Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 9

Iemand by die deur

Оглавление

As kind op Brandwacht reeds het Jako van ’n “pelgrim” gehoor. Ma het in die Bybel van ’n “pelgrimslied” gelees, en in die Sondagse jeugprogram oor die radio is John Bunyan se verhaal oor die pelgrim se reis na die Ewigheid as vervolgverhaal opgevoer.

Vir Jako is ’n pelgrim ’n man. Hy het ’n ruwe bruin rokjas aan, met ’n “heufel” wat hy oor sy kop kan trek teen die stormwinde en slagbuie reën. Sandale aan sy voete, en ’n tougordel om sy middel. Hy dra sy besittings oor sy skouer in ’n sak of in ’n bondel aan ’n kierie. Hy het ook ’n houtstaf om die loop te vergemaklik en homself mee te verdedig. Hy is bebaard; sy lippe is gebars.

Hy is kort-kort met bergpaaie langs aan die loop of ten minste teen opdraandes uit. Hy kyk op na die skaduryke top van die berg, hou ’n hand voor sy oë. As daar ander (ook vroue) saam met hom is, sing hulle oor God wat hoog bo hulle is.

Of hy staan op die een bergtop en kyk oor valleie der valleie heen na ander bergtoppe. Watter swaarkry en avonture, hoeveel vol riviere en afgronde lê nie daartussen en wag op hom nie? Sal hy nie iemand onderweg moet red nie?

Die pelgrim frons dikwels. Dis of hy met ’n ernstige boodskap of opdrag belas is. Sy gesig is omfloers van ’n stilte, behalwe wanneer hy sing. Selfs dan bly die erns.

Hy is op pad na die ewigheid.

Soos een winternag blou, blou jare gelede buite Worcester.

Jako sit op die klein stukkie uitbouing van die vuurherdmuur langs die Dover-oond. Hy moet kort-kort sy bene wegdraai van die vuuropening as Ma ’n kastrol kom aflig. Die kole en vlamme is ’n stuk veld vol miershope op ’n somermiddag. Nee, meer as dit: sipresbome, afgebreekte huise en kraalmure. In die lig vloei en staan alles tegelyk stil. Daar loop mense. Sadrag, Mesag en Appeleenoog. Klein, klein. Dieper en dieper die lig in.

Die skoorsteen is ’n groot stuk swart berghang met die renosterbosse orals afgebrand. Dis ’n steilte wat aanhou en aanhou. Hoe hoër en hoër Jako bedags daarin opkyk, hoe banger word hy. Die swartheid wil jou vasdruk. (Soos by Sand Hills naby De Doorns waar die pad deur die berg geskiet is; jy sit agter in die Nash en kyk op. Meteens net geel rotse en grond en grond hoog bo jou uit. Maar nou’s ons naby Ver-Oupa-hulle op Orchard!) Jy kan daarteen opgaan, maar hoe ver? Wat wag op jou waar dit die donkerste is? Jy kan gly en afstort.

Nou in die nag kan ’n mens nie te ver in die skoorsteen in op sien nie.

Jy kan ook nie deur die klein venstertjie agter die stoofplate en die kastrolle kyk nie. Donker, donker.

Die kombuisdeur se onderkant laat wind en reën deur. Ook deur die hap regs bo aan die bodeur waar Pa se duiwe vroeër jare deurgevlieg het voor die plek in ’n huis verander is.

Op die vensterbank bo die kombuistafel brand die lantern. Die vlam rek, swaai, buig.

Ná ete is net Jako en Ma nog in die kombuis. Sy droog die laaste skottelgoed af.

Hy kan die reën en die wind nou goed hoor.

Môre sal die Brandwachtberg toe wees onder die sneeu. Grys en koud tot by die laagste hange. Nooit tot op die plaas self nie. Behalwe die een jaar baie lank gelede toe die Groothuis ook toegeval het. Oupa was altyd trots op die foto wat in meneer P.A. Malan se eksekuteurskantoor op Worcester gehang het.

Die lae sneeu en die talmende donker reënwolke verander die berg. Dit het nou iets van die Here: almagtig, sterk, ontoeganklik. En jy word bang om daarna te kyk. Vanaf al die kranse kan onheil elke oomblik toeslaan. Sal die sneeumassas nie nader stroom oornag nie?

Ma se hare is swart. Toe Braam nog ’n babatjie was, het sy middae op die bed met hom gelê en vir hom gesing: “‘Luister hoe fluister die wind deur die boompietjies. Heen en weer wieg hy al oor die stroompietjies. Doedoedoe, bladertjies, slapenstyd nadertjies, so sê die windjie aan blaartjies en blompetjies.’ ” Dan lê Jako ook by hulle op die bed en draai en draai ’n lok van Ma se hare om sy vinger, en glo Mamma sing dit vir hóm ook terwyl Ouma se hoenders kloek, en skaduwees teen die dak skuiwe wanneer iemand of iets in die hitte van die middag voor die huis verbygaan. Dan sink-sink Jako in Ma se liefde in.

’n Ou skaapwagter uit haar jongmeisiedae op Keurbosch anderkant De Doorns was die enigste man wat ooit vir haar gesê het sy’s ’n skoonheid, sê sy altyd. Hy het haar “die roos van Matroosberg” genoem. Pa het darem seker ook die een of ander tyd gesê sy’s mooi toe hy na haar gevry het. Sy’t toe in die Nasorgafdeling van die Skool vir Blindes op Worcester gewerk, Matrone gehelp in die kombuis. Maar sy was met baie mans deurmekaar, terg Pa altyd.

Ma sing Hallelujaliedere wanneer sy die dag stoof skoonmaak en roetbesmeerd raak.

Sy kyk nou na Jako, dan na die agterdeur, en begin die resitasie uit haar skooldae opsê:

“‘Wie roer aan my deur

so vertroulik en sag?

Kom binne maar, vreemd’ling –

dis awend, dis nag.’

“‘Nee, ek mag nie na binne,

ek, pelgrimskind;

my lewe is swerwe,

my naam is die wind.’ ”

Is die pelgrim al weg by die agterdeur? Loop hy nou al deurnat verby Ouma se hoenderhok?

Gaan hy vannag nog alleen die koue en donkerte van die Brandwachtberg in?

Dalk staan hy by die dorsvloer en kyk terug na die lanternlig.

Is hy hartseer voor hy na die Here gaan?

Uit: Abraham de Vries (samesteller): Uit die kontreie vandaan, Human & Rousseau, Kaapstad, 2000; ook opgeneem in Abraham de Vries (samesteller): Die Afrikaanse Kortverhaalboek, sesde hersiene uitgawe, Human & Rousseau en Tafelberg, Kaapstad, 2004.

Die helder dae

Подняться наверх