Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 14

Nou is dit anders

Оглавление

In my kleintyd het ek Kersfees geïdealiseer daar op ons plaas in die skadu van die Brandwachtberg buite Worcester. Daar móét net iets anders aan dié aand en dié nag voor Kersfees wees. Ek was ook die ene verwagtinge vir Kersoggend se geskenke. Die dag self sál voorspoedig verloop. Dis die Here se dag. Heeldag lank wag daardie iets baie, baie besonders net anderkant ons huis se noordgewel om te gebeur.

Tog was daar heelwat Kersfeeste met teleurstellings. Van hulle het ek al verhale gemaak.

Eenkeer het oom Joon van Grabouw en sy gesin weer by ons gekuier oor die Kerstyd. Hy’s met tannie Soetie getroud, Ouma se dogter uit ’n huwelik met ’n Duitse oom. Oom Joon kan soms hartseer raak, dan moet ons saam met sy dogters, Marieta en Maryna, sy Buick was en die Pottebakker-lied vir hom sing: “Doen slegs u wil, Heer, u wil met my, / U, Pottebakker, met my, die klei.”

Ons het so half geweet hy gaan daardie aand maak of hy Vader Krismis is. Ons was in Oupa-hulle se voorhuis om die versierde sipresboomtak vergader.

Uiteindelik die voetstappe in die donker gang. Vader Krismis gaan nou-nou by die deur inkom.

Skielik is hy daar. Ons kyk vas in sy gesig. Ons skrik, ons skree, ons huil, ons wil weghardloop. Dis ’n lelike gesig! Die duiwel s’n!

Weke lank daarna het Ouma oom Joon se rooi kreukelpapiermasker agter die broodblik in die kombuis gehou. Nes ons lelik praat, dan haal sy die vreeslikheid uit en ons laat spaander oor die werf. Later kon sy maar net broodblik toe draai, dan vlug ons al.

’n Ander Oukersaand hang die kussingsloop weer aan die katelknop. Ek staan voor ons kamervenster. Broer Koos slaap al. Voor my, aan die westekant, die bloekombos, donker en vol verstrengelde geheime en gevare. Kyk op, op, verby die hoogste takke, op na die hemel. Elke oomblik kan iets tussen die sterre deur verskyn. Dis of die sterre weet dis ’n spesiale nag. Hulle geflikker sê dit. Gaan daar nie ligte deur die blouswart begin skuif nie? Of mense al nader deur die lug kom nie? Hulle kom van ver, vanuit ’n plek waar almal reeds Kersfees vier en baie gelukkig is in die geelwit lig, waar hulle sing en opgewonde praat. Hulle kom uit die hemel. Dan’s hulle weer weg. Hulle het nooit regtig gekom nie.

Maar wat is dit nou? Daar’s mos stemme anderkant die bos, agter die dam. Dis die herders of wyse manne wat nader kom uit oom Pietie se peerboord.

Môre is dit Kersfees. Maar vannag gebeur dit weer. Net een keer per jaar. Uit ons Kinderbybel lees Mamma altyd daarvan: “En daar, in die stal, het daardie nag die grootste wonder gebeur wat ooit op aarde plaasgevind het. Daar is die Here Jesus gebore! Daar het die enigste Seun van God as ’n hulpelose babatjie in die wêreld gekom.”

Deur die jare het Kersfees dalk iets nugter-saakliks geword vir my as ongetroude. Ná my ouers se afsterwe het my suster en broer en hul gesinne my byna net op Kersdag gesien. Vir hul kinders was ek ’n Kersoom. Toe het hulle nog soms na my woonstel in die stad gekom en het oom Danie tog die woonstel oordadig versier … vir die kinders. Groot was die oomblikke vir my een jaar toe klein Heinrich van Koos en Edna ’n ewigheid lank gesit en kyk het na die staltoneel wat ek uitgepak het. Nes ék soveel blou, blou jare gelede aan die hand van Ouma in die Duitse kerk by die Weihnachtskrippe.

Nou’s die kinders volwassenes. Dié Kersfees gaan ek op sewe-en-vyftig die oudste by die Kersete wees.

Ek gaan weer nie baie Kerskaarte kry nie, want my soort vriende is te sinies, “wêrelds” daarvoor. Of ons bel of stuur e-posse vir mekaar. Ons gee ook nie juis geskenke nie.

Op Oukersaand sal ek seker alleen wees. Hoekom sal ek my woonstel versier? Gaan ek tog maar ’n kers aansteek, lank daarin kyk? Dalk vir Mimi Coertse die óú “Stille nag” laat sing? Nee, eerder stilte.

Ek sal ingekeerd raak en beraad hou met God. Soos so dikwels vanjaar.

Só was dit in Kerstyd 2004. Intussen het daar weer veranderings gekom. Die twee Manne het in oom Danie se lewe gekom: Adriaan en Stephan, kleinkinders van sus Dria en Eric en Elbé van Zyl. Laasgenoemde is my bure in die aftreeoord; hulle Suzanne is met Dria se seun Riaan getroud. Ja, nou is dit weer ’n uitvis oor wat Vader Krismis vir die Manne moet bring vanjaar. My tagtigjarige taxibestuurder, oom Floris, vra ná vier jaar nog steeds uit na die boikie wat die army truck gevra en gekry het. Dit was Adriaan. Nou is oom Danie ook feitlik altyd by as Vader Krismis skielik hulle huis in Durbanville se klokkie lui en dan is dit ’n uithardlopery na die voorhekkie. Maar die ou man is al weer weg. Hy’t die lekkergoed saamgeneem wat uitgepak is vir hom. Hy moet nog ver gaan dié nag. Maar hy het darem báie geskenke gelaat. Die grootmense moet help oopmaak en wys hoe alles werk. Veral Pa Riaan, Ma Suzanne en ook hulle pa se suster, liewe tannie Rachelle.

Wanneer gaan die Manne uitvind Vader Krismis bestaan nie regtig nie? Verlede jaar het Pa Riaan al vir Adriaan (8) voorgestel hy moet vir oom Danie dankie sê dat hy vir Kersvader gevrá het vir die DVD en die storieboek.

Ek herinner my dat ons kleintyd net op ’n goeie dag by Ma gehoor het dat sy en Pa nog al die jare vir ons die geskenke gekoop het, êrens weggesteek het tot hulle dit stilletjies in die Kersnag in ons slope gesit het. Ons het nie een keer wakker geword nie. Die nuus was vir ons ’n vanselfsprekendheid; nie iets ontstellends nie.

Met die geskenke gee deel ek dan in die Manne se lewens, al weet hulle dit nog nie. Ek is ook nie so baie met hulle in aanraking nie; daarom weet ek nie hoeveel hulle weet van die Kersgeskiedenis nie. Verlede jaar sou hulle by hulle oupa en ouma Van Zyl op Kleinmond wees; ek het my ou-ou stel met die herders, wyse manne, Maria-hulle en die Babatjie met die uitgestrekte armpies saamgegee. Ek kon ongelukkig nie sien hoe hulle daarna kyk nie. Dalk nes Heinrich?

Maar daar’s nog iets. Om C. Louis Leipoldt aan te pas: “As ek nou my keus kan kry, / Wat is die wens wat my hart sal wae?” Dat ek ’n keer by die Manne kon sit en die Kersverhaal só goed vir hulle sal vertel dat ek heerlike verwondering op hulle gesigte sal sien.

Adriaan het sy oupa Eric al ’n keer halfpad deur ’n storie onderbreek en gesê hý wil verder vertel. Dalk doen hy dit op dié Kersaand ook met mý. Dan sal ek gerus wees. Hy wéét van Jesus.

rooi rose, Desember 2004; uitgebrei 23 April 2014.

Die helder dae

Подняться наверх