Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 12

Оглавление

8

“Ek’t jou . . . uhm . . . anders voorgestel,” sê Ignaz Bouts in die kar van die stasie af.

“Anders?”

“Jy weet, sonder ’n baard.”

“Kon nie skeer met al die wonde nie,” sê Abel. “Van die ongeluk waaroor ek in die e-pos geskryf het. Dis nou genees, net die letsels nog, dit sal bly, daarmee moet ek saamleef. Sal die baard weer afskeer, nie gewoond aan ’n baard nie.”

“Die ongeluk wat jou gesig geskend het, hulle sê dis jóú skuld? En alles was so mooi gereël vir jou besoek.”

“Ek moes vlug soos ’n boef. Kan nie in ’n tronk gaan sit nie, nie in Suid-Afrika nie. Jy weet nie hoe lyk daardie tronke nie.”

“Ek’t self al ’n onderonsie of twee gehad, ek weet hoe hulle jou kan verpes . . . die polisie.”

Abel wonder oor die onderonsies. In hulle jare lange kubervriendskap het Ignaz so iets nooit laat blyk nie.

Ignaz parkeer en sê: “Die huis wat ek vir jou gekry het, is net hier uit Katelijne. Kort voetgangersteeg, sentraal maar privaat. Niemand sal jou pla nie, soos jy gevra het. Billike huur, gemeubileer, hoop jy hou daarvan.”

Abel knik sy dankbaarheid. Hulle klim uit.

Met sy kleresak in die een hand, die vioolkis in die ander, stap Abel agter Ignaz aan. Hulle kruis Katelijne na die straathoek langs die deli. Draai in Stoofstraat in, ’n smal voetgangersteeg, weerskante aaneengeskakelde geboue, twee en drie verdiepings hoog met antieke trapgewels.

Ignaz vroetel met die sleutel en hulle stap by die voorhuis in. Outydse muurpapier, uitgetrapte plankvloere. Krakend op met die houttrap na ’n enkele klein slaapkamer en badkamer. Voor die vensters hang gordyne van moeselien en die kant waarvoor sy moeder so lief was.

“Wat dink jy?” vra Ignaz.

“Ek sal dit vat,” sê Abel.

“Jy kan jou persoonlike stempel afdruk, jou eie versierings aanbring.”

“Kan mens in die nag die sterre hier sien?”

Abel het nie huisversierings nie. In die huis waarin hy en sy moeder saamgewoon het, het hy in sy kamer net etniese maskers teen die mure gehad.

“Buite die stad is die beste vir sterre,” sê Ignaz.

Die maskers was nie vir versiering nie, maar vir geselskap. Hy kon met die maskers gesels, kon na hulle stories luister, terwyl die klanke van die viool deur die vertrek gespoel en sy gees gevoed het. Dit was goeie geselskap, hy en Paganini en die maskers. Hy kan dit hier ook so inrig, het juis die Idia van Benin tussen sy klere saamgebring. Hy sal dit uitpak en teen ’n muur hang, die Idia-masker wat sy moeder oor haar gesig gedra het.

Hy kan deur die Idia met sy moeder gesels, soos die Punu met hulle wit maskers wanneer hulle om die vuur dans en die gees van ’n stamvader oproep. Hy sal nie dans nie, maar hy sal sy moeder oproep, die enigste bekende in hierdie nuwe, vreemde wêreld.

“Ek wil ’n teleskoop aanskaf. Ken nie die sterre en konstellasies van die noordelike lugruim nie.”

“Jy kan die bus vat na die Beisbroeksterrewag toe,” sê Ignaz. “Ek los jou nou eers. As jy uitgepak het, gaan wandel, verken jou omgewing. En soos jy weet, ek’s in Dijverstraat, skaars tien minute se stap. Wanneer jy gereed is, bring jou velyn. Kan nie wag om dit te sien nie. Moet ons Engels met mekaar praat? My Engels is nie goed nie, maar as jy sukkel om die Vlaams te verstaan . . .”

“Nee, jy praat Vlaams, ek praat Afrikaans, ons verstaan mekaar.”

“Ja, jy moet die taal leer praat as jy hier wil bly, Belgiese identiteit wil kry. Ek sal jou leer.”

Hulle stap saam terug na die hoek met Katelijne.

Ignaz beduie: “Op met Katelijne, oor die kanaal, die groot kerk daar regs, dis die Onze-Lieve-Vrouw, net verby draai jy regs en jy’s in Dijver.”

“Ja, ja, ek hoor, verby die kerk.” Maar Abel se oë is op die plaket teen die muur van die gebou op die hoek van sy steeg.

“O, jy lees eers oor jou straat.”

Abel knik en lees verder: De middeleeuwse badhuizen of stofen genoten doorgaans een niet alte beste faam. Het nemen van baden was in de late middeleeuwen in vele gevallen geëvolueerd van een gezondheidskuur tot een bordeelbezoek.

’n Straat van slegte vroue! Hy laat dit insink, probeer dit verteer. Loer na Ignaz, loer terug na die plaket.

Wat sal sy moeder dáárvan sê? Sy wat hom so gemaan het teen juis sulke vroue, die listigheid wat jou dood kan bring. Daarvan is die Bybel vol, daaroor kon sy lang aanhalings uit die vuis opsê. Veral uit Spreuke: “Want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie . . . Hou jou weg van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie.” En in Thessalonicense: “Dit is die wil van God . . . dat julle jul moet onthou van die hoerery.”

“Jy’t vir my ’n huis in ’n hoerestraat gekry?”

“Dit was in die ou tyd, Abel,” sê Ignaz. “Ons stadsvaders waak streng oor die sedes van ons dorp. Hier is nie meer straatvroue nie.”

Abel kyk terug na die rustigheid van die steeg, die hangmandjies met blomme by die voordeure, die uithangbord van ’n restaurant verder aan. Fietse gestut teen huismure, kantgordyne voor die vensters, ’n ou vrou met ’n kruideniersak, baguette wat uitsteek.

Hy voel beter. Sy moeder sal begrip hê, sal verstaan wat met hom gebeur. Dat hy ’n lang reis gehad het, nie sonder slaggate nie, en nou in ’n vreemde land sy weg moet vind. En die teenwoordigheid van hoere is nie vir hom meer só ongewoon nie. Hy het hulle gesien, vulgêr en onbeskaamd in hulle drag en gewoontes, daar in die Sleep Inn in Bez Valley waar hy moes bly sodat sy wonde kon genees.

Hy kyk Ignaz agterna. Draai dan om, terug die steeg in na sy huurhuis. Hy verkwalik Ignaz nie. Ignaz is sy énigste vriend. En hy is hulpvaardig, doen sy bes.

Abel pak sy sak uit, die skamele paar stukkies klere, die paisleydas, die masker van Idia, die kartonkoker met die gebreide velle wat Ignaz so graag wil sien. In sy kleresak is ook die paar taksidermiese instrumente wat hy in Johannesburg gekoop het.

Hy knip die swart kis oop en haal sy pa se viool uit, die 1942-Van de Geest wat Abel se liefde vir vioolmusiek laat ontwaak het. Hy beskou die instrument, streel met sy vingers oor die blink lakvernis van die beslag, die krulwerk van die F-openinge soos dié van Paganini se geliefde Guarneri.

Abel skuif ’n nuwe, skerp lem in ’n skalpel en begin tydsaam, soos die delikate prosedure van ’n chirurg, om die nate van die esdoring aan die rugkant van die viool los te kerf. Dit duur byna twee uur voordat hy die fortuin in rolle note uit die viool kan bevry, in dollar en pond en euro.

Hy staan op ’n kombuisstoel en hang die masker van Idia teen ’n muur in die voorhuis, oorkant die ou leunstoel oorgetrek met brokaat met goud-en-silwerdraad, antimakassars teen die rug en oor die armleunings. Hy gaan sit, sak diep weg in die uitgesitte kussing, en beskou die masker, tevrede dat hy net sy oë hoef op te lig wanneer hy alleen voel.

Met die Idia is dit asof die huis nie meer so vreemd en leeg voel nie, asof sy moeder weer saam met hom is. Want was die masker dan nie laas op háár gesig nie, is daar nie nog dele van haar wat aan die hout kleef nie, selle van haar vel, haar gees ingebed in die atome en molekules van die Idia.

Hy sit in die stoel en purgeer sy kop, ruim alle gedagtes op, berei sy gees voor. Dan druk hy die oorfone van die iPod in sy ore, soek met sy vingers en sluit sy oë. Ken op sy bors, skaars deinend asof hy in ’n toestand van skyndood verval het. Die note van ’n soloviool vul sy ore en sy kop, onmiskenbaar Paganini se klein monsters, die eerste van die vier en twintig kapriese, inisiasieritus vir elke vioolvirtuoso.

Abel gee hom oor aan die soet tonaliteit van die akkoorde wat Perlman se boog uit die snare tower. Dit sweef en dartel in sy kop, en om hom in die lug van die voorkamer, deur die hele huis, uit in die straat van hoere. Roerloos sit hy, laat toe dat sy ontvanklike gees die musiek absorbeer, dit verteer en ondersoek, byna elke individuele noot op elke snaar.

Sy gedagtes, sy geestesoog word nou gevul met die beeld van die violis: die regterhand met die boog wat spring en gly en oorkruis stryk, die pizzicato van die linkerhand se vingers wat oor die hele lengte van die greepbord pluk en tokkel en druk. Die vinnige ricochetstryke van die vyfde, die tremolo’s van die sesde, die staccatopassasies en die lang toonlere en arpeggio’s van die sewende, die springende gepunteerde note van die elfde, die liriese melodie van die twintigste . . .

Op die oggend van die derde dag ná sy aankoms staan Abel voor die badkamerspieël. Hy knip sy baard met ’n skêr af en vryf skeerroom oor die stoppels. Dan lig hy die skeermes en trek die eerste haal oor sy wang. Hy kyk hoe die lem die verskuilde gesig opnuut blootlê. Streel met die punte van sy vingers oor die wit letsels aan sy wange, aan sy voorkop, oor sy neus en ken.

In die spieël staar hy na die vreemde, geskende gesig, herken net die aritmiese geknip van die lui oog. Soos sy naam het ook sy gesig veranderings ondergaan sedert hy sy eerste twee donateurs ontmoet het, en voor hy voor adjudant Neser moes uitvlug.

Daardie sogenaamde weekend facelift in Bujumbura was die eerste gelaatsverandering, en vir daardie mislukking, die karikatuur wat die kwak geskep het, moes die dokter met sy eie gesig boet.

Abel se sending om die Idia-masker terug te kry, sy laaste en enigste band met sy moeder, was suksesvol. Hy het wéér uit adjudant Neser se kloue ontsnap, maar dit was naelskraap, so byna katastrofies – daarvan getuig die nuwe letsels aan sy gesig.

Hy het sy waaksaamheid verslap, hy het die mooi adjudant onderskat met sy gretigheid om die sagte vel aan die binnedy van daardie blonde vrou te oes. Maar hy het daardeur nóg ’n les geleer: geen impulsiewe optrede ooit weer nie, al is ’n vrou en haar tatoe hoe begeerlik.

Hy vat die kartonkoker met velle vir sy eerste besoek aan Ignaz Bouts. Ná soveel jare se korrespondensie oor die looi van velle en huide, Ignaz wat getrou wenke en advies ge-e-pos het, geheime resepte vir die bereiding van sagte, delikate maagdeperkament. Abel stel hom die verwondering in Ignaz se oë voor wanneer hy die inhoud uit die kartonkoker trek en sy velle saggebreide velyn tussen sneespapier op die tafel uitrol. Daar is by hom groot afwagting en innige hoop dat Ignaz nie teleurgesteld sal wees met die gehalte van die handewerk nie; Ignaz stel hoë vereistes, is ’n kenner van Jungfernpergament.

In Abel se koker is nie velyn van die sagte maagvel van ongebore kalwers of lammers nie, maar van ’n haas en ’n das, ’n kat, ’n mol en ’n rot. Net een van elkeen, die res moes hy in Bujumbura vir Jules Daagari gee as vergoeding vir die Afrikamaskers wat Jules vir sy galery van etniese artefakte na Johannesburg gebring het. Die huide van die klein diere het Abel tydsaam gelooi en versorg, streng volgens Ignaz se eeue oue resepte, glo opgeteken in antieke geskrifte.

Die velle van Brugge se huidenvetters, só het Ignaz hom verseker, was gesog deur die hele Europa, tot oor die kanaal in Engeland. Veral die gelooide velle van katte en honde vir die sagte leerhandskoene van Engelse lords en ladies, en die huide van groter diere – kalwers, bokke, skape, beeste, varke – vir die handgemaakte skoene van Italiaanse markiese en gravinne, vir die kuitstewels van Franse baronne en hertoginne.

Maar Abel se velle is nie vir handskoene of skoene bedoel nie, en dis ook nie net sy dierehuide wat Ignaz met ’n kritiese oog sal beoordeel nie. Dis die ánder twee velle in Abel se versameling wat hom met soveel opgewonde afwagting vervul toe hy by die voordeur in Stoofstraat uitstap, die kosbare koker in die waai van sy arm.

Dijver is ’n oop straat, nie ingedruk soos die meeste ander nie, al langs die kanaal ’n breë wandellaan met sambrele en soewenierstalletjies. Abel staan op die promenade van die Dijverkanaal en bekyk die geboue oorkant die straat. Tussen ’n kafee en ’n kantwinkel sien hy die deur waarna hy soek. Hy kyk op na die naam teen ’n ruit op die tweede verdieping, verbleik, skilferend: De Boekbinderij Bouts, waar Ignaz spesialiseer in boekkonservering en omslae van leer.

Abel tik met die geelkoperklopper, druk die deur oop en stap in. Ignaz kom hom met die trappe af tegemoet, sy hande in wit katoenhandskoene, ’n juweliersloep opgeskuif oor die wenkbrou van sy linkeroog; dit lyk vir Abel of Ignaz twéé linkeroë het.

Hulle klim op na die tweede verdieping.

Ignaz vat een van die velle wat Abel uit die sneespapier ooprol en plaas die velyn op ’n tafel met ’n groot glasblad en druk ’n skakelaar vir gedempte wit lig. Hy leun oor, skuif die loep in posisie en begin die velyn bestudeer. Tydsaam, asof hy ’n ou perkamentrol lees – soos die Dooie See-rolle, dink Abel, want dié is ook op perkament geskryf.

“Uitstekende werk,” sê Ignaz, laag gebuig oor die ligtafel, die punt van sy neus enkele millimeters van die vel af.

Abel gloei ingenome, sy velyn op die ligtafel byna wit en deurskynend van onder verlig. Hy het ook ’n loep gebruik om na onsuiwerhede en verhardings te soek, maar had nie ’n diffuse lig nie.

“Pragtige velyn, so delikaat, byna soos die sneespapier waarin jy dit toegedraai het,” sê Ignaz. “Is dit uteriene kalf?”

Hy draai die vel om, begin opnuut die rugkant bestudeer.

“Nie kalf nie,” sê Abel.

Ignaz lig sy gesig op na Abel oorkant die tafel, sy oog groot agter die lens van die loep. “So wit aan die vleiskant, die effense verkleurings van die grein aan die rugkant. ’n Lamfetus?”

“Jong haas,” sê Abel.

Dis die vel van die haas wat hy in die vergane groentetuin agter sy huis in Doradopark geskiet het, kort voor hy die Lepus van die jong vrou se bors geoes het. Dié het hy natuurlik ook gebring, vir die oordeel van Ignaz se loep.

“Nee!” sê Ignaz, “’n Háás?”

Abel staan tru, sy hande agter sy rug gevou, sy buik uitgestoot, ’n blos van behae op sy rosige wange. Die eens los bakkevelle is verwyder in die onsuksesvolle kosmetiese operasie, sy gesig daarna verder geskend deur die skerp rand van ’n gebreekte engel van kwarts in daardie geveg om lewe en dood.

“Jy’t wonderlike talente, Abel. Jy sou ’n gesogte huidenvetter gewees het.”

Abel, ongewoond aan komplimente, verskuif sy voete. Dis die eerste kompliment wat hy in sy hele lewe ontvang, en hy is al vyftig. Sy moeder het hom darem ’n slag ’n goeie seun genoem, maar dit was die nag toe hy van haar afskeid moes neem. Op die marmerblad in haar kamer kon hy daardie angstige nag haar stem van agter die Idia-masker oor haar gesig hoor.

Verder het sy nooit ’n vleiende woord vir hom gehad nie. Niémand had nie. Hy moes sy hele lewe, van kindsbeen af, saamleef met nimmereindigende hoon en versmading.

Sy lui oog knip twee keer onwillekeurig en hy sê: “Hoop jy’s ook met die ander tevrede. Ek’t moeite gedoen, jou resep gevolg.”

Ignaz knik. “’n Resep wat die toets van die tyd deurstaan het. Spesifiek vir perkamente bedoel, nie vir leer nie. In die veertienhonderds al het Van Gavere en Van der Lende daarmee geëksperimenteer. My familie, en ek, het dit net verfyn.”

“Die Boutstegniek,” sê Abel met ontsag.

“Die Boutstegniek,” sê Ignaz. “Gee die ander.”

Hy bestudeer elkeen tydsaam en deeglik. Die velle van die das, kat, mol en rot. Skuif uiteindelik die loep op, terug oor sy wenkbrou.

“Ek’t nóg twee.”

Abel vou die laaste sneespapiere oop, kyk hoe Ignaz die ligtafel poets voor hy die laaste twee velle sagte velyn met sy wit hande op die verligte glasblad neerlê. Dan afbuk, die loep voor sy oog verstel.

“A, ’n pou! En so perfek bewaar. Kyk die pigmente van gloeiende blougroen aan die kop en bors, die kastaiingoranje van die rug, die bronsgroen oë aan die stertvere. So ’n diep versadiging van al die kleure.”

Abel voel hoe hy warmer gloei. Hoe het hy nie daardie sagte, soepel vel in sy hande gebrei en gekoester nie. En Ignaz is reg: dit ís perfek, veral die simboliek van die pou, opgedra aan Juno, godin van die hemelruim en sterre; die pou, simbool van die konstellasie Pavo.

“Dis vir die omslag van my Kosmiese Reise, Volume I,” sê Abel.

“Hierdie velyn met sy kleure herinner my aan ons eie Vlaamse Primitiewe.”

“Primitief?”

Ignaz moet die teleurstelling in sy stemtoon gehoor het. “Jy ken nie die Vlaamse Primitiewe nie? Natuurlik, jou belangstelling is in die kosmos, nie die kunste nie.”

Hy kom orent. “Primitief soos afgelei van die Latynse woord primus, éérste. As jy in Brugge wil aanbly, Abel, moet jy gou vertroud raak met hulle – Brugge is die geboorteplek van die Vlaamse Primitiewe. En verstaan dit as kompliment, nie kritiek nie. Die Italiaanse meesters van die Florentynse Quattrocento het in die vyftiende eeu Europa se kunswêreld oorheers met hulle temperaverf, hulle skilderye vol harmonie, vol ideale skoonheid. Toe kom Jan van Eyck en gebruik ’n nuwe tegniek in die plek van tempera. Hy eksperimenteer met ’n olieglans, en ’n nuwe styl van realisme, van natuurlike, sensuele voorstellings van mense en hulle omgewing. Ná die formele perfeksie van die antieke kuns word Van Eyck en die Vlaamse skilderskool die nuwe rigtinggewers, die voorlopers vir die kuns van die Renaissance. Die Vlaamse Primitiewe was éérste, was primus.”

“En die pou laat jou aan hulle dink? Die pou is primus?”

“Nie net die pou nie, die hele vel. Dis asof die lig deur die hele vel én deur die kleure van die pou straal. Dis wat die Primitiewe in hulle skilderye bereik het: die byna deursigtige olieglans en die diep, versadigde kleure. Ook die res van hierdie velyn is so delikaat. Amperwit.”

“Cosmic latte,” sê Abel. “Dis hoe die kleur heet. Net ’n tint van room.”

“Ek dog die hemel is blou?”

“Die heelal se deursneekleur word Cosmic latte genoem.”

Ignaz se aandag is terug by die velle. “Selfs hierdie een, die hasie, al is dit net in swart ink gedoen, is asof in die looiproses ingebed in die velyn.”

“Dis vir die omslag van my Kosmiese Reise, Volume II.”

“Maar hierdie twee velynvelle is vir my vreemd. Dié kleur en tekstuur ken ek nie. Die grein is so lig en fyn, sonder die ligtafel en loep skaars merkbaar. Is dit maagdeperkament? En wanneer is die tatoes aangebring? Die huide moet nog lewend gewees het toe hulle getatoeëer is, vir die verfpigmente om só in die dermis te vestig. Die effek en tekstuur van die tatoes sou nie so gelyk het as dit agterna op ’n dooie vel aangebring is nie.”

“Nie?” sê Abel.

“In hierdie velle het natuurlike heling van die naaldprikkels lankal plaasgevind. Die ink en arsering is in die porieë en olies van die vel opgeneem, het in ’n natuurlike proses in die keratien gefikseer terwyl die velle se lewende selle en bloedvloei nog aanwesig was.”

“Die pou en die hasie is van donateurs,” sê Abel. “Hulle was bereid om dit vir my Kosmiese Reise te skenk.”

Ignaz se kop ruk op. “Jy bedoel dis . . . dis ménslike vel? Van régte, lewende mense?”

Abel knik. Hy kan sien hy het Ignaz onkant betrap.

Ignaz se kop sak terug na die ligtafel. “Dis ’n wonderlike donasie. G’n wonder dis so sag nie, so soepel.”

Nou die groot vraag, die allerbelangrikste vraag.

“Uhm . . . sal jy dit as omslag vir ’n boek kan bind, Ignaz? Vir twéé boeke, miskien met goue stempel vir die titel, goue aksent om die rande?”

“Soos die randmotief op die omslag van Hakluyt Travels and Voyages, die foto van die boekomslag wat ek vir jou gestuur het?” Ignaz knik, sy blik op die getatoeëerde velyn. “Ja, ek dink dit sal besonderse omslae wees. Wil jy dit kleur? Miskien ’n bietjie donkerder maak, miskien holstein . . .”

“Nee!” sê Abel. “Die latte bly net so. Geen kontaminasie van die kleur nie. Natuurlike en sensuele realisme – dis mos hoe jy die styl van die Vlaamse Primitiewe beskryf het.”

“Goed, nou die formaat. Oktavo? Nie groter nie. Hierdie velle is net groot genoeg vir die voorblad van ’n oktavo-omslag. Vir die rugkant van die pou-omslag kan ons een van die diervelle gebruik, miskien die kat, ook sag en amperwit.”

“En die haas vir die rugkant van Lepus. Embleem van die haas voor, vel van die haas agter. Vir my volgende volumes sal ek die donateurs vir ’n groter stuk vel vra, groot genoeg vir die héle omslag. Wat dink jy?”

“Dis nogal groot. Ek weet nie of ’n donateur bereid sal wees om só ’n groot stuk vel te skenk nie.”

“Ek sal ’n groot donateur soek, en haar vra,” sê Abel. “Ek beplan tien volumes.”

Ignaz se wenkbroue lig. “Nog ágt groot donateurs? Ja, oktavo sal werk. Jy sal in goeie geselskap wees met die oktavo’s vir jou Kosmiese Reise. Teobaldo Mannucci van Venesië – in ons drukkerskringe beter bekend as Aldus Manutius – was lief vir dié formaat. Sakboeke, het hy dit genoem, sodat lesers dit maklik kan saamdra. In 1501 al het hy Virgilius se Opera in oktavo-formaat gebind.”

“Ja,” sê Abel geesdriftig, “ek sal hulle graag saam met my wil dra.”

“Manutius het klassieke Griekse werke uitgegee en in velyn gebind, vyf volumes van Aristoteles, nege komedies van Aristofanes, Sofokles, Herodotus, Euripides. En natuurlik Latynse en Italiaanse klassieke tekste, die versamelde werke van Poliziano, Dante se Commedia, die briewe van Plinius die Jongere, selfs Erasmus se Adagia . . .”

“Oktavo klink reg, Ignaz.”

“En jy soek net één handgebinde eksemplaar van elkeen van jou volumes, met omslae van velyn?”

“Net een van elk. Dis vir my eie gebruik en genot. Dis persoonlik. Ek soek nie roem nie. Ek beplan om dit met my dood na te laat aan die Ulughbeg-madressa in Samarkand. ’n Eksklusiewe nalatenskap, met nuwe insigte in die kosmos. Vir Virgilius en Aristofanes ken ek nie, ook nie vir Poliziano en Plinius nie, maar ek ken die werk van Ulugh Beg. Ken jý die Ziy-i-Sultani?”

Ignaz skud sy kop, en Abel rol sy perkamente in die sneespapier terug en druk dit in die koker.

“Steeds tevrede met die huis?”

Nie eintlik nie, maar hy sê dit nie, wil nie Ignaz se gevoelens seermaak nie.

“Ek hou van die klokkespel uit die torings van die twee kerke.”

Hy het besluit om so gou moontlik ander blyplek te soek, ook uit die oog, maar nie in ’n ou hoerestraat nie.

“Dis Brugge se twee oudste kerke, Sint Salvator en die Onze-Lieve-Vrouw, vol skatte en misterie. Maar ek’s nie juis ’n toegewyde kerkganger nie,” sê Ignaz.

“My moeder kon lang aanhalings uit die Bybel opsê.” Abel dink ’n oomblik, vra: “Ek’t altyd gewonder, Ignaz, is jy getroud?”

Ignaz antwoord nie, en Abel wonder of hy hom gehoor het. Dan kom die antwoord byna as ’n fluistering, en stamelend, asof dit ’n onderwerp is wat Ignaz nie graag bespreek nie.

“Nie meer nie . . . sy’s dood, my vrou . . . jare al.”

“O.”

Ignaz kyk op. “Maar ek’t ’n dogter, ek sal jou aan haar voorstel. Ons sal jou uitvat vir ete. Hoe klink dit?”

Abel aarsel. “In ’n restaurant?”

“Jy moet begin inskakel in jou nuwe omgewing.”

“Goed,” sê Abel onseker, ongeneig om in te skakel, verkies sy eie geselskap.

Ignaz stap saam met hom ondertoe, sê by die voordeur: “Jou donateurs, is dit vroue?”

“Ja,” sê Abel, sit sy slaprandhoed op, verstel die bril met die amber lense en stap uit.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх