Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 11
Die wou-wou Kersfees
ОглавлениеDie veld, die boord, die wingerd skitter-bewe van die son se hitte. In die hoë bloekombome hou die geskree van die sonbesies aan en aan. Daar trek nie ’n luggie nie.
Jako mag nie rondloop solank dit nog so warm is nie. Daarom sit hy op die verandastoep met ’n prenteboek. Hy probeer lees van ’n seeperdjie se avonture, maar kort-kort dink hy maar weer: Wat gaan hy vir Kersfees kry?
Nog net vannag slaap en dan … Môreoggend maak hy die kussingsloop oop. Sê nou maar daar’s ’n kamera in? ’n Rolprentkamera. Dan kan hy orals op die plaas rondloop en alles afneem: Ouma Botha se eende op die dam agter die bloekombos, en Fido, hul hond, wat Braam se skilpad pla of hul duiwe laat opvlieg van die afgeoeste hawerland.
Oor ’n rukkie gaan die skadu’s al hoe langer begin word oor die boord, oor die wingerd. Dan gaan die beeste stal toe kom en Pa-hulle gaan begin melk.
Daarna kom die maan op agter die ver berge, dit klim en klim en skuif later deur die donker lug. Dit gaan nag word oor die veld net soos daardie nag toe Jesus gebore is.
Sodra dit heeltemal nag is, kom almal bymekaar by die Kersboom in die voorhuis. Nie net Jako-hulle nie. Tant Wiesie en oom Kosie kom in hulle bakkie van Boplaas af; oom Jan, tant Maraai en Thomas stap sommer die entjie van hulle ronde huis onderkant die hawerland af. ’n Mens kan altyd hoor wanneer oom Jan-hulle aan die kom is, want kort-kort raas ’n vies kiewiet oor hulle hom opjaag.
Hulle sal weer Kersliedere sing en Ouma sal uit die Bybel lees. Oupa sê hý lees nie; hy sukkel te veel met sy bors.
Daarna sal dit slaaptyd vir Jako, Braam en Dria word. ’n Hele nag wat hulle moet omslaap. Dan eers … Dis nog so lánk.
Sal hy nie maar vir Ma gaan vra nie? Miskien … miskien sal sy sê wat hy gaan kry. Sy sal seker in die kombuis wees.
Dis skemerig in die huis. Ma hou die gordyne toe vir koelte.
Daar in ’n hoek van die voorhuis staan die Kersboom. Dis ’n sipresboomtak in ’n paraffienblik. Hier op Brandwacht is daar nie dennebome nie. Andri, hul neef wat op die dorp woon, kry sy geskenke onder ’n slap denneboom. Die sipresboom is stewiger as die denneboom, en dit het ’n klomp klein takkies om blinkgoed aan vas te maak.
Dis te donker; hy kan die boom nie mooi sien nie. Maar dis tog asof die eenmaal-in-die-jaar-se-ding wat so stil daar staan, met hom wil praat: Dis Kersfees!
Op die buffet staan Ma se handewerk: twee grootkoeke en bakkies en borde vol kleinkoekies. En daar is ’n groot rangskikking van wildepruimtakke en kerslelies op die tafel.
Nou stap hy verby die spens. Hier is dit donkerder, want die venstertjie is bitter klein. In dié koel donkerte gis gemmerbier in ’n erdekan.
In die kombuis versier Ma ’n sjokoladekoek.
“Ma, wat gaan ek vir Kersfees kry?”
“Kan jy nie wag tot môre nie? Ek gaan nie sê nie.” Meteens lyk Ma se gesig ’n bietjie treurig. “My kind moet tog nie te groot drome droom nie. As ons maar net die geld gehad het, het ek vir julle gekoop net wat julle harte begeer.”
Elke jaar praat Ma so van die min geld, maar elke Kersfees is daar tog iets in die sloop. Wat het sy en Pa vanjaar gekoop? Wanneer het hulle dit gedoen? Pa-hulle gaan altyd Saterdagoggende in dorp toe vir inkopies – op watter Saterdag het hulle dit gedoen?
Jako gaan sit maar weer met die seeperdjieboek op die stoep.
Laatnag dreun oom Jan-hulle se stemme nog eenstryk deur in die voorhuis.
Jako weet hy moet al in die bed wees, maar hy staan nog ’n rukkie by sy kamervenster. ’n Ligte briesie stoot teen die gordyn.
Die klipperige werf lê geelwit in die maanlig.
Dis vir Jako of die sterre spesiaal meer en helderder is as ander nagte. Asof hulle weet van Kersfees.
Môre … môre … gaan hy die sloop ooptrek en daar gaan ’n … motorbootjie in wees. Een met ’n enjin aan. Dan sal dit dwarsoor die dam kan loop.
Nee, wag. Daar gaan tog ’n kamera in wees. ’n Rolprentkamera …
Nog net die môrester sit in die lug toe Jako wakker word. By die pakkamer klingel die melkemmers. Pa hoes sy oggendhoes diep uit sy keel en stryk met die emmers aan koeistal toe. Ouma se swart haan kraai en onder uit die laagte gee tant Maraai s’n antwoord.
Dis skemerdonker in die kamer. Jako vryf sy oë. Dan gaan ’n rilling deur hom. Dis Kersfeesoggend! Die presente!
Braam en Dria slaap nog. Jako kan nie meer wag nie. Hy skop die komberse af en val-val na die kussingsloop.
In die kombuis klink die koppies in die pierings en gesels die teelepels saam soos Ma hulle regsit vir oggendkoffie. Die koffie moet reg wees wanneer Pa terugkom van die melkery.
In die donkerte wikkel Jako die sloop los van die bedstyl.
Hy steek sy hand in. Hy vat ’n kartondoos raak en haal dit uit. Hy sien ’n prentjie op die doos.
Hy weet wat in die doos is.
Dis nie ’n motorboot of ’n rolprentkamera nie.
Hy neem die doos venster toe om beter te kan sien. Om seker te maak.
Sy keel trek toe. Dis nie waar nie! Dit moenie waar wees nie. Dis nie wat hy wou gehad het nie. Hoe kón Ma-hulle dink dat hy dit wil hê? Hulle kon so baie ander dinge gegee het.
Nou het hy ’n simpele ou vlieënde piering gekry.
Hy hét al met dié ding gespeel. Jy sit die piering, eintlik net ’n wiel, op die punt van die plastiekpen wat lyk soos ’n platgedrukte wasgoedpen. Daarna trek jy die tou hier aan die agterkant van die pen en dan trek die piering deur die lug. Dis al.
Andri het ook so een. Hy het dit al lankal. Hy het dit ook nie vir Kersfees gekry nie; sommer net omdat sy ma lank in die hospitaal moes bly.
Andri is maar net ’n sub B’tjie, en Jako gaan al na standerd twee!
Vanmiddag kom Andri-hulle uit plaas toe. Dan moet Jako vir hom wys hy het dieselfde ding gekry.
Trane begin brand in Jako se oë.
Hy sit die piering op die pen en trek die toutjie. Flip-flap trek die piering met ’n kort bogie en val voor die klerekas neer.
Hy het dit gewéét! Die ding gaan boonop nie werk nie.
Nou kan Jako die huil nie meer keer nie. Hy val op die bed neer.
Hy weet nie van Braam wat wakker word, sy sloop oopmaak en daarna met sy trekker na Dria se kamer draf nie.
Ma kom staan in die slaapkamerdeur. Hy wou gehad het sy moet kom kyk hoekom hy so huil, maar nou kan hy nie vir haar kyk nie. Hy huil net harder.
“Wat is dit, my kind?” Ma se oë wys dat sy die antwoord weet.
“Ek wil dit nie hê nie, Ma!”
“Ek het jou gesê jy moenie te veel verwag nie. Hou nou op met huil voor jou pa jou hoor!” Sy draai om en stap stadig kombuis toe.
Jako druk sy gesig diep in die kussing in.
Heelwat later, toe die son al helder skyn, staan hy op en trek hom aan. Hy stap tot by die dam agter die bloekombos.
Wat gaan hy doen of sê wanneer Andri-hulle kom? Hy weet Andri gaan iets groots vir Kersfees kry. En hý sit met sy sub B-speelding.
Skielik sien hy Oupa met die paadjie bokant die dam aangestap kom. Oupa moet hom nie sien nie. Oupa sal wil weet.
Hy klim koes-koes teen die damwal uit, weg van die water. Maar dis te laat. Daar roep Oupa hom.
“Môre, Oupa se kind. ’n Geseënde Kersfees, gehoor. Kom saam, dan kyk ons of ons nie ’n paar komkommertjies vir jou ma en Ouma kan pluk nie. Jou ma-hulle wil slaai maak.”
Sonder ’n woord val Jako by Oupa in. Hulle stap om die bloekombos tot by die groentetuin. Oupa stoot die lam-en-tam hek langs die bloublomsaliebos oop en vra: “Hoekom het Oupa se kind so op die Kersoggend gehuil?”
Jako se onderlip trek lank. “Sommer, Oupa.”
“Moenie jok nie, jong.”
“Die present … Ek wil dit nie hê nie. Ek wou ’n …”
“Jako, nee. Só moet jy nie praat nie. Jou ma-hulle gee vir jou iets omdat hulle jou gelukkig wil maak. En as jy dit nou mooi ontvang, dan maak jy weer vir húlle gelukkig. Maar, Oupa se kind, jou ma is dié Kersfees nie ’n gelukkige ma nie.”
Hulle is by die komkommers. Oupa vroetel-vroetel ’n bietjie en pluk dan die een dounat komkommer na die ander af. Jako moet sy hemp soos ’n kom voor sy maag hou sodat Oupa van die komkommers daar kan inpak.
“Neem dit vir jou ma in die kombuis,” sê Oupa.
Jako drafstap kombuis toe, plak die komkommers op die tafel neer sonder om vir Ma te kyk. Maar terwyl hy kamer toe loop, kan hy voel hoe sy vir hóm agterna kyk.
Hy tel die stukke voor die klerekas op. Werk dit regtig nie?
Hy loop daarmee uit tot op die boonste stoeptreetjie.
Hy kyk eers rond. Nee, daar’s niemand naby wat kan sien hoe hy met die ding probeer speel nie.
Eers die piering op die punt sit. Druk dit stewig in. Trek die tou.
Dadelik woer die piering weg. Dit trek oor die rotstuin en skuins verby die sipresboom. Fido kom aangedraf, kyk op en blaf verspot vir die trekkende skyf.
Vir die eerste keer die oggend glimlag Jako.
Daar begin die piering nou af te sak. Dit het sowaar getrek tot amper by die bloublomsaliebos langs die groentetuinhek.
Daar op die dorp met al die huise het Andri syne nooit so ver laat vlieg nie.
Jako en Fido draf om die piering op te tel. Fido kry dit eerste beet. Nou eers soebat en rem om dit by hom te kry. Dan dit gou opsit en die toutjie trek.
Daar trek die skyf. Hoër en hoër. Dit gaan in die sipresboom vashaak! Nee, die wind skep hom. Dit seil dwarsoor die boonste toppie. Nou gaan dit op die veranda val! Nee, dit mis dit net-net. Dit verander sommer tjoef-tjaf van rigting en val op die stoeptreetjies neer.
Wat kan hy nog met die piering doen? Hy kan dalk papiermannetjies daaraan vassit, iets ligs wat sal saamtrek. Dan is dit ruimtemense wat kom kyk hoe lyk dinge hier.
Hy tel die piering op en wil kamer toe stap om die knipwerk te gaan doen.
Maar hy kyk vas in Ma. Sy het met die slaaibak by die stoeptafel kom sit om komkommers te kerf. Sy lyk so ernstig. Sy frons.
Hy het vir Ma hartseer gemaak, het Oupa gesê. En op Kersfees moet ’n mens gelukkig wees.
Ma bly kyk na die hopie komkommerskyfies wat al hoe groter word onder haar mes. Jako trap rond. Dan sê hy dit:
“Ma! Hy speel lekker, Ma.”
“Ek is bly, Jako.” Maar die frons gaan nog nie weg nie.
“Moet ek vir Ma wys? Ek gaan hom laat vlieg en dan gaan Fido hom vang, Ma!”
Die piering woer weg. Dis teen die son in. Oomblikke lank kan hy dit nie sien nie. Waar gaan dit val? Dit moet net nie wegraak nie. Wag, daar trek dit in onder die skaduwee van die akkerboom langs die hoenderhok.
Iemand is dadelik by om dit op te tel. Eintlik is daar ’n klomp mense byderhand. Dis Pa en oom Karel van Apiesklip en sy seun Tinkie wat kom geluk sê het met die groot dag.
Tinkie praat snaaks, want sy voortande sit ver uitmekaar.
“Sssssjoe, hy trek lekker, Jako,” sê hy en gee die piering aan. “Mag ek hom ’n sssslag laat vlieg?”
Jako bly net daar staan.
Tinkie wil met die piering speel – en Tinkie gaan al na standerd vier!
Jako druk die piering in Tinkie se hande. “Ja, kom ons kyk wie kan hom die verste laat trek.”
Hy kyk om stoep toe. Sién Ma?
Sy staan by Pa en oom Karel en gesels. En sy glimlag.
Daar kyk sy nou af na Jako en Tinkie. Sy wuif vir Tinkie.
Wanneer sy saam met Pa en oom Karel wil instap by die huis, skree Jako: “Kom kyk, Ma! Ek en Tinkie gaan beurte maak!”
Ma kom met die treetjies af tot by hulle. “Ja, toe, laat ek sien. Jy’s eerste, nè, Tinkie?”
Terwyl Tinkie in die lug rondmik met die piering, sit Ma haar arm om Jako en trek hom vas teen haar.
Tinkie gee ’n effense plukkie aan die tou en die piering roer nie eens nie.
Jako lag. “Wag, laat ek jou wys!” sê hy en vat dit vinnig by Tinkie.
Ma en Tinkie staan agteruit toe hy die regte pluk gee en die piering opwoer.
Dit gly oor die top van die sipresboom, skuins verby die soldervenster, en klim boontoe oor die afgeoeste hawerland.
Jako tol in die rondte. “Kom, Tinkie!” skree hy en spring weg, sy oë net op die piering. “Ons gaan haal hom. Hy’t nog nooit so ver getrek nie!”
Toe hardloop hy skoon onder Tinkie uit.
Al hoe hoër trek die piering, asof dit mik vir die kruin van die naby berg.
Uit: Vrede op aarde, saamgestel deur Linda Rode, Tafelberg-Uitgewers, 1990. Voorheen in Sarie, 21 Desember 1983 as “Toe Kersfees weggebly het”.