Читать книгу Die helder dae - Danie Botha - Страница 13

Sneeupoeding

Оглавление

1959

Jako het twee tantes wat op Worcester bly: tant Bettie en tant Hendrina. Eersgenoemde is Pa se oudste suster; laasgenoemde Ma se oudste.

Tant Bettie woon in ’n huis reg bo die spoorlyn naby die stasie. Haar man, oom Jack, werk in ’n groot stoor van die SAS en H; dra altyd ’n seilerige kakiejas. Hulle twee seuns, Dennis en Roy, werk ook op die spoorweë.

Sy maak die lekkerste tee, met groot lepels kondensmelk daarin. Net af en toe laat glip-speel sy die grammofoonplaat van die ma met die babatjie in die sneeustorm op haar gramradio, want sy is bang Jako raak te aardig oor die kind wat so huil.

In die agterplaas hou hulle twee bergskilpaaie aan en ’n paar van die kleiner padlopersoort tussen grys aalwyne en kanniedode.

Daar is ook nie veel van ’n tuin aan die voorkant van die huis nie – alles lyk verskroei daar en die ene roet van die stoomtreine wat verbyry.

Pa spog altyd dat hy met die stasiebrug na tant Bettie-hulle gestap het die dag toe die Britse koningsgesin in 1947 verbygekom het; toe’s hy die enigste mens aan daardie kant van die spoor en toe waai prinses Elizabeth én prinses Maakrit net vir hom.

Omdat Jako-hulle op die plaas bly, gaan hulle pos altyd na tant Bettie se adres. So teen Oktober se kant kom daar pakkies vir Ma aan. Kerspresente wat sy volgens advertensies in Die Jongspan of Die Huisgenoot bestel het. Soos daardie “rolprentprojektor” verlede jaar toe Jako in standerd vier was of die Jakkals en Wolf-boeke toe hy nog kleiner was.

Mollige tant Bettie het hangwange, ’n klein mond en haar hare het altyd ’n spinnerak van ’n net oor.

Sy kyk en kyk dikwels so vir Jako asof sy vir hom jammer is.

Haar dogter, Johlene, gaan uit met ’n kêreltjie wat vir Jako alte netjies lyk met sy Brylcreem-gladde hare en sy blazer.

Roy, haar jongste seun, is ’n body builder. En hy toets alles uit om ekstra geld te maak. Het tot ’n paar byekorwe kom opsit by Jako-hulle op die plaas – daar naby die keurtjiebosse tussen al die renosterbosse op die rant naby oom Jan se beeskraal. Hy’t in ’n stadium sy hare soos ’n eendstert gedra en op ’n motorfiets rondgery. Tot vir tant Bettie een maal agterop gelaai en uitgebring plaas toe. Vreeslike gelag voor die voordeur.

Jako se neef Dennis, getroud met Hannie van Baardskeerdersbos, is soveel ouer as hy dat hy vir hom oom Dennis noem. Pa en Ma het nog destyds vir oom Dennis en tant Hannie gewys hoe jy loop en staan in die kerk as jy trou. Die jonggetroudes het daarna Sondae met fietse uitgery plaas toe en saam aangesit vir Ma se slaphakskeentjies, geelbruin hoender, groenboontjies, geelrys en sneeupoeding. Hulle het nou drie kinders: Jackie, Danie en klein Maria.

Oom Dennis praat net so min soos oom Jack. Tant Bettie spreek oom Jack partykeer in Engels aan, maar dan antwoord hy haar skaars.

Oom Jack is aan die oorgewig kant en het ’n knoets van ’n perserige neus. Eenkeer was dit Oupa Botha se verjaardag en tant Bettie-hulle het uitgekom plaas toe vir die geleentheid. Het oom Jack ooit afgeklim? In ’n stadium het Jako verby die Buick gestap, toe lê-sit oom Jack groot en grys in die skemerte op die agterste sitplek en hy maak af en toe sulke kleinhondjiegeluide. Dit was al stiknagdonker, toe sit hy nog daar.

En tant Bettie drink glo soms saam met hom.

Om by tant Hendrina te kom, kan jy van tant Bettie se huis oor Stasieheuwel stap en dan op die afdraand na die dorpsdam se kant sit haar en oom Andries se huis. Hulle het net vir Andri.

Tant Hendrina noem vir oom Andries soms nog Myburgh, want so het sy hom genoem toe hulle nog kollegas by die Munisipaliteit was.

Oupa het by hulle kom woon ná Ouma se dood. Tant Hendrina kan baie dae driftig raak oor baie dinge – byvoorbeeld as sy onthou van die jaar toe Oupa met Miss Griffiths oorkant die spruit deurmekaar was en Ouma maar alles net verduur het.

Andri het ’n keer aan tafel vir haar gevra hoekom het arm mense so baie kinders, kyk vir Oupa; toe moes sy dit gou doodpraat.

Oom Andries sorg goed vir hulle; sy het eintlik alles wat haar hart begeer.

Sy lag so vir Pa wat nie mooi weet hoe die dorp se latrine werk nie. Hy spot weer met haar wat die jongste mode op haar ouderdom navolg: die sleeveless met net toutjies oor die kaal skouers. Ma erf soms van haar klere en meubels.

En altyd, altyd, altyd moet tant Hendrina die laaste woord inkry. Sy praat vir Ma dood; Ma sit later met ’n treurigheid in haar oë.

Vanjaar is dit afgespreek. Vir Kersdag gaan Jako-hulle na tant Hendrina toe vir ete. Ma moet net ’n groot bak sneeupoeding maak.

Op Oukersmiddag terwyl die windswaels in en uit vlieg by die Groothuis se veranda en die sonbesies nog lustig skettersing in die flenterige bloekoms, kom hou Pa met ’n swierige draai met die Nash voor die kelder stil. Hy knyp sy pyp half verspot in sy mond vas en kom op ’n drafstap met goed van Miss Green se winkel aan kombuis toe.

Ou ding dat hy so op Oukrismis alleen ingaan dorp toe. Hy het eenkeer so warm gekry dat hy lus had om op Kerkplein onder die bloekoms in die koelte te gaan lê, maar hy het nie. Was bang die mense dink hy’s dronk. ’n Ander keer was Braam saam. By Kassiem wil Pa vir die kind ’n Krismishoedjie koop, maar Braam bly kerm dit sit nie lekker nie. Naderhand verloor hy sy humeur en klap hom teen die kop. Die rekkie breek en hy moet vir die vrou met die kolletjie op die voorkop daarvoor betaal. Braam het nie geweet ’n Krismishoedjie trek jy nie af tot op jou ore nie.

Pa plak die goed op die kombuistafel neer. Byna dadelik praat hy baie hard. “Bettie-hulle hou vir jou Krismis, hoor. Dennis skink net vir hulle en Maria sing die hele tyd ‘Stille nag’.”

Ma kyk nie vir hom nie.

“Bettie het gesê ons moet vanaand bietjie inkom na hulle toe.”

Dadelik sê Ma: “Ek hou my nie op met ’n dronknes op Krismis nie.”

Pa steek weer sy pyp in sy mond, gaan kry die melkemmers voor die agterdeur en skreeu: “Dan gaan ons môre ook nie Hendrina-hulle toe nie!”

Op Kersdag praat Pa en Ma nie met mekaar nie.

Jako probeer lees aan Die ark van Margot Benary, sy Kersgeskenk, maar hy wil huil van ongelukkigheid.

Hulle kry net sneeupoeding te ete. Skuimerig en watergrys, koel en suurderig. Te veel om baas te raak.

Uit: Hennie Aucamp (samesteller): Borde, borde, boordevol, Tafelberg, 1998.

Die helder dae

Подняться наверх