Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 10

Оглавление

6

Drie uur per dag, dis al private tyd wat Ella haarself gun. Wel, nie eintlik per dág nie, want dis al skemer wanneer sy saans op Alberts Farm gaan draf, en dis nog donker wanneer sy soggens opstaan vir gim saam met Stallie. Maar dis die enigste tyd wat sy vir haar private plesiertjies kan inruim. En die Vader weet, in háár lewe is bitter min plesiertjies, privaat of andersins.

Soggens teen daglig het sy klaar geoefen en is sy reeds op kantoor, of klop aan huise se deure op soek na leidrade in ’n moordsaak. Saans sesuur ry sy huis toe, trek haar drafskoene aan, die ou Nikes al uitgetrap, die swart spandexbroek en T-hemp. Die son is al onder wanneer sy stort, in ou jeans iets eet en een aand per week ry vir haar harples by Suki Wolski.

As sy nie die aand les het nie, oefen sy in haar sitkamer op die tweedehandse hefboomharp wat Suki vir haar geleen het. Die ou Troubadour, 36 snare, dikker as ’n folkharp s’n, as sy later wil vorder tot die orkestrale pedaalharp, sê Suki.

En sy móét elke aand oefen, sê Suki, g’n verskoning nie. Soos Harpo Marx, wat sy harp – darem die kleiner folkharp – selfs badkamer toe gevat het, op die toilet “I Got Rhythm” gespeel het.

“Was Harpo hardlywig?” het Ella gevra. “Hoe lank kan mens op die toilet sit en harp speel?”

“Wel, dis hoekom hy so ’n goeie harpspeler was – hy’t elke minuut van sy vrye tyd geoefen. Sy musiek het uit sy hart en siel gekom, nie uit sy vingers nie.”

“Moenie van my verwag om ‘Bolero’ op die toilet te speel nie,” was Ella se antwoord.

Sy het die geleende Troubadour in die sitkamer voor die TV staangemaak, die badkamer ieder geval te beknop, wasgoed die hele plek vol. Hoe gróót was Harpo se badkamer?

’n Uur vir draf, ’n uur vir gim, ’n uur vir die harp, dis haar vrye tyd. Sy het net agter die Troubadour ingeskuif, die TV op die nuus gestel, haar hande klaar weerskante op die snare, pinkies in die lug, toe haar sel lui. Suki het gesê: “Jy kan maar jou pinkies laat amputeer, jy’t hulle nie nodig vir die harp nie. As jy ’n pinkie op ’n snaar probeer kry, verwring dit jou hele hand. Vergeet van jou pinkies, hou hulle uit die pad uit.”

Ella wil die luitoon ignoreer, R. Kelly se “I Believe I Can Fly”. Dan sien sy die naam van die beller en raap dit op.

“Naand, kolonel.”

Die baas word nie geïgnoreer nie, hy raak kriewelrig as sy oproep ná twee luie nog nie beantwoord is nie, dag of nag.

“Wat doen jy, is jy besig? Oukei, terwyl jy sit en niksdoen, bel vir sersant Mfundisi, uniformtak in Kensington. Kan iets wees, kan niks wees nie, maar bel hom.”

“Kensington? Dis buite ons jurisdiksie, kolonel. Is dit nie vir die Oos-Rand se moord-en-roof nie?”

“Dis nie ’n moord nie.” ’n Kort pouse, net ’n maatslag, dan sê hy, stem soos ’n rasper oor die foon: “Wel, nie ’n mens nie, lyk na ’n kat wat geslag is.”

“’n Kat!”

“In ’n hotel.”

“Wat van die DBV, kolonel? Is katte nie hulle . . . jurisdiksie nie?”

Sy wonder of dit ’n misdaad is om ’n kat te slag. Wel as die kat mishandel is, maar selfs dan sekerlik nie ’n saak vir moord-en-roof nie.

“In die bedkas in die hotelkamer is ’n jembottel gekry. Nie jem in die bottel nie, wel formalien met ’n vel . . . onthaar en gelooi. Die forensiese laboratorium het dit geïdentifiseer, laat vanmiddag vir sersant Mfundisi laat weet dis Felis catus.”

“Die vel van ’n vermiste kat? So, is ’n misdaad gepleeg?”

“Sersant Mfundisi bel my en sê hy’s bietjie verward, onseker of dit ’n misdaad is om ’n kat af te slag en sy vel te looi. Die toneel in die hotelkamer is steeds afgesper, maar die hotelbaas druk hom. Sê as geen misdaad gepleeg is nie, wil hy sy kamer terughê, hy verloor geld terwyl die polisie sloer.”

“Hoekom meld die sersant dan nie die vermeende moord op ’n kat by die Oos-Rand aan nie?”

Die kolonel ignoreer haar vraag.

“Sersant Mfundisi sê nadat hy vanmiddag die forensiese uitslag gekry het, het hy gaan sit en diep gedink. Hy onthou toe van ’n geval wat óns ondersoek het, noem selfs die ondersoekbeampte se naam, adjudant-offisier Ella Neser, van die reeksmoorde waarby gelooide velle ter sprake was. Sê hy dog hy deel net sy suspisie met my. Bel hom, hier’s sy nommer. Het jy ’n pen daar?”

“Ek kry een.”

Sy skryf, groet, sit die foon neer.

Gelooide velle. Sy voel die pootjies van ’n duisendpoot agter aan haar nekvel, loer na die TV-skerm, sien niks raak nie. Haar palms voel oor die snare, pluk die eerste akkoorde van die Beatles se “Here Comes The Sun”. Sy laat vaar die poging, sit net daar met die harp tussen haar bene, vrywend oor die harde eelte aan die kussings van haar snaarvingers.

Dan sug sy sag. “Demmit.”

Sy tel weer die sel op en bel die nommer wat Silas gegee het.

Die hotelbaas lyk verras toe hy vir haar oopmaak.

“Jy’s vroeg, adjudant, skaars sewe-uur,” sê Rabie Saadi. “Gewoonlik wag ek ure vir die polisie.”

“Sersant Mfundisi nog nie hier nie?”

Sy verwonder haar aan die jong man se pommade, sy swart hare glad en olierig agteroor, glimmend onder die dowwe ligte. Die stank van mout en stof en sweet en ou kos van die vorige nag se brassery hang soos ’n misbank in die verlate kroeg.

Hy skud sy kop. “Koffie? Terwyl ons wéér op Sy Eksellensie moet wag.”

“Swart, sonder suiker. Jou gas, die een wat verdink word dat hy die kat in sy bad geslag het, wat is sy naam? Die sersant het gesê, maar ek kon hom nie mooi verstaan nie, vreemde naam.”

“Fomalhaut. Dis hoe hy dit self in die register geskryf het. Netjiese handskrif.”

“Ek soek ’n beskrywing vir ’n identikit.”

“Ek dog die saak is afgehandel? Geen misdaad is gepleeg nie.”

“Daar’s ’n verwikkeling,” sê sy. “Die kamer bly steeds afgeseël. Het hy ’n voornaam gegee?”

Rabie bring die register, slaan dit op die kroegtoonbank oop, blaai ses weke terug, druk sy voorvinger onder ’n naam. “Dis sy voorletter. Lyk soos ’n b, hoekom ’n kleinletter b?”

Sy kyk na die naam by Rabie se vuil nael: Fomalhaut b.

“En hoekom sy voorletter agter sy naam skryf?” dink sy hardop, verwag nie regtig ’n antwoord nie.

“Hoekom is jý ontbied, adjudant, van moord-en-roof? Dis net ’n kat.”

“Dis vertroulike inligting, Rabie, ’n lopende ondersoek. Wat van daardie koffie?”

Hy beduie haar na die naaste sitplek, haal sy selfoon uit om twee koffies te bestel.

“Terwyl ons vir sersant Mfundisi sit en wag, vertel my alles,” sê sy. “Begin van voor af. Begin by die aand toe jou gas, meneer Fomalhaut, hier aangekom het. Hoe het hy gelyk? Kort van postuur, dikkerig om die heupe en dye, soos ’n peer?”

Sy oë skuif op na haar gesig. Sy vermoed hy het haar eers getakseer, besluit onder haar T-hemp is nie veel om oor opgewonde te raak nie. Rabie se inslaapgaste is natuurlik aansienlik beter toebedeel, al swaaiend saans aan die twee blink pale.

“Hoe’t jy geweet, ek bedoel van die dik heupe?” vra hy.

“Plat neus, gebrek aan ’n ken?”

“Nee, skerp neus, skeef. En groot ken.”

“Skerp neus? Groot ken?”

Dis nie soos sy Abel onthou nie. En sy het hom goed bestudeer, daardie aand in sy kombuis toe hulle gesels en hy vir haar koffie gemaak het. Sy het sy gesig selfs later vir ’n identikit beskryf, nadat sy uit sy huis gered is terwyl hy besig was om ’n stuk van haar maagvel uit te sny. Die gesig is op haar geestesoog geëts, sal dit nooit vergeet nie, droom snags van daardie gesig, met die skalpel in die hand.

En voor daardie byna noodlottige nag het sy hom twee keer gaan besoek in sy galery, omring deur sy Afrikamaskers en etniese artefakte. Die yl haartjies, die bleek oë, die plat neus, die gebrek aan ’n ken, die hangwange.

“Is jy seker, Rabie, oor die neus en ken?”

“Ja, wil jy sien?”

“Ek dog die CCTV-kamera se lens was toegespuit?”

“Nie die een by ontvangs nie.”

Sy vat die register saam, agter by Rabie se heiligdom in. Hy gaan sit by die rekenaar, sy vingers soos klein palings oor die toetsbord, totdat die eerste swart-en-wit beelde op die skerm verskyn, flikkerend en greinerig. Rabie het belê in die goedkoopste geslotekringtelevisie (GKTV) -stelsel op die mark, vermoed sy.

Sy kan die kort postuur uitmaak, maar miljoene mans het so ’n liggaamsbou. Hy het ’n hoed op, sy rug na die kamera, ’n slaprandhoed wat die boonste gedeelte van sy gesig in diep skadu hul toe hy, klaar met die register, buk om sy twee stukke bagasie op te tel, sy gesig in profiel na die kamera gedraai.

“Stop,” sê sy. Ja, Rabie is reg: skerp neus, die groot ken byna karikatuuragtig. “Het hy ’n sonbril op?”

“Ja, daardie tyd van die aand,” sê Rabie. “Gesê hy’t ook ’n oogbesering opgedoen in die treinongeluk. Ek kon die swelling sien.”

Sy vou weer die register oop: halfnege die aand ingeboek, drie dae ná die traumatiese gebeure in Poppe & Son se begrafnissaak.

“En dis al beelde wat jy het?”

“Hy’t nooit weer by ontvangs gekom nie, die brandtrap gebruik. Dis die eerste en laaste keer dat ek met hom gesels het. Hom ’n paar keer skrams opgemerk, gesien hy kweek ’n baard. Is dit die man wat jy soek?”

Sy skud haar kop. “Nee, lyk nie soos hy nie. Waar bly sersant Mfundisi? Dis al ná agt, hy sou sewe-uur hier wees?”

“Mos gesê,” sê Rabie. “Sy Eksellensie vat sy tyd.”

“Gaan wys my die kamer. Ek kan nie langer wag nie.”

“Dis verseël, die sersant sê niemand behalwe die polisie gaan daar in nie. My met die tronk gedreig as iemand die seël breek.”

“Ek’s van die polisie, Rabie, hy sal my nie opsluit nie. Bring die sleutel.”

Terwyl sy die lint voor die deur verwyder, sê Rabie agter haar: “Hier kom hy nou.”

Sy wag hom in, die sersant ook dik van heup, nog dikker van boud en buik, groter borste as sy, skof soos dié van ’n os, sy tred heen en weer soos die gewaggel van ’n vet gans.

“Niks uit die kamer verwyder nie?” vra sy.

“Net die bottel met die vel,” sê sersant Mfundisi.

Sy dink aan die velle en pelse wat in die kasarm in Doradopark gekry is, saam met die gebalsemde liggaam van die ou vrou, Abel Lotz se ma, met daardie vreemde masker oor haar gesig. Die gelooide huide van katte en molle en hase en dassies, nog klam aan die spanrame agtergelaat in sy ylingse vlug voor die polisie uit.

“Forensies is nie laat kom nie?” vra Ella vir die sersant. “Jy’t die bottel met die vel self laboratorium toe gevat?”

“Kan nie forensies se tyd mors met ’n dooie kat nie, adjudant. As jy dink dis nie jou katslagter nie, kan ons die toneel oopstel en kan Rabie sy kamer terugkry. Ek sien niks verdags nie. Ek dog, net om seker te maak, ek laat weet kolonel Sauls van die katvel, ingeval dit verband hou met julle ondersoek.”

Sy maak ’n kasdeur oop. “Eers as forensies die kamer kom ondersoek, leidrade oor die Nagsluiper kry . . . Dis ál hoe ons sal weet, of hoe, sersant?”

“Ons’t alles deursoek, ek en konstabel Xala, die hele kamer en die badkamer, die minikombuis met die tweeplaatstoof en potte en panne en goed. Daar in die hoek lê alles wat ons gekry het, net ’n spul koerante en ’n paar tydskrifte, dis al. En die vel. Is dit genoeg rede om forensies te laat kom?”

Sy kyk na die stapel agter die deur. “Hy’t niks persoonliks vergeet of agtergelaat nie, kam of tandeborsel, so iets?”

“Net die leesstof, ywerige koerantleser.”

Sy buk by die stapel ou koerante, lig een ná die ander op, verplaas elkeen na ’n nuwe hoop. Tussen die koerante enkele tydskrifte: South African Sky Guide. Sky & Telescope Magazine. Deep-Sky Observations.

Agter aan haar nek weer die koue duisendpootkriewels teen haar rugstring af. “Verskoon my,” sê sy en haal haar sel uit.

Sy stap gang toe en soek die nommer van doktor Verhoef van die Hartebeeshoek-observatorium vir radio-astronomie. Dis die sterrekundige wat Abel se teleskoop ondersoek het, wat onthul het dat die teleskoop in sy huis in Doradopark ingestel was op die koördinate van die rooi ster Betelgeuse.

“Ja?”

Doktor Verhoef se stem is kortaf, klink gejaagd. Áltyd gejaagd, dink sy, asof die sterre wat hy bestudeer enige oomblik kan verdwyn. Asof hy Betelgeuse se skouspelagtige inploffing nie wil misloop nie.

“Ella Neser hier,” sê sy terwyl sy kop agteroor kyk na die swart verf aan die GKTV-kamera se lens.

“A, adjudant Neser! Steeds met die sterre gepla?”

Sy is verbaas dat hy haar onthou, die vriendeliker stemtoon.

“Helaas, ja.”

“Steeds Betelgeuse?”

“Jy onthou goed, doktor.”

“Ek kry selde besoek van die gereg, adjudant. As ’n mooi speurder van moord-en-roof in my kantoor kom sit, onthou ek dit.”

Sy laat die opmerking verbygaan. “Nee, dié slag nie Betelgeuse nie. Of miskien wel, ek weet nie.”

“Waarmee kan ek help?”

“Weet nie hoe spreek mens dit uit nie, sal dit spel: F-O-M-A-L-H-A-U-T en dan ’n klein b. Ken jy so iets, doktor, het dit iets met die sterre te doen, soos Betelgeuse?”

“Fomalhaut?” Hy spreek dit uit as foam-a-lot. “Jy bedoel die ster?”

“’n Ster?” Sy aarsel, sê dan: “Kan ek jou kom sien, doktor, as jy tyd het vir ’n kort gesprek?”

“Vir sterre het ek altyd tyd.”

“Ek’s op pad.”

Sy stap weer die kamer binne. Nou gaan sy haar stem dik maak, het al geleer in hierdie manswêreld trap hulle op jou as jy nie knaters het nie.

“Rabie, jy kan maar gaan. Ek sal jou op die hoogte hou.”

“Maar my kamer . . .”

“Dankie, Rabie!” Sy draai na hom en hy skarrel uit.

Vir die sersant sê sy: “Goeie werk, sersant, om kolonel Sauls te bel en die kamer te verseël. Die bottel met die vel, is dit gestof vir vingerafdrukke voor dit lab toe is?”

“Uhm . . . nee, maar konstabel Xala het handskoene aangehad.”

Dis ’n verligting. In die laboratorium sou hulle die bottel ook met handskoene hanteer het.

“Dit kan belangrik wees, vingerafdrukke aan daardie bottel. Laat konstabel Xala dit by vingerafdrukke kry. Ek sal forensies en misdaadtoneelbestuur laat kom vir hierdie kamer.”

“Wat gaan aan, adjudant? Jy’t iets gekry, nè?”

“Net ’n vermoede, sersant. Hierdie kamer moet deurgegaan word, elke sentimeter, elke haar in die bad, elke haar op sy bed, elke geknipte vinger- en toonnael moet gesoek word. Elke vingerafdruk, elke vlek van menslike en dierlike vloeistof moet ontleed word, ook die inhoud van die afvoerpype van die stort en bad en wasbak. Dankie vir jou hulp, sersant, ons sal nou die toneel oorvat.”

“Wat van my? Dis my saak.”

“Mitzi die kat is jou saak, nie die Nagsluiper van Alberts Farm nie. In daardie saak is ék die ondersoekbeampte. Maar ek sal jou hulp waardeer. As jy en konstabel Xala kan begin met die ondervraging van die . . . die inwoners van die Sleep Inn. Ons plaas die plek as’t ware in kwarantyn, sersant. Niemand kom in, niemand gaan uit voor ons al die gaste ondervra het nie. Die personeel ook, veral die skoonmakers.”

“En jy wil weet?”

“Elkeen wat iets te doen gehad het met meneer Fomalhaut, hom selfs net vlugtig in ’n gang gesien het. As hy met iemand gesels het, wil ek weet wat hy gesê het. As iemand hom buite sien spoeg het, wil ek die spoeg hê.” Sy dink ’n oomblik. “Ek stel veral belang of hy die vroue oor tatoes uitgevra het.”

Die sersant fluit deur sy tande. “Rabie gaan nie daarvan hou nie, sy hotel in kwarantyn.”

“Met alle respek, sersant, Rabie se moer. Hy ken nie die man wat ek soek nie, ook nie jy nie.”

Sy lei die sersant aan sy dik elmboog by die kamer uit, haar vingers reeds weer op haar selfoon se toetse om kaptein Jimmy Julies van forensies te bel. Sê sel teen die oor vir die sersant: “Die vingerafdrukke op die jembottel, as jy nie omgee nie?”

Dis doktor Verhoef wat Ella op die spoor gesit het van die astronomiese betekenis van die velle wat Abel van vroue versamel. Hy het haar gehelp om die simboliek te ontrafel van die getatoeëerde pou wat uit Mia Vermooten se blad gekerf is, en die haas van Emma Adams se boesem. Pavo en Lepus, albei konstellasies.

Sy weet ook van Abel se besondere belangstelling in hemelliggame. Dit verklaar haar eie noue ontkoming, toe hy begin het om háár tatoe te vil, die versteekte een aan haar maagvel, die verskietende ster oor die operasieletsel waar haar blindederm uitgehaal is. Dit was eerder ’n praktiese as ’n estetiese ding, daardie tatoe. Dit moes ’n lelike letsel verdoesel, g’n sommer net ’n modegier van liggaamsversiering nie. As sy ’n bikini aantrek, is dit ’n verskietende ster uit haar broekie wat die oog vang, nie ’n litteken nie.

Nou dra sy nie meer ’n bikini nie, nie nadat Abel met haar maag klaar is nie. By die dood omgedraai, eers op sy slagtersbed, toe van die infeksie van sy ongesteriliseerde instrumente.

In sy kantoor sê doktor Verhoef: “Betelgeuse, soos ek jou laas vertel het, is ’n ou ster. Tien biljoen jaar oud, aan die einde van sy lewe, ’n rooi superreus in die konstellasie Orion. En adjudant, moenie alles glo wat jy op die internet lees nie. As hulle sê Betelgeuse is aan die einde van sy lewe, beteken dit hy kan nog miljoene jare leef. In die sterre is alles relatief. Nou hierdie een, Fomalhaut, hy’s ’n jongeling. Omtrent twee honderd miljoen jaar oud, net vyf en twintig ligjare van die aarde af, die helderste ster in die konstellasie Piscis Austrinus.”

“En die b?”

“Fomalhaut b is in 2008 as buiteplaneet ontdek in ’n wentelbaan om sy son-ster, Fomalhaut, soos óns planete om ons eie son wentel. Is dit wat jy wou weet, adjudant? Het jy skielik ’n belangstelling in die sterre ontwikkel, ’n amateursterrekundige geword ná ons laaste ontmoeting?”

“Nie juis nie.” Sy huiwer. “Wat beteken die b?”

“Dis tegnies, hoeveel tyd het jy?”

“Toe maar, dis nie so belangrik nie. Ek’t net ’n vermoede gehad . . . Fomalhaut is vreemd vir my, maar nie vir iemand met kennis van die astronomie nie. Abel Lotz is ’n onvoorspelbare, gekompliseerde karakter. As hy agter ’n skuilnaam wou wegkruip, sou hy nie sommer net ’n naam uit die lug gryp nie.”

“Wel, klaarblyklik hét hy iets uit die lug gegryp, vyf en twintig ligjare ver in die buitenste ruim. Maar iets pla jou steeds.”

“Baie goed pla my. Wat dóén hy met die velle? Baie reeksmoordenaars versamel aandenkings aan hulle slagoffers, dis algemeen bekend. Juweliersware, kledingstukke, of iets meer persoonlik soos haarlokke. Jeffrey Dahmer het selfs skedels bewaar. ’n Stuk vel kan ek nog verstaan, maar hoekom spesifiek getatoeëerde velle met ’n astronomiese strekking? En hoekom so groot? Die forensiese patoloog het die mates van Mia Vermooten en Emma Adams se wonde bepaal, albei was identies, asof uitgemeet met ’n maatband: 154 by 230 millimeter. Ook myne kon gemeet word, ten minste die area wat hy besig was om uit te sny, afgemerk met die pers lyne van ’n kokipen: 154 by 230 millimeter. Abel was deeglik en presies met wat hy doen.”

Doktor Verhoef tik op die toetsbord van die rekenaar, loer na die skerm en sê: “Standaardpapiergrootte vir A5 is 148 by 210 millimeter.”

“Dis soos ons dit ook uitgewerk het: Abel wou min of meer ’n A5-grootte hê, vermoedelik ná krimping in die looi- en droogproses. Dokter Koster skat die grootte van ’n goedkoop slapbandboek.”

“Slapbandboek? En destyds in sy huis, daar waar die teleskoop gekry is . . . het julle enige dokumentasie gekry, aantekeninge oor konstellasies of sterre?”

“Nee, niks nie.”

“Dis vreemd. Selfs amateursterrekundiges hou boek van wat hulle waarneem, teken dit aan, ook met sketse. Hy’s ’n amateur met gevorderde kennis. Dalk is sy waarnemings elektronies op ’n skootrekenaar wat hy kan saamdra.”

Doktor Verhoef staar swygend by haar verby. Hy haal sy bril af, knyp met duim en voorvinger hoog oor die brug van sy neus, byna tussen sy oë, en sê: “Wag . . .”

Hy draai terug na sy rekenaar, brom “hmmm . . .” en “uhmmm . . .” terwyl hy soek.

“Hier’s dit. Camille Flammarion. Franse astronoom, in 1887 eerste president van die Société Astronomique de France. Hy het ook eerste die name Triton en Amalthea vir die mane van Neptunus en Jupiter voorgestel. ’n Krater op ons maan is na hom vernoem, én ’n krater op Mars, én die asteroïed 1021 Flammario. Hy’t gewilde boeke oor die wetenskap geskryf, en nog gewilder wetenskapfiksieverhale.”

“Ja?” Sy wonder wat doktor Verhoef se punt is.

“Flammarion het ook ’n spesiale boek in oktavo-formaat gehad.”

Dit klink nie vir haar juis aardskuddend nie. “Hy was ’n skrywer, sy boeke is seker almal destyds in oktavo-formaat gebind.”

“Ja, meer as vyftig titels. Maar één van sy skryfsels interesseer my, en dis nie sy 1907-hipotese in The New York Times oor intelligente Marsbewoners nie. Dis sy boek Terres du Ciel wat my boei – eerder die baadjie as dit wat binne-in die baadjie is.”

“Die baadjie?”

“Die omslag waarin dit gebind is. Die storie is dat ’n jong gravin op hom verlief was, maar dat sy sterwend was aan tuberkulose. Toe laat sy ’n stuk vel van haar skouer in ’n operasie verwyder en stuur dit aan Flammarion met die versoek dat hy dit as omslag laat bind vir sy volgende boek.”

Sy staar roerloos na doktor Verhoef.

“En as jy dink dís fiksie, luister hier wat sê Flammarion self daaroor, in sy eie woorde in ’n brief aan ’n Engelse vriend: ‘The binding was successfully executed by Engel, and from then on the skin was inalterable. I remember I had to carry this relic to a tanner in the Rue de la Reine-Blanche, and three months were necessary for the job. Such an idea is assuredly bizarre. However, in point of fact, this fragment of a beautiful body is all that survives of it today, and it can endure for centuries in a perfect state of respectful preservation. The desire of the unknown woman was to have my last book published at the time of her death bound in this skin: the octavo edition of Les Terres du Ciel published by Didier enjoys this honor.’ ”

“En dis ’n boek oor die astronomie?”

“Oor die planete in ons sonnestelsel.”

Ella leun vorentoe. “Is dít waarmee Abel se siek gees besig is? Hy versamel omslae vir sterrekundige geskrifte, miskien vir sy eie waarnemings?”

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх