Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 9

Оглавление

5

Abel dink: die vlugteling se eerste impuls is instinktief, skep so vinnig as moontlik die grootste afstand as moontlik tussen jou en jou agtervolgers. Dis soos die oerbrein werk van mens of dier, geen aarseling nie, gee pad van die gevaar af, snel. Al is jou agtervolger geen roofdier nie, net ’n jong vrou, aantreklik en skraal, 55 kilogram, skat hy.

Maar hý kies ’n ander opsie. Hy gaan lê laag, in die hart van die jaggebied as’t ware, vir sy wonde om eers te heel, en sy verwarde gees. Vir sy ontsnapplanne het hy ’n nugter verstand nodig in hierdie jagseisoen wat oop is op hom. Hy moet in staat wees om die slinkse sette van sy agtervolgers vooruit te loop, soos ’n skaakspeler wat sy teenstander se strategie antisipeer, hom inwag met reeds drie skuiwe in sy kop gereed.

Sy herstel duur ses weke. Maar hy sit nie ledig in sy afsondering nie, en die skade is aan sy liggaam en gees, nie aan sy brein nie. Sy brein is skerp; hy kan die posisies en kulminasies van konstellasies bepaal, die magnitude en deklinasies van sterre. Hy ken Ptolemeus se wiskundige en astronomiese vertoë soos latere geleerdes hierdie tweede-eeuse geskrifte ontleed en verduidelik. Die Almagest oor die bewegings van kosmiese liggame, die Tetrabiblos oor die siklusse van hierdie hemelliggame se meteorologiese invloede op die atmosfeer, die Phaseis, Ptolemeus se sterre-kalender, oor die verskyning en verdwyning van vaste sterre in ’n sonjaar.

Abel is ook ’n student en kenner van outentieke etniese maskers. Hy ken die simboliek en geskiedenis van maskers van selfs die mees obskure Afrikastamme, kan uit die vuis vertel hoe die maskers lyk wat die Bwa en Nuna van Burkina Faso dra om bose geeste te besweer, die maskers van die Dogon en Bamana van Mali in dansrituele om met die voorvadergeeste te kommunikeer, die oorlogsmaskers van die Ivoorkus se Grebo en van die Ashanti van Ghana, die doodsmaskers van die Balubri en van die nomadiese Fulani van Guinee, die oesfeesmaskers van die Kwele van Kameroen, die maskers wat die Lulua en Teke van die Kongo opdra aan die grond en diere van Afrika.

Abel is ook ’n musiekkenner, spesifiek en uitsluitlik Paganini se vioolkomposisies. Ander musiek maak sy ore seer, laat hom sweet en bewe. Die kakofonie van pop en rock en folk en jazz verwar sy gees. Hy ken die M.S.-nommer, naam en toonaard (ook opusnommers waar beskikbaar) volgens Moretti en Sorrento se tematiese katalogus van al Niccolò Paganini se komposisies, selfs die stukke wat die vioolvirtuoso vir die kitaar gekomponeer het. Abel se allergunstelinge is die 24 kapriese, Op. 1, M.S. 25, vertolkings deur uiteenlopende violiste, want Abel is baie gesteld op wie die meester se komposisies aandurf. Hy weet ook dat ’n ruimteliggaam na die groot komponis vernoem is: Nikolay Stepanovich Chernykh het asteroïed 2859 in 1978 met ’n ZTSH-teleskoop van die Krim- Astrofisiese Observatorium naby Nauchnij ontdek en na Paganini vernoem.

Abel is ’n deskundige van Afrikamaskers en Paganini en van die kosmologie – hy is inderdaad besig met die samestelling van ’n reeks volumes oor sy eie sterrekundige waarnemings en ontdekkings – en glo hy het ’n skerpontwikkelde en geordende brein.

Maar Abel kan steeds nie verstaan waarom sekere jong vroue wat met ’n pragtige vel geseën is, so teensinnig is om ’n deel, selfs net ’n A5-grootte, van daardie vel aan hom te skenk nie. Verkieslik met ’n tatoe daarop, ’n tatoe van astronomiese betekenis.

Hy het die velle nodig vir die omslae van die tien volumes van sy Kosmiese Reise. Hy het reeds twee sulke velle, kort nog agt. En dis oor daardie eerste twee steekse donateurs dat hy nou ’n vlugteling is. Omdat hulle geweier het om saam te werk, hom gedwing het om hulle velle teen hulle wil te oes.

Hy soek nog agt donateurs, maar ook ’n ander, spesiale vrou wat die allergeskenk aan hom moet gee: ’n nuwe gesig, die hoogtepunt van sy lewe. Vir só ’n gesig het hy hoë vereistes, soos vir sy velle. Dit moet ’n mooi gesig wees, die vel vlekkeloos. Maar nie net uiterlik mooi nie – ’n skenker rein van liggaam én siel. Dis ononderhandelbaar. Nie die gesig van ’n slet nie. Teen só iemand het sy moeder hom van kleintyd af ernstig vermaan, selfs met verse uit die Bybel, verál met verse.

Dis waaraan Abel alles dink terwyl hy teen die jagters skuil. Sy wegkruipplek, ironies, is tussen vroue gevul met Ou-Testamentiese boosheid, wat mans uitlok met versierings aan hulle liggame en vulgêre tatoes, hulle lekkende klein brakke en katte met kleurstrikke in die hare.

O, hoe sou hy nie daarvan gehou het om ’n paar van daardie velle te oes nie, vir opskerping van sy tegniek. ’n Paar velle te versamel van ’n Pekinees, ’n Pommer, Chihuahua, Dwergpoedel, selfs van ’n Shih Tzu wat skaars ’n A5 sou haal.

Hy het hom van die honde weerhou, want hy het self twee pit bulls gehad. Maar die kat was lastig, het voor sy deur kom sit, in die nag so gemiaau dat hy nie kon slaap nie. En wanneer hy die deur oopmaak om medisyne te gaan koop, of ’n Paganini-CD, of kos, het die kat ingeglip.

Hy het besluit om die kat te gebruik om sy tegniek op te skerp om ’n vel te vil. Selfs die kat se naam geken. Mitzi. Dis wat die vrou haar genoem het. Hy het die vrou se naam ook geken, het dit selfs oorweeg om op Jewel te oefen, om die Gotiese kruis teen haar nek te vil, en die slang wat teen haar bobeen onder haar kort rok inseil wanneer sy in die gange met haar skril stem loop en roep: “Mitzi! Mitzi!”, soos naalde in sy ore in.

Die reis uiteindelik na vryheid, so voel dit, duur ’n ewigheid. Ná lang oorweging besluit hy weer op ’n trein. Die Suid-Afrikaanse lughawens is te onveilig, al is die owerhede onbewus, so hoop hy, van sy ander identiteit as Bartholomeu Lomas, Portugese burger.

Hy redeneer die probleem is nie om uit ’n land uit te gaan nie, maar om ’n ander land binne te gaan.

Maar die treinrit na Lusaka in Zambië is sonder angstige oomblikke. Daar bespreek hy ’n vlug, weer as Lomas, na Nairobi, Kenia, met ’n transito-aansluiting op ’n vlug van die Tsjeggiese lugdiens ČSA na Praag.

Op Praag se Ruzynĕ-lughawe bied hy die Belgiese paspoort van dokter Lippens aan wat Jules Daagari se fabricateur vir hom in Bujumbura aangepas het. Daarop pryk Abel se eie gesigfoto nou, soos hy lyk ná die kwak se verbroude “weekend facelift”.

Hy verwyl die dag in Praag deur die vyftiende-eeuse astronomiese klok op die Ou Stadsplein te gaan besoek, tussen Wenceslas en die ou Charlesbrug oor die Vitava. Hy stel baie belang in hierdie astrolabium waarmee Middeleeuse sterrekundiges die posisie van die maan, planete en selfs die sterre bepaal het. Hy weet dat Ptolemeus veel vroeër ook ’n astrolabium gebruik het vir die astronomiese waarnemings wat hy in sy Tetrabiblos aangeteken het.

Die aand haal hy van die stasie naby Wenceslas-plein die Kopernikus-nagtrein na Amsterdam. Hy slaap en rus op die rit van veertien uur. Op Amsterdam se stasie stuur hy van ’n internetkafee ’n kort e-pos aan Ignaz Bouts met die aankomstyd van sy trein, uiteindelik, by sy eindbestemming in Brugge. Dit is die einde van sy lang reis, en die begin van sy nuwe lewe.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх