Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 8

Оглавление

4

Op pad terug van die strategiesessie sê die kubervegter Danny Hatt: “Dit gaan ’n lang skof word.”

“Wat sê Jill, kom julle Sondag oor?” vra Frank. “Vir die wedstryd teen die Steelers, dit gaan bloedig wees.”

“Steelers? Dog dis die Giants.”

“Giants is die week daarna.”

“Sal haar vra, dink nie sy’t iets aan die gang nie. Sy’t niks gesê sy wil by haar ma gaan kuier nie. Het jy gister die Post gesien?”

“Ja,” sê Frank. “Ons word weer lafaards genoem.”

“Anonieme lafaards,” sê Danny.

“Hulle moer, al daardie burgerregte-aktiviste se moer.”

“Lafaard” word ’n gewilde bynaam, lees Danny Hatt in The Washington Post en The Wall Street Journal, hoor hy uit die monde van die pratende koppe op TV. Moslemaktiviste wat sê die UAV-aanvalle op teikens van die Taliban en al-Kaïda en al-Shabaab in Pakistan, Afganistan, Jemen en Somalië is lafhartig. Burgerregte-aktiviste wat sê die drone-aanvalle is onwettig, niks anders as moord in opdrag van die Withuis nie – die president wat aanklaer, regter én laksman speel.

Danny, tegno-savant in die CIA se S&T-direktoraat, met grade in rekenaarwetenskap en inligtingstegnologie, was saam met Frank ’n student aan die CIA se Sherman Kent-skool vir Intelligensie-analise. Hulle het saam die kursus gedoen in terrorisme-analise by die CIA se Teenterrorisme-sentrum, saam die CIA se PISAP-kursus (Political Islam Strategic Analysis Program) geslaag, met die premis: “Die analise van organisasies wat godsdiens vir politieke doeleindes gebruik en godsdienstige ideologie om die bestaande politieke, maatskaplike en ekonomiese orde te probeer verander.”

Danny het goeie kwalifikasies op papier, dog geen opleiding as soldaat of vegvlieënier nie. Hy is nooit in Irak of Afganistan of aan enige gevegsfront ontplooi nie. Hy was wel vir PISAP-oriëntering in Bagdad se Abu Ghraib, in Bagram se Gebou 591, in Guantánamo se kampe: Delta, Echo, Iguana, X-Ray. Hy was in almal, om eerstehands met die vyand en sy ideologie kennis te maak.

Danny is vyf en dertig en ’n kantoorwerker, saam met Frank, by die George H.W. Bush Center for Central Intelligence, ’n reusegebouekompleks op 258 boomryke acre grond langs die rivier in McLean, voorstad van Langley in Virginië. Oorkant die Potomac lê Washington DC, setel van Amerikaanse mag.

Nou, net ná ses in die oggend, op pad ondertoe met die hysbak, is Danny en Frank al tien uur op nagskof. Hulle weet die einde is lank nie in sig nie, nóg tien uur op sy minste, maar die adrenalien pomp, soos altyd wanneer ’n operasie die groen lig kry.

Die laaste strategiesessie van die operasie het vyfuur begin en ’n uur geduur – topografiese kaarte en satellietbeelde teen die mure, intydse videobeelde van ’n onbewapende RQ-170-verkenningsvliegtuig vyfduisend meter bokant die teikengebied.

Dis vroegoggend in Washington, drie-uur die middag in Suid-Waziristan in Pakistan se wettelose stamgebiede. Die groen lig is net ná middernag gegee, deur die NCS (National Clandestine Service) -direkteur, maar finaal deur die nuwe CIA-direkteur self.

Die moreel is steeds hoog, selfs so lank ná die suksesse van 2011 se skouspelagtige CIA-operasies. Dié het begin met die gróte, Operasie Neptune Spear in Abottabad, en is ’n paar maande later gevolg deur ander hoëprofielteikens. Maar Danny en Frank was nie aan die stuur van daardie Predators nie. Wens hulle was, veral die een wat uiteindelik by Khashef in Jemen die groot bekke gesnoer het van Anwar al-Awlaki en Samir Khan, verlooptes uit die Amerikaanse boesem waaraan hulle so gekoester is. Die ergste soort verraad, is Danny se opinie.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх