Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 5

Оглавление

1

Oor sy skouer sê Rabie Saadi vir die twee polisiemanne: “Julle vat julle tyd, nè? Kan ’n moord wees, al die bloed en hare, en julle kom nou eers.”

Hy sluit die laaste kamerdeur in die gang langs die brandtrap oop en staan opsy. “Wat help dit mens bel, doen jou plig as wetsgehoorsame burger, en dit vat vier ure voor die polisie opdaag? Ek’t ’n besigheid hier, kan nie heeldag sit en wag nie, tyd’s geld.”

“Jy’s nie al wat bel nie.” Die sersant skuur met sy groot maag teen Rabie verby tot in die kamer. “Wat stink so? Die plek ruik vrot. Stink al jou kamers so?”

“Dis wat ek bedoel,” sê Rabie. “Ons kon die kamer al skoongemaak het, as ons nie die hele dag vir polisie moes sit en wag nie.” Hy beduie met ’n wuif van sy hand na die stofsuier en mop en slopemmer in die gang langs die trollie met die lappe en borsels en bottels Ajax en Vim en Mister Clean. Skoon lakens en handdoeke lê opgevou op die onderste rak van die trollie. “Kyk na die plek, lyk of ’n vark hier geslag is.”

“Dog jy sê moord? Ek sien g’n kadawer nie,” sê die tweede polisieman, ’n konstabel.

Die sersant wys na die mat. “Is dit ou bloed, daardie vlekke?”

Rabie kyk na die sersant. “Wat? Ek’s ’n hotelbaas, nie ’n bloedkenner nie.”

“Die mat sal jy nie weer skoonkry nie. Laat kom maar die tapytmense vir ’n nuwe een.”

Die konstabel druk ’n venster oop vir vars lug.

“Die badkamer lyk erger,” sê Rabie.

Die sersant loer by die badkamer in. “Hy hét iets hier geslag, sommer in die bad. En nie ’n vark nie, nie met sulke lang hare nie.”

Rabie staan nader, beduie na die gekoek van ou bloed en hare in die bad, die taai spatsels en vlekke teen die teëls op die mure en vloer. “Die uitloop is verstop, ek sal ’n loodgieter ook moet laat kom.”

“Eers nadat forensies klaar is.” Die sersant klik sy tong, suig aan sy tande, kyk om na Rabie. “En jy’t dit eers vanoggend ontdek?”

“Nie ek nie, Evangeline. Het kom klop, en toe niemand antwoord nie, sluit sy oop en kry dié gemors.”

“Die skoonmaker?” vra die sersant, vryf oor sy groot maag.

“Huishoudster,” sê Rabie.

“Maar dis ou bloed, lankal gestol. Kom maak Evangeline nie elke dag skoon nie? Watse vlooines bedryf jy hier? As die gesondheidsinspekteurs kom kyk, sluit hulle jou deure.”

“Wat bedoel jy vlooines? Dis ’n ordentlike plek, dis net hierdie kamer wat so lyk. Residensiële hotel, dis wat dit is.”

“Dis ’n bordeel, man! Almal ken die Sleep Inn. Wie bly in die kamers, hè? Die minister van polisie, speaker van die parlement, voorsitter van Anglo American? Dis hoere wat hier bly, Rabie. En strippers. Swaai saans aan daardie blink pale in jou kroeg.”

“O, jy was al hier?”

“Is dit hoe dit werk, hulle huur die kamers by jou, maand tot maand, en jy steek kommissie in jou sak vir hulle besigheid? Kontant, belastingvry?”

“Eksotiese dansers,” sê Rabie. “Dis hoe hulle genoem word.”

“Hoeveel kamers het jy?”

“Vier en twintig.”

“Almal beset?”

“Nee. Ek hou ’n paar oop vir instapgaste.”

“Soos hierdie een. Was hy ’n instapgas? Hoe lank het hy hier gebly?”

“Maand en ’n half.”

“En toe sommer net weggeloop.”

“Vooruit betaal vir twee maande.”

“Skuld jou nie huurgeld nie?”

“Nee, behalwe vir ’n nuwe mat, en ’n loodgieter vir die bad se uitloop.”

“Maar hy’t ’n deposito neergesit én twee maande vooruit betaal?”

“Ja.”

“Hy’t nie sy deposito teruggeëis toe hy weg is nie?”

“Hy’s in die nag hier weg, sonder om iets te sê. Net weggeloop en die gemors gelos.”

“Dis nie ’n misdaad om in die nag weg te loop nie. Jy’t die deposito en helfte van ’n maand se huurgeld vir skade.”

“Maar dis ’n misdaad om iemand in ’n bad te vermoor. Ek soek nie sulke publisiteit nie. Dis sleg vir besigheid, vir my goeie naam.”

Die sersant lag. “Jou goeie naam?”

Rabie vererg hom. “Ek kon stilgebly het. Maar ek’s wetsgehoorsaam, ek’t gebel, vier ure met my vingers gesit en speel voor die polisie besluit om op te daag. Nou kom staan en praat jy van vlooines en bordeel en hoere. Is dit die dank wat ’n goeie burger van hierdie land kry as hy ’n misdaad aanmeld, hè, sersant?”

“Wanneer laas het Evangeline hierdie vuil kamer kom skoonmaak? Is dit bloed daar aan die lakens ook? En al die vuil potte en borde daar by die stofie, kyk hoe aangepak is dit.”

“Die plek is vol miere en kakkerlakke,” sê die konstabel. “Jy sal die fumigators ook moet laat kom. As die gesondheidsinspekteur . . .”

“Ja, jy het dit al gesê.” Rabie beduie weer na die trollie. “Hy’t gesê hy wil nie gepla word nie, sal self skoonmaak. Evangeline moes soggens die trollie met die skoonmaakgoed en skoon lakens voor die deur los. Hy’t gesê hy’s siek, onder doktersbehandeling, slaap baie van al die medisyne. Evangeline sê die trollie staan al drie dae voor sy deur, die skoon handdoeke en lakens net so, dis hoekom sy vanoggend kom klop het. Sy dog hy’s dalk stil heen, met dié dat hy so siek was. Wil nie ’n lyk te lank in die kamer laat lê nie, jy weet, dis hoekom sy oopgesluit het.”

“En sy’t aan niks geraak nie, jou net gaan roep? Hoe laat was dit?”

“Sewe-uur vanoggend. Ek’t kom kyk en dadelik die polisie gebel.”

“Oor jy dink dis moord? Waar’s die liggaam?”

Rabie kyk na die sersant, sy gekrap aan ’n puisie of ingroeihaar aan ’n wang wat tril van die spek wanneer hy praat. “Hoe moet ek weet waar’s die liggaam? En lyk dit nie vir jou soos moord nie? Kyk al die bloed en hare. Dink jy hy’t homself net raak geskeer, aan die bloei gegaan, oor die vloer, in die bad? So erg raak geskeer dat daar spatsels aan die muurteëls is? En wat van die hare, hè? Dis swárt hare, nie syne nie, hy’t sulke yl vaal haartjies as ek reg onthou.”

“Dalk ’n baard?”

“Uhm . . . ”

“Jy kan nie onthou nie, Rabie? Het jy jou gas dan nooit gesien nie?”

“Ek’t hom min gesien, hy’t hom skaars gehou, nie gemeng nie. Verbeel my hy’t ’n baard laat groei.”

“Hy’t nie in die kroeg ’n dop gaan drink en na die kaalgatte aan die pale gekyk nie?”

“Nee. Hy’t gevra vir ’n kamer ver van die musiek en kroeglawaai af. Gesê hy’s siek, soek stilte.”

“Kamer by die brandtrap, om ongesiens te kom en gaan,” sê die konstabel.

“Sal jy hom kan beskryf vir ’n identikit?” vra die sersant. “Vir as forensies iets in die kamer kry wat op ’n misdaad dui.”

“Wat van al die bloed?” sê Rabie moedeloos. “Is dit nie onwettig nie?”

“Dis nie ’n misdaad om te probeer selfmoord pleeg nie. Om in die bad te gaan sit en jou polse te sny nie.” Die sersant betrag opnuut die teëls. “Ja, dit kan die bloed teen die mure verklaar. Miskien het hy ’n stil plek kom soek om ’n einde te maak aan sy lewe. Skuld, egskeiding, ongeneeslike siekte, wie weet?”

“Waar’s sy lyk dan?”

“Dalk het hy halfpad besluit hy wil tóg nie selfmoord pleeg nie. Dis nie ongewoon dat mense met selfmoordneigings hulle bedink nie.” Die sersant draai na die konstabel. “Forensies op pad?”

“Ek’t gebel, sê hulle sal oor ’n uur of twee hier wees. Dalk eers later, sodra hulle klaar is by die toneel in Judith’s Paarl.”

Rabie gooi sy hande in die lug. “Nóg twee ure! Hy kan al in Timboektoe sit!”

“Hei, meneer Saadi, weet jy hoeveel moorde word elke dag in hierdie land gepleeg? Weet jy hoe oorwerk polisiemanne is? Gaan kry die lint in die kar, konstabel. Seël die deur.”

Die sersant draai terug na Rabie. “Niemand mag hier inkom nie. Dit kan ’n paar dae vat voor forensies die uitslae kry. Tot dan word dit as ’n misdaadtoneel beskou. Dis al ná twaalf, wat’s op jou spyskaart? Wat van iets te ete terwyl die konstabel sy werk doen? Jy kan my van jou gas vertel, van meneer Formal . . .”

“Fomalhaut.”

“Is hy ’n Hollander?”

“Praat Afrikaans.”

“En jý, meneer Saadi? Watse aksent is dit?”

“Ek’s ’n Suid-Afrikaner, hier gebore – ou Marymount in Kensington. My pa het ná die Slag van al-Malkiyya hier in Suid-Afrika aangekom, in ’48. Het sy been teen die Israeli’s verloor. Hy’t hierdie hotel begin. By die huis praat ons Libanees. Dis waar my pa vandaan kom, Baalbek.”

“So jy’s ’n Arabier?”

“Wat de hel maak dit saak, sersant? Wat’s jy?”

“Sersant Mfundisi, dis wie ek is, amaZoeloe. En saam met my is konstabel Xala, amaXhosa. Wat het jy gesê is vandag op jou spyskaart?”

“Dis nie die Ritz nie, sersant, dis die Sleep Inn in Bez Valley. Ons het ’n kroegete beskikbaar, met koue vatbier.”

“Dié meneer Formalhaut, het hy vir jou siek gelyk toe hy die kamer kom huur het? Ek bedoel, was hy bleek, koorsig . . . of het hy net gesê hy’s siek en jy’t hom geglo?”

“Hoe sal ek weet of hy koorsig was, ’n koorspen in sy gat opdruk? Hy’t wonde van ’n ongeluk gehad, hy’t siek gelyk.”

“Watse wonde?”

“Hande en gesig vol snye, klomp pleisters opgeplak, een oog byna toegeswel. Ek’t nog gesê dit lyk of hy in ’n treinongeluk was. Toe sê hy: ‘Snaaks dat jy dit sê, dit wás ’n ongeluk met ’n trein, daardie spooroorgang naby Magaliesburg. Kar het net gaan staan en stol.’ Gesê hy soek ’n kamer vir twee maande, betaal vooruit.”

“Plus die deposito.”

“Plus die deposito.”

“Hoe oud skat jy hom?”

“Miskien al vyftig. Gesê hy’s van die Kaap. Hy is in die antiekwarebesigheid, ry rond en koop ou meubels en goed.”

“En jy’t in sy ID-boek gesien sy van is Formal . . .”

“Fomalhaut. Dis soos hy dit in die register geskryf het, soos ek die kwitansie aan hom uitgemaak het.”

“Die naam stem ooreen met sy ID-boek, sy foto daarby?”

“Uhm . . . nie eintlik nie.”

“Nie eintlik nie? Hoe meen jy?”

“Sersant, ek kyk nie na elke gas se ID-boek nie. Hoe kan jy die goed vertrou? Hoe kan jy vir elkeen sê wys my jou ID? Die gaste wat my kamers huur . . .”

“Jy bedoel die eskorts en paaldansers met name soos Candy en Mandy en Randy en Sandy . . . Ja, ek sien wat jy meen. Hulle wil nie eintlik hê dit moet uitkom hulle’s eintlik Barendiena of Fransiena nie, nè? Watter man wil kyk hoe ’n Fransiena aan ’n paal swaai, haar kaal Koekemoer-stert vir die wêreld uitstal? Hoe’t meneer Fomalhaut die pleisters oor sy gesig geplak as hy ’n baard laat groei het?”

“Hy’t nie die nag met ’n baard hier aangekom nie. Hy’t die baard hier laat groei.”

“So, jy’t hom tog soms gesien? O ja, ek sal ’n hamburger vat, met kaas en tjips. En baie uie, goed gebraai.”

Rabie bel sy kok, dan volg hy die sersant by die deur uit. Hy kyk hoe konstabel Xala die deur toetrek en die slot en handvatsel met geel polisielint verseël. Hy merk ook hoe sersant Mfundisi sy groot kop agteroor skarnier, nekrolle oor die kraag van sy hemp, sy blik op die kameralens hoog teen die muur langs die brandtrap. Die kameralens bied ’n uitsig op die hele gang, tot by die hysbak se deure.

“Konstabel, bring ’n stoel,” roep die sersant oor sy skouer.

“Ek’t die deur nou net verseël, sersant.”

“Maak oop en bring ’n stoel, jy kan dit weer verseël, daar’s genoeg lint. Of betaal jy self vir die lint?”

“Ek’t die CCTV laas jaar laat insit,” sê Rabie. “Nadat ’n gas in haar kamer gemolesteer is. Op elke vloer, ook een in die kroeg. ’n Mens weet nooit wat ’n dronkie alles kan aanvang nie, en môre ontken hy alles, sê hy was nie gisteraand in die Sleep Inn nie. Jy weet hoe dit is, sersant? Nou’t ek bewyse, op kamera.”

“Klim op, konstabel,” sê sersant Mfundisi. “Kan jy daai lens bykom?”

Die konstabel staan op sy tone op die stoel, strek sy vingers uit. “Ja, dit lyk soos ou verf, sersant. Die lens is toe met swart spuitverf, soos daai wat hulle vir graffiti gebruik.”

“So gedink,” sê die sersant. “Soek jy ook ’n hamburger, konstabel?” Hy draai na Rabie. “Nog ’n hamburger. Wanneer het jy laas na dié kamera op jou monitor gekyk?”

“Uhm . . . laas week?”

“En dit het toe gewerk? Jy kon na hierdie gang kyk, na gaste in en uit by jou eskorts se kamers sodat jy kommissie kan eis?”

“Ek kon.”

“Jy kon dit laas week sien? Konstabel, kom hier. Kyk die stof van die lens op die man se vinger, Rabie, dik van stof en ou vlieëkak. Daai verf is lankal daar, lank voor laas week al. Miskien al van kort nadat meneer Fomalhaut hier ingetrek het. Nou vra ek vir myself: wat’s hier aan die gang? Hoekom kruip meneer Fomalhaut hier aan die einde van die gang weg, naby die brandtrap? Is dit dalk hý wat die kannetjie spuitverf gaan koop het? Watse bagasie het hy gehad, kan jy onthou?”

“Twee sakke, dié onthou ek, een aan elke hand toe ek hom hier na die kamer toe gebring het om hom te wys hoe alles werk. Die een sak het soos ’n vioolkis gelyk, dit onthou ek goed. Ek het hom nog gevra of hy ’n musikant is. Nee, sê hy, dis net ’n ou vioolkis wat hy iewers raakgeloop het, hy soek nog ’n koper daarvoor. Skaars ’n skrapie aan, dit behoort ’n goeie prys te kry.”

“Hy’s vol beserings oor die trein hom getrap het, maar sy vioolkis is sonder ’n skrapie?”

Rabie krap aan sy agterkop. “Ja, noudat jy dit so stel, dis nogal vreemd, nè?”

“Nou’s ek honger. Kom, konstabel, Rabie het vir ons ’n ete op die huis aangebied.”

Van agter die kroegtoonbank, terwyl hy die bier tap, beloer Rabie die twee geregsdienaars by hulle tafel. Veral die grote, sersant Mfundisi, wat die broodrol oplig om die inhoud van die hamburger te inspekteer, die tamatiesous en mosterd op die tjips uitskud, vier groot tjips met sy vingers in sy mond prop.

Op die agtergrond is Evangeline met die stofsuier besig. Rabie kyk na die diskoverhoog met die twee pale en die platejoggie se musiektoerusting, die Roto-Sphere teen die plafon wat die lywe van die eksotiese dansers saans in roterende reënboogkleure van lig baai. Die kroeg is nou skemer en stil, met net die gebrom van die stofsuier hoorbaar. Afgesien van die twee polisiemanne is daar net die twee verweerde ou kroegvlieë wat al van oopmaaktyd op hulle pos is in die hoek by die toonbank, brandy-en-coke in die hand.

Rabie neem die glase bier na die tafel, kry geen dankie toe hy dit neersit nie.

Sersant Mfundisi kyk wel op, tamatiesous aan sy lippe en ken, kieste bultend soos hy kou. “Waar’s jou hotelgaste dan?”

“Slaap nog.”

“Mm, die nagskofwerkers, nè?” Sersant Mfundisi vat nog ’n hap van sy hamburger, werk met sy vingers gebraaide uie by ’n mondhoek in.

“Die sersant bedoel ons sal hulle moet uitvra,” sê die konstabel. “Oor die vermiste gas in kamer 110. Oor sy bewegings, aangesien ons niks op CCTV het nie.”

“Ek sê mos: niemand het hom ooit gesien nie. Hy’t nie gemeng nie.”

“Nooit praatjies probeer maak met iemand nie?” vra die sersant. “Net sy naam in jou register geskryf. Wat van sy adres en telefoonnommer, soos die wet vereis van ’n wetsgehoorsame burger?”

“Ja, dit het ek, sy adres in die Kaap.”

“As forensies klaar is, en hulle is agterdogtig, sal ons al daardie goed nodig hê. Ons sal ook met jou inslaapgaste kom gesels en na jou CCTV-monitors kyk. Miskien is daar beeldmateriaal van vroeër, voor die lens toegespuit is. Dan sal ons . . .”

Rabie kyk om, volg sersant Mfundisi se blik na die deur van die kroeg waar ’n jong vrou verskyn het. Dis Jewel, stywe skibroek klewend soos vel aan haar, los T-hemp, geen bra onder die hemp nie. Sy lyk of sy pas wakker geword het, kam haar vingers deur haar hare.

“Rabie, Mitzi is nog steeds weg,” kla sy temerig. “Ek’s rasend, wat kón van haar geword het? Sy sou nie sommer net wegloop nie, iets moet gebeur het.”

“Miskien is dit jou gekerm wat haar die pad laat vat het, het jy al dááraan gedink, hè? Miskien kon sy dit nie meer by jou uithou nie. Ék sou lankal weggeloop het.”

Sy lig haar borste gegrief vir hom. “Jy’s lelik met my, Rabie. Wat het ek gedoen? Ek’s net bekommerd oor Mitzi, dis al.”

Sy kyk nuuskierig na die twee etende polisiemanne.

“Jewel is ’n eksotiese danser,” verduidelik Rabie vinnig. “Sy sluk ook vlamme wanneer sy dans.”

Konstabel Xala, merk hy, lig nie sy oë hoër as Jewel se boesem nie. Sersant Mfundisi kyk darem op.

“Vlamme, nè? En wie’s Mitzi, wat ook verdwyn het?”

Rabie kan sien hoe die sersant se kop werk. Hy wonder of dit toevallig is: twéé verdwynings uit die Sleep Inn.

Jewel stoot ’n heup uit. Die lang wimpers, nog swart en taai van gisteraand se maskara, word nou fladderend op die sersant gerig. “Mitzi is al ’n week weg.”

Jissus, dink Rabie, drama queen. Haal nie eens die vals ooghare af wanneer sy gaan slaap nie. Hy vat haar aan die elmboog en stuur haar weg.

“Mitzi is haar vermiste kat,” sê hy oor sy skouer.

“Swárt kat?” vra sersant Mfundisi.

Rabie steek vas, draai om, moet ’n oomblik dink voor dit insink. “Gots, sersant, is dít wat hy gedoen het? Hy’t vir Mitzi daar in sy bad geslag?”

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх