Читать книгу Bloed, dunner as water - Charné Kemp - Страница 9

Ouers wat moor

Оглавление

Wanneer ouers so ver gaan as om hul kinders vermoor, is dit vir mense ondenkbaar.

Alles het dan so normaal voorgekom. Die pa het met duiwe geboer, hy was vriendelik en was altyd by die straatbraai. Hy het gereeld kerk toe gegaan en was ook ’n lid van die buurtwag. Niemand het ooit gedink hy sal ’n vlieg skade aandoen nie, sê prof. Christiaan Bezuidenhout.

Maar toe verloor die man sy werk. Sy finansiële beleggings verloor hul waarde. Hy dobbel alles wat oor is uit. Hy raak desperaat.

Die betrokke persoon se denke verander van deduktief na induktief, van die breë perspektief na die spesifieke. Daar is nie meer hoop nie. Hy is lief vir sy vrou en kinders, maar glo dit sal beter wees as almal saam na die hiernamaals gaan. Dit is ’n beter plek vir almal. Hy rasionaliseer dit en maak die ondenkbare daad van gesinsmoord “sagter” en regverdigbaar. Hy pleeg dan ’n sogenaamde uitgebreide selfdood, want sy vrou en kinders is deel van hom, sy besittings.

In die meeste gevalle weet sy gesin nie wat hy beplan of wat in sy kop aangaan nie. Hulle het geen inset of keuse nie.

In nog ’n soort gesinsmoord wat bekend staan as moord-selfdood, of ekspressiewe gesinsmoord, stap die pa by die huis in en vind sy vrou met die buurman in die bed. Hy reageer impulsief en tree oombliklik op. Hy loop na die kombuis en kry die broodmes en steek hulle herhaaldelik met die mes.

In dié ekspressiewe moord is die man só blind van woede dat hy deur rooi lense na alles om hom kyk. Hy maak almal voor hom dood – sy vrou, die buurman, dié se vrou en haar ouma en die kinders. Hy gaan van plek tot plek om almal dood te maak. Hy is so kwaad dat hy nie kan afkoel nie. Hy probeer homself ook doodmaak.

As hy self oorleef en hof toe gaan, kan hy nie onthou wat gebeur het nie.

“Ek kan nie onthou nie, toe ek weer sien, is ek rooi van die bloed,” sal die oortreder aanvoer. Hy sal dan in die verhoor moet bewys hy het onmiddellik en impulsief opgetree, sonder beplanning en sonder opset. As hy egter omgedraai het en kombuis of motorhuis toe geloop het om ’n wapen te gaan haal, en nie onmiddellik sy pistool uitgepluk en geskiet het nie, kan die hof redeneer hy het tyd gehad om af te koel en te dink wat hy doen.

Dit is die sogenaamde afkoelperiode wat in die Suid-Afrikaanse regstelsel beskryf word en dikwels op opset dui. Die tydsverloop tussen die emosionele insident (toe hy sy vrou en buurman in die bed kry) en die moorddaad is hier van belang.

Bloed, dunner as water

Подняться наверх