Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 17

Оглавление

13

Dis die skoene wat Jake eerste opmerk toe meneer Heilbron opdaag, ’n halfuur laat vir hulle afspraak. Die enkelstewels met silwergespes wat skitterend die son vang, Aviators opgeskuif op sy kop. Gesig en kop glad geskeer, vel blinkend soos gepoleerde amaranthout.

“Wasim noem julle staatsamptenare kripvreters, maar dit lyk vir my na goeie geld wat julle daar by binnelandse sake kry, meneer Heilbron. Wat’s jou skoene, slang, volstruis?”

Meneer Heilbron bestel filet, sê vir die skraal kelner hy soek dit net geskroei, wil nog die bloed sien. En ’n dubbele Chivas, skoon, sonder ys. Jake vra vir ’n glas chardonnay saam met sy slaai.

Die kelner stap weg en meneer Heilbron kyk oor die tafel na Jake. “My skoene? Jy’s ’n smartass. Probeer jy sê ek vat iets onder die tafel? Ek mag nie van mooi skoene hou nie?”

Jake hensop met sy hande. “Hei, nie nodig om te stres nie. Ek bewonder dit net, dis al.”

“Paciotti,” sê meneer Heilbron kalmer. “Van krokodilvel.”

Jake stoot sy been langs die tafel uit, wys na sy skoene. “Hush Puppies. Persoonlik is dit my smaak, vir gerief, al kan ek ook handgemaakte skoene bekostig, van . . . van potoroovel.”

Meneer Heilbron teug aan sy drankie en smak sy lippe. “Potoroo? Wat’s potoroo?”

Jake wuif afwerend. “Jy’s ’n soort grootkop daar by binnelandse sake?”

“Jy kan so sê. Toesighouer, streekkantoor-statusdienste, dis my amptelike titel.”

“Statusdienste, watse status?”

“Burgerskap, paspoorte, identiteitsdokumente, rekords van geboortes, sterfgevalle, huwelike.”

Jake kyk hoe meneer Heilbron nog ’n sluk Chivas vat, agtien jaar oud. Hy dink aan “Counter Corruption and Security” op binnelandse sake se webwerf, die sewe waarskuwingstekens vir moontlike korrupsie. Veral die eerste een: An official living way beyond his/her means. In sy hempsak is ’n digitale opnemer met outomatiese stemrespons, kan vir ’n selfoon aangesien word.

“En dis ’n goeie pos? Goeie geld?”

“Nee, ons word sleg betaal. My vrou is die een met die geld. Wel, haar pa eintlik, entrepreneur. Sy hou daarvan om vir my duur geskenke te koop. Waaroor wou jy met my praat?”

Die kelner bring die kos en Jake bekyk die filet. Hy sou ook graag sy tande in so ’n sagte vleisie wou inslaan, maar hy moes oor sy cholesteroltelling ’n caesar kies: vars blaarslaai met krotons, parmakaas, geroosterde hoendervleisrepe, Worcestershire vir die sout ansjovissmaak, growwe swartpeper, olyfolie, spatsels suurlemoensap.

“Soos ek oor die foon gesê het, dis Wasim wat jou aanbeveel het . . .”

“Ek’t in my rekords gaan kyk. Kry g’n Wasim Khan nie.”

“Uhm . . . ek’t mos gesê Wasim is ’n vriend van ’n vriend wat jy gehelp het. Ken nie die naam nie, is dit belangrik?”

“Persoonlike verwysings, dis al hoe ek werk.”

“Hy’t gesê meneer Heilbron hou nie daarvan as sy kliënte name rondgooi nie.”

Jake merk hoe meneer Heilbron hierdie brokkie bepeins.

“Waarmee het jy hulp nodig?” vra hy oplaas.

“Vier dinge, vier statusdinge. Een: ek wil my naam verander.”

“Jy’t nie my hulp daarvoor nodig nie. Vorm B1-85 vir ’n verandering van voornaam, Vorm B1-96 vir verandering van jou van. Wil jy al twee verander?”

“Ja.”

“Sewentig rand vir elke naamsverandering. Jy wag tot dit in die Government Gazette gepubliseer word, en dis al.”

“Nommer twee: nuwe identiteitsboekie vir my nuwe naam.”

“Vorm B1-9.”

“En een vir my bruid.”

“Jy gaan trou? Kan ons daarop klink, met nog ’n Chivas?” Meneer Heilbron se vinger tik op die rand van sy leë glas.

Die tong raak losser, dink Jake, wink die kelner nader. “My bruid kan nie ’n ID-boek kry sonder ’n huweliksertifikaat nie.”

“Vorm B1-27.”

“Fokkit, meneer Heilbron, jy ken jou vorms, nè!”

“Ek’s nie ’n priester nie, maar ek kan julle trou, sommer in my kantoor. Ek’s gesertifiseer vir huweliksbevestigings, ingevolge wet 25 van 1961. Die huweliksertifikaat is gratis.”

“Reg,” sê Jake. Hy leun oor, elmboë op die tafel. “Die vierde ding . . .” Hy swyg toe die kelner die Chivas bring, espresso vir Jake.

“Die vierde ding is die paspoorte, vir my en my bruid.”

“Ek sien jy’t dit mooi uitgewerk, stap vir stap, die een ’n vereiste vir die volgende een. Jy kan dit alles maklik doen, deur die normale kanale, hoekom my betrek?”

“Dis wat Wasim se vriend se advies was: as die normale kanale nie werk nie, gaan sien vir meneer Heilbron. Wel, die normale kanale werk nie vir ál die stappe nie. Die verandering van my naam en van is nie ’n probleem nie. Ook nie my nuwe ID-boek nie.”

“Jy’s nie meer tevrede om Jake Diamond te wees nie? Wat’s dit in elk geval, Diamond? Joods?”

“Jip, Joods.”

“Boerejood, dis hoekom jy Afrikaans praat? Wat wil jy nou word, Van der Merwe?”

Jake skud sy kop. “Yusuf.”

Meneer Heilbron frons. “Yusuf? ’n Boertjie met Joodse bloed wil Yusuf word?”

“Ek’t ’n epifanie oor ’n bekering gehad.”

“En jou bruid?”

“Dis die ánder probleem, hoekom ek nie die normale kanale kan volg nie,” sê Jake, merk nou vir Joe, fotograaf van die Rekord, kamera om die nek in die straat tussen die geparkeerde karre, lang telefotolens op hulle tafel gerig. Tafel 12 op die Moosehead se patio, het hy vir Joe gesê, maar moenie dat die man jou met die kamera opmerk nie. Neem steelfoto’s, duidelike een van sy gesig. En moenie rondslenter met die kamera nie, neem die foto’s en gee pad.

“Nog ’n Chivas, meneer Heilbron?” Moet sy aandag wegkry van Joe se kamera. “Ja, dankie. Die ánder probleem?”

“My bruid,” sê Jake. “Fauzia . . . beeldskoon.”

“Fauzia? Ook bekeer?”

“Nee, dis haar regte naam.”

“Ek kan nie sien wat die probleem is nie.”

“Die probleem is Fauzia is van Rawalpindi.”

Dít laat die ratte in meneer Heilbron se kop knars, sien Jake, die frons terug, oë stip gefokus.

“Jy bedoel Pakistan?”

“Einste. Is dit ’n probleem, as die liefde g’n grense ken nie?”

“Kán ’n probleem wees. Maar nie onoorkomelik nie. Is dit liefde, ek bedoel wáre liefde wat jy en jou bruid vir mekaar voel? Of . . .”

“’n Gerieflikheidstroue, is dit wat jy dink? Hel, meneer Heilbron, die jare stap aan, ek’s nie meer ’n piepkuiken nie, en dis my eerste bruid. Die eerste keer dat ek só oor ’n vrou voel, bereid is om my hele lewe te verander, selfs my naam. Ja, ek glo dis liefde.”

“Hoe’t jy haar ontmoet, was jy in Pakistan?”

“Nee, sy’s hier met vakansie by familie, by die Khans. Wasim, jy weet, hy’t my aan haar voorgestel, dis sy niggie.”

“Jy’t die skoot hoog deur, nè?” sê meneer Heilbron.

“Sal jy dit kan doen?”

“Trousertifikaat, ID én paspoort vir jou bruid uit Pakistan? Dis ’n bekvol, meneer Diamond.”

“Jake. Noem my Jake, dis soos sy my ook noem, voor ek Yusuf word.”

“Ek weet nou omtrent als van jou persoonlike lewe, Jake, maar wat’s jou nering?”

Hy het hierdie vraag verwag. “Jy bedoel jy wil weet of ek ’n largesse kan bekostig vir al jou moeite? Ek’s in die juweliersbesigheid. Het ek genoem dat my oupa op die delwerye was? My oupa Judel.”

Hy moet dringend by ’n toilet uitkom, maar die gesprek het ’n kritieke punt bereik.

“My oupa se nering was diamante en goud. Indië is die grootste goudmark in die wêreld, onversadigbaar, hulle vrek oor bling daar . . . Bollywood-aktrises, krieketspelers met goue kettings om die nek.” Jake wag dat dit insink, sê: “Die familiebesigheid is nou in my hande. Ek sê vir Wasim die dag as ek en Fauzia van ons Karibiese wittebrood terugkom, bou ek vir hulle ’n splinternuwe moskee in Fordsburg. Hy kan solank die planne laat optrek, ses minarette, maak nie saak wat dit kos nie – natuurlik ás meneer Heilbron kan help. Waaroor ek twyfel.”

Die man staar na hom en Jake wonder of hy die pap ’n bietjie dik aanmaak. Hy hoop Joe het goeie foto’s gekry, inkriminerend van meneer Blinkstefaans Heilbron wat besig is om sy eie korrupsiegraf te grou.

“Luister, Jake,” sê meneer Heilbron hartliker, “natuurlik kan ek julle help, vir jou en Fauzia. Ek’s die toesighouer, alles gaan deur my hande, al daardie dokumente vir jou en jou bruid. Verstaan wat ek bedoel?”

“Kan jy dit doen, meneer Heilbron? Dis nie gevaarlik nie? Ek wil nie in die moeilikheid kom nie.” Jake leun gretig oor die tafel, vir die sensitiewe mikrofoon van die opnemer in sy hempsak.

Dan merk hy uit die hoek van sy oog die twee mans wat ’n groot, swart BMW X5 staan en beskou. Sonbrille op, een met ’n kadot soos ’n fes, die ander ’n pet, tuit laag oor sy voorkop. Die een met die pet het ’n sel in die hand.

“Ek weet wat ek doen, dis nie die eerste keer nie,” sê meneer Heilbron. “Maar dit sal jou kos, ek’s nie goedkoop nie, het ander om te betaal met die lyn af, niemand kan so iets alleen doen nie. Die . . . uhm . . . largesse vir alles is tagtig duisend.”

Hét hom!

“Wat?” sê Jake. “Tagtig duisend?”

“Helfte met bestelling, balans met aflewering.”

“Hoe lank?”

“Ses weke.”

“Niks gouer nie?”

“Ek’s toegegooi. Bestellings uit die hele Afrika, ook baie klante uit Pakistan. Hoe oud is jou bruid? Ek hoop ouer as agtien, anders . . .”

“Vat jy ’n tjek?” Tussen die voetgangers op die sypaadjie merk Jake weer die twee mans, kom aangestap met hulle sonbrille en hoede, swenk in die heupe.

“G’n tjeks nie, streng kontant. Laat weet wanneer jy die deposito wil betaal, veertig duisend in note.”

Die twee mans staan nou by ’n straatsmous, bekyk die snuisterye van hout, draad en sweiswerk: maskers en reiers en tarentale, kameelperde en ape.

“Ek moet toilet toe gaan, kan nie meer knyp nie.” Jake staan op.

“Sal ek nog ietsie bestel?”

“Natuurlik. Espresso vir my.”

Jake stap tussen die patiotafels deur, die meeste nog beset. Vrydag se lang middagete, al word nou net gedrink. Dis al drie-uur en lekker sonnig, die kwik by die dertig grade, skat hy.

Hy moet wag vir ’n beurt by die krip, luide gesprekke en lagbuie, die bier wat begin saamgesels onder die sambrele op die patio. Meneer Heilbron verbaas hom. Hy’t nie gedink die amptenaar sal sy gierigheid só uitstal nie, met daardie krokodilvelskoene.

Jake was sy hande, druk hulle onder die droër in. Vryf met die uitstap die klammigheid teen sy broekspype af, die jeans verbleik, kol-kol wit uitgewas, bokknieë.

Hy glimlag. Judel, dit was ’n goeie een, sal nie omgee as sý oupa die hoofdiamantaar raakgedelf het nie. Sal ook nie omgee vir ’n Karibiese wittebrood met ’n jong bruid nie. Moet elke maand raap en skraap vir sy Brixtonhuisie se paaiement, egskeiding wat hom uitgeroei het. Seun nou in Perth, hoor min van hom. Gaan kuier darem soms vir sy dogter op die beesplaas by Modimolle om sy twee kleinkinders te sien.

Terug op die patio moet hy sy oë teen die skerp lig knipper. Tafel 12 is leeg. Hy soek rond na meneer Heilbron, sien hom nêrens nie.

Hy gaan sit op sy stoel, wonder of meneer Heilbron lont geruik het. Nee, hy dink nie so nie. Die man soek daardie deposito van veertig duisend in kontant, en ses weke later nóg veertig duisend.

Die kelner buk onder die sambreel in, wit lap oor sy voorarm. “Nog iets, of kan ek die rekening bring?”

“Rekening,” sê Jake.

“Kom jou vriend terug?” vra die kelner.

Jake sien wat hy bedoel: meneer Heilbron se laaste Chivas is nog half. Hy ken die man nie goed nie, skaars twee uur, maar goed genoeg om te weet hy sal nie loop en ’n dop Chivas los nie.

Hy kyk op na die kelner. “Het jy hom gesien?”

Die kelner knik straat toe. “Hy’s soontoe, saam met twee dudes. Nie gesê of hy terugkom nie, dis hoekom ek vra.”

“Twee dudes?”

“Twee grootmenere. Het hier by die tafel met hom kom gesels. Toe is hy saam met hulle weg, daar na die karre toe.”

Jake loer op en af in die straat, sien meneer Heilbron nêrens.

Toe die kelner die rekening bring, vra hy: “Die twee dudes, hoe’t hulle gelyk?”

“Een het ’n bofbalpet gedra, en die groter een met die spiere en tatoes ’n fes.”

“Jy gesien of hulle in ’n kar wegry?”

“Nie gekyk nie, niks met my te doen nie.”

Jake sit die note op die skinkbord neer. “Hou die kleingeld. Watse kleur is hulle?”

Die kelner tel die geld, leun oor na Jake. “Jy bedoel ras? Wil jy hê hulle moet my hier uitskop? Ons is kleurblind, dis ’n werksvoorwaarde.”

Jake sug. “Was hulle wit, swart, bruin of groen?”

“Groen,” sê die kelner en stap weg.

Jake knik vir homself, dis soos hulle vir hom ook gelyk het, of hulle van die Subkontinent kom. Dis wat hom die idee gegee het, toe hy hulle by die Beemer opmerk, van gouduitvoere en die bling van Bollywood. Hy vermoed hulle is ook van meneer Heilbron se klante.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх