Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 11

Оглавление

7

Danny en Frank betree hulle bunker onder die massiewe betonstruktuur van die CIA-gebou en druk die deur toe. Hier diep ondergronds is geen vensters nie. Hulle weet nie of dit nag of dag is nie, stel ook nie belang nie, die aandag is gefokus, die opleiding het ingeskop, die koppe skoon van alle gedagtes. Hulle is ingezoem op die taak toe hulle in hulle stoele gaan sit, twee groot draaistoele langs mekaar, diep en weelderig gestoffeer vir lank sit, oorgetrek met sagte swart leer. Voor elke stoel is vier monitorskerms.

Danny vroetel aan die konsolebank onder sy skerms, die toetsborde en hefbome en ander kontroles vir hulle dodelike hoëtegnologie-videospel. Hy is ’n kubervegter, al was hy nog nooit op enige slagveld nie. Die beheerinstrumente van ’n Predator met Hellfire-missiele is in sy en Frank se hande, al het nie een van hulle nog ooit in die kajuit van ’n vegvliegtuig gesit nie.

Op een van die skerms kyk hy na beelde van die onbemande Predator met sy kenmerkende kameelboggel vir die satellietstelsel. Die robotvliegtuig, reeds gelaai met twee Hellfires, staan glimmend op die teer van die aanloopbaan in die Afgaanse middaghitte. ’n Groot, onheilspellende silwer insek wat nie kan wag om op te styg nie, nie kan wag om sy prooi te gaan jag en sy Hellfires los te laat nie.

Shamsi was geriefliker, dink Danny, sy vingers besig met die voorvlugkontrolelys, voordat die Pakistani’s hulle uit Shamsi geskop het. Skadebeheer, geëmbarrasseer, groot krater in die oë van die wêreld nadat ’n SEAL-span Geronimo onder die Pakistani’s se neuse in Abottabad gaan skiet en sy lyk weggevat het see toe. Die president self was in die Withuis deur nagtelike videovoer op ’n rekenaarskerm ooggetuie van die hele Team Six-operasie.

In Danny se oorfone klink die stemme uit ’n operasiekamer elders in die CIA-gebou. Ook oudiovoer per satelliet uit die CIA se Chapmanbasis by Khost wat die drone-aanvalle in Pakistan koördineer, en video en klank uit die klandestiene lugmagbasis buite Jalalabad waar die Predator staan en wag.

H-uur is 09:00, Washington-tyd.

Met sy blik vlugtig op die digitale aftelling in die hoek van ’n ander skerm wat die tyd as 06:19 wys, dink Danny aan die cliché van die leë uurglas. Iewers, 12 000 kilometer ver in ’n woeste, onherbergsame landskap, het die sand byna uitgeloop vir ’n groep mense langs ’n vredige, pastorale begraafplaas teen die helling van ’n berg.

Miskien het hulle spesiale planne vir later die aand, dalk vir ’n gesellige ete saam met vriende, dink Danny. Miskien groter planne vir môre of oormôre, of volgende week of volgende maand, vir ’n besoek aan Peshawar of Islamabad om inkopies te gaan doen of familie te besoek. Of dalk beplan hulle – en dis waarskynliker – ’n selfmoordbomaanval op ’n Amerikaanse basis.

Hoe ook al, by die begraafplaas is dié groep mense onbewus daarvan dat van hulle planne niks gaan kom nie. Dat van hulle lewe nog net twee en ’n halwe uur oor is.

In sy oorfone hoor Danny die sein vir die lansering van die Predator. Dis nie in sy en Frank se hande nie; die opstyging word deur die grondstasie langs die aanloopbaan buite Jalalabad hanteer. Die grondstasie is ’n ou skeepsvraghouer, onopvallend, geroes, vol skilferende verf, soos al die ander skeepsvraghouers wat daar vir stoorplek gebruik word: werktuigkundige gereedskap, konkas met olie en ghries, dromme met vliegtuigbrandstof. Hierdie besondere houer is spesiaal ingerig en toegerus met gesofistikeerde elektronika.

Die Predator begin beweeg. “Daar gaan hy,” sê Frank sag.

Hy en Danny is in oudiokontak met die drie bemanningslede van die grondstasie: die vlieënier wat nou die opstyging en eerste fase van die vlug hanteer, die sensoroperateur van die hoëresolusie-neuskamera, en die intel-operateur wat die koördinate van die teikens moniteer en ook die mans se fisieke bewegings wanneer hulle binne sig van die drone se kamera kom.

Danny se oë is stip op die skerms, op die Predator wat opstyg, soos ’n perdeby in die blou lug bly hang, amper bewegingloos, voor dit begin kleiner word, dan net ’n silwer spikkel, en verdwyn.

Nou verskyn beelde van ’n berglandskap uit die aanboordkamera, en die oudio van rustige stemme uit die grondstasie wat kommentaar lewer oor die tegniese detail van die vlug: koers, weersomstandighede, togsnelheid en hoogte, die geraamde aankomstyd oor die berge in Pakistan se lugruim – die Predator se viersilinderturbo nou op sy togspoed van 150 kilometer per uur.

Danny en Frank langs mekaar in hulle gerieflike stoele, soos die vlieënier en medevlieënier in die stuurkajuit van ’n Boeing. Danny wat ’n slag dieper asemhaal, kalm en gereed toe die grondstasie sê die Predator het oor die horison verdwyn, dat nou van gronddata na satellietdata oorgeskakel word, dat beheer van die Predator van Jalalabad oorswaai na die CIA-bunker langs die Potomac aan die ander kant van die wêreld.

Danny se hand op die stuurstok: die dodelike videospel het begin. En wanneer hy en Frank later vandag huis toe gaan, wag hulle vroue en kinders, warm kos en ’n warm bed, welverdiende rus vir twee kubervegters. Agter hulle die Hellfires se spoor van dood en verwoesting, lasergeleide presisieprojektiele, elk met ’n hoëplofstof-fragmentasiekop van nege kilogram; al-Awlaki het so een in sy gat opgekry, het Frank opgemerk.

Eers wanneer die Predator oor die horison by Jalalabad terug in sig kom en die grondstasie weer beheer oorneem vir die landing, eers dán kan Danny en Frank begin opruim, die dag se taak afgehandel. Eers later, op die terugvoersessie, sal hulle verneem hoe suksesvol die sending was.

07:00, H-minus 2 uur.

Danny reik na ’n Red Bull. Nou is dit tyd vir ’n skerp brein, die Predator oor die Preghal-berge in Pakistan se lugruim, die sagte gezoem van die Rotax-enjin in sy oorfone. “Machay” word dié geluid in Pashto genoem, maar dan is dit reeds te laat, wanneer ’n teiken dié perdeby se gezoem hoor.

Die ander groot Predator-triomf was in Augustus 2009. Die HVT (high-value target) is geïdentifiseer deur ’n kort kodewoord van ’n informant uit die gehug Zanghara, ook in Suid-Waziristan, aan sy CIA-hanteerder in Kanigoram. Daardie Predator is toe nog uit Shamsi in Balochistan gelanseer. Binne vyf en veertig minute ná die informant se teksboodskap was die drone oor die Sulaimanberge, ’n warm nag in Augustus, die temperatuur 41 grade Celsius.

Met die huise van die gehug binne sig van die infrarooikamera in die drone se neus het Danny en Frank se voorgangers in die CIA-bunker die Predator na die modderhuis in Zanghara gelei. Ingezoem op Baitullah Mehsud, leier van die Taliban in Pakistan, in die soel aand aan’t ontspan op die dak van sy skoonpa se huis, by hom sy vrou en oom, ’n dokter.

Die beelde van die infrarooilens, drie kilometer hoog in die naglug, was duidelik op die skerms in die CIA-bunker: Mehsud wat binneaarse voeding ontvang, lyer aan suikersiekte en ’n nierkwaal, op sy rug op ’n matbed op die dak, die drup aan sy arm. In die CIA-bunker was die drone-span in kontak met die Teenterrorismesentrum elders in die gebou en met die grondstasie by Shamsi. Die wapenoperateur – die taak wat Danny nou het – het die opdrag gekry, die lens ingezoem, die teiken op die visier ingesleutel.

’n Aftelling van drie, en hy het met sy duim die rooi knop aan die stang in sy regterhand gedruk soos dié van ’n videospel. ’n Stem het nog drie sekondes afgetel, en alle oë was op die skerms. Geen byklanke nie.

In dié stilte is die neuskamera se videobeelde op die skerms ontvang, spookagtig en onheilspellend: reusevuurbolle, daarna rookwolke, sonder geluid van ontploffings, sonder krete van verminktes en sterwendes.

Op die skerms het die rook op ’n sagte nagbries weggesweef, en die kamera het ingezoem op die rommel van die huis, op die liggame tussen die puin, ’n koplose torso duidelik sigbaar.

Saam met Mehsud sterf sy vrou, sy skoonpa, sy oom en sewentien lyfwagte. Ná negentien vorige mislukte aanvalle was Mehsud se sandloper uiteindelik leeg, het sy oomblik van afrekening aangebreek, byna geluidloos, net die sagte gezoem van ’n perdeby in die naglug van Suid-Waziristan.

08:00, H-minus 1 uur.

’n Stroom seine en beelde van die Predator word ontleed: intelligensie uit Jalalabad, uit Khost, uit Langley. Operateurs wat die sending moniteer, wat die teiken korrek moet identifiseer en verifieer voor die opdrag aan Danny en Frank gaan om die teiken in die visier in te sleutel.

Onderaan Danny se skerm die naam en geografiese koördinate: Kanigoram, FATA, Suid-Waziristan, 32° 31’ 5” Noord, 69° 47’ 5” Oos.

Kanigoram waar die Oezbeeks uitgedryf is uit hulle tonnels in die Baddar-vallei, waar Pakistanse soldate kiste vol Stingers, Russiese PKMB 7.62 mm- ligte masjiengewere, AK47’s en ammunisie gekry het. Ook twee honderd blokke PETN- plastiese plofstof van een kilogram elk, nitraatplofstof wat vir motorbomme en selfmoordbaadjies gebruik word, en ontstekers wat bedoel was vir springstof in klipgroewe en steenkoolmyne.

Die Oezbeeks is uitgedryf, maar sodra die soldate weg is, kom hulle terug om die fedayeen te werf vir die Taliban se oorlog in Afganistan en al-Kaïda se oorlog teen die infidelle van die Weste. Ook vir bloedige etniese en godsdienstige vendettas onder landgenote.

’n CIA-informant, een wat vertrou kan word, het die mikroskyf – “patrai” in Pashto – onder bome langs die begraafplaas gaan plant. Dis op die koördinate van hierdie mikroskyfseine, elke tien sekondes ’n ping, wat die satellietstelsel van die Predator ingestel is, nou sirkelend drie duisend meter in die lug in die laatmiddagson bo dié oeroue landskap, bevlek met bloed van eeue se weerstand teen almal wat al vergeefs hierdie stamgebiede van die Pashtuns kom probeer verower het.

08:30, H-minus 30 minute.

Op een van Danny se skerms verskyn nou beelde van mense, nie meer net ’n landskap van berge en kranse en riviere en diep ravyne met tussenin vaal gehuggies met bruin modderhuise nie. Hy kan groepe mans op die grond uitmaak, wagtend naby die platane en judasbome teen die hang van die heuwel, die mikroskyf onder langs die stam van ’n boom ’n paar meter van die naaste groep af.

“Ek tel twee en twintig,” sê Danny. “Wys ons die voertuie.”

Frank verstel aan sy konsole. Die lens zoem in op drie Toyota Hilux-bakkies, stowwerig en erg verweer. “Drie en twintig, daar sit nog een in ’n bakkie. Praat hy op sy selfoon?” Hy zoem in op die houtkis agter op een van die bakkies. “Die kis met die liggaam?”

“Moslems gebruik nie kiste nie,” sê Danny. “Hulle draai hulle dooies in ’n kleed toe, ’n kafan, op die sy in die graf, gesig na Mekka gedraai.”

Die kamera wys ’n langwerpige vorm op die tweede bakkie, bedek deur ’n kleed of seil. “Dit kan ’n liggaam wees,” sê Frank.

“Is daar ’n oop graf?” vra Danny.

Die Predator se neuskamera beweeg oor die grafte, meestal sonder merkers of kopstene, net hopies wit sand en klip en graspolle, en vang ’n donker kol.

“Ja,” sê Frank, “daar’s die graf.”

“Maar is dit inderdaad ’n begrafnis?” vra Danny. “Of is die oop graf net vir die skyn?”

Die inligting is dat die byeenkoms plaasvind onder die dekmantel van ’n al-dafin, maar dat dit nie ’n regte begrafnis is nie. Só het die informant sy CIA-hanteerder verseker.

“Waar’s die imam?” vra Danny.

“Nog op pad?” Frank zoem terug na die mans wat in groepies staan en gesels, bebaard, betulband, bestof, bandeliers om hulle skouers.

Danny is nie ’n soldaat nie, maar hy ken gewere, die ou Kalashnikovs en .303’s in hulle hande. ’n Masoed is nooit sonder sy wapen nie, selfs as jong seun al, weet hy. Van die baarde is rooi gekleur met henna, soos die Masoeds doen. Hulle is geklee in tradisionele drag: kameez-tunieke en shalwar-broeke, sommige met stewels, ander met kabuli-sandale.

Nou begin nog stemme aan die gesprek deelneem.

“Miskien is dit tóg ’n bona fide-begrafnis.”

“Of ’n byeenkoms van die stam se jirga.”

“Dalk ’n dispuut oor ’n chromietmyn.”

“Is dit wel ’n graf?”

“Kan die ingang van ’n tonnel wees.”

“Ja, die Oezbeeks het al die hele wêreld om Kanigoram uitgedolwe.”

“Wat’s in die kis op die bakkie?”

“Wat’s onder die kleed op die ander bakkie?”

“Liggaam van ’n dooie?”

“Of Stinger-missiele?”

“Zoem in op die gesigte,” kom die opdrag.

Danny kyk na die greinerige stilfoto op sy skerm, die gesig van die jong man wat hulle soek, maer en bebaard soos almal daar, tulband om die kop, tuniek en wye broek ingetrek om die enkels.

Hy sê: “Almal het baarde, almal het tulbande, almal in dieselfde drag.”

’n Beweging vang sy oog: ’n man wat wegdraai van ’n groep, na die bakkie stap met die kis agterop.

Danny loer na die aftelling: 08:50, H-minus 10 minute.

Die informant het gesê die begrafnis, die skynbegrafnis, is sesuur die middag. Dan sal almal daar wees, ook die teiken, die maer man – Nasir Raza, leier van Tehrik-i-Taliban in die FATA-stamgebiede.

Op die CIA-skerms hou alle oë die man dop wat na die bakkie stap.

“Is dit hy?” vra iemand.

“Nee, die teiken is jonger, nog nie dertig nie,” sê Danny. “Het ’n litteken aan sy wang. Soek vir ’n meswond.”

“Soek vir ’n litteken tussen sy baard?” vra Frank.

Die maere leun by die bakkie se oop ruit in, geselsend met die man agter die stuurwiel. Hy kom orent, gaan hurk in die koelte van ’n boom, asof moeg van die lank staan en wag.

“Hulle wag vir iemand, dalk is die teiken laat?” sê Danny.

“Daar loop nog twee na ’n ander bakkie,” sê Frank.

“Hulle’s besig om uiteen te gaan,” sê ’n stem in Danny se oorfone.

“Frank, daardie ou wat onder die boom hurk, bly op hom, probeer sy gesig kry,” sê Danny.

“Sy gesig is afwaarts, in die skadu.”

“Bly op hom!”

Hulle leun vooroor, nader aan die skerms, vernou die oë, soek na die gelaatstrekke van die man in die skadu. Hy kom orent, beduie iets aan die ander. Van die mans in die groep kyk op na hom toe, die son vang hulle gesigte in profiel.

“Daar’s hy,” sê Danny, “derde van links.”

“Het hy ’n letsel?” vra Frank. “Ek sien niks nie.”

“Hy’t ’n letsel, dis hy.”

“Jy seker?” vra ’n ander stem.

“Vat hulle uit,” kom die opdrag.

Danny, regterhand om die stuurstok, luister na die aftelling. “Drie . . . twee . . . een . . .”

In sy hand ’n ligte trilling van spiere wat span. Sy duim druk die rooi knop aan die hefboom.

Hy lig sy duim en wag, luister na die tweede aftelling deur dieselfde stem: “Drie . . . twee . . . een . . .”

Op die skerms kyk niemand in die begraafplaas in die lug op nie, niemand hoor die dood aankom nie. Dan bars die hel geluidloos los, ’n wolk van vlamme, gevolg deur stof en rook en puin.

In Langley en Khost en Jalalabad is die satellietstemme stil. Almal wag. Danny loer na die tyd: H-minus 1 minuut – een minuut voor nege die oggend in Washington, een minuut voor ses die middag in Kanigoram.

Almal wag in stilte. Die rook trek weg en Frank zoem die neuskamera in, die Predator nou skaars ’n duisend meter bokant die toneel.

Van die bakkies is net puin oor. Hier ’n ratkas, daar ’n enjinblok, wiele nog aan ’n stuk van ’n agteras. Die reste van liggame lê versprei.

“Bring hom terug,” sê ’n stem.

Danny sit agteroor, neem die laaste sluk van sy Red Bull, dink: Ek moet onthou om vir melk en brood te stop op pad huis toe. En moenie vergeet om vir Jill te vra oor Sondag nie. Of hulle by Frank en Liz kan gaan braai om na die Redskins se wedstryd te kyk, teen die Steelers.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх