Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 12

Tant Hanna se Kerskonsert

Оглавление

Toe oom Pietie se dorsmasjien weer skielik op ’n dag langs die hawermied intrek en die hele werf baie gou onder die kafstof toe lê, is Jako se standerdvierjaar amper verby. Die eksamen is agter die rug, en die laaste paar dae mag hulle biblioteekboeke lees terwyl meneer Pansegrouw punte en persentasies uitwerk. Of hulle mag lang tye buite gaan speel.

Op die plase onder die Brandwachtberg is dit ’n anderse tyd van die jaar. Wanneer die dorsery klaar is, begin die appelkose al goed verkleur en dan is dit bakstaan tot kort voor Kersfees om die plukkery klaar te kry.

Maar iets anders maak dit vir Jako so ’n besonderse tyd: tant Hanna Oosthuizen se Kerskonsert is net om die draai.

Sy is die plaaswyk se Sondagskoolonderwyseres. In haar vierkantige, netjiese huis naby die Hartbeesrivier het sy van die kleintjies tot die amper-aannemingskinders by haar in die klas. En gereeld lê die iesegrimmige, stokou Pekinesie onder haar stoel en jy waag dit nie naby haar nie, vertel Mossie Jordaan. Eenkeer het Mientjie gehuil omdat sy nie haar teks kon opsê nie, en toe knor hy vir haar, en toe huil sy eers.

Elke jaar, die eerste Saterdagaand nadat die dagskool vir die vakansie gesluit het, hou tant Hanna met haar kinders in ’n waenhuis konsert. Dan kom dominee Du Toit van die dorp af om die seëls en diplomas vir getrouheid uit te deel. Hy vra altyd vrae, en toe sê die oudste Campbell-meisiekind, Cheryl, mos op ’n keer drie “kings” het na Jesus kom soek. Jako het amper vir haar gelag, maar toe sê Dominee sowaar dis reg. Maar die Kinderbybel sê dis drie wyse manne uit die Ooste.

Vir die konsert kry tant Hanna die Le Roux-broers om trekklavier en kitaar te speel. Ernst Erasmus is altyd Ou Jaar wat met homself spot en vir Nuwe Jaar preek, want Ernst kan sy stem so lekker oud maak. Helena Engelbrecht, met haar mooi, ligte hare, is óf die engel wat die herders laat skrik, óf Maria.

Wanneer dit al goed donker is, daag Kersvader met die geskenke op.

Jako wens met sy hele hart dat hy ook aan die konsert kan deelneem, maar hy mag nie, want hy en Dria en Braam gaan nie na tant Hanna se Sondagskool toe nie. Hy kon nog nooit vasstel waarom nie. Sy pa het iets gesê van “te ver, het nie ’n ryding nie” en veral dat hulle “nie die regte klere het nie”. Die ander kinders kom so uitgetof daar aan. Sy ma hou self vir hulle Sondagskool.

Soms laat tant Hanna vir tannie Babs en haar ma, tant Hester, toe om te help met die singery agter die papierlintskerm langs die lakengordyn. Hoekom mag hulle deelneem? En Frans le Roux wat die trekklavier speel? Hy’s darem al lankal klaar met die Sondagskool. Dan kan tant Hanna mos vir hom en sy ma en Dria ook laat sing. Braam is nog te klein. Sy pa het al baiekeer gesê hulle drie kan goed wysie hou. En sy ma ken ook mooi godsdienstige stories wat opgevoer kan word.

Daarom het hy een Sondagaand gedoen wat hy gedoen het. Dit was einde September. Die wattelbome was oortrek met geel blomtrosse. Dit was ongetwyfeld lente en die einde van die jaar was al in sig. Toe draai oom Gert en tant Hanna se ronde, grys motor in by die brug oor die stormwatersloot. Hulle kom langsaan by sy oupa en ouma in die Groothuis kuier.

Tant Hanna móét al besig wees met die oefenry vir die konsert, of anders sal sy beslis baie gou moet begin. Pieter en James en die ander seuns praat nooit eintlik voor die tyd oor die konsert nie; net partykeer laat glip een van die meisies iets.

Deur sy slaapkamervenster kan hy inkyk in sy ouma-hulle se voorhuis. Hy sien ’n stuk van die lang, donker tafel. Die deel met die gansblompot daarop. Ganse byt in mekaar se nekke in ’n kring om die pot te vorm. ’n Entjie verder staan die olielamp. Hy kan ook vir sy oupa sien, sy ou bietjie grys hare hopeloos deurmekaar. Êrens voor sy oupa moet tant Hanna kiertsregop sit. Sy is kort en maer en dra altyd iets moois om die nek. Hy wens hy kon haar sien.

Sy ouma het al vir tant Maraai vertel hoe mooi dit is om saans in die bed te lê en nog te hoor hoe sing die kinders in die huis langsaan. Tant Hanna sal hom nou ook duidelik kan hoor sing.

Jako maak die venster baie wyd oop en begin sing, amper elke Kerslied wat hy ken, net nie “Stille nag” nie. Dis te spesiaal en plek-plek moet ’n mens baie sag sing.

Nou vra tant Hanna seker wie sing so mooi. Dan sal sy ouma glimlag en vir haar sê. Nou-nou sal sy ouma hom kom roep en dan sal tant Hanna hom vra om in haar konsert te kom sing.

Maar sy ouma-hulle se bruin agterdeur bly toe. Niks roer op die sementblad in die maanlig nie.

Later hou hy maar op met sing en leun by die venster uit. Hy bly na die voorhuis toe kyk.

In ’n stadium sit sy ouma die skinkbord met koffie en rooiboluskoekies langs die gansblompot neer. En die gesels hou aan en aan.

Dalk gaan tant Hanna ’n boodskap saam met een van die kinders stuur; Mossie of so iemand.

Die hele week wag Jako, maar niemand sê iets nie. Natuurlik! As hulle nog nie oefen nie, sien tant Hanna Mossie-hulle eers volgende Sondag. Dan sal hy seker Maandag die boodskap kry dat hy ook moet kom oefen.

Die volgende week hou hy Mossie fyn dop op die skoolbus. Lyk dit of Mossie ’n boodskap het? Sy is tog nie ’n skaam mens nie. Sy sal die boodskap voor al die ander vir hom gee. Hy hoef nie daaraan te twyfel nie.

Of dalk is Mossie vies dat tant Hanna hom wil gebruik en stel sy opsetlik uit.

Die ander meisies praat ook nie oor die konsert nie.

Die Vrydag sluit die skool vir die kort vakansietjie voor die laaste kwartaal begin. Nou is daar twee Sondae nie klas nie en hulle sal ook nie in die vakansie oefen nie.

Die tweede Vrydagmiddag van die nuwe kwartaal klim Mossie ewe skielik saam met Helena van die bus af. In die deur swaai sy eers om en skree uitgelate: “Sien jou vanmiddag, Piet Pote! Tata, Piet!”

Pieter kyk vir James en trek ’n mismoedige gesig.

Toe weet Jako: tant Hanna se mense is besig om te oefen. Mossie gaan nie reguit huis toe nie, want dis nader van Helena-hulle af na tant Hanna toe. Dan hoef sy nie ver in die hitte te loop nie.

Die ongelukkigheid vou om Jako toe.

Miskien kom tant Hanna, noudat hulle aan die gang is, agter dat sy nog ’n seun kan gebruik, maar alles lyk so onmoontlik.

Sy ouma het ook niks oor sy singery gesê nie. Net dat tant Hanna hulle wel uitgenooi het. Die konsert gaan vanjaar op Saterdagaand 4 Desember in die Erasmusse se waenhuis wees.

Maar sy oupa en ouma moes ongelukkig verlede week Kaap toe gaan sodat die spesialis na die knoppie op sy oupa se lip kan kyk. Die houtblindings voor die vensters is vasgegrendel. Die groot sleutel het die swaar, bruin voordeur toegesluit. Niemand sal nou gou op die stoep met die ry varings in die geverfde paraffienblikke kom nie. Daar’s ook niemand in die kamers om ’n mens te hoor nie. Dit is ’n baie lekker plek vir alleen speel.

Jako het nou niks skoolwerk nie. In die lang somermiddae kan hy doen wat hy wil.

Môre is dit 4 Desember. Tant Hanna het hom nie gevra nie.

Toe die koeie stal toe kom, stap hy om na sy ouma-hulle se stoep toe.

Hy is besig met ’n plan. Hy sal maar weer iets van sy kant af moet doen. Wie nie waag nie, sal nie wen nie. Môreaand sal hy voor die tyd vir tant Hanna vra of hy maar kan help met die singery. Sy het tog seker plek vir ’n ekstra stem. Hy hoor hoe sy ja sê.

Hier gaan hy nou op sy eie vir die konsert oefen.

Die sakkende son laat die breë sementtrap lyk asof dit van goud is. Hy is ’n wyse man wat van sy belaaide kameel afklim. In sy hande hou hy ’n bakkie mirre. Stadig loop hy verby die rotstuin en begin dan met die trap opklim. Hy bestyg die Hangende Tuine van Babilon, steek vas, staar ’n keer terug oor die Vlakte van Jisreël. Is daar ’n wolkie soos ’n man se hand daar in die verre verte? Hy klim weer verder, kom al hoe nader aan die stal. Sing “Kom herwaarts, getroues”. Die “kom buig”-gedeelte sing hy eers sag, dan al hoe harder. Met “Die Heiland is gebore” kniel hy voor die krip. Nou: “O die vrolike, o die salige”. Hy draf-dans om die krip.

Toe hy agter die krip vassteek, is hy Josef. Hy hou Maria se hand vas. Nee, hy laat los dit. Hulle doen dit nooit so in die konsert nie.

Hy bly Josef terwyl hy “Stille nag” sing. Een keer. Nog ’n keer. Dit is wonderlik om dit te sing. So is eerbiedigheid. So is heiligheid.

Later, terwyl hy die roomafskeier staan en draai, dink hy hy het nou geoefen om te loop en te staan soos die Bybelse mense, maar dit sal tant Hanna hom so nooit as te nimmer laat doen nie. Daarvoor sou hy saam met die ander moes oefen. Hy sal nie die helder blou of rooi of geel satynklere kan aantrek nie. Maar om net agter die skerm te sing, sal al klaar iets wees. Miskien moet hy tant Hanna vra of hy ’n gedig kan voordra. Hy kan “In die Hoëveld” doen of “Makoemazaan” of die een oor Racheltjie de Beer.

Net toe hy “In die Hoëveld” in sy kop begin opsê, raas sy pa skielik by hom. “Waar’s jou gedagtes nou al weer, mannetjie?” Sy pa sit nog ’n vol emmer neer. “Kyk hoe hak en tak draai jy.”

Daardie nag rol Jako dié kant toe en daardie kant toe. Die opgewondenheid sit in ’n knop op sy maag.

Hy kan alles so sién. Tant Hanna verskyn en verdwyn agter die gordyn. Sy is haastig, moet raak vat. Rye herderskieries steek uit bo die gordyn en wieg rond soos die manne reggeskuif word. Herhaaldelik vra hy sy vraag. Sy glimlag en knik. Of sy stoot hom sonder ’n woord agter die skerm in. Daar sit tant Hester op ’n bankie en wag vir die konsert om te begin. Tant Hester sê vir hom wat hulle alles gaan sing. En net voor Ou Jaar met sy stories begin, sal hy voordra. Hy hoor hom praat, sien al die mense wat in die skemerte luister. Dominee Du Toit staan op en kom praat oor die seun wat so mooi kan voordra en dat hy daarmee moet aanhou. Toe die mense hande klap, is dit weer die begin van die aand. Jako praat met tant Hanna reg onder ’n suisende stormlantern. Maar sy buk af om met Cheryl Campbell in Engels te praat. Sy vat aan Martinette Möller se hare. Sy hoor hom nie.

Hy het darem seker ’n hele rukkie geslaap voordat dit weer ligdag geword en die baie lang Saterdag begin het.

Die middag aan tafel sê sy ma: “Kyk, moenie teleurgesteld wees nie, maar dit is nou so dat ons nie presente vir vanaand én vir Kersfees kon koop nie. Julle weet nou, nè? Julle sal nie sleg voel as Kersvader niks vir julle het nie?”

Werklik, Jako het tot hier toe glad nie aan presente gedink nie. Dis net die konsert wat saak maak. Dis heeltemal in die haak wat hom betref.

Braam knik belangrik. Dis ’n sameswering. Hulle gaan anders wees.

Dria speel met haar kos.

“Verstaan jy, Dria?”

“Jaaaa, Ma. Wat gaan ek vir Kersfees kry, Ma?”

Sy pa het oom Kosie se parmantige bakkie vir die aand gaan leen. Kwart voor sewe hou sy pa voor die deur stil en sewe-uur val hulle in die pad. Dria sit voor by Ma-hulle; Jako en Braam agterop.

Terwyl hulle van hom wegry, lyk Brandwachtberg tevrede in die aandlig, asof hy iets van Kersfees en konserte weet.

Sy pa hou ’n ent van die ander rygoed af stil sodat hulle laatnag maklik sal kan wegkom. Hy en die ander ooms sal omtrent die hele aand buitekant staan en rook en gesels. Net so af en toe sal hulle inloer.

Stadig stap Jako agter sy ma aan na die waenhuisdeur toe. As iemand hom nou iets moet vra, sal hy seker nie ’n geluid kan uitkry nie. Waar sal tant Hanna wees? Wanneer sal hy vir haar kan vra? Hoe gouer hoe beter.

Allerhande soorte sitplekke is weerskante van ’n paadjie reggesit. Die laagste bankies is heel voor by die verhoog, spesiaal vir die kinders. Sy ma skuif langs tant Maraai op een van die stewiger, ruglose banke in. Tant Maraai het voorberei met ’n kussing en kombers gekom. Sy ma wys vir haar drie om voor by die ander kinders te gaan sit. Braam en Dria draf. Jako se skouers is styf en hoog opgetrek en versigtig gaan hy vorentoe.

Hy gaan sit redelik naby die skerm van papierlinte.

Sal hy dit doen? Sal hy vra? Hy het nie saam met hulle geoefen nie. Sê nou sy sê …

Daar is sy. Sy dra ’n ligpienk rok. Iets skitter om haar nek.

Sy buk by een kind na die ander, maak hier ’n grappie, vra daar iets.

Sy kom nader en nader.

Sy is by Braam. Druk hom teen haar vas. “A, hier is die Bothatjies ook. Tannie is bly julle het gekom. Waar’s julle mammie?”

“Daar agter by tant Maraai, Tannie,” beduie Dria.

Haar hand met die ringe raak aan Jako se skouer. Sy ruik soet van die poeier en die laventel. “Ai, Jako, jy word nou ook ’n groot kêrel.”

Hy kan nie opkyk nie, skuif net effens rond.

Sy het omgedraai en gaan wegloop.

Hy spring op. “Tannie.”

Nou kyk hulle mekaar in die oë. Net sy bestaan vir hom.

“Kan ek vir Tannie help met die singery?”

Dadelik antwoord sy: “Ag, nee wat, dankie, my kind, ek het genoeg mense.”

Haar ander woorde hoor hy nie.

“Het jou ma jul presente?” vra sy.

“Ons het nie iets gebring nie, Tannie,” help Dria.

Vinnig kyk tant Hanna na Braam asof sy haar mond verbygepraat het voor iemand wat nog aan Kersvader glo. “Ag, nee, maar ek is seker ou Vader sal ’n plan kan maak.”

Jako sien nie hoe sy eers met sy ma gesels en daarna by die waenhuis uitdraf nie. Hy kyk na die Kersboom langs die verhoog. Tant Hanna het genoeg mense. Dis goed. Hy sluk. Dria en Braam het gehoor hoe hy vra. Sal hulle vir sy ma gaan vertel en met hom spot oor tant Hanna nee dankie gesê het? Dit lyk nie so nie. Hulle sit en hou die manewales van die ander kinders dop.

Eers wil hy styf teen sy ma gaan sit of agterop die bakkie gaan wegkruip van skaamte. Maar toe begin hy verlig voel. Die onsekerheid is verby. Hy het gewaag om te vra en nou het hy die antwoord. Volgende jaar miskien. Hy moet mooi met sy ma-hulle praat en dalk stuur hulle hom saam met Martinette-hulle na tant Hanna se skool toe. Volgende jaar …

Die konsert begin met dominee Du Toit wat aan die woord kom. Sy glimlag sluk amper sy hele gesig in. Êrens agter die brilglase is die vrolike oë wat almal in die skemerte wil raaksien.

Elke jaar se dinge word gedoen en ook nuwe goed. Vanjaar is daar die nuwe storie oor die sinjaalman wat elke aand ellendig dronk by die huis aankom. Totdat sy seuntjie een aand ’n rooi vlag vir hom waai. James is so dronk, ’n mens wil amper vir hom lag.

Daarna sit ’n klomp kleintjies in oom Jan-Frans se sinkbootjie, waai met die hande en sing “Bootjie na Kammaland”.

Heelwat later, ná die staltoneel, kondig Dominee aan: “Kinders, grootmense, tant Hanna het nou net vir my kom sê sy het iemand by oom Jan-Kootjie se hek sien verbyry. Sy wonder of julle weet wie dit is?”

“Vae’ K’ismis! Kersvader!” Deurmekaar, sonder om hande op te steek soos in die skoolsaal.

Dominee buk af en maak doodseker by klein Johan Möller. “Wie sê jy is dit?”

“Pappa, Oom.”

Nou is daar ’n gestommel by die ooms in die waenhuisdeur. “Naand, ou Vader!” Met ’n gejil laat hulle hom deur en Kersvader met die groot, wit sak op sy rug en mombakkies voor die gesig kom krom vooroor met die paadjie af.

Braam en Dria het al in die middel van die konsert by hul ma gaan sit, Braam op haar skoot en Dria ingedruk tussen haar en tant Maraai. Jako bly maar daar voor langs die kant sit. Dié mombakkiesgesig, wat styf heen en weer mik wanneer Kersvader praat, laat ’n mens nogal bangerig voel. Jako is maar bly hy hoef nie ’n present by hom te gaan haal nie.

Kersvader se ou oë is al te swak om goed te kan lees. Daarom haal tant Hanna die pakkies uit en sê die name vir hom voor. Ag, en nou hoor die ou oom nog so sleg ook.

Baie maak hul presente dadelik oop. Party draf val-val agtertoe om vir hul pa en ma te gaan wys. Een of twee hou hul pakkies baie styf vas en wag vir nóg.

Manie Britz spring op voordat sy naam nog gelees word. Hy ken al die pakkie wat so lank op die klerekas gelê het.

Dis klaviertjies en poppe wat kla. Dis propgewere, slangetjies-en-leertjies, see-toe-gaan-goed …

Nou staan Kersvader met ’n baie klein pakkie in die hand. “En hier is iets vir Jako Botha. Jako, waar’s jy?”

Dit kan nie wees nie. Sy ma het dan gesê … Hy val amper oor Manie met die vorentoe kom.

Intussen fluister tant Hanna iets vir Kersvader, en toe hy die pakkie vir Jako gee, sê hy: “Dis ’n klein pakkie, maar goeie goed kom baie keer in klein pakkies. Dis ook die gedagte wat tel.”

Terwyl Jako terugstap, kom Dria en Braam ook aan die beurt. Hy gaan sit en begin die papier losmaak. Chris, wat al standerd ses toe gaan, en Manie los hulle goed om te kom kyk wat Jako gekry het.

Dis ’n koekie seep in donkerblou papier met ’n tannie en sterre daarop.

Vinnig draai hy dit weer toe.

Maar Chris het gesien. Hy sê niks nie, trek sy neus effens op en draai weg.

“Wat het jy gekry?” vra Manie. “Seep!”

Chris staan en praat met Helena. Sy kyk reguit na Jako en skud haar kop.

Jako se gesig voel baie warm. Hy hoor niks meer nie en baklei met die trane tot hy by sy ma is. Hy wys vir haar. Sy neem dit by hom en steek dit in haar bruin handsak.

Dria het ’n poppie met skuimrubberklere aan gekry. Tant Hanna maak hulle altyd vir die kerkbasaar: jy kan jou koppiespelde en naalde daarin steek.

Braam het ’n motortjie van plastiek gekry, nes die paar wat aan die Kersboom hang.

Toe druk Jako sy gesig teen sy ma se skouer en hy huil sag.

“Tant Hanna het dit goed bedoel, Jako,” sê sy ma.

“Ajaaaaa!” beaam tant Maraai.

“Loop kyk waar’s jou pa. Ons kan maar huis toe gaan.” Sy ma druk hom effens weg.

Jako loop omkyk-omkyk deur toe. Voor die goue kol van die verhoog staan tant Hanna. Sy lyk baie gelukkig, want Kersvader gee vir haar ’n groot pakkie. Dit kom van al haar Sondagskoolkinders.

Uit: Lindeque de Beer (samesteller): Die goeie gety: Kers- en ander wydingsvertellings, J.P. van der Walt, Pretoria, 1995. Voorheen in Sarie, 12 Desember 1987.

Die helder dae

Подняться наверх