Читать книгу Die afreis van Abel Lotz - Chris Karsten - Страница 14

Оглавление

10

Van agter die kantgordyne op die tweede verdieping staar Ignaz na Abel soos hy wegstap in Dijver. Die vinnige tred van die kort, dik bene, asof doelgerig op pad na ’n spesifieke bestemming.

Abel is vir hom ’n raaisel. Ingetoë en ’n onbeholpe geselser, asof hy ontuis voel tussen mense. Tog skenk twee donateurs stukke van hulle vel aan hom. Twee vroue. Hoe kry hy dit reg? Wat is sy geheim om ’n vrou te oortuig tot só ’n intieme donasie, ongetwyfeld met aansienlike pyn?

Hy kan die man nie peil nie, maar Ignaz is opgewonde. Hy is van plan om die vriendskap te koester en te ontgin, selfs met Sofie se hulp. Abel kan hom dalk help met sy eie donker obsessie.

En hy bejammer die man opreg. Dat hy so vervolg en gejag word in sy eie land, selfs regoor Afrika tot in Europa. Dis alles so onbillik en onregverdig.

Iets is verkeerd met die proporsies van Abel se gelaatstrekke, so sonder harmonie en balans. Neus skerp en skeef, ore soos dié van ’n kabouter, ken te groot, die vel vol maankraters. En al daardie littekens, kriskras oor sy onaantreklike gesig, van die verskriklike wonde wat hy in die ongeluk opgedoen het.

Nie die soort man aan wie se voete vroue sal val om hulle velle aan te bied nie. Ignaz verstaan dit nie.

Maar hy moet erken: daardie laaste twee velle wás onverhoeds. Die gehalte van al sewe perkamente het hom verras, veral die laaste twee. In sy dekades in die besigheid van boekkonservering en -binding het hy nog nooit die voorreg gehad om sulke velle te hanteer nie. En hy twyfel of sy pa so iets aanskou het, of sy oupa, of oupagrootjie, of enige huidenvetter-voorsaat.

Dat Abel besondere moeite gedoen het met die bewerking en looi van die velle, is duidelik. Ignaz kon sien, en voel, dat Abel die voorskrifte van sy resepte nougeset gevolg het. Hy kon ook agterkom dat Abel in die looiproses die natuurlike tannien van diereharsings gebruik het om die kollageenweefsel en -proteïene van die velle te olie en soepel te hou.

Hy neem hom voor om later, wanneer hy en Abel mekaar beter leer ken het, hom opnuut oor sy donateurs uit te vra. Hulle ken mekaar lank, maar dit was ’n vriendskap in die kuberruimte, en noudat hulle mekaar van aangesig ontmoet het, is dit asof hulle vreemdelinge vir mekaar is.

Die kuberruimte skep valse vriendskappe, dink Ignaz. Kubervriendskappe is sonder warmte en spontaneïteit, sonder menslike gevoel, sonder die eerste indruk van iemand se gelaat. Miskien as hy en Abel eers die styfheid van hulle virtuele vriendskap afgeskud het, kan daar vertroue kom, kan hulle meer geheime begin deel.

Ignaz sal ook graag wil eksperimenteer met régte maagdeperkament, nie net dié van ongebore kalwers en lammers nie. Boonop raak dit al moeiliker om jou hande op sulke dierefetusse te lê, en dis duur, ás jy dit kry. Hy wil graag Abel se geheim hoor. Daarvoor sal hy sy vriend spesiaal in die Pietje Pek gaan trakteer. Hulle vriendskap kan stellig lei tot ’n goeie akkoord van samewerking, en pragtige boekomslae, die tekstuur soos fluweel en sy onder die vingers.

In sy pakkamer in die kelder, temperatuur en humiditeit gereguleer, is Ignaz se voorraad gelooide velle van lammers en skape, melkbokke, kalwers, varke en herte, en die kleiner velynvelle van dierefetusse. Hy looi lankal nie meer sy eie velle nie, koop die leer en perkament van ’n looiery in Oudenaarde. Of hy bestel dit uit ander lande vir elke gier en smaak van sy soms eksentrieke klante: leer vir die omslae van groter boeke, die delikate perkament vir eksemplare van seldsame geskrifte.

Maar hy moet erken, ondanks sy ervaring en bloedlyn het hy nog nooit ménslike velle oorweeg nie. Daaroor nagelees, ja, en al gewonder.

Nou het Abel opnuut sy gedagtes aan die loop gesit. Miskien moet hy ook iets spesiaals nalaat, want hy is die laaste geslag boeke-Bouts. Sy vrou lê in die ou begraafplaas in Ver-Assebroek; sy seun sit in Brussel, glo die toekoms lê in e-boeke, nie in boeke met omslae van leer nie; sy dogter is sommelier by die vyfster-Kempinski, eens die Prinsenhof waar Maria van Boergondië gesterf het.

Abel kan sy tien kosmiese volumes aan ’n instituut in Samarkand nalaat; wie erf Ignaz Bouts se nalatenskap?

Maar vrugbare jare lê nog voor, en as sy en Abel se vennootskap gedy, wie weet.

Toe Abel onder in Dijver uit sig verdwyn, draai Ignaz na die trap wat na die derde verdieping lei, sy woonplek. Aan die bopunt druk hy die deur oop en betree die oopplanruimte van sy sit-eetkamer: ’n bank en twee groot stoele, alles gestoffeer, diep uitgesit, die ou materiaal blink geskuur, die patrone gerasuur soos ou leer. Die meubels en dekor uit ’n vroeëre eeu, asof die vertrek deel is van ’n museumhuis. En baie kant: lappies op die armleunings, op die sytafels, die buffet, die ronde eettafel, voor die vensters.

Die antieke muurpapier is skaars sigbaar agter dosyne geraamde foto’s, almal van dieselfde jong vrou, min variasie in uitdrukking en posering. Eintlik net vier verskillende foto’s; die indruk van verskeidenheid is die verskillende groottes waarin die foto’s afgedruk en geraam is. Die 36 foto’s van sy Jute, dood twee jaar ná Sofie se geboorte, op 25, dieselfde ouderdom as Maria – sy aan inflammasie weens beserings toe sy van haar perd afgeval het. Jute het ’n langer lyding gehad: ’n virus wat die hipotalamus affekteer, breinselle verteer, ’n seldsame en ongeneeslike metastase.

Sofie kom selde in sy woonplek, vermy hierdie plek van memento mori, verstaan nie haar pa se onsterflike liefde vir haar ma nie. Hy neem Sofie nie kwalik nie, en hy verkies dit dat sy nie hier kom nie. Dis sy private tribune van hulde. Op die buffet in die glashouer is sy belangrikste aandenking aan Jute: ’n lok van haar hare wat hy met haar dood afgesny het. Al twintig jaar bewaar hy dit as’t ware lewend in die vakuum van die klokfles.

Die idee is nie nuut nie, hy het dit ontleen aan ’n boek van Georges Rodenbach uit die negentiende eeu, al het hy eers ’n jaar gelede ’n seldsame uitgawe van daardie Rodenbach-boek in die Antiquariaat Garemijn in Kemelstraat raakgeloop. Hy is geen boekversamelaar nie, en is dikwels verbaas oor die soort boeke waaraan bibliofiele en bibliomane soveel persoonlike waarde heg dat hulle bereid is om ’n fortuin daarvoor te betaal. Dan nóg ’n fortuin om dit te laat restoureer, die los bladsye te laat herbind in ’n duursame en duur omslag van leer of perkament. Soos daardie ou boek waarin Dionisio Minaggio, hooftuinier van Milaan in 1618, elke voël in sy Il Bestiario Barocco met werklike voëlvere geïllustreer het.

Maar dis nie sodanig die inhoud van die boeke waarin Ignaz belangstel nie, eerder die bladsye self, die gehalte en toestand van die papier. Behalwe soms, dan vang sy oog iets anders: ’n titel of ’n skets of ’n kaart of illustrasie wanneer hy met eindelose geduld en gevoelige vingers in sy katoenhandskoene die bladsye van die rug lostorring vir ’n nuwe binding.

Soos die bundeltjie met argeologiese verslae van 1848. Toe hy die bladsye lostorring, het hy die essay opgemerk deur ene Albert Way met die titel “Some Notes on the Tradition of Flaying Inflicted in Punishment of Sacrilege; the Skin of the Offender Being Affixed to the Church Doors”.

Maar wat hom wérklik aan die dink gesit het oor ’n spesiale omslag vir sy eie ou Rodenbach-boek, was die versoek van ’n klant dat Ignaz ’n bloemlesing bind van essays uit ou uitgawes van Notes & Queries. Die joernale het teruggestrek tot 1865, en in Volume 187, Uitgawe 12, gedateer 2 Desember 1944, het A.H.W. Fynmore se essay, “Books Bound in Human Skin”, sy aandag getrek.

Namate hy sy Rodenbach-boek lees en herlees, het twee gedagtes begin ontkiem, alles te danke aan eers Way, toe Fynmore – en nou Abel se donateurs van velle. Want Rodenbach se storie oor Hugues Viane is byna identies aan Ignaz se eie onsterflike liefde vir sy dooie vrou, daarom wil hy sy ou boek laat herbind as nóg ’n memento aan Jute, nóg ’n herinnering en hulde. Maar vir só ’n omslag benodig hy ’n baie spesiale maagdeperkament sodat hy die boek, met die haarlok bo-op, ook in die klokfles kan verseël.

In die rakke in sy kelder het hy gaan soek vir ’n saggebreide eksotiese perkament. Hy het verskeie oorweeg vir sy Jute-boek: die jugleer uit Rusland, maar net die yuft van die pensvel van ’n jong kariboe. Die marokyn en selfs fyner saffiaan uit Marokko. Die galuchat uit Frankryk van die vel van ’n haai. Die segryn uit Turkye van die vel van ’n gepêrelde pylstertvis. Die seems van ’n jong bergbok van die Tatra in die Balkan. Die suède van ’n gemsbokkalf uit Namibië.

Die groot vraag is: is enige daarvan eksoties genoeg? En die antwoord, ná Abel se byna terloopse onthulling oor sy twee donateurs, is natuurlik: nee.

Hy sal die oorspronklike omslag van die Rodenbach-boek behou, soos hy doen met ál sy klante se ou boeke. Die frontispies, hoe beskadig en beduimeld ook al, is van onskatbare waarde, en ’n nuwe leeromslag is bloot bedoel om die oue teen verdere slytasie en verweer te beskerm.

In die geval van sý boek, in 1892 deur Marpon & Flammarion in Parys gepubliseer, is die frontispies deur die Belgiese kunstenaar Fernand Khnopff, wat ook gesorg het vir 35 binne-illustrasies van bekende Brugse bakens om die verhaal toe te lig. Die stad Brugge is per slot van rekening een van die belangrikste karakters in die boek, naas Hugues Viane en Jane Scott.

Hy draai van die klokfles met die haarlok weg, en bel sy dogter by die Kempinski, net ’n paar strate van die Pietje Pek waar hy Abel op Karmelietbier en mossels en paling wil gaan trakteer.

“Wat’s fout, Pa?”

“Niks is fout nie. Mag ’n pa sy dogter nie bel sonder dat iets fout is nie?”

“Is dit weer die rug? Dis van al die gebuk oor ou boeke dat die rug dit nie kan hou nie.”

“Die rug makeer niks nie, Sofie. Wanneer los jy die hotel? Ek’t jou hier nodig.”

“Pa, ek hou van my werk, ek hou van mense om my.”

“Boeke is vol mense.”

“Ek hou van régte mense, mense met wie ek kan praat en lag.”

Hy dink aan Hugues en sê: “In boeke praat mense.”

“Praat hulle met Pa? Wat sê hulle?”

“Hulle vertel stories . . .”

“Boeke is vol stof, en stof gee my hooikoors. Pa weet mos, ek nies van boeke.”

Hy verswyg boekluise. “Niks ruik so lekker as die leer en velyn van my boeke nie.”

“My neus is bedoel vir goeie wyn.”

“’n Ryk gas by die Kempinski gaan jou nog wegvat, ek sien dit kom.”

“Ryk of arm, ek soek nie ’n man nie. Nog nie.”

“En as hy jou vat, bly ek alleen oor. Luister, Sofie, ek’t jou vertel van my vriend Abel uit Suid-Afrika. Ek wil hom uitvat vir ete, gedink dit sal gaaf wees as jy kan saamkom, hom ook ontmoet, help om hom tuis te laat voel.”

“Dis reg, Pa, ons kan so maak. Wat van Pa se medisyne, drink Pa dit gereeld? Moet ons weer ’n afspraak maak by dokter Smeden?”

“Nee, g’n afspraak nie, ek drink my medisyne. Ek bel jou oor ’n datum vir die ete.”

Hy sit die foon neer. Voel skuldig, want hy drink nie gereeld sy medisyne nie. En hy kan dit agterkom. Hy voel soms snags weer die angstigheid.

Maar hy vermy dokter Smeden, wat hom vir sy senuwees en neerslagtigheid behandel het ná Jute se dood. Hy was al drie keer in die Sint Raphael-inrigting in Antwerpen, en het besluit: nooit weer nie.

Die afreis van Abel Lotz

Подняться наверх