog help. Hy het haar geïgnoreer.

“Hoekom luister jy nie?” het sy weer gevra.

“Ek sal, ma,” het hy geantwoord. Maar Ellen het dit al te veel keer vantevore gehoor. Hy het haar vertroue vertrap. Sy het besluit sy het genoeg gehad en die tou stywer getrek. Sy het so styf getrek dat die tou haar hande gesny en dit begin bloei het.

Sy was nie kwaad nie, net kalm.

Abie het begin styfskop en na haar gegryp. Twintig, dertig sekondes later was hy stil. Leweloos.

Sy het hom daar gelos en haar verpleeg-uniform vir werk aangetrek. Die dag het gebreek.

Buite het almal normaal met hul daaglikse roetine voortgegaan. Maar sy het pas haar seun verwurg ...

Ellen is skuldig bevind aan moord en gevonnis tot drie jaar tronkstraf, wat vir drie jaar opgeskort is, en 280 uur gemeenskapsdiens.

In 2009 het Ellen oor haar wroeging en die ver­hoor gepraat.

“Ek het gevoel God se wil geskied toe ek as ’n vry mens uit die hof stap. Ek probeer nou net deur elke dag kom. My man en ander twee kinders probeer ook nog alles verwerk. Ons het die ander aand baie teruggedink aan die tyd toe Abie klein was. Maar my gesin het gesien hoe Abie met my aangegaan het. Dié ding gaan altyd saam met my wees, waar ek ook al gaan.

“Ek wéét dis ’n onnatuurlike ding vir ’n ma om aan haar kind te doen. Ek het nou nog nie regtig daaroor gekom nie. Dis net God se genade wat my deur elke dag trek. Ek wou net mooi dinge vir al my kinders gehad het en ek het almal ewe veel liefgehad.

“As klein seuntjie was Abie altyd naby aan my. Hy het stil met sy karretjies gespeel. Hy het omgegee vir my. As ek siek gevoel het, het hy by die huis gebly en vir my gesorg. ‘Mammie, kan ek vir jou tee maak?’ sou hy dikwels vra. Of hy sou vir ons pap en broodjies maak.

“Later, in sy grootwordjare, het hy baie vriende gehad. Hy was ’n liefdevolle kind. Toe ontdek hy tik op 14.

“Ek weet wat ek gedoen het is ’n groot misdaad, maar tik het my seun se persoonlikheid verander. Dis nie ’n mooi prentjie nie. Tik het hom in ’n monster verander. Dit was nie meer die mens wat ek gebaar of grootgemaak het nie.

“Hy het ons soms met ’n mes aangeval. Hy het selfs my onderklere gesteel. Soms was ek te bang om na die badkamer buite die huis te gaan as hy naby was, omdat hy so aggressief was. Ek wil dit nie eens onthou nie. Dis te seer.

“Toe ek onlangs by Abie se graf in Plumstead was, het ek gehuil. Dit was verwaarloos. Daar was nie eens ’n kruis op nie.

“Die oomblik nadat ek hom verwurg het, het ek God om vergifnis gevra. Ek het myself dieselfde dag aan die polisie oorgegee. Ek was baie alleen in dié stryd, maar ma’s moet weet hulle kan hulp kry by maatskaplike werkers, by die howe, by ander ma’s.

“Dis jammer dat só iets eers moes gebeur voor ek ander kon help. Dit het vir mý gevoel die wêreld sak onder my in. Tik is nie net ’n ma se seer nie, maar skeur die hele gesin uitmekaar. Tog glo ek God het ’n plan. Kyk net na Sy hand: My prokureur het gratis vir my opgetree, die psigiater het gratis berading gedoen, vriende en onbekendes het vir my gebid. Miskien is dit Sy plan dat ek nou ander moet help.”

Venolia Siwa (35) van Pampierstad in die Noord-Kaap het in 2012 haar vyf kinders gif ingegee, hulle verdrink en gesteek terwyl sy met haar sesde kind swanger was. Haar selfdoodpoging was onsuksesvol.

Depressie, armoede en haar oudste seun se gestremdheid het te veel geword.

Nog ’n gesinsmoord wat in 1998 opspraak verwek het, was die geval van dr. Manuela Costa, ’n Johannesburgse geneesheer, wat haar vier seuns, tussen sewe en elf jaar oud, eers kalmeermiddels ingegee het, en toe hul spoghuis in Sandton aan die brand gesteek het. Twee van die seuns het in die brand gesterf. Dit was waarskynlik wat dr. Costa laat knak het: Haar gewese man se selfdood.

Haar man, José Gil, het hom in 1996 vergas nadat hy weens bedrogklagte verbied is om as psigiater te prak­ti­seer. Kort daarna is borskanker by haar gediagnoseer. Die behandeling het gelei tot groot onbetaalde mediese rekeninge. Daar is bevind dat sy nie toerekeningsvatbaar was ten tyde van die voorval nie. Sy is ná drie jaar van terapie met haar oorlewende seuns herenig.

Drie Amerikaanse voorbeelde.

In 1994 het Susan Smith (destyds 24) in Amerika haar twee seuntjies in haar motor vasgegordel en toe die motor in ’n dam ingestoot. Sy het op TV verskyn en voorgegee hulle was die slagoffers van ’n motorkaping. Sy het gepleit dat die kapers haar kinders terugbesorg.

Ná haar bekentenis het die hof bevind daar was ’n paar redes vir die moorde. Haar nuwe kêrel het nie vir die kinders kans gesien nie, narsisme het ’n rol gespeel en sy wou wraak op haar gewese man neem.

Smith se beheptheid met hoe sy op televisie lyk en hoe dit met haar kêrel gaan, eerder as om te rou oor haar “vermiste” kinders, het polisie snuf in die neus laat kry.

Andrea Yates (36) van Houston het al vyf haar kinders – tussen ses maande en sewe jaar oud – op 20 Junie 2001 in die gesin se bad verdrink.

Marybeth Tinning was 43 toe sy ná die dood van haar negende kind in Duanesburg, New York, gearresteer is. Sy het skuld beken op drie moorde, maar is net aan een skuldig bevind. Tog dui alles daarop dat sy verantwoordelik was vir agt van haar kinders se dood.

Baie kenners glo Marybeth het die aandag en simpatie ná elke baba se dood so geniet dat sy dit weer en weer wou ervaar.

In ’n artikel in Rooi Rose sê Nellie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Alberton aan die Oos-Rand, ma’s maak selde hul kinders dood om suiwer aggressiewe gevoelens.

“Die meeste vroue wat gesinsmoord pleeg, lei aan depressie of postpartum- of postnatale depressie (ná ’n baba se geboorte). Hulle voel moedeloos en beleef die wêreld as ’n harde, ongenaakbare plek, en voel dat dit ’n liefdesdaad is om die kinders uit hierdie ellende en swaarkry te verlos.”

Sulke ma’s, meen Prinsloo, het gewoonlik nie goeie ondersteuningstelsels nie en sien die dood as die enigste uitweg, des te meer as daar mishandeling ter sprake is (van die ma of die kinders).

Prinsloo sê die gemeenskap het oor die algemeen meer simpatie met vroue wat gesinsmoord pleeg as met mans.

“Ek dink dis onregverdig, want mans kan ook aan depressie ly en nét so hulpeloos en magteloos voel omdat hy voel hy kan nie sy vrou en kinders beskerm en versorg nie.”

Prinsloo sê vroue verkies metodes soos om die kinders te versmoor, te verdrink of ’n oordosis pille te gee.

Die forensiese sielkundige Philip Resnick word ook in die artikel aangehaal. Hy sê daar is gewoonlik vyf soorte omstandighede waarin ma’s (of pa’s) hul eie kinders sal doodmaak:

•“Altruïsme”. In so ’n geval wil ’n ouer nie verder leef nie, en dink die kinders sal beter daaraan toe wees as hulle ook sterf, eerder as om deur iemand anders grootgemaak te word.

•Psigose. Baie kindermoorde word gepleeg deur ’n ouer wat ’n sielkundige probleem het, van depressie tot psigotiese toestande waarin die persoon stemme hoor wat sê die kinders moet sterf. Werklike psigose is baie skaars. Depressie, veral postnatale depressie, is meer dikwels die oorsaak.

•Mishandeling. Deur ’n baba herhaaldelik te skud, die kind teen ’n muur te gooi, te slaan of te brand, kan die kind se dood veroorsaak. Verwaarlosing kan hierby ingesluit word, en postnatale depressie kan weer eens ’n rol speel.

•Ongewenste kinders. In baie kulture – ook in Suid-Afrika – is dit steeds ’n skande om ’n baba buite die huwelik te hê, en die ma sal enigiets doen om van die kind ontslae te raak.

•Weerwraak. Kinders word dikwels vermoor omdat die een ouer op die ander een wil wraak neem ná iets soos ’n egskeiding of ’n affair.

Een van die bekendste geskiedkundige Suid-Afrikaanse gevalle van kindermoord is Daisy de Melker in die vroeë 1930’s in Johannesburg. Sy is ook weens die dood van haar eerste twee mans, William Alfred Cowle, en Robert Sproat, aangekla.

Die motief vir die moord op haar seun was nie duidelik nie, hoewel daar gissings was dat dit vir geld (’n polisuitbetaling) gepleeg is.

Nuuskieriges het reeds op die vooraand van die laaste dag van haar verhoor voor die hofgebou saamgedrom om ’n plek in die hofsaal te kry. Sitplekke het glo 30 sjielings gekos.

Daisy en William Cowle het vyf kinders gehad. Die tweeling is as babas dood, die derde kind weens ’n lewer-abses, die vierde weens epileptiese aanvalle en buikprobleme. Net Rhodes Cecil Cowle het as kind oorleef, maar sy lewe is op 20 jaar kortgeknip.

Enkele dae tevore het Daisy van Germiston na ’n apteek in Turffontein gegaan om arseen onder haar vorige man se van, Sproat, vir haar “siek kat” te koop. Minder as ’n week later, op 5 Maart 1932, word haar seun siek nadat hy koffie uit die fles gedrink het wat sy ma vir hom saamgegee het werk toe. Sy kollega, wat ook ’n mondjievol gedrink het, word ook siek, maar oorleef. Aanvanklik is gedink Rhodes is aan malaria dood.

Die hof bevind Rhodes Cowle is weens arseenvergiftiging dood, die arseen in die fles koffie wat net Daisy daarin kon skink, en dat hy nie selfdood gepleeg het nie.

Hoewel sy ook weens die moord op haar twee mans aangekla is, is sy net aan die moord op haar enigste seun skuldig bevind.

Daisy het nooit skuld beken nie, maar is gehang.

Bloed, dunner as water

Подняться наверх