Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 6

“Doen alles wat sy vir jou sê”

Оглавление

Daardie Januarie-oggend is die Voorbereidende Skool op Worcester baie besig. Dis die inskryfoggend van 1953 se sub A’s. Dinge is anders en nuut vir ’n man. Jy’s nog vyf jaar oud, maar word al ses op 28 Februarie.

“Doen alles wat sy vir jou sê.” Mamma wys na ’n tante in die middel van die groot kamer. Sy lyk half na Ouma Botha. Sy het grys hare en ’n geel rok met swart koringare daarop.

En die volgende oomblik is Pappa en Mamma weg. Jako1 sien ’n klomp ander kinders wat bymekaar op hulle hurke of kruisbeen sit. Hy kniel by hulle. Hy hou sy koffertjie styf vas. Binne-in is ’n pakkie toebroodjies. Mamma het dit in die gladde papier-vir-die-botter toegedraai. Die papier het ’n prentjie van ’n koei op.

Om hulle is baie grootmense met kinders aan die hand. Dis warm en die pratery dreun en dreun, met skerp huilklanke tussendeur.

Nou sien Jako die kas langs die muur. Dit het deure met glasvensters. Hy skuifel nader, sleep die koffertjie saam. Daar’s skilpadjies in! Nie lewendes nie. Groen en geel en oranje. Hy weet nie waarvan hulle gemaak is nie. En daar’s poppies. Húlle is van blare en skulpe. Hy kyk en kyk maar daarna.

Toe dinge begin bedaar, maak van die ander hul koffers oop en haal goeters uit. Jako ook: die toebroodjies. Die snytjies met die perskekonfyt wil uitskuif by die botterpapier.

Net toe buk die tante met die are by hom.

Sy is besig om vir elkeen ’n stuk papier te gee, sê hulle moet dit huis toe neem. Mamma het dit later ’n “vorm” genoem. Sy gee ook een vir Jako en wys terselfdertyd na sy brood en sê: “Draai toe.” Jako sukkel om die taaisagte brood met die stywe vorm toe te draai.

Sy glimlag, draai die brood weer toe met die koeipapier en sit ’n ander vorm in Jako se koffer.

Vir 1953 se span het die tante juffrou Theron geword.

Middae is sy êrens in haar donker kantoor besig. Hulle plaaskinders speel in die sandput terwyl die kinders in die laer- en hoërskool nog klas het. Of ry op die ysterrondomtalie wat jou naar op die maag kan maak. Hulle moet agter die hek op die skoolterrein bly totdat oom Gawie de Kock se geelwit skoolbus langs die tingerige plataanboom stilhou. Dan eers mag hulle al met die wit strepe langs oor Tulbaghstraat loop. Die polisie-oom met die wit handskoene het al lankal die dorpkinders tot op die oorkantste sypaadjie gehelp; hy is nou huis toe.

Aan die begin van die jaar het juffrou Theron self vir hom en Pieter-hulle gewys hoe om te maak. Kyk eers links, dan regs, dan weer links en as daar niks motors aankom nie, stap jy flink oor. Al met die wit blokke langs; nie sommer kruis en dwars en af van die blokke nie. Nog later het die twee Rosies wat middae die klaskamers aan die kant maak, ook soos juffrou Theron vir Jako-hulle aan die hand gevat en saam oorgestap.

Vanmiddag is Pieter-hulle al weg toe Jako by die skoolhek uitdraf. Aan die oorkant van die straat, aan die einde van die blokke staan oom Gawie se bus. Iemand se motor staan op sy plek by die plataanboompie. Nou het oom Gawie stilgehou met die sitplekgedeelte reg oor die laaste blok.

“Julle mag nie van die blokke af gaan nie,” het juffrou Theron gesê.

Stadig begin Jako oorstap. Hy steek vas voor die sitplekgedeelte. Hy sak af en waar die wit blok onder die bus ingaan, kruip hy in. Sleep die koffertjie agter hom aan. Bo en om hom is geel stukke modder. Hoe dieper hy inskuif, hoe donkerder word dit onder pype en ysters. Dis of die bus op hom afsak. Dit druk hom vas. Hy kan nie vorentoe nie. Hy gaan nie hier deurkom nie.

Hy móét omdraai. So vinnig as wat hy kan, skuif hy agteruit. Terug in die sonlig hardloop hy om die neus van die bus, by die deurtrappie in en gaan sit op die nou bankie.

Sê nou juffrou Theron het hom gesien? Hy het van die blokke afgehardloop! Sy gaan die polisieman uitstuur plaas toe om hom te kom vang.

Die hele middag wil Jako nie sy voete by die voordeur uitsit nie. Netnou kom die polisieman oor die stormwatersloot met sy motorfiets gery, sien vir hom en kan hy nie wegkom nie.

Teen skemer sit Jako voor die kamervenster en kyk en kyk al met die dorpspad langs.

Die volgende dag laat roep juffrou Theron hom ook nie. Toe het Jako ’n geheim.

’n Donderdagmiddag in April kom juffrou Theron skielik by die klaskamer ingestap. Sy kyk vir Jako-hulle met haar ouma-oë deur en vra: “Wie kom almal van die plaas af? Steek asseblief hande op.”

Het sy dan al vergeet?

“Kyk, julle plaasmense, ons het ’n bietjie mis nodig vir ons roosbome. As julle elkeen ’n kardoessak vol bring, sal ons al ver kom. Onthou nou, bring dit môre vir juffrou Snyders.”

Vieruur, kort voor melktyd, gaan Jako af beeskraal toe. Juffrou sal seker droë koeke verkies. Hy gaan regtig vir haar help. Daarom maak hy twee kardoese vol.

In die kamer pas hy dit versigtig in sy koffer in. Die sakke lê kant en wal. Bo-op sit hy sy leesboek.

Die volgende oggend moet hy die worshond-kosblik maar in die hand bus toe dra.

Die hele dag wag Jako met die mis in die koffer. Nie juffrou Snyders, nie juffrou Theron vra wie’t mis gebring nie. Nie een van die ander wat hande opgesteek het, haal kardoese uit nie.

Jako neem die mis in sy koffer maar terug huis toe.

1 rooi rose, Januarie 2009.

Die helder dae

Подняться наверх