Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 7

Оглавление

3

Twee jong vroue slenter deur ’n groot, bedrywige winkelsentrum in Islamabad. Hulle is aantreklik, maar lyk nie soos Westerse winkelnimfe in gesmokte bloese en gebleikte jeans met ontwerperrafels nie. Hierdie twee is geklee in tradisionele drag: knielengte kameez-rok oor shalwar-slobbroek, dupatta-doek oor die hare.

By ’n winkel steek een vas, die een met die oë groen soos smarag. Sy kry haar vriendin aan die mou beet, beduie na die mehndi-ontwerpe.

“Ek soek so een, kom ons gaan kyk,” sê Sajida.

“Jy kan g’n ’n tatoe kry nie,” sê Nida.

“Hoekom nie?”

Sajida stoot die deur oop en Nida moet noodgedwonge volg. By die toonbank begin Sajida in die ringlêer met voorbeelde van die ontwerpe blaai. Dis ingewikkelde, delikate patrone, tradisioneel met borrie of henna aangebring vir die versiering van die vel, gewoonlik van die hande, arms, voete en bene.

“Is daar iets wat ek nie weet nie?” vra Nida. “Trouplanne? Is Nasir terug?”

“Nee, hy’s nie terug nie.”

Nasir is al ’n jaar weg, veg glo in Afganistan.

Sajida bestudeer die ontwerpe. Sy het lankal haar oog op ’n mehndi, net ’n klein een, as eksperiment. Sy wil voel hoe dit voel om met ’n tatoe te loop, onsigbaar onder haar klere, natuurlik. Niks in haar geloof wat ’n mehndi verbied nie – ’n mehndi-seremonie is selfs deel van ’n Moslembruilof. Twee dae voor die trouplegtigheid sal vriendinne van die bruid op die rasm-e-henna die bruid se hande en voete met aromatiese hennaolie invryf as voorspel tot ’n lang en gelukkige getroude lewe. En as die bruid wil, kan sy ook haar hande en arms en voete en bene vir die troue met mehndi-patrone laat versier, om haar vir haar bruidegom aantreklik te maak. Die man waardeer dit, sien die versierings nie as teken van losbandigheid nie, eerder as onderdanigheid, soos dit hoort in hul geloof.

Sajida oorweeg ’n beskeie mehndi, miskien op haar maag waar net sy dit kan sien. En nie vir ’n bruilof of Eid of enige ander spesiale geleentheid nie, sommer net. Dis wat hip jong meisies en vroue doen, dink sy. Dit daag die tradisies uit, verskuif die grense. Dis wat die Bollywood-aktrises doen, maar hulle is meer permissief, daardie Indiese aktrises soos Priyanka Chopra, die sexy flirt in Aitraaz.

In Lahore is die aktrises van Lollywood nog nie só dekadent nie, al gebruik hulle grimering en tof hulle op. Aaminah Haq en Veena Malik en natuurlik Iman Ali, wat vir haar rol in Khuda Kay Liye die Lux Style-toekenning as beste aktrise gekry het – Pakistan se weergawe van die Oscar. Maar oor Veena was die duiwel en al sy djins behoorlik los, oor daardie foto’s van haar sonder klere in ’n Indiese tydskrif. Met op haar boarm ’n régte tatoe, nie mehndi nie.

Nida loer oor haar skouer. “Wat sal jou pa sê?”

“My pa sal nie weet nie.”

“Maar ás hy weet.”

“My pa sit in Kanigoram, hoe sal hy weet? Ek sien hom miskien twee, drie keer ’n jaar as ek huis toe gaan.”

“En jou broers?”

Haar broers is ook in Kanigoram, kyk nie TV of flieks nie, stel meer belang in politiek. Wil Afganistan toe gaan soos Nasir.

“Ek hou van dié een.” Sajida druk met haar vinger op ’n vlieënde voël. “Vry soos ’n voël. Net so links van my regterheupbeen. Hoe klink dit?”

Nida skuif langs haar in, begin blaai. “Miskien moet ek ook een kry, só een, ’n blom.”

“En wat gaan jóú pa sê?”

Nida trek haar skouers op. “En jou man? Ás jy ’n man kry en hy sien jou tatoe? Sal hy dit soen of sal hy jou dwing om dit af te was?”

“Hang af wáár my tatoe is,” sê Sajida, en hulle gaan agter bakhande aan’t giggel.

“Hy kan myne soen, my bruidegom,” sê Nida. “Ek’s nie bang vir die engele nie.”

Sajida weet wat haar vriendin bedoel, hulle leer dit in die madressa, in die uitleg van die hadiete. Nida verwys na ’n Bukhari-hadiet: as ’n man sy vrou die aand uitnooi vir seks en sy weier, stuur die engele hulle vervloekinge na haar tot dit lig word.

Nida resiteer verspot agter haar hand: “Wie aan My die kuisheid verseker van wat tussen sy bene is en wat tussen sy kake is, aan hom waarborg Ek die Paradys.”

Hulle gaan opnuut aan’t giggel, twee bakvissies, oor hierdie hadiet-verwysing na seks en kos, al is die hadiete niks om oor verspot te raak nie. Maar hulle ligsinnigheid is die lewensvreugde van twee gewone jong meisies, gegrond in vroomheid, nie ontheiliging nie. Die hadiete gee rigting aan die gelowige se lewe, van geboorte tot dood, van jurisprudensie tot djihad, van menopouse tot optelgoedere. Dit beskryf elke oomblik van die gelowige se lewe, met ook baie van die Profeet se wyse, rigtinggewende uitsprake oor maagde en seks. Veral vermanings teen onwettige seks.

Sajida vermoed Nida is, nes sy, steeds ’n maagd. Sy stamp met ’n elmboog aan haar vriendin en sê in haar oor: “Daardie een oor die maagd, ek dink die verteller is Jabir . . . ”

“Die Profeet wat vir Jabir vra hoekom hy nie met ’n jong maagd getrou het sodat hy met haar kan speel en sy met hom nie?”

“Dis die een. En Hy sê vir Jabir hy moenie so haastig op sy kameel huis toe jaag nie, hy moet sy vrou eers kans gee om haar hare te borsel . . .”

“. . . en haar pubis te skeer!”

Hulle proes opnuut in hulle hande, vooroor gebuig oor die mehndi-boek. Blaai dan in stilte verder. Sajida kan haar voorstel wat in Nida se gedagtes aangaan, dieselfde as in haar eie: Wie moet hulle vra om dáárdie hadiet uit te lê, nommer 16 in Boek 62? Want wat presies beteken dit? Word van Moslemvroue verwag om daar onder te skeer?

Sajida is eerste aan die beurt. In ’n afskorting begin die mehndi-kunstenaar die voël op haar sagte maagvel aanbring. Die vrou se hande, selfs die palms, is oortrek met pragtige blompatrone.

Sy vertel hoe gewild die hennatatoes ook in die Weste is, vir dié wat nie permanente merke wil hê nie. Boonop geen tatoeëernaalde nie, en net die rooi henna van die Hawsonia inermis moet gebruik word. Nóóit die gevaarlike swart henna van die Indigofera tinctoria wat blywende letsels kan laat en die vel kan laat ontsteek nie. Vir meer kleur die geel pigment uit die risoom van die borrieplant, Curcuma longa, bekend as Indiese saffraan.

Die kunstenaar meng die hennapasta met vlugtige olies. “Dis ook uitstekend as ’n natuurlike middel om die vel teen veroudering te beskerm,” sê sy. Sy verf die ontwerp met delikate kwassies, en vir fyner belyning gebruik sy die nippel van die jacquardbottel.

Toe sy klaar is, sê sy: “Hou dit vir vyf ure bedek met sneespapier, plastiek of mediese verband. Dis om die liggaamshitte te behou sodat die henna met die keratien van die epidermis kan verbind. Maak dit daarna gereeld nat met ’n mengsel van suurlemoensap en suiker sodat die pasta nie uitdroog voor die kleursel op jou vel gefikseer is nie. Ná drie weke sal die tatoe begin verdof weens jou daaglikse bad met seep en water. Dan kom jy terug en gee ek vir jou ’n nuwe een. Eksperimenteer jy vir jou troue?”

“Nee,” sê Sajida, “g’n trouplanne nie.”

Ook haar pa, sover sy weet, het nie weer sulke gedagtes nie. Daar was wel sprake, ’n paar jaar gelede, toe haar pa Nasir Raza se naam genoem het. Hy’t gesê sy is nou hubaar, en ’n kleinneef sal ’n goeie keuse wees. Die Razas het kamele en bokke, en ’n trop skape wat Nasir en sy broers elke jaar skeer vir wol aan die tekstielhandelaars van Lahore, Islamabad en Peshawar. Maar sy het agtergekom Nasir is ’n heethoof. Hy sien nie sy toekoms agter bokke en skape in die valleie en aan die hange van die Preghal-berge van Suid-Waziristan nie. Sy fundamentalistiese godsdienstige streep is versterk in molla Wada se madressa in Kanigoram, wat studies aan ’n beroemde madressa in Karatsji vir Nasir aanbeveel het.

Sajida se ma het haar vertel van Nasir se oupa, en sy vermoed dis die voorbeeld van sy oupa wat die saadjie by Nasir geplant het. Net ’n vermoede, sulke sake word gewoonlik in afsondering bespreek, in die hujra net onder die mans, al skinder sy en haar ma in die kombuis om die potte op die stoof.

Nasir se oupa is destyds saam met ’n groot groep mans uit die stamgebiede oor die berge van Toba en Kakar na Kandahar vir djihad teen die Sowjets wat hulle Pashtun-grond wou kom verower. Soos ander, groter Mogolryke deur die eeue was die Russe se pogings ook onsuksesvol. Haar ma is trots op die geskiedenis van die Pashtuns; sy leer vir Sajida die mites en legendes van hulle vegtervolk.

Die jong man wat uit Karatsji teruggekom het ná sy studies by die madressa Dar ul-Ifta ul-Irshad, was nie dieselfde Nasir nie. Hy was ’n moedjahedien, het in slagkrete gepraat: “Inqilab inqilab, Islami inqilab!”

Sy dink dikwels aan hom, aan sy sagte stem en vurige oë. Sy wonder hoe dit saam met hom sou wees. Hy het haar met respek behandel, en sy vir hom. En as hy nie Karatsji toe gegaan het nie, sou hulle wel getrou het. Sy sou ’n goeie vrou vir hom gewees het, sou haar vel vir hom met mehndi-patrone laat versier het, sou onderdanig gewees het, vir hom kinders in die wêreld gebring het, hom nie verhinder het wanneer hy politiek wou praat nie.

Maar toe hy terugkom, was hy in die geselskap van die Oezbeeks, en dis saam met hulle dat hy uitgevlug het voor die helikopters met die masjiengewere en die vliegtuie met bomme. Uit voor die jeeps en lorries van die Pakistanse veiligheidsmagte soos klei in die hande van die Amerikaanse infidelle wat haar Pashtun-volk in Afganistan en Waziristan wil uitmoor.

Nasir was haar pa se keuse, en sy sou nie teen haar pa se wense gestribbel het nie, sy sou ingestem het. Dis soos dit nog altyd was; dis soos dit altyd sal wees. Sy en Nasir is albei in Kanigoram gebore, het saamgespeel en saam grootgeword, en dit was ’n goeie lewe. Nie maklik nie, maar goed.

Nou is hy weg. En al tyding wat sy kry, was toe sy laas by die huis was en haar ma in die kombuis vir haar vertel het van Nasir se heldedade teen die infidelle.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх