Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 16

Ná die dood op Brandwacht

Оглавление

Teen 1955 was ek, sus Dria en boetie Koos bekend met die dood. Al het Ma altyd die hoofstuk in Die Kind se Bybel oor die kindermoord en wenende moeders in Betlehem oorgeslaan.

In die stuk sandveld tussen die Kliprivier en ’n renosterbosrant het die swart hoop gelê van Kaptein, die muil met sy eens drillende boude voor die ploeg. Knoetse hare, vel, hope bene. Hy verrot in die verlatenheid. Wind, son en reën laat hom verdwyn. Kalkoentjies en gousblomme slaan daar op. Af en toe skiet die swartkorhaan op uit die bossies. Oupa Möller sê hy lees hardop die koerant vir almal wat wil luister. As hy al baie hoog in die lug is, kondig hy ook die oordeelsdag aan.

Ek kan nie juis van begrafnisse uit daardie tyd onthou nie. Tussen die dakbalke op die solder was wel ’n draagbaar vir ’n doodkis ingedruk. ’n Mens het die pale van bloekom of spaansriet nie dadelik in die skemerte raakgesien nie. In ons kleintyd is dit ook nooit gebruik nie.

Ons kennis van die lewe ná die dood het op hoorsê berus.

Daar was ’n stuk pad waarvan ons baie dinge geweet het. Oupa Botha en oom Pietie het ons vertel.

Dis die pad wat om die kop vol aalwyne en spekbosse loop aan die suidekant van die vallei. Snags is daar ’n gloor bo hierdie kop, want daaragter is Worcester se ligte.

Na aan die pad is ’n groot rots met ’n gedeelte wat donkerder van kleur is. Groenblouerig. Lyk of dit as slypsteen gebruik is. Lank, lank gelede het olifante stadig uit die Kliprivier opgekom en hulle hier staan en skuur, het oom Pietie vertel. Hy was lid van die afdelingsraad en het geveg vir die behoud van die rots toe hulle die pad wou verbreed en teer.

Kom jy van die dorp af kry jy eers die olifantklip aan jou regterkant, en dan tien tree verder, aan die linkerkant, twee dennebome, altyd stowwerig en verwaaid. Vlak by hulle ’n turksvybos langs ’n kring plat klippe en ’n paar hope kleigrond.

Dis al wat oorgebly het van ’n strooidakhuis. Een winderige Vrydagmiddag het die huismense ingery dorp toe met die kapkar. Hulle het hulle drie honde vlak voor die agterdeur aan kettings vasgemaak sodat hulle nie verbygangers kon bestorm nie.

Oupa sê die Italiaanse krygsgevangenes uit die Tweede Wêreldoorlog wat daar naby in die Parsons se klipkappery gewerk het, het seker die veld aan die brand laat raak. Die huis het tot op die grond toe afgebrand. Dink aan die honde met die gloeiende kettings om hulle kele.

Oom Japie Swarts se lang gedermte van ’n huis is seker in dié huis se plek aan die oorkant van die pad gebou. Hier by die murasie het sy enigste dogter, Joycie, oom Gawie de Kock se roomwit skoolbus gehaal.

Die stuk pad hiervandaan noordwaarts tot by Rooibult was tog te spesiaal vir ons in ons vroeë tienerjare. As ons op ’n aand by die Swartse kuier, het ons saam met Joycie en haar oppasster, Baby, tot daar geloop en slimstories verkoop. Baby, groot van postuur en al so sestien, het alles geweet van “heavy petting” en “owerspel”.

Die son is al lankal onder. Dit word al donkerder en donkerder. Dan sê Baby: “Jakkals gat julle vang! Ha’loep!” En ons laat waai tot by die langhuis.

Ons het meer dikwels by die Le Roux’s van Hartbeesrivier gaan kuier. Dis die pokkel van ’n James wat my en Koos die stuipe in die ramkamer laat kry. Die kersie brand laag. James maak skadu’s teen die muur om te wys hoe sluip die dooie man nader en nader. Die lyk soek sy goue tand, sy goue arm … sy been … “Waaaar’s my goue been!” Woep! Dood is die kers. James gryp na my: “Hier’s my been!”

Een laatnag ná sulke stories ry ons terug na ons donker huis onder die Brandwachtberg.

Ek, Koos en Dria sit agter in die grys Nash. Die ruite is opgedraai. As jy wil, kan jy diep afsak sodat jy nie die aalwynarms, olifantklip en swart dennebome hoef te sien nie.

Regoor die murasie sien ek kolle lig. Eers spring dit rond. Dan kry dit koers in die donkerte. Dit jaag op die motor af. Nou is dit stukke vuur. Vier aan die linkerkant van die motor; skielik is twee reg langs my venster regs. Die vuur wil deur die ruit kom. Dit word kleiner, word oë. Trek deur die lug net so vinnig as wat die motor loop.

Die geel oë aan my kant word breër. Begin grond toe loop soos ’n stroom water. Af, af. Nou’s dit ’n slurp. Rol op, rol af.

Skielik is alles weg.

Die Nash dreun voort.

LitNet, Februarie 2009.

Die helder dae

Подняться наверх